Die minister van finansies het toe sy begrotingsrede gelewer sonder enige voorvalle. Op ‘n stadium het dit gelyk of die EFF die begrotingsrede gaan ontspoor met hul alewige punte van orde, maar die speaker van die parlement het hulle gou tot orde gebring en die minister kon sy toespraak sonder voorval lewer.
Btw is toe wel verhoog, maar net met ‘n halfpersent vanjaar en nog ‘n halfpersent in April 2026. Vanjaar se verhoging sal ook eers in Mei in werking tree wat darem ‘n blaaskans vir boekhouers en ander finsiële administrateurs en belastingkundiges sal gee.
Die brandstofheffing gaan nie vanjaar op nie. Ook nie die heffing vir die padongelukkefonds nie.
Maatskaplike toelaes sal ook verhoog word. Veral die ouderdomspensioen en ongeskiktheidspensioen word met R150 verhoog.
Selfone met ‘n waarde van minder as R2500 gaan vrygestel word van ad valorem belasting van 9% op luukse goedere. Dit word gedoen om veral armer mense in staat te stel om slimfone aan te skaf wat 4g tegnologie gebruik. Die regering beoog om in die volgende sowat twee jaar 2g en 3g netwerke uit diens te stel.
Sondebelastings op alkohol en tabakprodukte is soos gewoonlik weer verhoog.
Ten spyte van die feit dat die minister wel sy toespraak kon lewer wil dit tog voorkom asof die begroting nie vooraf deur vennote in die RNE goedgekeur is nie. Die DA het blykbaar aangedui hy gaan nie die begroting ondersteun nie. Ons wag nog vir reaksie van ander politieke partye.
Hiermee dan ‘n mees basiese opsomming van ‘n bittersoet begroting wat landsburgers en politici nog lank aan die praat gaan hou.
Kategorie: Nuuskommentaar
-
Die bittersoet begroting
-
Die groot begrotingsdag
Vandag is voorwaar ‘n dag vol vrees en verwagting. Vandag lewer die minister van finansies sy langverwagte begrotingstoespraak wat al so vroeg as Februarie moes gebeur het maar toe uitgestel is tot 12 Maart. Dit was die eerste keer in die land se geskiedenis dat soiets gebeur het en het gevolg na ‘n ernstige geskil tussen lede van die regering van nasionale eenheid oor ‘n voorgestelde verhoging van 2% BTW.
Die minister sien die verhoging van BTW as ‘n broodnodige maatreel om veral maatskaplike toelaes soos die R370 Covid toelaag te kan befonds. Verder is die vrees en verwagting ook daar dat ander belastings soos maatskappybelasting verhoog kan word om die gewraakte nasionale gesondheidsversekering te befonds. Dit ten spyte van die waarskuwings dat dit onhaalbaar en onvolhoubaar is.
Verder is daar ook nog die dreigement van die EFF en MK dat as BTW wel verhoog word, sal hulle die land tot stilstand bring.
Dit kan tot verdere onstabiliteit lei.
Verder het die ANC gedreig dat hy moontlik die hulp van die EFF kan inroep om hom te help om ‘n meerderheidstem vir die begroting te kry indien die DA nie sy steun aan die begroting wil gee nie.
Die DA kap toe weer terug dat indien die ANC soiets sou probeer gaan hulle dit sien as ‘n mosie van wantroue in die Regering van Nasionale eenheid en kan dit moontlik die einde van hierdie saamgestelde koalissieregering beteken. Die groot vraag bly egter wat gaan gebeur as die ANC wel partye soos die MK en EFF uitnooi om ‘n soort oordeelsdagkoalisie te form om ‘n nuwe regering van nasionale eenheid aan die gang te kry.
Daar is nou nog net bietjie meer as drie ure oor voor een van die mees geskiedkundige begrotingstoesprake wat hierdie land nog opgelewer het. Laat ons dus duim vashou vir die beste, maar ook onsself behoed vir die ergste.
-
Lonmin: die begin van groter onheil?
Gister was voorwaar ‘n swart dag in Suid-Afrika nadat talle stakende mynwerkers tydens ‘n skietery tussen sommige stakers en die polisie omgekom het. Die presiese dodetal is nog nie bekend nie maar die polisie sal na verwagting vanoggend om elfuur ‘n nuuskonferensie hou.
Hierdie ongelukkige voorval het Donderdagmiddag plaasgevind naby Lonmin se Maricana platinummyn. Sommige mynwerkers, onder andere rotsboormanne het verlede vrydag begin staak. Verder was dAar ook ‘n despuut tussen Num en Amcu oor wie dan nou eintlik die werkers verteenwoordig.
Gedurende die week is tien mense, onder wie twee polisieveampes oorlede na gevegte tussen Amcu en Num.
