Etiket: selfoon

  • Jou helde en blogmaatjies in jou sak

    Die gawe mense by vuurslag.co.za/ het ons gister weer aangenaam verras toe hulle nuwe sagteware op vuurslag.co.za/ geaktiveer het wat outomaties kan opmerk as jy metm jou selfoon 'n vuurslag.co.za/ blog besoek. Dan sal daar 'n lekker klein en gemaklike weergawe van die blog op jou foon se webleser laai.
    Hierdie funksie was al 'n geruime tyd beskikbaar vir diegene wat WordPress se sagteware op selfgehuisveste "self-hosted" blogs gebruik. Bosparra.com was een van die bekende Afrikaanse blogs wat hierdie funksie vir 'n lang tydjie al gebruik. Ons bloggers op vuurslag.co.za/ se blogs was meestal ook bersoenbaar met selfone se weblesers, maar ons het nie toegang gehad tot die miniwerfsagteware wat die self-hosted blogs se eienaars kon gebruik nie. Gister het dit verander. Al die vuurslag.co.za/ blogs is nou outomaties met hierdie miniwerfsagteware toegerus. Die blogs kan nou baie vinniger laai op jou foon. Dit is nou ook baie goedkoper om blogs op jou foon te lees.
    Gelukkig is daar op hierdie miniwerf ook die keuse om nog steeds die volle webwerf op jou foon te besigtig soos voorheen.
    My hartlike dank aan die span van WordPress.

  • Nog mobiele webwerwe vir jou rekenaar

    Ek het al voorheen geskryf oor miniwebwerwe wat vir sowel jou selfoon as vir jou rekenaar geskik is. Hier is nog twee van hulle.
    Ek het in die laaste tyd van rss voer gebruik gemaak om by al my gunsteling webwerwe en blogs uit te kom. Diegene wat al Googlereader op hulle rekenaars gebruik het, sal saamstem dat die bladsye soms baie lywig kan wees. Die goeie nuus is egter dat jy ook die mobiele weergawe van Googlereader op jou rekenaar kan gebruik. Gaan na www.google.com/reader/m waar jy ‘n baie ligter, kleiner en vinniger bladsy sal kry.
    Diegene wat van die Suid-Afrikaanse sosiale netwerk Blueworld gebruik maak, kan ook Blueworld se mobiele webwerf gebruik. Dis te besigtig by m.blueworld.com waar jy van die basiese funksies kan gebruik maak.
    Ek verneem ook dat Facebook ook beplan om ‘n ligter weergawe van hulle webwerf te loods wat as Facebook Lite bekend sal staan. Hierdie stap word glo geneem om Facebook meer kompeterend te maak sodat dit met veral Twitter kan meeding.
    Geniet julle tydjie op die net.

  • Mobiele webwerwe op jou rekenaar?

    Dis 'n bekende feit dat webwerwe wat vir selfone geskryf is, veel kleiner en eenvoudiger is as gewone webwerwe wat hoofsaaklik vir rekenaars geskryf is. Dit was nog altyd 'n begeerte van my dat sommige van hierdie mobiele webwerwe ook vir rekenaars beskikbaar moet wees. Gelukkig het ek die laaste tyd op sulke webwerwe afgekom.
    Wordpress het 'n oulike miniwebwerf, die vuurslag.co.za/ gadget. Dit kan vanaf jou selfoon sowel as jou rekenaar besoek word by m.wordpress.com en bied jou die opsies om inskrywings op jou blog te plaas sowel as statistieke vir die dag en 'n fasiliteit waar jy nuwe skakels op jou blogroll kan plaas.
    Nog 'n oulike webwerf is gmobile.sayni.net waar jy toegang tot jou Gmail rekening kan kry vanaf jou selfoon sowel as jou rekenaar. Dis maar net 'n kleiner, makliker en eenvoudiger weergawe van die gmail waaraan ons aalreeds gewoond is.
    Daar is ook Yahoo se mobiele dienste wat beskikbaar is by m.yahoo.com. Hier kan jy toegang verkry tot jou yahoo rekening waar jy e-pos en kitsboodskappe kan stuur. Verder kan jy ook padaanwysings kry, maar hierdie diens werk net in Amerika. Jy kan verder speletjies speel, websoektogte doen, inligting oor finansies kry en vele meer.
    Laaste maar mnie die minste nie is daar ook Facebook se mobiele werf wat besigtig kan word by m.facebook.com. Dis maar net 'n meer eenvoudiger weergawe van Facebook soos ons hom alreeds ken.
    Ek is in my noppies oor hierdie webwerwe omdat dit goedkoper en verseker baie vinniger en eenvoudiger is om hulle vanaf jou selfoon sowel as jou rekenaar te besoek.

  • Operasie Selfoon begin vandag

    Van vandag af moet alle selfooneienaars hulle simkaarte laat registreer by hulle netwerke. Dis nou volgens nuwe wetgewing van hierdie regering van ons. Dit maak nie saak of jy nou ‘n kontrakfoon of ‘n voorafbetaalde simkaart het wat jy spotgoedkoop by jou naaste supermark gekoop het nie. Ons almal moet registreer. Selfs al het jy net ‘n internetkontrak en is jou simkaart in jou rekenaar of skootrekenaar, moet jy ook registreer. Dus moet ou Vuurslag ook een van die dae in die tou gaan staan.
    Hierdie registrasie behels dat jy jou identiteitsnommer sowel as jou woonadres aan jou diensverskaffers moet verstrek. Volgens hierdie wet het die diensverskaffers soos Vodacom, Mtn en Cell C agtien maande tyd om die registrasieproses af te handel. Indien jou simkaart nie teen die sperdatum geregistreer is nie, sal jou foon afgesny word.
    Wat die kwessie van identiteitsnommers aanbetref voorsien ek nie te veel probleme nie. Meeste mense het darem ID-boekies, al gebruik sommiges dit net om te gaan stem. Dus sal meeste mense hulle identiteitsnommer kan verskaf. Wat die woonadres van selfoongebruikers aanbetref, voorsien ek groter probleme omdat daar veral sekere groepe voorafbetaalde selfoongebruikers is wat hoogs mobiel is. Dis veral studente, trekarbeiders en proefarbeiders wat in hierdie kategorie val. Moet ook nie die mense in townships en plaaswerkers vergeet nie.
    Die wet bepaal ook ‘n nuwe simkaart nie aangesluit mag word as die koper nie sy ID-nommer en woonadres aan die diensverskaffer gegee het nie. En juis hier is nog ‘n probleemgroep ter sprake. Wat van buitelandse toeriste en Suid-Afrikaners in die buiteland wat vir hulle familie in Suid-Afrika wil kom kuier? Dit is veral hulle wat dikwels tydelike simkaarte vir hulle fone hier plaaslik koop sodat hulle plaaslike oproepe teen plaaslike tariewe kan maak. Is daar enige spesiale uitsonderings vir hulle? Nie so ver ek weet nie.
    Die regering beweer dat hierdie nuwe wetgewing nodig was om georganiseerde misdaad te bekamp wat met behulp van selfone gepleeg word. Hierdie land van ons is in elk geval so korupn dat mens maar net kan wonder of dit regtig sal help.
    Nou moet ons mense tog nie tot op die nippertjie wag voordat hulle hul simkaarte gaan registreer nie. Ons het alreeds gesien wat gebeur met die vuurwapenlissensies sowel as die nuwe motorlissensies van so paar jaar terug. Gaan doen dit maar so gou moontlik terwyl die toue nog kort is.