Etiket: paniek

  • Nasionale paniek op die internet

    Ek neem met kommer kennis van die jongste storm rondom die kop van Julius Malema, die leier van die ANC se Jeugliga. Iemand het ‘n rukkie terug ‘n uiters haatlike inskrywing op sy aanhangersblad op Facebook geplaas. Hierdie inskrywing beweer dat President Jacob Zuma om die lewe gebring gaan word en dat Malema dan die presidentskap van Suid-Afrika gaan oorneem. Blankes sal dan in hulle massas op die wreedste wyse vermoor word.
    Daar word nou beweer dat die persoon wat hierdie inskrywing geplaas het van ‘n vervalsde profiel gebruik gemaak het om dit te doen. Ons weet nog nie of ons hierdie dreigement ernstig moet opneem of nie, maar selfs al was hierdie haatskrywer nie ernstig nie het hierdie wandaad van hom die potensiaal om lelik hand-uit te ruk. Indien dit wel ‘n grap was moet hierdie persoon duidelik verstaan dit was ‘n uiters siek grap.
    Hierdie voorval bewys weereens die krag van die internet en meer spesifiek sosiale media. Hierdie haatboodskap het nou al baie ver oor die internet heen versprei en is selfs in ongeredigeerde formaat geplaas op die Afrikanervolksparty se webwerf waar ek dit die eerste keer te lese gekry het. Verder het dit erge woede en mismoedigheid veroorsaak op die Afrikaanse WordPress blogs en op die gewilde mobiele sosiale netwerk Jamble. Die verhouding tussen die verskillende bevolkingsgroepe in SA kan baie erg geskaad word wat op sy beurt onstabiliteit kan veroorsaak. Dis ‘n soort selfvervullende profesie.
    Ek hoop dat ‘n goeie internetspesialis hierdie haatskrywer wat soveel paniek landwyd veroorsaak het kan opspoor en hom goed aan die pen laat ry.