Die groot vraag kan gevra word of hierdie dalk die begin kan wees van groter onheile en onrus? Op sosiale netwerke word reeds beskuldigings geslinger na wit monopolie en beheer oor die ekonomie. Volgens berigte is Amcu ook teen President Jacob Zuma se herverkiesing in Bloemfontein gekant.
Die vrees bestaan dat hierdie tragiese voorval tot groter arbeidsonrus kan lei en dat rasseverhoudings erg geskend sal word. Daar sal ook gesien moet word hoe sake gaan verloop namate ons naderkom aan die Anc se nasionale kongres wat Desember in Bloemfontein gehou gaan word. Gaan die spanning tussen pro- en anti-Zuma faksies binne die ANC sodanig verhoog dat dAar nog gevegte en sterftes kan wees?
Suid-Afrika sal beslis die volgende paar dae in spanning wag om te sien wat gaan gebeur.
My hart gaan uit na diegene van ons volksgenote wat in die Rustenburg, Brits en Maricana omgewing woonagtig is. Pas julself op, hou julle veilig en vermy paaie waar moontlike verdagte aktiwiteite soos samedromming van mense of verdagte voorwerpe op of langs die pad. Baie sterkte ook aan diegene sat daar werksaam is. Dis beslis nie aangenaam om in ‘n werksomgewing te funksioneer waar arbeidsverhoudings so erg gespanne is nie.
Mag God ons almal in hierdie tyd behoed en bewaar.
-
Staking by EVKOM tydelik afgeweer
Die staking wat vir Maandag by EVKOM beplan was is vandag gelukkig tydelik afgeweer nadat EVKOM hulle loonaanbod vandag verhoog het. Die betrokke vakbonde het tot Woensdag uitstel gevra om hulle lede te raadpleeg. My hoop is dat die werkers wel rede sal insien en die hersiene aanbod sal aanvaar. Ons wêreldekonomie sowel as die land s’n is in resessie en ons maatskappye, organisasies en werknemers moet in hierdie tyd aanvaar dat ons nie sulke goeie verhogings in ons inkomste sal hê soos in die vorige voorspoedige jare nie. Ek moet erken dit sal ‘n baie moeilike indien nie onmoontlike taak wees om hierdie begrip by die grootste deel van ons werkerskorps tuis te bring.
-
Staking by EVKOM moontlik op hande
die vakbond NUM het vandag aangekondig dat daar dalk volgende week ‘n staking by EVKOM kan wees. Dit volg nadat loononderhandelings tussen die vakbond en EVKOM vasgeval het. NUM eis ‘n loonverhoging van 15% terwyl EVKOM slegs 8.5% aanbied. NUM het gedreig dat daar kragonderbrekings tydens die staking kan voorkom. Hulle het ook gesê dat hulle ook met ander vakbonde wat werknemers van EVKOM verteenwoordig sal vergader voordat hulle finaal tot aksie sal oorgaan.
Hierdie situasie is veral skrikwekkend gesien in die lig daarvan dat baie noodsaaklike dienste, soos hospitale, uiters afhanklik is van elektrisiteit. Hospitale het wel noodkragopwekkers wat gebruik kan word as daar ‘n kragonderbreking sou kom, maar dis duur om die kragopwekkers vir ure te laat loop. Verlede jaar se beurtkrag is nog vars in die geheue van baie mense. Dit het ons ekonomie groot skade berokken. Dit is juis hierdie soort van stakings wat maak dat die buitewêreld ons land sien as ‘n onstabiele land.
Ek hoop van harte dat daar spoedig ‘n oplossing sal kom voordat ‘n volskaalse staking uitbreek. -
SAUK TV-nuus ly swaar onder staking
Twee van die vakbonde wat SAUK-werknemers verteenwoordig het vandag met ‘n wegbly-aksie van twee dae begin. Sommige van die SAUK se nuusprogramme is negatief geraak. Die nuus en aktualiteitsprogram op Nkosi FM, die SAUK se radiostasie wat Zoeloesprekende luisteraars bedien kon nie vandag uitgesaai word nie. Die staking het ook sy merk gelaat op vanaand se nuusuitsending van die Afrikaanse Nuusbulletin om seweuur vanaand. Die uitsending het later as normaal begin, daar was baie advertensies vertoo, slegs enkele berigte is gebeeldsend en slegs die helfte van die bulletin is uitgesaai. In die tyd wat die tweede Helfde uitgesaai moes word is ‘n string advertensies, ‘n woordelose weervoorspelling en ‘n lokprent vir die film Harry Potter and the Halfblood Prince vertoon. Al die ander vooraf verfilmde programme het gelukkig voortgegaan soos normaal. Gelukkig is uitsendings op Radio Sonder Grense nie geraak nie.
