Die departement van Grondhervorming en landelike ontwikkeling het gister bevestig dat hulle ‘n nuwe wetsontwerp beplan wat ten doel het om grondbesit te reguleer volgens demografiese raskwotas om grondbesit in lyn te bring met die rassedemografie van die land. Hierdie wetsontwerp, bekend as die Wet op Billike Toegang tot Grond, is gister aan die parlementêre portefeuljekommitee voorgelê met die nodige beplanning wat uitstippel hoe die proses sal verloop om die nuwe wet as amptelike wetgewing in te stel.
As alles volgens die beplande tydlyn verloop, sal die wetsontwerp in Maart aan die kabinet voorgelê word vir bespreking. waarna dit in April en Mei vir openbare kommentaar beskikbaar gestel gaan word. In Augustus sal dit dan aan Netlac voorgelê word en die finale weergawe sal dan in Oktober aan die parlement voorgelê word waarna dit dan seker na die president verwys sal word vir ondertekening.
Hoewel min besonderhede nog bekend is, is dit wel bekend dat die wet ten doel het om sogenaamde skeefgetrekte patrone van grondbesit reg te trek. Hoe gaan hulle dit dan regkry? Gaan hulle dalk inmeng met die koop en verkoop van grond en eiendomme op die vrye mark? Gaan hulle dalk ‘n beperking plaas op die hoeveelheid grond wat veral boere mag besit, soos wat voorheen al probeer is? Wie onthou nog die tyd toe die voorstel die rondte gedoen het dat boere net twaalfduisend hektaar grond mag besit?
Wynand Boshoff, die Vryheidsfront Plus se hoofwoordvoerder vir landbou, het ‘n ernstige waarskuwing hieroor uitgereik.
https://www.vfplus.org.za/af/jongste-nuus/herverdeling-van-grond-raswet-op-pad/
Wynand verwys in sy verklaring daarna dat wetgewing soos hierdie die ANC se manier is om die uitdaging wat veral die MK party vir hulle toekomstige heerskappy inhou die hoof te bied. Verder sien hulle dit as deel van die sogenaamde Vryheidstryd wat hulle in 1994 opgegee het en nog nie voltooi het nie. Hier is ‘n direkte aanhaling uit sy verklaring.
Die VF Plus wil almal met belang by grondbesit aanmoedig om paraat te wees. Dit lyk of die ANC die uitdaging van die MK Party op hierdie manier die hoof wil bied en so vinnig moontlik beweeg.
Nóg die departement, nóg die portefeuljekomitee, maak ‘n geheim daarvan dat hierdie wetsontwerp grondbesit deur wit mense teiken.
Hulle beskou dit as ‘n deel van die vryheidstryd wat in 1994 agterweë gelaat is. Dit is ‘n ander manier om te sê dat hulle besluit het om dié skikking op nog ‘n manier eensydig op te skort.
Soos wat Doktor Boshoff so sydelings uitgewys het, lyk dit inderdaad of die ANC regering besig is om die ooreenkomste wat destyds by Codesa bereik is, ongedaan te maak en dit vir alle praktiese doeleindes op te skeur.
Hierdie verwikkeling kom minder as ‘n maand nadat President Cyril Ramaphosa op 23 Januarie bekend gemaak het dat hy die wet op onteiening sonder vergoeding onderteken het. Ek het reeds voorheen ‘n volledige artikel hieroor geskryf.
Daar word ook uitgewys dat die regering die nuwe onteieningswet kan gebruik om grond te bekom vir die nuwe voorgestelde demografiese grondplan.
Intussen lyk dit asof die ander vennote in die regering van nasionale eenheid nie opgewasse is om die ANC te stop nie. Daar word baie gepraat en mediaverklarings uitgereik en selfs met hofsake gedreig om hierdie wetgewing ongrondwetlik te verklaar, maar dis alles net ‘n geblaf. Soos die ou Turkse spreekword lui” die honde blaf, die karavaan gaan verby.
Intussen het president Donald Trump van Amerika hierdie wetgewing veroordeel asook al die ander rasgebaseerde wette wat teen ons diskrimineer. Dit sluit regstellende aksie en swartbemagtiging in. Elon Musk kan nie eers sy Starlink sattelietgebaseerde internet diensverskaffer in Suid-Afrika bedryf nie omdat ons regering vereis dat 30% van alle internet diensverskaffers deur swartbemagtiginsvennote besit moet word. Elon skop natuurlik hewig daarteen.
Verder is Amerika ook siek en sat vir Suid-Afrika se steun aan terreurstate soos Iran en terreurorganisasies soos Hamas. Hulle is ook vies omdat die Suid-Afrikaanse regering Israel voor die Internasionale Geregshof gedaag het oor hulle militêre optrede in die Gasastrook, dit terwyl dit algemene kennis is dat Hamas eerste vir Israel ingeval het en onder andere onskuldige burgerlikes as gyselaars geneem het. Die Suid-Afrikaanse regering het dit glo gedoen op aandrang van Iran nadat die Iranese regering glo vir die ANC geld gegee het om sy partybedrywighede en sy verkiesingsveldtog van laasjaar te bevonds.
Amerika het intussen geldelike bystand aan Suid-Afrika opgeskort oor al hierdie wandade, maar ongelukkig het dit nie die regering gemotiveer om hulle gedrag te verander nie. Inteendeel, hulle het hulself hardekoejawel gehou en dit in geen onduidelike terme gestel dat hulle nie deur Amerika geboelie sal word nie.
Die groot vraag kan gevra word: wat kan nog verder gedoen word om wetgewing soos hierdie te stop. Burgerregte-organisasies soos Afriforum en politieke partye kan hofsake maak so veel as wat hulle wil, maar hofsake is duur en tydsaam en die Anc-regering gaan net eenvoudig voort met sy teenproduktiewe beleid. Die groot gevaar is dat die ANC ons kan lei in ‘n situasie waarin ons heeltyd vasgevang word in ‘n soort spel van regskundige Wac-a-mole.
https://en.wikipedia.org/wiki/Whac-A-Mole
Daar word elke keer ‘n nuwe rassewet ingestel, dit word deur die president onderteken, die opposisie gaan hof toe en partykeer wen hulle die saak maar ander kere nie. Gaan ons dan net aanhou om ‘n klop speelgoedmolletjies terug in hulle gaatjies in te slaan?
Indien die regering voortgaan met hierdie nuwe wetsontwerp gaan dit beslis die spanning in die land nog meer verhoog, veel meer as wat dit reeds is. Wat gebeur indien hierdie spanning breekpunt bereik?
Baie sterkte aan al ons mense wat tans onder die vergrootglas is as gevolg van ons regeringsbeleid. Baie seën en sterkte aan diegene wie op die frontlinies is en wat hierdie wetgewing en aksies beveg asook slagoffers in hulle nood bystaan. Hou jul koppe hoog en staan sterk.