Etiket: kinders

  • Tieners Sonder Sosiale Media

    Op 10 Desember 2025 het die Australiaanse regering begin om ‘n verbod toe te pas teen die gebruik van sosiale media vir kinders onder 16 jaar oud. Dit word gedoen om hulle te beskerm teen skadelike inhoud op sulke platforms soos onder kuber-afknouery, seksuele voorbereiding en uitbuiting ensovoorts. Verder is daar ook wêreldwyd kommer oor wat die gebruik van sosiale media aan kinders en jongmense doen en hoe dit hulle geestesgesondheid aantas. Veral op Instagram word daar dikwels van fotofilters gebruik gemaak sodat meisies en vrouens dan meer perfekte foto’s van hulself kan plaas. Dit veroorsaak dan vertwyfeling en ander liggaamlike onsekerhede by diegene wat nie so mooi kan lyk nie.

    Op Techcentral verskyn daar gister ‘n artikel waarin daar vergelykings getref word tussen hoe verskillende lande asook sosiale netwerk maatskappye hierdie netelige vraagstuk hanteer. In sommige lande mag kinders sosiale media gebruik met die uitsluitlike toestemming van hul ouers. Met die nuwe verbod in Australië word dit nie eers toegelaat nie. Geen ouers of voogde van kinders onder 16 mag toestemming gee vir kinders om sosiale media te gebruik nie.

    In ander gevalle word die gebruikersrekeninge van kinders beperk in terme van advertensie wat aan hulle opgedien mag word of met wie hulle op die netwerk kan kommunikeer. Daar is selfs verskillende weergawes van die netwerk beskikbaar vir kinders en volwassenes. Dink byvoorbeeld aan Youtube Kids vir kinders en die standaard weergawe van Youtube vir volwassenes.

    Veiligheid VS Menseregte

    Sommige menseregtegroepe het hierdie verbod gekritiseer en gesê dat dit kinders se reg tot vryheid van spraak en uitdrukking aantas. Die regering het egter volgehou dat hulle dit doen ter beskerming van kinders en die verbod deurgedruk ten spyte van erge teenkanting.

    Ander lande se beleid

    In Britanje het daar reeds in Julie 2025 nuwe wetgewing in werking getree wat webwerwe en sosiale netwerke verplig om ouderdomsverifikasie toe te pas om seker te maak dat kinders onder 18 teen gevaarlike materiaal te beskerm. Behalwe vir die inhoud wat normaalweg as skadelik beskou word, wil die “Online Safety Act” ook kwesbare jongmense beskerm teen inhoud wat eetversteurings aanwakker.

    In Amerika het verskeie deelstate al wetgewing ingestel wat verifikasie van ouderdom vereis. Dit het egter gemengde sukses gehad omdat invloedryke menseregtegroepe en selfs organisasies soos die Electronic Fronteer Foundation, toevallig ook afgekort as EFF, hul deelstaatsregerings hof toe gevat het om die toepassing van sulke wetgewing te verhinder. Hierdie artikel op Wikipedia gee meer besonderhede.

    Volgens hierdie video op Daily Bagel South Africa se kanaal is daar blykbaar ‘n groep van regskenners in Suid-Afrika wat ook aan konsepwetgewing soortgelyk aan Australië s’n werk om die jeug teen skadelike inhoud te beskerm. Hulle voel dat die algemene toelaatbare ouderdom van 13 jaar nie voldoende is om kinders te beskerm nie.

    Is hierdie regulasies werkbaar?

    Daar word gereeld daarop gewys dat tieners van “virtual private networks” oftewel vpns, kan gebruik maak om hierdie ouderdomsbeperkings te omseil. Die Britse regering hou egter hierdie situasie met ‘n houtoog dop en daar kan moontlik ‘n verbod teen hierdie vpns ook ingestel word. Die kommissaris vir kinders in Engeland, Dame Rachel De Souza, het reeds ‘n beroep op die regering gedoen om so ‘n verbod in te stel. As Britanje dit eers reggekry het, wat staan dan in ander lande soos Australië, Amerika en selfs Suid-Afrika se pad om dit te doen.

    Hoe voel jongmense en tieners hieroor?

    Op Maroela Media het daar gister ‘n artikel verskyn waarin jongmense van oor die wêreld gevra is oor hoe hulle voel oor hierdie verbod. Die reaksies was nogal uiteenlopend. Sommige van hulle het dit tentatief ondersteun, maar party het dit verwerp.

    Die groot vraag is of sulke wetgewing en regulasies regtig gaan help om kinders se verslawing aan sosiale netwerke te breek? Of gaan regerings heeltyd in ‘n stryd gewikkel wees teen ompaaie en skuiwergate wat kinders en tieners sal gebruik om wel toegang tot hulle gunsteling platforms te verkry.

    Gaan hierdie beperkings dalk ook maak dat jongmense meer sal uitgaan en meer tyd met hulle vriende spandeer? Of wat daarvan om meer tyd te spandeer om boeke te lees of handvaardighede aan te leer? Mens mag seker maar droom of hoe?

    Hier lê beslis baie interessante tye voor ons.

  • Sonde met die bure en andere wat die kinders laat struikel

    Hierdie is voorwaar skokkend. Wat is besig om van ons mense te word? Dan is daar nog ouer mense wat jong kinders ook laat struikel in hulle verslawing en trots is daarop. Diesulkes moet net onthou dat ons in die Bybel gewaarsku word dat dit wel onvermydelik is dat kinders sal struikel, maar as jy as ouer, voog of volwassene doelbewus kinders laat struikel, is dit vir jou beter dat ‘n meulsteen om jou nek vasgemaak word en dat jy in die diepsee gegooi moet word. Iewers is ‘n wonderwerk dringend nodig. Baie dankie Rina Bester vir jou skrywe waarin jy hierdie euwels met praktiese voorbeelde uitlug. Mens wil nie inmeng by ander mense nie, maar wat te erg is, is te erg.