Die laaste paar weke was daar ‘n hewige debat oor godsdiensonderrig op skool. Hierdie omstredenheid is veroorsaak deur Prof. George Claasen wat eers gedreig het om skole wat steeds godsdiensonderrig gee hof toe te sleep maar toe sy veldtog laat vaar het.
Ek het ook met groot belangstelling die debat gevolg op Bierpens se webjoernaal Kekkel op die Plaas. Het Christene werklik die reg om godsdiensonderrig op skool te gee? Moet ouers dit nie eerder self doen nie? Verseker stem ek saam met die stelling dat dit allereers die ouers se plig is om hulle kinders reg op te voed volgens die Woord. Daar moet egter ook ter wille van stabiliteit ook ‘n vorm van godsdiensonderrig op skool wees om die grondslag wat die ouers gelĂȘ het te versterk.
Die tweede vraag wat tydens hierdie debat opgekom het het gehandel oor wie nou verantwoordelikheid vir ons kinders se godsdiensonderrig moet aanvaar. Moet die regering dit doen? Beslis nie. Die kommunistiese ANC-regime kan onder geen omstandighede met hierdie taak toevertrou word nie. Al wat ons wel van die regering vra is dat hulle alle geloofsgemeenskappe die reg moet gee om self te kan besluit watter geloof of godsdiens hulle in hulle skole wil leer soos wat dit altyd die geval was. Verder moet kerke, gemeenskappe en beheerrade en ouerkomitees by skole self hierdie verantwoordelikheid opneem oor hoe godsdiensonderrig prakties toegepas gaan word.
Verder moet Godsdiensonderrig gegee word deur mense wat vir die taak toegerus is en wat self seker van hulle geloof is. As die onderwyser of onderwyseres self verward is, moet hulle nie godsdiensonderrig gee nie.
Hierdie debat is nog lank nie verby nie. Ons sal nog ‘n lang paadjie moet stap om die regte oplossing vir hierdie dilemma te kry.
Etiket: Christen
-
Godsdiensonderrig op skool
-
Die kerk en sosiale media
Dis interessant om te sien hoedat die NG Kerk se Oostelike Sinode die nuwe sosiale media gebruik om hulle sinodesitting wat hierdie week plaasvind te bemark. Die gewone gemeentelid kan nou sien watter kwessies op die vergadering bespreek word. Die kerk kan ook meer direk met die publiek kommunikeer in plaas daarvan om deur die gevestigde mediakanale te werk wat heel dikwels die kerk se standpunte verkeerd vertolk of nie na behore daaraan aandag kan gee nie weens meer dringende nuusberigte van nasionale belang.
Die sinode het ook ‘n blog op wordpress wat besigtig kan word by sinoos.wordpress.com asook ‘n twitter mikrojoernaal wat by www.twitter.com/sinoos besigtig kan word. Mens kan ook op Twitter van die hashtag #sinoos gebruik maak om ander deelnemers aan die sinode se kommentaar te lees of om self kommentaar te lewer.
Die kwessies wat by gister se sinodesitting bespreek is is alles goed en wel, maar ons sal moet wag en sien hoe dit op die ou end praktiese inslag in die kerk se daaglikse bediening gaan vind. Kwessies soos die Christen en omgewingsbewaring, die Christen se getuienis in woord en daad aan diegene binne sowel as buite sy kerkgroep en die invloed van sonde op ons verhouding met God is bespreek. Ek is nogal nuuskierig om te sien wat die kerk op grondvlak gaan doen om hierdie vraagstukke aan te spreek. Gaan die kerk dalk meer betrokke raak by rommelherwinning? Gaan die kerk dalk lidmate aanmoedig om meer eenvoudiger te leef? Gaan die kerk mense aanmoedig om hulle verhouding met die Here te herstel nadat dit deur sonde verwoes is? Gaan die kerk lidmate toerus met die nodige hulpmiddele om meer effektief te getuig?
Hopelik gaan hierdie sinodesitting wat meer as ooit in die openbare oog is meer wol as lawaai oplewer omdat hulle weet die gewone man op straat hou hulle dop.