Etiket: Politiek

  • Politieke probleme in die Weskaap

    Nadat die ANC in vanjaar se verkiesings die provinsiale stem in die Weskaap teen die Demokratiese Alliansie verloor het, het dit duidelik geword dat hulle nie hierdie nederlaag met die nodige waardigheid sou aanvaar soos wat dit ware politici in ‘n ware ontwikkelde demokrasie betaam nie.
    Op 1 Mei het die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe tydens ‘n werkersdagsaamtrek gesê dat die ANC in die Weskaap ‘n skadukabinet sou saamstel om die sogenaamde “regse planne” van die DA oop te vlek. Die ANC se heethooftige jeugleier, Julius Malema, het tydens ‘n ander saamtrek na Helen Zille, leier van die DA, as ‘n “rasistiese klein dogtertjie” verwys en gesê dat sy aan Jacob Zuma se regering verslag sal moet doen.
    Toe Helen Zille haar provinsiale kabinet aangewys het was dit ‘n verrassing om te sien dat almal mans is. Sy het gesê dat sy die beste kandidate vir die werk aangestel het. COSATU en die ANC was glad nie gelukkig hiermee nie en COSATU het glad gedreig om vir Zille voor die gelykheidshof te daag. Sy het by haar standpunt gehou, maar toe maak sy die fout om Jacob Zuma daarvan te beskuldig dat hyself seksisties is omdat hy sy vroue aan die gevaar van HIV/vigs bloot te stel nadat hy by ‘n HIV-positiewe vrou geslaap het. Dis ‘n verwysing na die verkragtingsaak wat ‘n paar jaar terug teen hom aanhangig gemaak is en waarin hy onskuldig bevind is. Hierdie uitspraak van Zille het ‘n woeste bekgeveg veroorsaak waarin allerlei banaliteite rondgeslinger is wat mens nie hier wil aanhaal nie. Later het die ANC se jeugliga en Mkonto wi’Siswe se veterane met militante optrede gedreig as sy nie ophou om op ‘n “disrespekvolle wyse” van Zuma te praat nie. Gelukkig het die ANC homself van hierdie uitsprake gedistansieer, maar dis ook al wat hulle gedoen het.
    Verder het dit oor die naweek bekend geword dat daar op Helen Zille en haar kabinet gespioeneer word. Hierdie spioene het al tien provinsiale departemente binnegedring. Volgense berigte raporteer hierdie spioene aan die ANC terug. Intussen het COSATU die DA-regering in die Weskaap ‘n maand tyd gegee om hulle standpunt oor vertenwoordiging en geslagsgelykheid in die kabinet te verander. Indien nie, sal hhulle glo ‘n mosie van vantroue teen Helen Zille en die DA indien.
    Om die kersie op die koek te sit, is daar ook nog ‘n haatgroep op Facebook gestig teen Henen Zille. Hierdie haatgroep word hoofsaaklik deur jong ANC-ondersteuners besoek en gebruik. ‘n Senior ANC-amptenaar, Malusi Gigaba, was glo ook ‘n lid van hierdie groep, alhoewel sy woordvoerder beweer hy het nie aan die debat op hierdie groep deelgeneem nie. Asof ons hulle nou moet glo. Op hierdie haatgroep is daar op vieslike manier na haar verwys en party het selfs met geweld gedreig.
    Ekself is nie ‘n DA-ondersteuner nie, maar hierdie soort politiekery maak my bang. As dinge so aanhou soos nou, kan dit dalk lei tot grootskaalse burgerlike onrus. Hierdie gaan nie net oor partypolitiek nie, maar oor die veiligheid en stabiliteit van die Weskaap maar ook die hele land.
    Die ANC en COSATU moet ophou met hierdie gevaarlike speletjies van hulle en aanvaar dat die DA die provinsiale verkiesing in die Weskaap gewen het en dat sy vir die volgende vyf jaar moet regeer soos hulle sogenaamde demokratiese grondwet voorskryf. Helen Zille moet haar nie so maklik by die ANC se nuttelose bekgevegte laat intrek nie. Moenie ‘n dwaas na sy sotheid antwoord nie, anders trek hulle jou na hulle vlak toe af. Verder moet sy sterk bly staan ter wille van die provinsie en die land se stabiliteit.

