Die minister van finansies het toe sy begrotingsrede gelewer sonder enige voorvalle. Op ‘n stadium het dit gelyk of die EFF die begrotingsrede gaan ontspoor met hul alewige punte van orde, maar die speaker van die parlement het hulle gou tot orde gebring en die minister kon sy toespraak sonder voorval lewer.
Btw is toe wel verhoog, maar net met ‘n halfpersent vanjaar en nog ‘n halfpersent in April 2026. Vanjaar se verhoging sal ook eers in Mei in werking tree wat darem ‘n blaaskans vir boekhouers en ander finsiĆ«le administrateurs en belastingkundiges sal gee.
Die brandstofheffing gaan nie vanjaar op nie. Ook nie die heffing vir die padongelukkefonds nie.
Maatskaplike toelaes sal ook verhoog word. Veral die ouderdomspensioen en ongeskiktheidspensioen word met R150 verhoog.
Selfone met ‘n waarde van minder as R2500 gaan vrygestel word van ad valorem belasting van 9% op luukse goedere. Dit word gedoen om veral armer mense in staat te stel om slimfone aan te skaf wat 4g tegnologie gebruik. Die regering beoog om in die volgende sowat twee jaar 2g en 3g netwerke uit diens te stel.
Sondebelastings op alkohol en tabakprodukte is soos gewoonlik weer verhoog.
Ten spyte van die feit dat die minister wel sy toespraak kon lewer wil dit tog voorkom asof die begroting nie vooraf deur vennote in die RNE goedgekeur is nie. Die DA het blykbaar aangedui hy gaan nie die begroting ondersteun nie. Ons wag nog vir reaksie van ander politieke partye.
Hiermee dan ‘n mees basiese opsomming van ‘n bittersoet begroting wat landsburgers en politici nog lank aan die praat gaan hou.
Etiket: finansies
-
Die bittersoet begroting
-
Die groot begrotingsdag
Vandag is voorwaar ‘n dag vol vrees en verwagting. Vandag lewer die minister van finansies sy langverwagte begrotingstoespraak wat al so vroeg as Februarie moes gebeur het maar toe uitgestel is tot 12 Maart. Dit was die eerste keer in die land se geskiedenis dat soiets gebeur het en het gevolg na ‘n ernstige geskil tussen lede van die regering van nasionale eenheid oor ‘n voorgestelde verhoging van 2% BTW.
Die minister sien die verhoging van BTW as ‘n broodnodige maatreel om veral maatskaplike toelaes soos die R370 Covid toelaag te kan befonds. Verder is die vrees en verwagting ook daar dat ander belastings soos maatskappybelasting verhoog kan word om die gewraakte nasionale gesondheidsversekering te befonds. Dit ten spyte van die waarskuwings dat dit onhaalbaar en onvolhoubaar is.
Verder is daar ook nog die dreigement van die EFF en MK dat as BTW wel verhoog word, sal hulle die land tot stilstand bring.
Dit kan tot verdere onstabiliteit lei.
Verder het die ANC gedreig dat hy moontlik die hulp van die EFF kan inroep om hom te help om ‘n meerderheidstem vir die begroting te kry indien die DA nie sy steun aan die begroting wil gee nie.
Die DA kap toe weer terug dat indien die ANC soiets sou probeer gaan hulle dit sien as ‘n mosie van wantroue in die Regering van Nasionale eenheid en kan dit moontlik die einde van hierdie saamgestelde koalissieregering beteken. Die groot vraag bly egter wat gaan gebeur as die ANC wel partye soos die MK en EFF uitnooi om ‘n soort oordeelsdagkoalisie te form om ‘n nuwe regering van nasionale eenheid aan die gang te kry.
Daar is nou nog net bietjie meer as drie ure oor voor een van die mees geskiedkundige begrotingstoesprake wat hierdie land nog opgelewer het. Laat ons dus duim vashou vir die beste, maar ook onsself behoed vir die ergste.