Dis interessant om te sien hoedat die NG Kerk se Oostelike Sinode die nuwe sosiale media gebruik om hulle sinodesitting wat hierdie week plaasvind te bemark. Die gewone gemeentelid kan nou sien watter kwessies op die vergadering bespreek word. Die kerk kan ook meer direk met die publiek kommunikeer in plaas daarvan om deur die gevestigde mediakanale te werk wat heel dikwels die kerk se standpunte verkeerd vertolk of nie na behore daaraan aandag kan gee nie weens meer dringende nuusberigte van nasionale belang.
Die sinode het ook ‘n blog op wordpress wat besigtig kan word by sinoos.wordpress.com asook ‘n twitter mikrojoernaal wat by www.twitter.com/sinoos besigtig kan word. Mens kan ook op Twitter van die hashtag #sinoos gebruik maak om ander deelnemers aan die sinode se kommentaar te lees of om self kommentaar te lewer.
Die kwessies wat by gister se sinodesitting bespreek is is alles goed en wel, maar ons sal moet wag en sien hoe dit op die ou end praktiese inslag in die kerk se daaglikse bediening gaan vind. Kwessies soos die Christen en omgewingsbewaring, die Christen se getuienis in woord en daad aan diegene binne sowel as buite sy kerkgroep en die invloed van sonde op ons verhouding met God is bespreek. Ek is nogal nuuskierig om te sien wat die kerk op grondvlak gaan doen om hierdie vraagstukke aan te spreek. Gaan die kerk dalk meer betrokke raak by rommelherwinning? Gaan die kerk dalk lidmate aanmoedig om meer eenvoudiger te leef? Gaan die kerk mense aanmoedig om hulle verhouding met die Here te herstel nadat dit deur sonde verwoes is? Gaan die kerk lidmate toerus met die nodige hulpmiddele om meer effektief te getuig?
Hopelik gaan hierdie sinodesitting wat meer as ooit in die openbare oog is meer wol as lawaai oplewer omdat hulle weet die gewone man op straat hou hulle dop.
Etiket: NG Kerk
-
Die kerk en sosiale media