Etiket: Microsoft

  • Al Ons Digitale Eiers In Enkele Mandjies

    Het ons nie die laaste paar jaar te afhanklik geword van groot internetgebaseerde dienste wat ons hele werkslewe en vermaaklikheid oorgeneem het?

    Ons het ons digitale eiers in enkele mandjies gepak en as een van daardie mandjies skielik geskud word of amper val, dan ontwrig dit ons daaglikse werkverrigting en ontspanning.

    Hierdie vraag word al meer gevra nadat drie onderbrekings by groot internet infrastruktuurdienste binne die bestek van een maand groot internasionale ontwrigting veroorsaak het. Amazon Web Services, Microsoft en Cloudflare is hierdeur geraak.

    Amazon Web Services

    Op 20 Oktober 2025 was daar ‘n groot onderbreking by Amazon Web Services se Amerikaanse bedieners nadat ‘n fout ingesluip het by die programatuur wat die DNS, oftewel “domain Name Servers” op AWS se bedieners reguleer. Dit het wêreldwye ontwrigting veroorsaak op sosiale media soos Snapchat, elektroniese bankdienste en selfs dienste wat gekonnekteerde huise aan die gang hou. In sommige gevalle was daar mense wat beddens het wat aan die internet gekoppel is. Jy kan dan van jou slimfoon of tablet af jou bed se temperatuur beheer. Ongelukkig gebeur dit toe dat hierdie beddens te warm geword het toe AWS se bedieners nie meer die beddens kon reguleer nie, met temperature van tot veertig grade Celsius wat aangemeld is.

    Vele webwerwe, produktiwiteitstoepassings en besigheidstoepassings is ook negatief geraak en administratiewe werkers kon nie hul werk gedoen kry nie.

    Hierdie onderbreking het sowat vyftien uur lank aangehou, maar sommige mense is nog langer sonder internetdienste gelaat omdat ‘n agterstand van dataverwerking eers ingehaal moes word voordat alles weer optimaal kon funksioneer.

    Ek was nog altyd skepties oor die toekomsdrome van stowe, yskaste, televisies en kan jy glo selfs toilette wat aan die internet gekoppel is. In die eerste plek is jou gebruikersdata op sentrale bedieners en wie weet wie almal toegang kan verkry tot hoogs vertroulike data. Ek het altyd die voorbeeld gebruik van ‘n man wat aansoek doen vir mediese versekering en dan met ‘n hoë maandelikse premie aangeslaan word. By navraag hoekom dit dan so is, word hy ingelig dat hy baie bier drink. Toe hy die versekeraar vra waar hulle dan aan sulke snert kom, word die data van sy gekoppelde yskas getrek en dit wys hoeveel botteltjies bier hy ingesit en uitgehaal het.

    Dink nou net wat gebeur as die webbedieners wat jou slim ketel, yskas, motorhuisdeure, slim deurklokkies en elektroniese slotte beheer, skielik gaan staan? Dit sal mos chaos wees.

    Microsoft

    Op 29 Oktober 2025 was daar weer so ‘n onderbreking. Hierdie keer by Microsoft se Amerikaanse webbedieners. Dit nadat ‘n fout ontstaan het by programatuur wat die verkeer op die webbedieners reguleer. Dienste soos Microsoft 365, Outlook, Teams en Azure is tot stilstand geruk.

    Microsoft se programingenieurs moes die programweergawe op die bedieners tot ‘n vorige weergawe terug verander om dit weer aan die werk te kry.

    Mense het gesukkel met e-posse wat vasgesit het, dokumente wat nie verwerk kon word nie en boodskappe en video-oproepe wat nie kon deurgaan nie.

    Die onderbreking het enkele ure geduur.

    Cloudflare

    Op 18 November 2025 was daar nog ‘n grootskaalse onderbreking. Hierdie keer by Cloudflare.

    Cloudflare help om webwerwe te beskerm teen wydverspreide misgunningsaanvalle waartydens webwerwe en dienste lamgelê kan word as gevolg van doelbewuste oorlading op die webbedieners. Verder help dit ook om verkeer te reguleer op webwerwe wat baie gebruikers het deur dit meer eweredig te versprei.

    Gister was daar egter ‘n onderbreking op Cloudflare se bedieners as gevolg van ‘n “configuration file” wat heeltemal te groot was, aldus Cloudflare se amptelike verduideliking.

    Verskeie Suid-Afrikaanse nuuswebwerwe soos Mybroadband Techcentral Businesstech en Die Vryburger was ook uitgeknikker deur die onderbreking. die sosiale netwerk X het ook daaronder gely en die grafiese ontwerpersdiens Canva was ook buite werking.

    Gelukkig kon Cloudflare se programeerders die fout gou herstel en die onderbreking het net enkele ure geduur. Webwerwe en dienste was gistermiddag sporadies aan en af soos ‘n flikkerlig.

