Etiket: onteiening

  • Vryf nog sout in die wonde

    Die departement van Grondhervorming en landelike ontwikkeling het gister bevestig dat hulle ‘n nuwe wetsontwerp beplan wat ten doel het om grondbesit te reguleer volgens demografiese raskwotas om grondbesit in lyn te bring met die rassedemografie van die land. Hierdie wetsontwerp, bekend as die Wet op Billike Toegang tot Grond, is gister aan die parlementêre portefeuljekommitee voorgelê met die nodige beplanning wat uitstippel hoe die proses sal verloop om die nuwe wet as amptelike wetgewing in te stel.

    As alles volgens die beplande tydlyn verloop, sal die wetsontwerp in Maart aan die kabinet voorgelê word vir bespreking. waarna dit in April en Mei vir openbare kommentaar beskikbaar gestel gaan word. In Augustus sal dit dan aan Netlac voorgelê word en die finale weergawe sal dan in Oktober aan die parlement voorgelê word waarna dit dan seker na die president verwys sal word vir ondertekening.

    Hoewel min besonderhede nog bekend is, is dit wel bekend dat die wet ten doel het om sogenaamde skeefgetrekte patrone van grondbesit reg te trek. Hoe gaan hulle dit dan regkry? Gaan hulle dalk inmeng met die koop en verkoop van grond en eiendomme op die vrye mark? Gaan hulle dalk ‘n beperking plaas op die hoeveelheid grond wat veral boere mag besit, soos wat voorheen al probeer is? Wie onthou nog die tyd toe die voorstel die rondte gedoen het dat boere net twaalfduisend hektaar grond mag besit?

    ‘Raswet op pad’ oor grondhervorming, waarsku VF Plus

    Wynand Boshoff, die Vryheidsfront Plus se hoofwoordvoerder vir landbou, het ‘n ernstige waarskuwing hieroor uitgereik.

    https://www.vfplus.org.za/af/jongste-nuus/herverdeling-van-grond-raswet-op-pad/

    Wynand verwys in sy verklaring daarna dat wetgewing soos hierdie die ANC se manier is om die uitdaging wat veral die MK party vir hulle toekomstige heerskappy inhou die hoof te bied. Verder sien hulle dit as deel van die sogenaamde Vryheidstryd wat hulle in 1994 opgegee het en nog nie voltooi het nie. Hier is ‘n direkte aanhaling uit sy verklaring.

    Die VF Plus wil almal met belang by grondbesit aanmoedig om paraat te wees. Dit lyk of die ANC die uitdaging van die MK Party op hierdie manier die hoof wil bied en so vinnig moontlik beweeg.
    Nóg die departement, nóg die portefeuljekomitee, maak ‘n geheim daarvan dat hierdie wetsontwerp grondbesit deur wit mense teiken.
    Hulle beskou dit as ‘n deel van die vryheidstryd wat in 1994 agterweë gelaat is. Dit is ‘n ander manier om te sê dat hulle besluit het om dié skikking op nog ‘n manier eensydig op te skort.

    Soos wat Doktor Boshoff so sydelings uitgewys het, lyk dit inderdaad of die ANC regering besig is om die ooreenkomste wat destyds by Codesa bereik is, ongedaan te maak en dit vir alle praktiese doeleindes op te skeur.

    Hierdie verwikkeling kom minder as ‘n maand nadat President Cyril Ramaphosa op 23 Januarie bekend gemaak het dat hy die wet op onteiening sonder vergoeding onderteken het. Ek het reeds voorheen ‘n volledige artikel hieroor geskryf.

    onteiening sonder vergoeding is wettige diefstal

    Daar word ook uitgewys dat die regering die nuwe onteieningswet kan gebruik om grond te bekom vir die nuwe voorgestelde demografiese grondplan.

    Intussen lyk dit asof die ander vennote in die regering van nasionale eenheid nie opgewasse is om die ANC te stop nie. Daar word baie gepraat en mediaverklarings uitgereik en selfs met hofsake gedreig om hierdie wetgewing ongrondwetlik te verklaar, maar dis alles net ‘n geblaf. Soos die ou Turkse spreekword lui” die honde blaf, die karavaan gaan verby.

    Intussen het president Donald Trump van Amerika hierdie wetgewing veroordeel asook al die ander rasgebaseerde wette wat teen ons diskrimineer. Dit sluit regstellende aksie en swartbemagtiging in. Elon Musk kan nie eers sy Starlink sattelietgebaseerde internet diensverskaffer in Suid-Afrika bedryf nie omdat ons regering vereis dat 30% van alle internet diensverskaffers deur swartbemagtiginsvennote besit moet word. Elon skop natuurlik hewig daarteen.

