Etiket: postaday2011

  • Om te praat of te sms

    Watter manier van kommunikasie verkies jy? Om oor die telefoon te praat, om ‘n sms te stuur of enige ander medium?
    My gunsteling is om self met mense oor die telefoon te praat. Ek hou daarvan om ‘n stem aan die ander kant te hoor en die emosies te hoor wat daarin is. Landlynoproepe gaan nog aan, maar selfoonoproepe is maar bietjie duur hier in Suid-Afrika.
    As ek nie by my landlyn is nie, verkies ek eerder om teksboodskappe te stuur. Dis vinnig en word direk na die ontvanger se foon gestuur. Die enigste probleem met sms is dat daar ‘n beperking op die getal karakters in ‘n sms is en dat jy soms sukkel om ‘n langer boodskap behoorlik oor te dra.
    Juis daarom hou ek ook in ‘n sekere opsig meer van e-pos as van sms. Jy kan ‘n ordentlike geselsbrief skryf teen ‘n tarief wat laer is as vir een teksboodskap van 160 karakters.
    Blogging is natuurlik ‘n ideale medium vir massakommunikasie. Geen gesukkel met groepslyste van e-posadresse nie. Verder gee dit my ook ‘n geleentheid om dinge te deel wat ek nie in enige ander medium sou kon deel nie.
    Mag hierdie nuwe jaar vir julle ‘n jaar van doeltreffende kommunikasie wees.

  • Drie lande wat ek graag wil besoek

    Daar is drie lande wat ek eendag graag wil besoek as ek dalk so ‘n geleentheid sou kry. Die kanse daarvoor is maar skraal, maar daar is niks verkeerd daarmee om te droom nie.
    Ek sou graag Amerika wil besoek, maar nie net sommer enige deel van Amerika nie. Ek wil graag na die plattelandse gebiede in die Apalachiese gebergtes reis om te sien hoe mense daar lewe. Sommiges het al daardie mense as sogenaamde Hillbillies uitgekryt, maar ek dink dis maar net suiwer hoogmoed omdat daardie mense tradisioneel minder welaf was as ander blanke Amerikaners.
    Verder wil ek ook die Amerikaanse Midwesterse gebiede besoek en gaan kyk na al die groot slagvelde en ander plekke waar dapper Cowboys hulle deel gedoen het en hulle lewens gegee het om hulle land te verdedig teen Indiane, Meksikaanse boewe asook misdadigers in hulle eie geledere wat hulle lewensstyl bedreig het.
    Verder wil ek ook Texas gaan besoek om te sien hoe lyk hulle massiewe beesplase daar. Dan wil ek ook Nashville toe gaan om een van hulle Country musiekfeeste te beleef.
    Verder wil ek ook Swede en Ysland gaan besoek. ek wil hulle winterlandskappe beleef sowel as hulle algemene toeriste-aantreklikhede. Ek is self nie ‘n kenner van daardie lande se toeriste-aantreklikhede nie, daarom is ek nuuskierig om daar te gaan reis.
    Ek weet ek het nou sommer twee lande op een slag genoem, maar vergeef my as ek nog twee noem. Laaste maar nie die minste nie wil ek ook Nederland en Vlaandere besoek. Vlaandere is nou wel nie meer ‘n onafhanklike staat soos honderde jare gelede nie, maar sowel die Nederlanders en Vlaminge is verwant aan ons as Afrikaners omdat ons voorouers hoofsaaklik uit hulle geledere gekom het. Ek wil graag die kuns- en kultuurskatte van daardie lande gaan beleef.
    Ek hoop hierdie skrywe inspireer die leser daar buite om ook sy/haar gedagtes te laat gaan op ‘n droomreis na ver plekke

  • Dinge wat my laat glimlag

    Eerstens wil ek my lesers ‘n voorspoedige nuwe jaar toewens. Mag dit ‘n wonderlike jaar wees waarin julle kreatiewe denke gestimuleer sal word. Vir die bloggers tussen julle, mag dit ‘n jaar van interessante pennevrugte wees.
    Ek is ‘n groot sucker vir ‘n goeie storie, liedjie of goeie grap wat my laat glimlag. Ek is ‘n groot aanhanger van Leon Schuster se musiek en rolprente al het ek sommige films al hoeveel keer gekyk. Verder is ek ook mal oor Tolla Van DEr Merwe en Jan Spies se stories.
    Ek hou van iemand in ‘n geselskap wat ‘n goeie grap kan vertel. Verder is dit ook lekker as ek self mense kan laat lag met ‘n grap wat ek weer by sulke grapjasse gehoor het. Ek is self nie baie oorspronklik daarmee nie.
    Verder glimlag of lag ek ook vir die parlementslede se humoristiese kaskenades wat gewoonlik aan die einde van die jaar op die SAUK se radionuusprogramme uitgesaai word. Dis net jammer die regering se eie narrespel kos die arme belastingbetaler soms miljoene indien nie miljarde nie.
    Ek sal graag van ander Afrikaanse bloggers wil verneem wat hulle laat Glimlag of lag. Gelukkig is dit nie moeilike huiswerk nie.