    Desentralisasie

    Daar sal ernstig oorweeg moet word om van ‘n wyer verskeidenheid van webbedieners en maatskappye gebruik te maak vir dienste wat wel gesentraliseerde internet infrastruktuur benodig soos webwerwe, kommunikasietoepassings en samewerkingsprogramatuur vir besighede. Hier is ‘n gulde geleentheid vir jong beginners wat tot die inligtings- en kommunikasiesektor wil toetree.

    Verder bepleit ek ook die lokalisering van kantoorprogramme soos woordverwerkers, sigblaaie, databasisse en selfs rekenkundige programme waar moontlik. Ek besef wel dat boekhouding soms sentralisering benodig, veral in groter maatskappye of waar ‘n groep verwante maatskappye se data in een administratiewe middelpunt verwerk moet word. Maar wat die woordverwerkers, sigblaaie en databasisse betref kan daar gerus oorweeg word om na ‘n ouer meer betroubare besigheidsmodel terug te keer waar elke werknemer sy eie kantoorprogramme op sy eie rekenaar het en met werk kan aangaan sonder om afhanklik te wees van ‘n bediener wat jou kantoorwerk beheer.

    Wat sal gebeur as kwaadwillige kuberterroriste dit kan regkry om verskeie van hierdie internetdienste soos administrasiedienste, betalingsverwerkers, kommunikasietoepassings en gashere vir nuusmedia se webwerwe gelyktydig tot stilstand kan dwing? Dit sal totale ekonomiese chaos wees. As hulle dit kan regkry om kragnetwerke ook buite aksie te stel kan dit tot enome sosiale onrus lei.

    Juis daarom is dit belangrik vir ons op mikrovlak en vir organisasies, staadsdepartemente en sakeondernemings op makrovlak om hierdie kwessies ernstig te oorweeg sodat ons in die toekoms nie so kwesbaar gelaat kan word as daar wel ernstige onderbrekings by groot internetdienste voorkom.

     

  • Windows 8 Is Op Pad

    Die rekenaarprogrammatuurreus Microsoft het op Skrikkeldag, 29 Februrarie 2012, vir groot opgewondenheid gesorg nadat hulle ‘n toetsweergawe van Windows 8 by die Mobile World Congress in Barcelona, Spanje, bekendgestel het.
    So ver is hierdie toetsweergawe, ook bekend as die “beta” weergawe van die Windows 8 bedryfstelsel al deur mense in meer as 70 lande afgelaai om getoets te word.
    Hierdie bedryfstelsel kan op gewone rekenaars, skootrekenaars en tabletrekenaars werk. Dit is dus nie meer nodig vir Microsoft om verskillende bedryfstelsels vir gewone rekenaars en tabletrekenaars te skryf nie.

    Microsoft beweer dat Windows 8 op ‘n gewone rekenaar slegs 8 sekondes neem om ten volle te laai as die rekenaar aangeskakel word. Indien dit wel so realiseer sal dit absoluut alle rekords breek vir die bedryfstelsel met die vinnigste aanskakelspoed. Die meeste bedryfstelsels wat tans beskikbaar is neem romdom 30 sekondes om aan te skakel en te laai.

    Windows 8 doen weg met die gewone Windows kieslys en maak gebruik van ‘n ontwerp waar programme amper soos ‘n mosaiek van teëls op die rekenaarskerm vertoon word. Diegene van julle wat al mosaiek kunswerk gesien het sal weet waarvan ek praat. Die teëls op die skerm lyk amper soos padtekens. Programme kan oopgemaak word deur met jou vinger op die skerm te raak waar die toepaslike programme se teëls vertoon word mits jy ‘n rekenaar met ‘n raakskerm het. Jy kan egter ook met jou muis kliek om programme oop te maak as jy nie ‘n raakskerm wil gebruik nie.

    Hierdie nuwe soort ontwerp kan dalk ernstige uitdagings stel vir maatskappye en organisasies wat skermlesers vir gesiggestremde en leesgestremde rekenaargebruikers skryf. Hierdie groepe is veral afhanklik van kieslyste wat met ‘n toetsbord genavigeer word. Microsoft sal daaraan moet dink om regtig saam te werk met hierdie organisasies om alternatiewe te vind wat dit vir hierdie organisasies en maatskappye moontlik sal maak om die nuutste skermlesers te kan skryf wat met gemak deur hierdie kwesbare groeperings gebruik kan word. Heelparty mense se werksekerheid hang daarvan af. dit het al in die verlede gebeur dat veral gesiggestremdes hul werk verloor het omdat hulle spraakprogramme nie versoenbaar was met die maatskappy se bedryfstelsel nie.

    Ek is nogal nuuskierig om te lees wat die gewone mense wat bevoorreg is om hierdie bedryfstelsel te kan toets daarvan dink. Ek sal beslis die webjoernale dophou vir enige verdere nuus.