Etiket: uitsaaiwese

  • Afrikaanse radio nader die kruispad

    Afrikaanse radio is gaandeweg besig om stadig maar seker ‘n kruispad te nader en binnekort sal daar deur uitsaaiers en luisteraars besin moet word of hulle steeds afhanklik van die staatsgesteunde openbare radiodiens wil wees en of ons heeltemal onafhanklik van die ou staatsmodel wil funksioneer.

    Hierdie kwessie is die week op die spits gedryf nadat die SABC afleggingsbriewe aan 400 van sy personeel gestuur het. Onder hulle was ook vyf gewilde omroepers by Radio Sonder Grense, die SABC se Afrikaanse uitsaaidiens. Hierdie stasie saai al die afgelope 83 jaar onder verskeie name uit, maar dit het al die jare ‘n trotse baken van die Afrikaanse uitsaaiwese gebly alhoewel die stasie se beeld erg skade gely het as gevolg van te veel pro-ANC standpunte wat daar gehandhaaf word. Maar die ANC is immers die regering van die land en hulle is dus ook in beheer van die openbare uitsaaier, naamlik die SABC en al sy televisie en radiodienste.
    As mens egter die politieke programme ignoreer moet mens toegee dat RSG steeds daarin slaag om puik gehalte programme te vervaardig wat inligtings- en opvoedingsprogramme insluit. Verder is daar ook nog die radiodramas, boekvoorlesings en spesialiteitsmusiekprogramme wat ook uitgesaai word.

    Die afleggings by die SABC is genoodsaak deur ‘n finansiële krisis wat op sy beurt veroorsaak is deur wanbestuur en gebrek aan kundigheid by die staatsonderneming. Verder was daar ook ‘n skerp afname in die betaling van TV-lisensies en ‘n gebrek aan wetstoepassing om nie-betalers op te volg.
    Namate die wanbestuur en korrupsie by die SABC na vore gekom het betaal baie mense ook nie lisensies nie uit protes daarteen. Verder word daar ook gevoel dat veral die televisiedienste nie programme van goeie kwaliteit vervaardig en uitsaai nie.

    Baie mense het gister in reaksie op die nuus van die aflegging by RSG gesê dat mense eerder op onafhanklike Afrikaanse gemeenskapsradiostasies moet inskakel. Dit is alles goed en wel, maar hierdie stasies het maar net ‘n beperkte gebied wat hulle op fm-frekwensies dek. Daar is baie plattelandse gebiede wat nie deur sulke stasies gedek word nie. Ek bly self in so ‘n area waar daar nie een van daardie stasies beskikbaar is nie. ICASA het wel aan ander taalgemeenskappe uitsaailisensies toegeken maar ons as Afrikaanse luisteraars is ongelukkig baie snoep behandel deur ICASA met die toekenning en behoud van Uitsaailisensies vir Afrikaanse radiostasies.
    Die enigste manier hoe ons na sulke gemeenskapsradiodienste kan luister is deur middel van internetradio. Dit skep egter sy eie uitdagings omdat mens dan duur vir data moet betaal of andersins ‘n onbeperkte internetplan by jou diensverskaffer moet aankoop.
    Diegene wat dit nie kan bekostig nie is dus maar op die staatsuitsaaier aangewese.
    Die vyf permanente aanbieders by RSG wat nou afleggingsbriewe gekry het se dienste sal met ingang 1 Desember opgeskort word. Magdaleen Kruger, die stasiebestuurder by RSG, het egter gemoedere probeer kalmeer deur te sê dat hulle wel met die aanbieders sal onderhandel en hulle dan vryskutkontrakte aanbied. Sy hoop dat hierdie proses voor Oukersdag reeds afgehandel sal wees. Sy het egter daarop gewys dat indien hierdie proses nie voor einde Desember afgehandel is nie sal dit maar moeilik gaan om in Januarie die stasie na behore te laat funksioneer as gevolg van ‘n tekort aan personeel.
    Indien die tweede senario wel sou uitspeel sal dit interessant wees hoe die programinhoud van RSG bestuur gaan word om ‘n deurlopende uitsaaityd te verseker. As daar minder personeel is wat nuwe uitsaaimateriaal kan vervaardig, hoe sal die oorblywende tyd dan gevul word, meer musiekprogramme? Dalk meer argiefmateriaal wat uitgesaai gaan word? Dalk meer boekvoorlesings op interessante tydgleuwe? Dalk meer kunsuitsendings soos wat ons tydens die grendelstaat beleef het? Enigiets om die publiek se aandag nog ‘n oomblik langer weg te lei van lei van die verslegtende situasie by die stasie asook in die res van die land.

    Ek het al voorheen beleef hoe twee private Afrikaanse radiostasies so ‘n kreeftegang gegaan het totdat hul uiteindelik hul uitsendings moes staak. Dis erg genoeg as jy ‘n familielid of geliefde sien agteruit gaan en dalk hul helderheid van verstand verloor of hulle liggaamlik agteruit gaan. Dis byna net so erg as ‘n geliefde radiodiens en sy personeel so ‘n kreeftegang beleef.
    Hierdie proses het ek beleef met CR FM wat vanaf Christiana in Wes-transvaal uitgesaai het asook met Punt Geselsradio wat op mediumgolf vanaf Kaapstad en Johannesburg uitgesaai het.
    Jy ervaar saam met hulle die personeeltekorte en die lang periodes gedurende die dag wat deur musiek opgevul word. Jy beleef hoe sommige getroue personeel soos bittereinders steeds in hulle aangewese skofte uitsaai. Mens ervaar hoe sommiges hulle kreatiwiteit tot die uiterste moet inspan om steeds ‘n vermaaklike program aan te bied ten spyte van ‘n gebrek aan interaksie tussen die stasie en luisteraars omdat die telefoonlyne afgesny is as gevolg van ‘n agterstallige rekening. Mens beleef die gebrek aan advertensies. In die geval van CR FM het mens self ervaar hoe die uitsaaigebied al kleiner word nadat van hulle senders in ander dorpe moes afgeskakel word. En dan eendag, net te skielik, kom die groot stilte.

    Ek hoop van harte dat dit nie met RSG sal gebeur nie, maar dat daar wel uitkoms sal wees. Indien nie, moet ons maar net hoop dat ICASA dringend daaraan sal aandag gee om nuwe lisensies toe te ken aan Afrikaanse gemeenskapsradiostasies, veral in die platteland waar daar nog heelwat spektrum op die FM-frekwensieband beskikbaar is. Ek besef maar al te goed dat daar ‘n krisis in die groter stede is waar frekwensiespektrum byna heeltemal uitgeput is.
    Hoe hierdie situasie ook al ontvou, kan ons egter verseker wees dat 2021 ‘n nog meer turbulente jaar gaan wees as vanjaar, nie net in die uitsaaiwese nie, maar ook in die res van die samelewing. .

    Baie sterkte aan almal van julle wat hierdie interessante tyd tegemoed gaan.