Ek lees gister op
http://praag.co.za dat Facebook aangekondig het dat hy nou sowat 500 miljoen gebruikers het. Dis voorwaar ‘n mylpaal vir hierdie sosiale netwerk. Sowat 1 uit 14 mense wereldwyd het nou ‘n Facebook profiel. Dit maak Facebook die grootste en kragtigste sosiale netwerk.
Etiket: Facebook
-
Baie geluk, Facebook
-
Facebook lite opgeskort
Ek was ‘n gereelde gebruiker van Facebook se meer eenvoudige webwerf Facebook lite. Dis ‘n lekker vinnige webwerf en werk lekker saam met ouer weblesers soos Internet Explorer 6. Daarom was dit vir my ‘n skok toe ek verneem dat Facebook hierdie diens opgeskort het. In hulle amptelike reaksie sê hulle wel dat hulle baie uit hierdie oefening geleer het en hierdie kennis gaan gebruik om hulle standaard webwerf te verbeter. Intussen het ek nog ‘n probleem met Facebook. Ek kan nie die standaard blad op my rekenaar gebruik nie en moet nou maar Facebook mobile op my selfoon gebruik.
Ek glo beslis dat diensverskaffers van sosiale media en kommunikasiedienste soos gratis e-posdienste saam met hulle standaard webwerwe ook 'n ligter weergawe van hulle webwerwe moet hê vir gebruikers wat ouer weblesers gebruik sowel as diegene wat sukkel met swak internetspoed. Baie dankie aan diegene wat dit reeds doen soos Google met 'n basiese html weergawe vir hulle gmail diens, Yahoo met 'n ygo weergawe van hulle blad en vuurslag.co.za/ met hulle vuurslag.co.za/ gadget waar jy inskrywings kan plaa, skakels op jou blogroll kan sit en jou statistieke van jou blog kan besigtig vir vandag en gister. Ander diensverskaffers kan beslis by julle kom leer. -
Internet neem Afrikaans die toekoms in
Tydens ‘n werkswinkel van die Afrikaner Burgerlike Netwerk het Jaco Kleinhans, kommunikasiebestuurder van Solidariteit gesê as Afrikaanse organisasies in die toekoms nog wil voortbestaan sal hulle nou al reeds daaraan moet dink daaraan om op sosiale netwerke soos Facebook, Twitter en Flickr te wees sowel as op die breër internet.
Ongeveer 10% van Suid-Afrikaners het toegang tot die internet. Volgens navorsing deur Solidariteit het sowat 40% van blankes internet by die huis en nog meer het internettoegang by die werk.
Kleinhans het gesê ons het nog glad nie die goedkoop hoëspoed internet in Suid-Afrika soos wat gebruikers in oorsese lande alreeds geniet nie, maar Afrikaanse organisasies moet nou alreeds begin regmaak vir die dag as ons wel sulke internet het. Afrikaners se huidige vlak van internetgebruik moet ook glad nie onderskat word nie. Afrikaans staan alreeds sterk op Facebook.
Ek sou graag my eie stuiwer in die armbeurs wil gooi deur te sê dat dit nie net die organisasies nie, maar ook die gewone man op straat wat kan help om Afrikaans op die internet lewendig te hou. Ons as Afrikaanse webjoernaalskrywers moet nooit die belangrikheid van ons werk onderskat nie. Dieselfde geld vir diegene van ons wat Facebook, Twitter en ander media gebruik. Daarom, aan al my medebloggers, hou aan met die goeie werk wat julle doen en help sodoende om Afrikaans die toekoms in te neem. -
Sosiale netwerke kan gedagvaar word oor skadelike inhoud
Ek lees vanoggend ‘n artikel in die Beeld waar regskenners sê dat sosiale netwerke soos Facebook wel gedagvaar kan word oor skadelike inhoud wat op hulle webwerwe gepubliseer word. Dit volg na die storm wat veroorsaak is deur ‘n uiters haatlike inskrywing op ‘n aanhangersblad ter ere van Julius Malema, leier van die ANC se Jeugliga, op Facebook. Hierdie aanhangersblad is intussen gelukkig verwyder.
Hierdie uitspraak van die regskenners laat my nogal wonder oor ‘n paar dinge. Dit is alombekend dat ‘n sosiale netwerk soos Facebook alreeds meer as 250 miljoen gebruikers het. Alhoewel Twitter nie hulle gebruikersgetalle graag bekend maak nie, sou dit nie vergesog wees om te beweer dat hulle ook tussen 100 en 200 gebruikers het. Hoe op aarde gaan hierdie netwerke in staat wees om beheer uit te oefen oor so baie gebruikers? Hoe gaan hulle sulke skadelike inhoud wat op hulle netwerke verskyn betyds kan onderskep voordat dit versprei en skade aanrig?
Dit is ook alombekend dat meeste van hierdie netwerke gebruik word deur mense van reg oor die wêreld. Indien daar wel ‘n hofsaak teen die sosiale netwerk aanhangig gemaak word, in watter land moet jy dit doen? In jou eie land of in die land waar die sosiale netwerk sy hoofsetel het? As daar regskenners tussen my medebloggers is wat hiermee kan help sal dit verwelkom word.
Nog ‘n vraag wat by my ontstaan is of maatskappye wat webjoernale huisves soos Google met hulle Blogger diens of Automatic wat WordPress besit ook onder dieselfde regsbeginsel gedagvaar kan word indien daar skadelike inhoud op hulle netwerke gepubliseer word? Albei hierdie diensverskaffers het wel stelsels in plek waar jy ‘n webjoernaal kan rapporteer wat die diensvoorwaardes van die diensverskaffer oortree.
