Ek lees vanoggend ‘n berig in Beeld van Australiese toeriste wat saam met die eienaar van die luukse vakansieoord naby Hazyview,
Oos-Transvaal deur gewapende rowers oorval is net toe die eienaar besig was om die gaste na hulle kamer te vergesel. Die mense is onder andere van kontant, kameras, selfone en skootrekenaars beroof. Maar wat regtig erg was is toe die rowers na hulle rooftog vir hulle slagoffers gevra het of hulle darem nog die Wereldbeker sokkertoernooi geniet? Dis mos nou die toppunt van vermetelheid. Kan hulle nie insien dat dit juis hulle is wat die toeriste se vakansie in Suid-Afrika opgefoeter het nie?
Volgens die eienaar van die oord was die rowers andersins ordentlik en het hulle goeie Engels gepraat. Hulle was ook netjies geklee. Dit het voorgekom asof hulle opgelei was vir hierdie soort taak.
Gelukkig het niemand tydens die rooftog seergekry nie. Een van die vroulike toeriste moes net vir skok behandel word.
Hierdie is maar deel van ‘n hele reeks voorvalle waar buitelandse toeriste en selfs joernaliste in Suid-Afrika beroof is terwyl hulle hier was vir die sokkertoernooi. Ek wil nou al die voorspelling waag dat FIFA beslis met eier op hulle gesig gaan wegkom oor die sogenaamde veiligheid van Suid-Afrika om die toernooi aan te bied. Buitelanders ervaar nou eerstehands wat Suid-Afrikaners al amper vergeet het. Mens wonder watter internasionale gevolge hierdie gebeure vir Suid-Afrika kan inhou? Ons beeld het beslis skade gely.
Sterkte aan al julle toeriste en besoekers vir die res van die toernooi. Mag julle veilig wees en nie die slagoffer van Suid-Afrika se misdaadgolf word nie.
Etiket: misdaad
-
Rowers se vermetelheid ken geen einde nie
-
Was dit ‘n wraakaanval?
In my vorige inskrywing het ek ‘n beroep op my medevolksgenote gedoen om kalm te bly en hulle nie aan enige onverantwoordelike geweldadige gedrag skuldig te maak na die moord op Eugene Terreblanche, leier van die Afrikanerweerstandsbeweging. Die verkeerde optrede van ‘n klein groepie kan die hele land aan die brand steek. Skoor het ‘n baie mooi pleidooi gerig op haar webjoernaal skoor.wordpress.com.
Juis daarom was dit vir my ‘n skok toe ek gisteraand ‘n berig hoor van ‘n beweerde skietery op ‘n minibustaxi naby Secunda. Volgens die passasiers van die taxi het twee blanke mans in ‘n dubbelkajuitbakkie by hulle verbygery en skote op die taxi gevuur. Sommiges is gewond. Die plaaslike polisie sê hulle sluit nie die moontlikheid uit dat dit moontlik ‘n wraakaanval was na die moord op Terreblanche.
Ons as Afrikaners kan beslis weerstand bied teen die huidige toestande in die land wat ons toekoms bedreig soos geweld en misdaad, die haatspraak van veral die Anc Jeugliga en sy meelopers, die korrupsie wat ons land op sy knieë dwing en die manier hoe ons van ons kulturele erfenis beroof word deur dinge soos naamsveranderinge en die wanvoorstelling van Afrikaners in ons land se geskiedenis. Maar al hierdie dinge moet geskied met die nodige respek vir algemene wet en orde.
Ek hoop nie hierdie voorval by Secunda kring uit en word deur die haatsprekers van die ANC en ander radikale groepe gebruik om die vure van haat teen ons aan te blaas nie. -
Rus in vrede, ET
Die leier van die Afrikanerweerstandsbeweging, Eugene Terreblanche, is Gisteraand, 3 April, op wrede wyse op sy plaas buite Ventersdorp vermoor terwyl hy gelê en slaap het. Twee jong plaaswerkers wat maar slegs drie weke vir hom gewerk het is in hegtenis geneem vir sy moord nadat hulle self die polisie ontbied het en hulself toe oorgegee het. Hulle beweer hulle het die moord gepleeg nadat hulle met hom stry gehad het oor onbetaalde lone.
Daar is egter ‘n paar vreemde dinge rondom hierdie moord. Die panga wat as een van die moordwapens gebruik is is na die tyd netjies op sy bors geplaas. As ‘n moordenaar ‘n voorwerp op sy slagoffer se bors plaas is dit gewoonlik ‘n soort boodskap wat hy wil uitstuur. Verder is dit ook totaal vreemd dat hierdie twee lafaards na die tyd self die polisie vanaf ‘n buurplaas ontbied het en toe hulself oorgegee het en skuld beken het. Dis die eerste keer dat plaasaanvallers dit doen.
Ons volk verkeer vandag in ‘n toestand van skok, woede en hartseer. Al het baie van ons nie saamgestem met alles wat hy gedoen en gesê het nie het hy nogtans die vermoeë gehad om ons Afrikanerharte warm te laat klop.
Ek hoop dat my mede-Afrikaners ten spyte van al die gevoelens wat in hulle broei hulle nie sal skuldig maak aan onverantwoordelike optrede nie, veral nie gewelddadige optrede nie. Dit is presies wat die beplanners van hierdie moord wil hê.
Rus in vrede, oom Eugene. Ons sal jou altyd onthou. -
Die kabeldiewe slaan weer toe
Ons is vandag alweer heeldag sonder krag nadat die kabeldiewe laasnag weer Evkom se kabels gesteel het in ons omgewing. Diegene van ons wat nie kragopwekkers het nie se huishoudings het natuurlik weer amper tot stilstand gekom. In ‘n vorige inskrywing het ek die vraag gevra wat mens met sulke nare goed moet maak. Dis net ‘n wonder dat hulle nie doodskok terwyl hulle die kabels afknip nie.
Kom ons hoop maar dat Evkom hierdie probleem spoedig kan oplos. -
Hoe nou gemaak met kabeldiewe
‘n tydjie gelede het EVKOM ‘n advertensieveldtog op TV gehad oor die nadelige gevolge wat kabeldiefstal op ons samelewing het. Ekonomiese en huishoudelike aktiwiteite word lamgelê as ons nie elektrisiteit het nie.
Gister was een van daardie dae. Die kabeldiewe het Maandagnag so elfuur se kant kabels uit ‘n kraglyn tussen Schweizer Reneke en Wolmaransstad gesteel. Die twee dorpe was gister heeldag sonder krag. Die kragtoevoer kon eers gisteraand laat herstel word.
Soos verwag kon word was daar groot chaos. Mense kon nie was of kos kook nie. Besighede kon nie normaal funksioneer nie. Boere kon nie water pomp vir hulle vee, besproeiing en huishoudelike behoeftes nie.
Die regering het onlangs ‘n nuwe wet bekragtig wat die koop en verkoop van tweedehandse goedere strenger reguleer. Dit lyk egter of dit nie veel doen om die kabeldiewe en hulle kopers af te skrik nie. Gegewe die ongerief en skade wat hulle veroorsaak wonder ek sommer maar net of mens nie dalk ‘n erger straf vir hulle moet toedien nie.