Etiket: kabeldiewe

  • Die kabeldiewe slaan weer toe

    Ons is vandag alweer heeldag sonder krag nadat die kabeldiewe laasnag weer Evkom se kabels gesteel het in ons omgewing. Diegene van ons wat nie kragopwekkers het nie se huishoudings het natuurlik weer amper tot stilstand gekom. In ‘n vorige inskrywing het ek die vraag gevra wat mens met sulke nare goed moet maak. Dis net ‘n wonder dat hulle nie doodskok terwyl hulle die kabels afknip nie.
    Kom ons hoop maar dat Evkom hierdie probleem spoedig kan oplos.

  • Hoe nou gemaak met kabeldiewe

    ‘n tydjie gelede het EVKOM ‘n advertensieveldtog op TV gehad oor die nadelige gevolge wat kabeldiefstal op ons samelewing het. Ekonomiese en huishoudelike aktiwiteite word lamgelê as ons nie elektrisiteit het nie.
    Gister was een van daardie dae. Die kabeldiewe het Maandagnag so elfuur se kant kabels uit ‘n kraglyn tussen Schweizer Reneke en Wolmaransstad gesteel. Die twee dorpe was gister heeldag sonder krag. Die kragtoevoer kon eers gisteraand laat herstel word.
    Soos verwag kon word was daar groot chaos. Mense kon nie was of kos kook nie. Besighede kon nie normaal funksioneer nie. Boere kon nie water pomp vir hulle vee, besproeiing en huishoudelike behoeftes nie.
    Die regering het onlangs ‘n nuwe wet bekragtig wat die koop en verkoop van tweedehandse goedere strenger reguleer. Dit lyk egter of dit nie veel doen om die kabeldiewe en hulle kopers af te skrik nie. Gegewe die ongerief en skade wat hulle veroorsaak wonder ek sommer maar net of mens nie dalk ‘n erger straf vir hulle moet toedien nie.