Die bestuur van Evkom het gister aangekondig dat hulle nou hulle salarisaanbod aangepas het na 9% verhoging en ‘n behuisingsubsidie van R1500. Dit kom dadat hulle geruk is toe berigte in die media uitgelek het oor groot bonusse wat Evkom hulle bestuurslede gaan betaal. Ons sal nou maar moet sien of die vakbonde hulle aanbod gaan aanvaar. Evkom se vorige aanbod was ‘n verhoging van 8.5% en ‘n behuisingstoelaag van R2000. Ek hoop nou net nie die vakbonde gaan nou begin kibbel oor die behuisingstoelaag nie, want dan is daar nog steeds ‘n moontlikheid vir ‘n staking. Die voordeel van hierdie nuwe wending is darem dat daar geen stakings sal wees vir die oorblywende week van die sokkertoernooi nie. Dankie tog.
Etiket: Evkom
-
Is ‘n staking by Evkom op pad?
Vakbonde wat werknemers by Evkom verteenwoordig het die bestuur tot môre kans gegee om met aanvaarbare salarisvoorstelle na hulle toe te kom. Dis natuurlik ‘n ope vraaag wat kan gebeur indien die Evkom bestuur nie daarin kan slaag om die vakbonde tevrede te stel nie. Sal die werkers regtig tot ‘n staking oorgaan terwyl die wêreldbeker sokkertoernooi nog steeds aan die gang is? Ons moenie vergeet dat ‘n groot deel van hierdie werkers wat nou wil sstaak groot sokkeraanhangers is. as Evkom nie krag kan voorsien nie kan hulle nie na die sokker op televisie kyk nie. Om die waarheid te sê, daar sal ook nie genoeg krag wees om die spreiligte by die stadions sowel as die mediasentrum aan die gang te hou nie. Dit
ten spyte van die feit dat FIFA wel voorgeskryf het dat daar noodkragopwekkers by die sokkerstadions moet wees ingeval Evkom probleme met kragvoorsiening sou
ondervind.
Aan die ander kant is daar kan dit dalk juis die sokkertoernooi wees wat die werkers wel kan motiveer om te staak. Hulle wil sodoende die Evkom bestuur forseer
om aan hulle looneise gehoor te gee. Soos die
oumense sou sê, hulle sal oor lyke gaan om hulle sin te
kry.Dis net vir my skokkend datSolidariteit, ‘n vakbond wat tradisionele Afrikaner- en Christenwaardes aanhang ook een van die bakbonde is wat dreig om moontlik aan hierdie staking deel te neem. Sal hulle dit regtig doen of besef hulle ook soos gewone Afrikaners insien dat elektrisiteitsvoorsiening ‘n noodsaaklike diens is wat hulle lewer?
Kom ons hoop maar môre dat die bakbonde en bestuur tot
‘n vergelyk kan kom oor hierdie kwessie. Indien nie, sal dit ‘n groot ramp vir Suid-Afrika wees. Nie net sal dit ons ekonomie skade aandoen nie, Maar dit sal ook ons beeld na die buitewêreld nog erger skade aandoen as wat die misdadigers en rowers alreeds gedoen het. -
‘n Duur April. En dis geen grap
So ‘n rukkie terug het ons die skoknuus verneem dat Evkom sy kragtariewe wel met 25% per jaar gaan verhoog. Hierdie verhoging tree Aprilmaand in werking. Vanoggend op die nuus hoor ek toe dat die brandstofprys volgende maand na raming met 50c per liter gaan styg. Die finale prysverhoging is nog nie aangekondig nie. Ten minste die helfte van hierdie verhoging, 25c, word veroorsaak deur die verhoging in die brandstofheffing wat tydens die begroting in Februarie aangekondig is.
Ons gewone verbruikers, salaristrekkers en ander platsakke sal op 1 April nie veel hê om oor te lag nie. Sterkte vir julle almal. -
Kan ‘n beurtkragkrisis ons weer tref?
