Etiket: geloof

  • Spotprente, geloof en respek

    Wat het die arme Jonathan Shepiro, ook bekend as die spotprentkunstenaar Zapiro, besiel om ‘n spotprent te teken van die Moslems se heilige profeet Mohammed? En dit so kort voor die wêreldbeker sokkertoernooi? Onthou hy dan nie die groot probleme wat die Dene gehad het nadat ‘n Deense spotprentkunstenaar ook ‘n reeks spotprente oor Mohammed gepubliseer het? Die liberaliste vertel ons altyd dat ons respek moet hê vir ander se geloof en dis alles goed en wel, maar dit lyk my of hulle self nie altyd hierdie reël gehoorsaam nie. Kom ons hoop hierdie ding het nie ernstige nagevolge vir Zapiro of die res van die land in nie.

  • Godsdiensonderrig op skool

    Die laaste paar weke was daar ‘n hewige debat oor godsdiensonderrig op skool. Hierdie omstredenheid is veroorsaak deur Prof. George Claasen wat eers gedreig het om skole wat steeds godsdiensonderrig gee hof toe te sleep maar toe sy veldtog laat vaar het.
    Ek het ook met groot belangstelling die debat gevolg op Bierpens se webjoernaal Kekkel op die Plaas. Het Christene werklik die reg om godsdiensonderrig op skool te gee? Moet ouers dit nie eerder self doen nie? Verseker stem ek saam met die stelling dat dit allereers die ouers se plig is om hulle kinders reg op te voed volgens die Woord. Daar moet egter ook ter wille van stabiliteit ook ‘n vorm van godsdiensonderrig op skool wees om die grondslag wat die ouers gelê het te versterk.
    Die tweede vraag wat tydens hierdie debat opgekom het het gehandel oor wie nou verantwoordelikheid vir ons kinders se godsdiensonderrig moet aanvaar. Moet die regering dit doen? Beslis nie. Die kommunistiese ANC-regime kan onder geen omstandighede met hierdie taak toevertrou word nie. Al wat ons wel van die regering vra is dat hulle alle geloofsgemeenskappe die reg moet gee om self te kan besluit watter geloof of godsdiens hulle in hulle skole wil leer soos wat dit altyd die geval was. Verder moet kerke, gemeenskappe en beheerrade en ouerkomitees by skole self hierdie verantwoordelikheid opneem oor hoe godsdiensonderrig prakties toegepas gaan word.
    Verder moet Godsdiensonderrig gegee word deur mense wat vir die taak toegerus is en wat self seker van hulle geloof is. As die onderwyser of onderwyseres self verward is, moet hulle nie godsdiensonderrig gee nie.
    Hierdie debat is nog lank nie verby nie. Ons sal nog ‘n lang paadjie moet stap om die regte oplossing vir hierdie dilemma te kry.