Etiket: Media

  • KI Maak Die Nuus Verspot

    Google Discover se jongste KI eksperiment is besig om ‘n groot bespotting van ernstige nuus te maak.

    The Verge het vandag ‘n baie interessante artikel gepubliseer oor Google wat nou ‘n interessante eksperiment op hulle Google Discover nuusdiens begin het waarmee hulle self nuusflitse deur middel van kunsmatige inteligensie genereer vir nuusstories wat hulle op ander nuusblaaie kry. Dit in plaas daarvan om die opskrifte te gebruik wat deur die nuuswerwe self verskaf word. Google dink seker hulle kan dan die nuusflitse meer interessant maak sodat meer lesers daarop sal kliek.

    Die groot probleem hiermee is dat die bot wat die nuwe nuusflitse genereer, dikwels die opskrifte baie sensasioneel laat klink. As die niksvermoedende leser op die opskrif kliek, wys die oorspronklike opskrif van die nuuswerf wat heel dikwels meer gematig of rasioneel is en meer toepaslik vir die storie is wat gedek word.

    Die joernalis wat hierdie artikel geskryf het, Sean Hollister, het ook verskeie voorbeelde genoem van hoe Google Discover se nuwe KI kletsbot ernstige nuusberigte se opskrifte goed opgekoffie het.

    Verspotte Nuusflitse

    Did you know that BG3 players exploit children? Are you aware that Qi2 slows older Pixels?

    Dis maar net enkele voorbeelde van hoe nuusflitse meer sensasioneel gemaak word sodat meer mense daarop moet kliek om dit te lees. Daar is egter ‘n naam vir sulke uitlokkende opskrifte op artikels. Clickbait. Daar is so ver my kennis strek nog nie ‘n goeie afrikaanse woord daarvoor nie.

    Al hierdie nuutgeskepte KI nuusflitse is nie altyd so oordrewe en sensasioneel nie, maar partykeer word opskrifte deur die bot afgestomp sodat dit nie so interessant is soos wat die oorspronklike nuusblad se opskrif is nie.

    Hier is ‘n paar voorbeelde wat deur die skrywer genoem word.

    • “Origami model wins prize”

    • “Hyundai, Kia gain share”

    Maar hier is die oorspronklike opskrifte.

    In ‘n poging deur die bot om opskrifte vir nuusberigte af te kort, word dit partykeer so geskryf dat dit misleidend oorkom. “Steam Machine price revealed,”

    Die nuwe speletjiesmasjien se prys is nog nie bekend gemaak nie. Dit gebeur eers volgende jaar. Maar hier is die oorspronklike opskrif.

    valve,s steam machine looks like a console, but don’t expect it to be priced like one

    “Microsoft developers using AI”?

    Maar hier is die oorspronklike opskrif.

    How microsoft’s developers are using AI

    Nog voorbeelde van sulke uitlokkende veranderde opskrifte word in die oorspronklike artikel op The Verge genoem.

    Ek weet nie of hierdie eksperiment hier in Suid-Afrika ook gedoen word nie, maar ek sal nie verbaas wees as sulke lawwe opskrifte wel op my Google Discover nuusvoerder opduik nie.

    Daar bestaan met reg groot kommer oor hierdie tipe eksperimente. Daar word nie op die nuusvoerder van Google Discover aangedui dat die opskrif verander is nie. Gewone lesers kan onder die vals indruk geplaas word dat die oorspronklike nuuswebwerf self hierdie lawwe opskrifte aan Google voorgelê het. Dit kan dan ‘n vraagteken plaas op die profesionaliteit van joernaliste, redakteurs, nuusskrywers en taalversorgers by hierdie nuusdienste.

    Hierdie is wel nog net ‘n eksperiment en daar word gehoop dat mense hulself sterk hierteen sal uitspreek sodat Google nie hierdie absolute verslopping ‘n permanente kenmerk van hulle nuusdiens maak nie.

    die teenstrategie

    Wat kan gedoen word om hierdie gruwelike eksperiment te vermy?

    Die beste is om boekmerke vir jou gunsteling nuusdienste op jou foon of rekenaar se webblaaiers te laai. Gaan eerder direk na hul webwerwe toe eerder as om jou nuus deur Google Discover te kry. Indien jy baie nuusdienste het waarmee jy tred moet hou, kan daar van ‘n RSS leser gebruik gemaak word. Daar is verskeie goeie RSS lesers beskikbaar vir alle groot bedryfstelsels soos Windows, Android en IOS. Meeste webwerwe het ‘n RSS nuusvoerder waarby jy kan inteken met jou leser. Dan hoef jy nie noodwendig so baie boekmerke te laai nie, maar direk op jou elektroniese nuusleser lees wanneer daar nuwe artikels op jou nuusdienste verskyn.

    Verder kan hierdie strategie ook help dat hierdie nuusdienste die nodige advertensie-inkomste kry wat hulle verloor het na Google se besluit om al meer van hulle eie kunsmatige inteligensie gebruik te maak vir hulle soektogte. In plaas daarvan dat hulle mense wat na inligting soek, lei na webwerwe wat die nodige antwoorde het, gee hulle self die andwoorde en hou die leser dan op hulle eie webwerf vas. As die leser dan die antwoorde het, kliek hulle nie verder op webwerwe wat oorspronklik die antwoord gegee het nie.

    Staan vas, mense. Moenie van julle proefkonyne laat maak nie.