Etiket: DA
-
Die groot begrotingsdag
Vandag is voorwaar ‘n dag vol vrees en verwagting. Vandag lewer die minister van finansies sy langverwagte begrotingstoespraak wat al so vroeg as Februarie moes gebeur het maar toe uitgestel is tot 12 Maart. Dit was die eerste keer in die land se geskiedenis dat soiets gebeur het en het gevolg na ‘n ernstige geskil tussen lede van die regering van nasionale eenheid oor ‘n voorgestelde verhoging van 2% BTW.
Die minister sien die verhoging van BTW as ‘n broodnodige maatreel om veral maatskaplike toelaes soos die R370 Covid toelaag te kan befonds. Verder is die vrees en verwagting ook daar dat ander belastings soos maatskappybelasting verhoog kan word om die gewraakte nasionale gesondheidsversekering te befonds. Dit ten spyte van die waarskuwings dat dit onhaalbaar en onvolhoubaar is.
Verder is daar ook nog die dreigement van die EFF en MK dat as BTW wel verhoog word, sal hulle die land tot stilstand bring.
Dit kan tot verdere onstabiliteit lei.
Verder het die ANC gedreig dat hy moontlik die hulp van die EFF kan inroep om hom te help om ‘n meerderheidstem vir die begroting te kry indien die DA nie sy steun aan die begroting wil gee nie.
Die DA kap toe weer terug dat indien die ANC soiets sou probeer gaan hulle dit sien as ‘n mosie van wantroue in die Regering van Nasionale eenheid en kan dit moontlik die einde van hierdie saamgestelde koalissieregering beteken. Die groot vraag bly egter wat gaan gebeur as die ANC wel partye soos die MK en EFF uitnooi om ‘n soort oordeelsdagkoalisie te form om ‘n nuwe regering van nasionale eenheid aan die gang te kry.
Daar is nou nog net bietjie meer as drie ure oor voor een van die mees geskiedkundige begrotingstoesprake wat hierdie land nog opgelewer het. Laat ons dus duim vashou vir die beste, maar ook onsself behoed vir die ergste.
-
Die Anc sal glo vir ewig regeer
President Jacob Zuma het gister tydens ‘n deur-tot-deur veldtog van die regering aan mense in Nelspruit gesê die Anc sal vir ewig en altyd regeer, of hul teenstanders nou daarvan hou of nie.
Hy het ook mense aangemoedig om in groot getalle na die stembus te gaan en te sorg dat die ANC 90% van die stemme in Oos-Transvaal kry waar die ANC reeds sterk staan. Zuma het ook gesê die Anc staan sterker as ooit.
Zuma se uitlating het woede by die opposisie ontlok. James Masango, die Demokratiese Alliansie se provinsiale leier in Oos-Transvaal het in sy reaksie gesê Zuma se uitspraak is tekenend van ‘n president wat aanvoel dat dinge vir hom begin warm word. Die Anc maak van vrees gebruik om kiesers te intimideer om by die Anc te bly.
President Zuma is al berug vir sy omstrede sêgoed van die verlede. In 2008 het hy ook gesê die Anc sal Suid-Afrika regeer tot Jesus se wederkoms toe. Hy het ook gesê dat diegene wat vir die Anc stem reguit hemel toe sal gaan en diegene wat die party teenstaan sal hel toe gaan. By ‘n ander geleentheid het hy ook gesê die voorvaders sal diegene straf wat nie vir die ANC stem nie. Daar is nog vele ander omstrede uitsprake. Hy het by geleentheid ook beweer dat dit nie [African] is om met ‘n hond te stap en veearts toe te vat soos wat blankes doen nie. Afrikamense versorg hulle mense en nie hul honde nie. Hierdie juweeltjie het natuurlik vele hondeliefhebbers aan die blaf gehad.
Die vraag kan egter gevra word wat sal gebeur as die ANC in vanjaar se verkiesings wel baie stemme verloor as gevolg van kiesers se ontevredenheid oor die misdaad, korrupsie, Zuma se privaat paleis in Nkandla, die Gupta-skandaal, stygende werkloosheid, swak dienslewering ensovoorts? Sal Zuma dan nog so selfversekerd kan wees? Sal die ANC se uitvoerende komitee hom dalk herroep soos wat hul met Thabo Mbeki gedoen het? As dit wel gebeur kan hy sy presidensiële vrywaring teen vervolging op 700 verskillende aanklagte van korrupsie verloor. Gaan Jacob Zuma en die faksie binne die ANC wat hom steun dalk drastiese stappe neem om dit te verhoed?