Televisiedienste is dikwels meer gevoelig vir so ‘n staking omdat daar meer tegniese personeel by ‘n televisie-uitsending betrokke is. Ek hoop net dat die SAUK en vakbonde spoedig tot ‘n vergelyk kan kom oor hulle loondespuut. Daar is natuurlik ook sommige onder ons wat bly is omdat die ANC se propagandasmoel gedeeltelik stil was. Ek kan nogal met hulle simpatiseer. Ek moet erken hierdie staking laat my kriewelrig voel. As die SAUK se uitsendings heeltemal moet gaan staan, sal ons van onafhanklike media en die internet afhanklik wees vir ons nuus. Kom ons hoop vir die beste. -
Stakings en vandalisme
Die staking van munisipale werkers het vandag in alle erns begin. Die stakers het na munisipale kantore opgemarsjeer om hulle griefskrifte te oorhandig. So ver soos wat hulle gaan het hulle vullisblikke omgegooi en rommel in die strate gestrooi. In sommige dorpe het hulle selfs so ver gegaan om van die rommel wat hulle uitgegooi het aan die brand te steek. Hierdie staking is al klaar erg genoeg, maar as daar eers rommelstrooiery, brandstigting en vandalisme van geboue en voertuie ook bykom, raak dit nou eenmaal te erg. Kan hierdie werkers dan nie staak sonder vandalisme en openbare geweld nie. Daar is ‘n onrusbarende klimaat van wetteloosheid besig om in ons land te ontwikkel.
-
Nuwe ontstellende konsepwetgewing
Ek luister vanoggend na SA FM se program The editors waarin hulle die nuusgebeure van die week met ‘n paneel van nuusredakteurs bespreek. Naby die einde van die program noem Mnr. Gavin Stewart, een van die paneellede, dat daar tans konsepwetgewing voor die parlement dien wat die slagoffers van enige wvergrype of nalatigheid deur die staat se regte sal inkort om eise teen die staat in te stel. As jy dus die slagoffer was van enige vergrype of nalatigheid deur enige staatsinstelling soos die polisie, staatshospitale, pensioenfondse of enige ander departement sal jy nie meer so maklik die howe kan nader om ‘n eis vir skadevergoeding in te stel nie as hierdie wetgewing suksesvol deurgevoer word. Die volle detail van hierdie konsepwet is nog nie bekend nie.
Hierdie is veral ontstellend omdat die howe sedert 1994 al vele eise vir skadevergoeding toegestaan het waar een van die organe van die staat skuldig was. Dit sluit die polisie en padongelukkefonds in om maar net ‘n paar te noem. Mag hierdie wetgewing nie op die wetboek beland nie. -
Xenofobie: ‘n groeiende gevaar
Verlede jaar hierdie tyd is Suid-Afrika geruk deur xenofobiese geweld wat tientalle mense gedood het. dit het gebeur omdat daar ‘n onbeheersde instroming van onwettige imigrante uit ander Afrikalande was wat met die plaaslike bevolking van veral informele nedersettings meegeding het vir werksgeleenthede en ander skaars hulpbronne. Dit het haat en struweling tussen die plaaslike bevolking en die buitelanders veroorsaak.
Xenofobie het nou ook sy kop in Europa begin uitsteek. Daar was gister ‘n berig oor die radio van ‘n groep jongmense in Noord-Ierland wat ‘n groep Roemeense burgers aangeval het nadat hulle ‘n anti-rasisme betoging bygewoon het. ‘n Plaaslike kerk het die slagoffers van die aanvalle te hulp gesnel en skuiling aan die mense gebiet. Mens kan maar net wonder of hierdie voorval nie ook ‘n indirekte gevolg van Europa se liberale imigrasiebeleid is nie. Gedurende haar sewe vet jare het Europa massas imigrant van verskeie lande toegelaat om daar te woon en werk. Baie het burgerskap gekry. Daar is ook baie kinders uit hulle geledere gebore wie se identiteit nou iewers rondhang tussen hulle eie etniese kulture en die oop, vrye kultuur van die Weste. Noudat die sewe maer jare aangebreek het, begin hierdie imigrante nou ook meeding met die plaaslike bevolking vir werksgeleenthede en ander hulpbronne wat op sy beurt ook wrywing veroorsaak.
Hierdie verskynsel gaan onvermydelik die debat rondom nasionalisme, etnisiteit, ras en burgerskap laat opvlam. Namate die internasionale ekonomiese krisis vererger, gaan hierdie soort voorvalle toeneem. Ek ys om net te dink watter gevolge dit vir Suid-Afrika en Suid-afrikaners in die buiteland gaan inhou. Daar is alreeds vrese uitgespreek dat ons land ‘n tweede vlaag xenofobiese geweld kan beleef wat baie erger sal wees as die eerste. Dit hou ‘n gevaar in vir buitelanders sowel as etniese minderhede in ons land. Ek wil nie eers dink wat gaan gebeur as hierdie resessie in ‘n volskaalse depressie ontaard nie.