Op 5 Oktober 2009 plaas die redaksie van die bekende Afrikaanse blog Bosparra, te besigtig by www.bosparra.com, ‘n prokureursbrief wat namens Media24 aan hulle gestuur is op hulle webwerf. In hierdie brief word hulle geskrobeer omdat hulle glo artikels van Media24 op hulle webwerf gepubliseer het. Sommige artikels is ook vertaal. In die brief word ook skakels aangegee van inskrywings op Bosparra wat die redaksie onmiddellik moet verwyder. Verder word hulle versoek om nie weer materiaal wat deur Media24 geproduseer is op hulle blog te publiseer nie.
Hierdie is voorwaar ‘n interessante verwikkeling vir baie bloggers wat koerantartikels vanaf die koerant se webwerwe gekopieer en dit dan op hulle eie blogs gepubliseer het vir kommentaar deur die blogeienaar en sy/haar deelnemers. Platkuif, Bosparra se hoofredakteur, het in sy verweer aangevoer dat Bosparra ter alle tye erkenning gegee het aan die bron van die artikels wat hulle gepubliseer het deurdat hulle die snelskakel na die oorspronklike artikel op hulle webwerf geplaas het.
Kom ons hoop dat daar spoedig ‘n skikking bereik kan word tussen Bosparra en Media24 rondom hierdie aangeleentheid. So nie, kan hierdie twis verreikende nagevolge vir ander bloggers ook inhou.
Etiket: kopiereg
-
Bloggers en kopiereg