Die Elektrisiteitsadviesraad het gister Suid-afrikaners aangeraai om hulle elektrisiteiitsverbruik met 10% te verminder. Die minister in die presidensie, Trevor Manuel, het gisteraand op televisie gesê EVKom het nie genoeg kragreserwes nie. Volgens die energiewet moet EVKOM ‘n sekere hoeveelheid krag in reserwe
hê ingeval een van hulle opwekkers by ‘n kragsentrale onklaar sou raak.
Ek reken ons sal dalk die vakansie sonder voorval kan geniet. maar wat gaan volgende jaar gebeur as almal weer terugkeer werk toe en die groot nywerhede weer hulle bedrywighede moet voortsit. Gaan ons dalk weer ‘n beurtkragsituasie hê soos wat ons in 2008 beleef het? Indien wel, hoe gaan ons ekonomie daardeur belemmer word? Watter skade gaan dit aan infrastruktuur veroorsaak? Twee jaar gelede is substasies beskadig as gevolg van aanhoudende kragonderbrekings. In sommige landelike gebiede is selfoontorings beskadig as gevolg van wisselende elektrisiteitsvoorsiening. Munisipale rioolwerke kon ook nie ten volle funksioneer nie omdat hulle pompstasies gaan staan het.
Kom ons hoop maar dat EVkom ‘n plan sal kan beraam om hierdie probleem op te los. Intussen moet ons maar krag spaar waar ons kan en onthou maar om jou voorraad kerse en batterye byderhand te hou. Diegene wat kragopwekkers het, sorg maar dat hy gediens is en gereed staan as die kragkrisis ons wel tref. -
Die kabeldiewe slaan weer toe
Ons is vandag alweer heeldag sonder krag nadat die kabeldiewe laasnag weer Evkom se kabels gesteel het in ons omgewing. Diegene van ons wat nie kragopwekkers het nie se huishoudings het natuurlik weer amper tot stilstand gekom. In ‘n vorige inskrywing het ek die vraag gevra wat mens met sulke nare goed moet maak. Dis net ‘n wonder dat hulle nie doodskok terwyl hulle die kabels afknip nie.
Kom ons hoop maar dat Evkom hierdie probleem spoedig kan oplos. -
Hoe nou gemaak met kabeldiewe
‘n tydjie gelede het EVKOM ‘n advertensieveldtog op TV gehad oor die nadelige gevolge wat kabeldiefstal op ons samelewing het. Ekonomiese en huishoudelike aktiwiteite word lamgelê as ons nie elektrisiteit het nie.
Gister was een van daardie dae. Die kabeldiewe het Maandagnag so elfuur se kant kabels uit ‘n kraglyn tussen Schweizer Reneke en Wolmaransstad gesteel. Die twee dorpe was gister heeldag sonder krag. Die kragtoevoer kon eers gisteraand laat herstel word.
Soos verwag kon word was daar groot chaos. Mense kon nie was of kos kook nie. Besighede kon nie normaal funksioneer nie. Boere kon nie water pomp vir hulle vee, besproeiing en huishoudelike behoeftes nie.
Die regering het onlangs ‘n nuwe wet bekragtig wat die koop en verkoop van tweedehandse goedere strenger reguleer. Dit lyk egter of dit nie veel doen om die kabeldiewe en hulle kopers af te skrik nie. Gegewe die ongerief en skade wat hulle veroorsaak wonder ek sommer maar net of mens nie dalk ‘n erger straf vir hulle moet toedien nie. -
Hoes en betaal in die duisternis
EVKOM het gister tydens ‘n parlementêre verhoor gevra vir ‘n verhoging van kragtariewe van 45% jaar op jaar tot 2012. As hulle hul sin kry, styg die prys wat ek en jy vir elektrisiteit betaal vir die volgende drie jaar met 45% per jaar. In 2010 betaal ons 45% verhoging op vanjaar se tarief, in 2011 betaal ons 45% op 2010 se tarief en in 2012 betaal ons 45% verhoging op 2011 se tarief. Al julle slim mense wat kan somme maak sal gou sien dat dit op die ou end ‘n aardige bedraggie gaan beloop. DOm alles te vererger te maak is daar voorstelle gemaak dat die sogenaamde rykes weereens meer moet opdok sodat die sogenaamde armes nie die volle verhoging hoef te betaal nie. Baie mense het vanoggend op RSG se sms-lyn gevra hoe hulle gaan bepaal wie is ryk en wie is arm.