  • Groot probleme in Vryheidsfront Plus

    My hart gaan vandag uit na Cornelius Jansen van Rensburg, die voormalige jeugleier van die Vryheidsfront Plus. Hy is Maandagmiddag geskors hangende ‘n ondersoek na sy gedrag nadat hy Pieter Mulder se besluit om ‘n kabinetspos as adjunk-minister van landbou, bosbou en vissery te aanvaar gekritiseer het. Dr. Mulder het na bewering nie sy party geraadpleeg oor so ‘n besluit nie. Ek stem heelhartig met Van Rensburg saam dat Pieter Mulder nie ‘n kabinetspos kan beklee sowel as om die leier van die Vryheidsfront Plus te wees nie. Verder stem ek ook saam met die kritici binne en buite die Vryheidsfront Plus dat hulle nou nie meer die ANC so effektief in die parlement kan opponeer nie. Gelukkig staan die Vryheidsfront Jeug heelhartig by hulle geskorsde leier. Van Rensburg sal binnekort voor ‘n tugverhoor moet verskyn. Op 23 Mei vergader die party se Federale Raad om Mulder se besluit te bespreek. EEn van die party se LP’s, Willie Spies het ook Mulder se besluit gekritiseer. Gaan hy ook geskors word of gaan hulle eerder van Cornelius ‘n voorbeeld maak en die meer senior lede ‘n tweede kans gee? Gaan hierdie tweespalt binne die party tot ‘n skeuring lei soos wat ons gesien het met die ANC en COPE? As Pieter Mulder as partyleier geskors word, sal hy dan nog toegelaat word om sy kabinetspos te behou? Gaan hierdie laaste paar dae se gebeure maak dat die Afrikaners heeltemal hulle vertroue in die sogenaamde demokrasie gaan verloor? Net die tyd sal leer.

  • Opdatering: Verkiesing 2009

    Die ANC het toe sy tweederde meerderheid net-net gemis. Hulle het egter ‘n volstrekte meerderheid van byna 66% gekry. Die DA het tweede gekom en COPE derde. die vrae wat ek in my vorige inskrywing gevra het, bly egter nog steeds staan. Die ANC het belowe dat hulle nie met die grondwet sou torring as hulle aan bewind sou kom nie, maar ons het alreeds geleer dat ons nie hulle beloftes te ernstig kan opneem nie. Anderdag het hulle belowe dat hulle nie die grondwet sou wysig om strenger beheer oor plaaslike regerings te verkry nie. Net ‘n paar dae later doen hulle dit tog. Verder gee die grondwet hulle alreeds genoeg magte om hulle huidige menseregteskendings soos verkeerdstellende aksie, grondroof en die vertrapping van ons Afrikaners se kultuur voort te sit. Die nuwe prisident, Jacob Zuma, word op 6 Mei ingehuldig. Ons sal maar moet sien wat gebeur. Kom ons hoop vir die beste.

  • Verkiesing 2009

    Op 22 April 2009 het hordes van ons weer na die stembus gestroom om te gaan stem vir die regering wat ons vir die volgende vyf jaar moet regeer. Die uitslag was hoogs voorspelbaar. die ANC het so pas weer ‘n tweederde meerderheid gekry. die DA het sterker teruggekom en COPE lyk of hulle derde gaan kom. COPE was toe al die tyd nie so ‘n sterk party soos wat almal gedink het nie. Toe hulle verlede jaar gestig is was daar heelwat gesê oor die moontlikheid dat hulle die eerste ware opposisie vir die ANC sou wees in vanjaar se verkiesing. Daar was selfs intimidasie en geweld tussen COPE- en ANC-ondersteuners. Gisteraand is ‘n raadslid van COPE in Port Elizabeth doodgeskiet. Alhoewel hulle goed gedoen het, is hulle nie die sterk teenstanders wat die ANC gevrees het nie. Die groot vraag is nou: wat nou na die verkiesing? Meeste van ons weet dat die regering nie nou skielik hulle dienslewering gaan verbeter nie. Hulle gaan ook nie verkeerdstellende aksie afskaf nie. Ekonome het hulle vrese uitgespreek dat die markte negatief kan reageer op die nuus dat die ANC wel ‘n tweederde meerderheid gekry het omdat sakelui vrees dat die radikale linkse element binne die ANC die regering kan dwing om ons ekonomiese beleid drasties te verander, veral noudat die wêreldekonomie besig is om in te sink en werkloosheid en armoede ook in Suid-Afrika toeneem. Gaan die regering die omstrede grondhervormingswet wat verlede jaar in die parlement bespreek is maar toe op ys geplaas is, weer ter tafel lê?sal prisident Jacob Zuma dit onderteken? Hierdie wetgewing sou dit vir die regering baie makliker maak om grond van blanke boere te onteien. Die ANC het mos belowe dat hulle grondhervorming sou versnel as hulle aan bewind sou kom. sal privaat eienaarskap van besighede, grond en eiendom toegelaat word? Sal misdaad toeneem of afneem. Sal die verhouding tussen die verskillende etniese en rassegroepe nog verder geskaad word? Wat van die gehalte van ons onderwys in ons skole en universiteite? Slegs die tyd sal leer. Kom ons hoop weereens vir die beste.