Etiket: Pieter Mulder

  • Groot probleme in Vryheidsfront Plus

    My hart gaan vandag uit na Cornelius Jansen van Rensburg, die voormalige jeugleier van die Vryheidsfront Plus. Hy is Maandagmiddag geskors hangende ‘n ondersoek na sy gedrag nadat hy Pieter Mulder se besluit om ‘n kabinetspos as adjunk-minister van landbou, bosbou en vissery te aanvaar gekritiseer het. Dr. Mulder het na bewering nie sy party geraadpleeg oor so ‘n besluit nie. Ek stem heelhartig met Van Rensburg saam dat Pieter Mulder nie ‘n kabinetspos kan beklee sowel as om die leier van die Vryheidsfront Plus te wees nie. Verder stem ek ook saam met die kritici binne en buite die Vryheidsfront Plus dat hulle nou nie meer die ANC so effektief in die parlement kan opponeer nie. Gelukkig staan die Vryheidsfront Jeug heelhartig by hulle geskorsde leier. Van Rensburg sal binnekort voor ‘n tugverhoor moet verskyn. Op 23 Mei vergader die party se Federale Raad om Mulder se besluit te bespreek. EEn van die party se LP’s, Willie Spies het ook Mulder se besluit gekritiseer. Gaan hy ook geskors word of gaan hulle eerder van Cornelius ‘n voorbeeld maak en die meer senior lede ‘n tweede kans gee? Gaan hierdie tweespalt binne die party tot ‘n skeuring lei soos wat ons gesien het met die ANC en COPE? As Pieter Mulder as partyleier geskors word, sal hy dan nog toegelaat word om sy kabinetspos te behou? Gaan hierdie laaste paar dae se gebeure maak dat die Afrikaners heeltemal hulle vertroue in die sogenaamde demokrasie gaan verloor? Net die tyd sal leer.

  • Pieter Mulder en die nuwe bedeling

    Die nuwe prisident van die ANC-geleide regering, Jacob Zuma, het vandag sy nuwe kabinet bekendgestel. Daar is heelwat veranderinge aan die struktuur van die kabinet aangebring. Sommige departement is verdeel om twee aparte departemente te skep, sommige departemente het nuwe name gekry en sommige departemente het nuwe verantwoordelikhede bygekry het. Die grootste verrassing vir my was die feit dat iemand soos Pieter Mulder van die Vryheidsfrond Plus wat maar vier setels in die parlement gekry het, aangestel is as die adjunk-minister van landbou, bosbou en vissery. Ek het nogal gewonder hoe soiets moontlik was totdat ek vanaand op Freek Robinson se program Fokus verneem het dat Pieter Mulder en Jacob Zuma voor die tyd lank gepraat het. Die groot vraag is nou egter of Pieter Mulder regtig ‘n verskil kan maak vir sy ondersteuners daar buite. Hy het wel na die tyd laat blyk dat hy sy posisie in die kabinet gaan gebruik om kwessies soos die stand van Afrikaanse universiteite, grondhervorming, die status van Orania en minderheidsregte aan te spreek. Die ANC het egter ‘n baie slim skuif gemaak met hierdie nuwe kabinet deurdat die ministeries van landbou en grondsake van mekaar geskei is. Landbou, bosbou en visserye is in een departement saamgevoeg terwyl landelike ontwikkeling en grondsake hulle eie departement kry. Laasgenoemde is verantwoordelik vir die ANC se sogenaamde grondhervormingsbeleid wat in praktyk niks anders is as grondroof nie. Sal Pieter Mulder regtig ‘n verskil kan maak in hierdie geskeide landboudepartement van hom as dit by ‘n saak soos grondhervorming kom? Sal hy dit regtig waag om buite sy posbeskrywing te praat en die ander sake van belang vir sy ondersteuners te opper? Slegs die tyd sal leer of Mulder regtig hond haar-af kan maak en of hy maar net nog ‘n tweede Marthinus van Schalkwyk gaan word wat stadig maar seker deur die ANC ingetrek gaan word met possies in die parlement.