Hierdie prysverhoging gaan die grootste deel van ons ekonomie verwoes. Kleiner besighede wat vir baie van ons mense werk verskaf sal hulle deure moet sluit omdat hulle nie noodwendig hulle dienste en produkte se pryse dienooreenkomstig kan verhoog nie. Dit gaan baie meer mense werkloos laat.
Selfs ons groot fabrieke, veral metaalsmelters- en verwerkers gaan ook ernstig geknou word omdat hulle nywerhede groot hoeveelhede elektrisiteit gebruik. Om nie eers van die myne te praat nie.
Die boere gaan ook swaar kry. Waterpompe, droërs en pakhuise is van die toerusting wat die meeste krag gebruik. Boere sal van hulle bedrywighede moet afskaal, werkers moet afbetaal of selfs die boerdery moet stop as hulle nie meer die koste kan dra nie.
Hierdie dinge lei op sy beurt na grootskaalse armoede en onrus.
Dames en here, ek is erg bekommerd. -
Staking by EVKOM tydelik afgeweer
Die staking wat vir Maandag by EVKOM beplan was is vandag gelukkig tydelik afgeweer nadat EVKOM hulle loonaanbod vandag verhoog het. Die betrokke vakbonde het tot Woensdag uitstel gevra om hulle lede te raadpleeg. My hoop is dat die werkers wel rede sal insien en die hersiene aanbod sal aanvaar. Ons wêreldekonomie sowel as die land s’n is in resessie en ons maatskappye, organisasies en werknemers moet in hierdie tyd aanvaar dat ons nie sulke goeie verhogings in ons inkomste sal hê soos in die vorige voorspoedige jare nie. Ek moet erken dit sal ‘n baie moeilike indien nie onmoontlike taak wees om hierdie begrip by die grootste deel van ons werkerskorps tuis te bring.
-
Staking by EVKOM moontlik op hande
die vakbond NUM het vandag aangekondig dat daar dalk volgende week ‘n staking by EVKOM kan wees. Dit volg nadat loononderhandelings tussen die vakbond en EVKOM vasgeval het. NUM eis ‘n loonverhoging van 15% terwyl EVKOM slegs 8.5% aanbied. NUM het gedreig dat daar kragonderbrekings tydens die staking kan voorkom. Hulle het ook gesê dat hulle ook met ander vakbonde wat werknemers van EVKOM verteenwoordig sal vergader voordat hulle finaal tot aksie sal oorgaan.
Hierdie situasie is veral skrikwekkend gesien in die lig daarvan dat baie noodsaaklike dienste, soos hospitale, uiters afhanklik is van elektrisiteit. Hospitale het wel noodkragopwekkers wat gebruik kan word as daar ‘n kragonderbreking sou kom, maar dis duur om die kragopwekkers vir ure te laat loop. Verlede jaar se beurtkrag is nog vars in die geheue van baie mense. Dit het ons ekonomie groot skade berokken. Dit is juis hierdie soort van stakings wat maak dat die buitewêreld ons land sien as ‘n onstabiele land.
Ek hoop van harte dat daar spoedig ‘n oplossing sal kom voordat ‘n volskaalse staking uitbreek. -
Kragtariewe styg alweer
Evkom het vandag die groen lig vanaf die Nasionale Energiereguleerder gekry om sy kragtariewe met 31.3% te verhoog nadat hulle oorspronklik vir ‘n verhoging van 34% gevra het. Hierdie verhoging gaan verseker lewenskoste verder opjaag, nie net as gevolg van die duur krag nie, maar ook omdat besighede by wie ons goedere en dienste aankoop ook hulle pryse gaan verhoog. Ons mense sal nou natuurlik moet bespaar op die gebruik van toestelle wat swaar is op krag soos geysers, ketels, stowe en verwarmers. dalk sal my medewoernaliste ook maar die moontlikheid moet oorweeg om maar eerder vanaf skootrekenaars of selfone te blog.