Hierdie jaar gaan voorwaar nog interessant word. Maak vas jul veiligheidsgordels, die rit gaan nogal stamperig wees. -
DASO Steek DA In Die Skande
Die Demokratiese Alliansie se studente-organisasie het groot konsternasie regoor die land veroorsaak nadat hulle ‘n advertensieveldtog via hulle sosiale netwerke geloods het met ‘n eksplisiete plakaat wat vele gewone Suid-Afrikaners diep ontstel het.
Op hierdie plakaat word ‘n halfnaakte blanke man en swart vrou uitgebeeld wat mekaar omhels met ‘n uitdagende onderskrif: “DASO, in jou toekoms sou jy nie eers twee keer gekyk het nie.”
Mense is met reg ontsteld oor die onsedelike boodskap wat dit na die jeug uitstuur wat hierdie advertensie mag sien, dit komende van ‘n politieke party wat as amptelike opposisie in die parlement moet dien. Slegs die tyd sal leer of die DA Jeug dalk by die owerheid vir Reklamestandaarde aangekla sal word oor hierdie advertensieveldtog.Heelparty nuuskommentators was tot dusver onwillig om aandag te skenk aan die invloed wat hierdie uitbeelding op die raspolarisasie in ons land mag hê. Hierdie stilte is egter vandag verbreek deur COSATU se provinsiale liggaam in KwaZulu-natal wat in hulle reaksie gesê het dat hierdie plakaat volgens hulle blanke oppermag verskans.
COSATU se profinsiale sekretaris in Natal het gesê dat die DA gedink het dat COSATU en die ANC se vryheidstryd net gegaan het oor die ontugwet en ander soortgelyke wette terwyl dit vir hulle oor veel meer gegaan het. Volgens hom is die hele idee om ‘n buite-egtelike verhouding met ‘n blanke persoon te hê glad nie aanloklik nie.Hierdie gebeurtenis het ‘n paar dinge in ons land se politieke realiteit blootgelê. Soos wat die bekende nuuskommentator en vryskutskrywer Herman Toerien in twee artikels op sy webjoernaal uitgewys het, was vele Afrikaners salig onbewus van die Demokratiese Alliansie se liberale beleid waarmee vele van hulle nie noodwendig saamgestem het nie. Hulle het maar bloot vir die DA gestem omhulle die grootste party is wat teen die ANC kan weerstand bied. Slegs die tyd sal leer hoe die DA se stempersentasies geraak sal word deur hierdie wrede ontnugtering van ‘n belangrike deel van hulle kieserskorps.
Verder het die Demokratiese Alliansie nie rekening gehou met die erge rassepolarisasie wat in ons land aangeblaas is veral deur Julius Malema en andere se radikale uitsprake die laaste paar jaar nie. Blank en swart is ewe gewalg gelaat deur hierdie soort reklame soos wat COSATU se reaksie duidelik bewys.Dalk moet die Afrikaner hulle ontevredenheid duidelik aan die DA rugbaar maak en dan kyk wat hulle reaksie daarop is. As die DA steeds nie berou toon nie, straf hulle in die munisipale tussenverkiesings. As hulle nog nie wil luister nie, gee hulle ‘n loesing in die Algemene verkiesing van 2014. Die opposisie kan dalk meer gefragmenteerd wees in die proses, maar hopelik sal die DA dan besef dat hy meer aandag aan sy kiesers se belange moet skenk en minder aan hulle eie liberale ideologiese oogmerke.
Moraliteit in die politiek maak nog steeds vir meeste Suid-Afrikaners saak, veral omdat ons tans so ‘n gebrek daaraan in ons huidige ANC-regering beleef. Verder moet die DA baie versigtiger wees wees hoe hy die komplekse situasie rondom ras en etnisiteit hanteer. Rasseverhoudinge is in hierdie tyd nog meer broos as ooit tevore. -
Politieke probleme in die Weskaap
Nadat die ANC in vanjaar se verkiesings die provinsiale stem in die Weskaap teen die Demokratiese Alliansie verloor het, het dit duidelik geword dat hulle nie hierdie nederlaag met die nodige waardigheid sou aanvaar soos wat dit ware politici in ‘n ware ontwikkelde demokrasie betaam nie.