Indien dit wel sou gebeur dat sosiale netwerke en ander diensverskaffers van sosiale media wel in die toekoms strenger maatreëls instel om inhoud op hulle netwerke te reguleer sal dit ‘n hartseer dag wees en sal dit vryheid van spraak ernstig aantas. Dit sal dan ‘n klassieke geval wees van ‘n klein groepie oortreders wat die groter groep wetsgehoorsame burgers se pret bederf. Kom ons hoop maar daardie dag is nog ver in die toekoms. -
Nasionale paniek op die internet
Ek neem met kommer kennis van die jongste storm rondom die kop van Julius Malema, die leier van die ANC se Jeugliga. Iemand het ‘n rukkie terug ‘n uiters haatlike inskrywing op sy aanhangersblad op Facebook geplaas. Hierdie inskrywing beweer dat President Jacob Zuma om die lewe gebring gaan word en dat Malema dan die presidentskap van Suid-Afrika gaan oorneem. Blankes sal dan in hulle massas op die wreedste wyse vermoor word.
Daar word nou beweer dat die persoon wat hierdie inskrywing geplaas het van ‘n vervalsde profiel gebruik gemaak het om dit te doen. Ons weet nog nie of ons hierdie dreigement ernstig moet opneem of nie, maar selfs al was hierdie haatskrywer nie ernstig nie het hierdie wandaad van hom die potensiaal om lelik hand-uit te ruk. Indien dit wel ‘n grap was moet hierdie persoon duidelik verstaan dit was ‘n uiters siek grap.
Hierdie voorval bewys weereens die krag van die internet en meer spesifiek sosiale media. Hierdie haatboodskap het nou al baie ver oor die internet heen versprei en is selfs in ongeredigeerde formaat geplaas op die Afrikanervolksparty se webwerf waar ek dit die eerste keer te lese gekry het. Verder het dit erge woede en mismoedigheid veroorsaak op die Afrikaanse WordPress blogs en op die gewilde mobiele sosiale netwerk Jamble. Die verhouding tussen die verskillende bevolkingsgroepe in SA kan baie erg geskaad word wat op sy beurt onstabiliteit kan veroorsaak. Dis ‘n soort selfvervullende profesie.
Ek hoop dat ‘n goeie internetspesialis hierdie haatskrywer wat soveel paniek landwyd veroorsaak het kan opspoor en hom goed aan die pen laat ry. -
Nog mobiele webwerwe vir jou rekenaar
Ek het al voorheen geskryf oor miniwebwerwe wat vir sowel jou selfoon as vir jou rekenaar geskik is. Hier is nog twee van hulle.
Ek het in die laaste tyd van rss voer gebruik gemaak om by al my gunsteling webwerwe en blogs uit te kom. Diegene wat al Googlereader op hulle rekenaars gebruik het, sal saamstem dat die bladsye soms baie lywig kan wees. Die goeie nuus is egter dat jy ook die mobiele weergawe van Googlereader op jou rekenaar kan gebruik. Gaan na www.google.com/reader/m waar jy ‘n baie ligter, kleiner en vinniger bladsy sal kry.
Diegene wat van die Suid-Afrikaanse sosiale netwerk Blueworld gebruik maak, kan ook Blueworld se mobiele webwerf gebruik. Dis te besigtig by m.blueworld.com waar jy van die basiese funksies kan gebruik maak.
Ek verneem ook dat Facebook ook beplan om ‘n ligter weergawe van hulle webwerf te loods wat as Facebook Lite bekend sal staan. Hierdie stap word glo geneem om Facebook meer kompeterend te maak sodat dit met veral Twitter kan meeding.
Geniet julle tydjie op die net. -
Mobiele webwerwe op jou rekenaar?
Dis 'n bekende feit dat webwerwe wat vir selfone geskryf is, veel kleiner en eenvoudiger is as gewone webwerwe wat hoofsaaklik vir rekenaars geskryf is. Dit was nog altyd 'n begeerte van my dat sommige van hierdie mobiele webwerwe ook vir rekenaars beskikbaar moet wees. Gelukkig het ek die laaste tyd op sulke webwerwe afgekom.
Wordpress het 'n oulike miniwebwerf, die vuurslag.co.za/ gadget. Dit kan vanaf jou selfoon sowel as jou rekenaar besoek word by m.wordpress.com en bied jou die opsies om inskrywings op jou blog te plaas sowel as statistieke vir die dag en 'n fasiliteit waar jy nuwe skakels op jou blogroll kan plaas.
Nog 'n oulike webwerf is gmobile.sayni.net waar jy toegang tot jou Gmail rekening kan kry vanaf jou selfoon sowel as jou rekenaar. Dis maar net 'n kleiner, makliker en eenvoudiger weergawe van die gmail waaraan ons aalreeds gewoond is.
Daar is ook Yahoo se mobiele dienste wat beskikbaar is by m.yahoo.com. Hier kan jy toegang verkry tot jou yahoo rekening waar jy e-pos en kitsboodskappe kan stuur. Verder kan jy ook padaanwysings kry, maar hierdie diens werk net in Amerika. Jy kan verder speletjies speel, websoektogte doen, inligting oor finansies kry en vele meer.
Laaste maar mnie die minste nie is daar ook Facebook se mobiele werf wat besigtig kan word by m.facebook.com. Dis maar net 'n meer eenvoudiger weergawe van Facebook soos ons hom alreeds ken.
Ek is in my noppies oor hierdie webwerwe omdat dit goedkoper en verseker baie vinniger en eenvoudiger is om hulle vanaf jou selfoon sowel as jou rekenaar te besoek.