Etiket: Platkuif

  • Bloggers en kopiereg

    Op 5 Oktober 2009 plaas die redaksie van die bekende Afrikaanse blog Bosparra, te besigtig by www.bosparra.com, ‘n prokureursbrief wat namens Media24 aan hulle gestuur is op hulle webwerf. In hierdie brief word hulle geskrobeer omdat hulle glo artikels van Media24 op hulle webwerf gepubliseer het. Sommige artikels is ook vertaal. In die brief word ook skakels aangegee van inskrywings op Bosparra wat die redaksie onmiddellik moet verwyder. Verder word hulle versoek om nie weer materiaal wat deur Media24 geproduseer is op hulle blog te publiseer nie.
    Hierdie is voorwaar ‘n interessante verwikkeling vir baie bloggers wat koerantartikels vanaf die koerant se webwerwe gekopieer en dit dan op hulle eie blogs gepubliseer het vir kommentaar deur die blogeienaar en sy/haar deelnemers. Platkuif, Bosparra se hoofredakteur, het in sy verweer aangevoer dat Bosparra ter alle tye erkenning gegee het aan die bron van die artikels wat hulle gepubliseer het deurdat hulle die snelskakel na die oorspronklike artikel op hulle webwerf geplaas het.
    Kom ons hoop dat daar spoedig ‘n skikking bereik kan word tussen Bosparra en Media24 rondom hierdie aangeleentheid. So nie, kan hierdie twis verreikende nagevolge vir ander bloggers ook inhou.

  • Die ponies galop voort op WordPress

    Toe ek vanoggend soos gewoonlik op WordPress in Afrikaans kom inloer om te kyk wat die bloggers alles kwytgeraak het, sien ek toe dat Yolanda Barnard nou ook haar eie blog het. Julle nuuskieriges kan dit gaan beloer by yollie.wordpress.com waar dit vanoggend een van die top blogs was.
    Ja, dis daardie einste Yolanda wat die siele van verskeie van ons beroemdes en geliefdes in die vermaaklikheidswêreld se siele so ‘n paar maande terug lelik vergal het met haar skinderboek waarin sy na bewering al die skandes van die sterre onthul het. Yolanda Barnard is ‘n bekende joernalis wat haar hoofsaaklik toespits op skindernuus en geelpersjoernalistiek. Sy het al vir Sondagkoerante geskryf en ook ‘n skinderprogram op TV aangebied. Nou sit sy haar skinderpraatjies op WordPress voort.
    Ou Bierpens, een van ons medebloggers, het al voorheen gewys op die noue verbintenis tussen Yolanda en Platkuif, die hoofblogger van Bosparra, te besigtig by www.bosparra.com. Ek het nog altyd daaroor gewonder totdat ek gesien het wie op haar blog kommentaar lewer. Ou Platkuif was een van die eerstes om kommentaar te lewer.
    Hierdie nuwe verwikkeling laat natuurlik ‘n paar vrae ontstaan. Gaan die hele wêreld nou kan sien hoe Yolanda en die res van haar soort te werk gaan om die nare skindernuus in die hande te kry?
    Gaan daar dalk lastersake uit hierdie blog van haar voortspruit? Toe haar skinderboek destyds gepubliseer is, was daar van die sterre wat gedreig het om haar hof toe te sleep. GAan hierdie blog dalk die laaste strooi wees wat die kameel se rug gaan breek? Slegs die tyd sal leer.