    Verder is Amerika ook siek en sat vir Suid-Afrika se steun aan terreurstate soos Iran en terreurorganisasies soos Hamas. Hulle is ook vies omdat die Suid-Afrikaanse regering Israel voor die Internasionale Geregshof gedaag het oor hulle militêre optrede in die Gasastrook, dit terwyl dit algemene kennis is dat Hamas eerste vir Israel ingeval het en onder andere onskuldige burgerlikes as gyselaars geneem het. Die Suid-Afrikaanse regering het dit glo gedoen op aandrang van Iran nadat die Iranese regering glo vir die ANC geld gegee het om sy partybedrywighede en sy verkiesingsveldtog van laasjaar te bevonds.

    Amerika het intussen geldelike bystand aan Suid-Afrika opgeskort oor al hierdie wandade, maar ongelukkig het dit nie die regering gemotiveer om hulle gedrag te verander nie. Inteendeel, hulle het hulself hardekoejawel gehou en dit in geen onduidelike terme gestel dat hulle nie deur Amerika geboelie sal word nie.

    Die groot vraag kan gevra word: wat kan nog verder gedoen word om wetgewing soos hierdie te stop. Burgerregte-organisasies soos Afriforum en politieke partye kan hofsake maak so veel as wat hulle wil, maar hofsake is duur en tydsaam en die Anc-regering gaan net eenvoudig voort met sy teenproduktiewe beleid. Die groot gevaar is dat die ANC ons kan lei in ‘n situasie waarin ons heeltyd vasgevang word in ‘n soort spel van regskundige Wac-a-mole.

    https://en.wikipedia.org/wiki/Whac-A-Mole

    Daar word elke keer ‘n nuwe rassewet ingestel, dit word deur die president onderteken, die opposisie gaan hof toe en partykeer wen hulle die saak maar ander kere nie. Gaan ons dan net aanhou om ‘n klop speelgoedmolletjies terug in hulle gaatjies in te slaan?

    Indien die regering voortgaan met hierdie nuwe wetsontwerp gaan dit beslis die spanning in die land nog meer verhoog, veel meer as wat dit reeds is. Wat gebeur indien hierdie spanning breekpunt bereik?

    Baie sterkte aan al ons mense wat tans onder die vergrootglas is as gevolg van ons regeringsbeleid. Baie seën en sterkte aan diegene wie op die frontlinies is en wat hierdie wetgewing en aksies beveg asook slagoffers in hulle nood bystaan. Hou jul koppe hoog en staan sterk.

  • onteiening sonder vergoeding is wettige diefstal

    Op Donderdag, 23 Januarie 2025 het een van die donkerste tye in Suid-Afrika aangebreek sedert 1994. Voor dit was daar ongetwyfeld nog swaarder tye. Maar hierdie is voorwaar een van die mees onsekere tye in ons onlangse geskiedenis.
    President Cyril Ramaphosa het die wet op onteiening sonder vergoeding onderteken en tot wetgewing verklaar.

    Ramaphosa onderteken Onteieningswetsontwerp

    https://www.thepresidency.gov.za/president-assents-expropriation-bill

    Soos verwag kon word, het verskeie groepe hierdie nuus met skok en ontsteltenis begroet. TLU SA het dit as ‘n ernstige aanval op eiendomsreg beskou wat nie net boere nie, maar alle Suid-Afrikaners bedreig. Dit skep groot onsekerheid vir alle grondeienaars. Definisies van definisies van ‘regverdige en billike vergoeding’ en ‘openbare belang’ is vaag en oop vir subjektiewe interpretasie,” verduidelik Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder.
    “Sulke grys gebiede maak die deur oop vir misbruik, korrupsie en onregverdige praktyke.
    https://www.tlu.co.za/donker-dag-vir-sa-tlu-sa-betreur-ondertekening-van-onteieningswet/

    Daar word ook regtens uitgewys dat hierdie besluit negatiewe gevolge sal inhou vir voedselsekerheid, beleggersvertroue en ekonomiese stabiliteit. Persoonlik kan ek byvoeg dat dit nie net buitelandse beleggers sal afskrik nie, maar ook plaaslike sakelui en voornemende entrepreneurs wat dalk ‘n onderneming van die grond af wou kry om hulself te kan versorg asook om werk te skep ver andere. Die regering het al die jare so gehamer daarop om die jeug bewus te maak van die voordele van entrepreneurskap en ons is altyd vertel hoe die klein en medium sakeondernemings werk gaan skep. Nou is dit juis hierdie groep wie nou in die tande geskop word.

    Tlu SA verwys ook na die uitdagings wat boere reeds in die gesig staar met betrekking tot verhoogte insetkoste, wisselvallige markte en landelike misdaad. Nou hang die swaard van moontlike onteiening sonder vergoeding ook nog bo hulle koppe.