Op 1 Mei het die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe tydens ‘n werkersdagsaamtrek gesê dat die ANC in die Weskaap ‘n skadukabinet sou saamstel om die sogenaamde “regse planne” van die DA oop te vlek. Die ANC se heethooftige jeugleier, Julius Malema, het tydens ‘n ander saamtrek na Helen Zille, leier van die DA, as ‘n “rasistiese klein dogtertjie” verwys en gesê dat sy aan Jacob Zuma se regering verslag sal moet doen.
Toe Helen Zille haar provinsiale kabinet aangewys het was dit ‘n verrassing om te sien dat almal mans is. Sy het gesê dat sy die beste kandidate vir die werk aangestel het. COSATU en die ANC was glad nie gelukkig hiermee nie en COSATU het glad gedreig om vir Zille voor die gelykheidshof te daag. Sy het by haar standpunt gehou, maar toe maak sy die fout om Jacob Zuma daarvan te beskuldig dat hyself seksisties is omdat hy sy vroue aan die gevaar van HIV/vigs bloot te stel nadat hy by ‘n HIV-positiewe vrou geslaap het. Dis ‘n verwysing na die verkragtingsaak wat ‘n paar jaar terug teen hom aanhangig gemaak is en waarin hy onskuldig bevind is. Hierdie uitspraak van Zille het ‘n woeste bekgeveg veroorsaak waarin allerlei banaliteite rondgeslinger is wat mens nie hier wil aanhaal nie. Later het die ANC se jeugliga en Mkonto wi’Siswe se veterane met militante optrede gedreig as sy nie ophou om op ‘n “disrespekvolle wyse” van Zuma te praat nie. Gelukkig het die ANC homself van hierdie uitsprake gedistansieer, maar dis ook al wat hulle gedoen het.
Verder het dit oor die naweek bekend geword dat daar op Helen Zille en haar kabinet gespioeneer word. Hierdie spioene het al tien provinsiale departemente binnegedring. Volgense berigte raporteer hierdie spioene aan die ANC terug. Intussen het COSATU die DA-regering in die Weskaap ‘n maand tyd gegee om hulle standpunt oor vertenwoordiging en geslagsgelykheid in die kabinet te verander. Indien nie, sal hhulle glo ‘n mosie van vantroue teen Helen Zille en die DA indien.
Om die kersie op die koek te sit, is daar ook nog ‘n haatgroep op Facebook gestig teen Henen Zille. Hierdie haatgroep word hoofsaaklik deur jong ANC-ondersteuners besoek en gebruik. ‘n Senior ANC-amptenaar, Malusi Gigaba, was glo ook ‘n lid van hierdie groep, alhoewel sy woordvoerder beweer hy het nie aan die debat op hierdie groep deelgeneem nie. Asof ons hulle nou moet glo. Op hierdie haatgroep is daar op vieslike manier na haar verwys en party het selfs met geweld gedreig.
Ekself is nie ‘n DA-ondersteuner nie, maar hierdie soort politiekery maak my bang. As dinge so aanhou soos nou, kan dit dalk lei tot grootskaalse burgerlike onrus. Hierdie gaan nie net oor partypolitiek nie, maar oor die veiligheid en stabiliteit van die Weskaap maar ook die hele land.
Die ANC en COSATU moet ophou met hierdie gevaarlike speletjies van hulle en aanvaar dat die DA die provinsiale verkiesing in die Weskaap gewen het en dat sy vir die volgende vyf jaar moet regeer soos hulle sogenaamde demokratiese grondwet voorskryf. Helen Zille moet haar nie so maklik by die ANC se nuttelose bekgevegte laat intrek nie. Moenie ‘n dwaas na sy sotheid antwoord nie, anders trek hulle jou na hulle vlak toe af. Verder moet sy sterk bly staan ter wille van die provinsie en die land se stabiliteit.