WordPress vra vandag in hul daaglikse skryfuitdaging: oftewel Daily Prompt, of jy al op die verhoog voor andere opgetree het?
Ek sal myself nou nie as ‘n ster of soiets beskou nie, maar ek het al my beurt gehad om soiets te kon doen.
Redenaarskompetisies
Op skool het ek al by verskeie geleenthede aan redenaarskompetisies deelgeneem. Ek het nou wel nie gewen nie, maar ek glo tog ek het my bes gedoen om my onderwerp so goed as moontlik aan te bied en te verdedig.
Om so ‘n toespraak voor ander mense te lewer kan nogal ‘n uitdaging wees. Jy moet so vlot as moontlik jou saak kan stel sonder om vas te val of senuweeagtig te raak.
Musiekoptredes
Ek het ook al aan musiekoptredes deelgeneem waarin ek al klawerbordnommers gespeel het, selfs al gesing het of mondfluitjie gespeel het saam met ‘n boeremusiek orkes. Die belangrikste is dat mens gefokus moet bly om die werk te speel wat jy aanbied. Alles goed en wel, maar ek het al daardie tipe voorval gehad waartydens die kragtoevoer na my elektroniese klawerbord skielik onderbreek is op ‘n kritieke oomblik in die musiekstuk en dit kan jou hele konsentrasie en werksvloei heeltemal omver gooi. Om nie eers van die verleentheid te praat nie.
Soiets kan natuurlik met die beste van ons gebeur. Ek onthou nog ‘n storie wat Philip Kotze, ‘n sanger, musiekafrigter en prediker op radio vertel het. Hy en sy vrou van destyds, Ella, het altyd saam opgetree. Eendag is hulle weer by so ‘n konsert en terwyl hulle besig was om een van hulle liedjies te sing, besef hulle nie dat een van hulle dogtertjies, wat toe nog klein was, onder die tafel ingeloop het waarop die CD-speler met die begeleidingsmusiek op staan. Daar stamp die kind toe haar kop onder die tafelblad en die laserskyf spring toe vorentoe. Die hele aanbieding is tydelik omver gegooi omdat die lied wat hulle gesing het nou onderbreek is en omdat hulle boonop ook die huilende kind moes troos. Dis nou ‘n kombinasie van skrik en seer daardie.
Ek geniet dit nog steeds om mondfluitjie te speel saam met ‘n hele boereorkes of selfs net met ‘n kitaarspeler of klawerbordspeler. Ek kry weens omstandighede net nie genoeg kans om te oefen nie, maar as ek wel so ‘n geleentheid kry sal ek maar plan maak.
Vir diegene van u wie nou nie profesionele kunstenaars is nie, maar tog partykeer die geleentheid kry om jou talent met andere te deel, geniet wat jy doen en maak die beste daarvan. Mens weet nooit watter geleenthede dalk oor jou pad kan kom nie.