    Intussen wil die Vryheidsfront Plus die grondwetlikheid van hierdie wetgewing in die grondwethof betwis en indien hulle suksesvol is daarmee wil hulle hul posisie in die kabinet en die Regering van Nasionale Eenheid gebruik om die wet te laat verander. Persoonlik betwyfel ek hoeveel hulle daarvan gan regkry. Nie hulle of die Demokratiese Alliansie kon die ondertekening van die wet stop nie. Hulle kon ook nie die omstrede BELA onderwyswet stop nie, ingevolge waarvan die staat die magte van plaaslike skole se beheerliggame se magte wegneem om te kan besluit oor ‘n skool se toelatingsbeleid en taalbeleid onder andere. Almal is bang dat indien hulle die RNE sal verlaat, dat die ANC dan ‘n sogenaamde oordeelsdagkoalissie sal saamstel met Partye soos die EFF en MK partye.

    Onteieningswet: Nul vergoeding wat verswyg word wys op gevare

    VF Plus versoek weer politieke partye in parlement om ingevolge die Grondwet saam te staan teen Onteieningswet

    Intussen lyk dit of die Vryheidsfront Plus en DA hierdie wetgewing saam gaan betwis. Die Good party van Patricia De Lill is egter ten gunste van die wetgewing.

    DA, VF Plus sal nuwe Onteieningswet betwis

    Intussen is die MK party glad nie tevrede nie. Hulle probleem is dat die wetgewing slegs grondvergrype vanaf 1913 aanspreek. Hulle wil hê die regering moet so ver as 1652 teruggaan toe Jan Van Riebeeck in die Kaap DE Goede Hoop aangekom het en toe glo daar grond gesteel het asook alle koloniale grondbesit daarna.

    Onteieningswet niks anders as voortgesette ongeregtigheid – MK

    Intussen lyk dit asof daar moontlik groot hofsake gaan kom oor hierdie wet. Afriforum, Action SA en die Referendum Party het woedend gereageer op die ondertekening van die wet.

    Hofsake dreig oor Onteieningswet

    Terwyl daar regtens groot ontsteltenis is oor hierdie wetgewing het Willem Petzer gisteraand tot laatnag saam met regsgeleerdes en ander lede van die Willem Petzer Groep gewerk om ‘n video saam te stel waarin hulle verduidelik wat dit alles behels. Dit probeer om vae punte binne die wetgewing te verduidelik.

    Kom ons hoop dat die aksies wat deur verskeie partye en burgerregtegroepe geneem word hierdie vernietigende wetgewing in sy spore kan stuit, anders is dit niks anders as Suid-Afrika se doodsvonnis wat gister onderteken is.

  • Dis moeilik om ‘n reus te wurg

    Dit het onlangs op die lappe gekom dat die bekende Switserse suiwelverwerkingsmaatskappy Nestlé groot hoeveelhede melk aangekoop het vanaf ‘n suiwelplaas wat nou aan Grace Mugabe, Vrou van president Robert Mugabe van Zimbabwe behoort. Hierdie betrokke plaas is een van vele wat deur die regering van Zimbabwe onteien is. Dit het my nogal verbaas dat daardie plaas so produktief kon bly terwyl baie van die ander plase wat ook so afgevat is lê en vergaan. Soos verwag kon word, het mense baie emosioneel daarop gereageer. Kallie Kriel van die burgerregtegroep Afriforum het selfs so ver gegaan om na hierdie melk as bloedmelk te verwys, Dit is afgelei van die term bloeddiamante wat verwys na diamante wat onwettig uit oorlogsones aangekoop word en waarvan die inkomste gebruik word om die oorlog te finansier.
    Daar is heelwat mense wat daarop aandring dat ‘n boikot teen Nestlé ingestel moet word. Die skrywer van die blog ab imo Pector wil ook in sy persoonlike hoedanigheid hulle boikot deur nie hulle produkte op die winkelrak te koop nie. Hy wys egter daarop dat dit ‘n moeielike oefening gaan wees omdat Nestlé nie net melkprodukte en sjokolades verkoop nie. Hulle het verskeie bekende voedselprodukte se handelsname in hulle stal, onder andere kitskoffie, kitspasta en souse. Hulle sal natuurlik op internasionale gebied ook net so ‘n diverse groep voedselprodukte in hulle stal hê. Mense is al so gewoond aan hierdie produkte dat meeste dit nie sommer sal los nie. Op Ab imo Pector word die vraag ook gevra of die groot supermarkgroepe Nestlé se produkte van die rakke sal verwyder. Ek twyfel. Die enigste boikot wat sal werk is ‘n internasionale boidkot van alle suiwelprodukte sowel as nie-suiwelprodukte wat deur Nestlé vervaardig of bemark word. Ek wonder of Afriforum se internasionale boikotveldtog enige vrugte sal afwerp.