Etiket: taal

  • Taaldag

    My doel met hierdie inskrywing is nie om ‘n lang geskiedenisles te gee oor die ontstaan en bevordering van Afrikaans nie, maar meer om my dank te betuig aan almal wat dit vir ons moontlik gemaak het om vrylik in Afrikaans te kan skryf en praat.
    Baie dankie aan die Genootskap vir regte Afrikaners wat dit vir ons moontlik gemaak het om in te sien dat Afrikaans ook ‘n volwaardige skryftaal en letterkundige medium kan wees. Baie dankie aan die digters van die era na die Tweede Vryheidsoorlog wat ons gewys het dat Afrikaans ook ‘n taal is waarin ons vrylik kan dig. Baie dankie aan diegene wat Afrikaanse koerante tot stand gebring het en vir ons gewys het dat Afrikaans ook ‘n volwaardige nuustaal kan wees waarin ons ons ook op politieke gebied kon uitdruk en ons vryheidsideaal verder kon bevorder. Dankie aan skrywers soos CJ Langenhoven wat topgehalte boeke gepubliseer het en ook baie gedoen het om mee te help dat die destydse regering Afrikaans in 1925 as amptelike landstaal erken het. Baie dankie aan diegene wat agter die skerms gewerk het om die Bybel in Afrikaans te kon vertaal. Hierdie vertaling het in 1933 verskyn. Baie dankie aan ons akademici wat agter die skerms gewerk het om vir ons woordeboeke saam te stel en so ons Afrikaanse woordeskat uit te brei. Baie dankie ook aan diegene wat daartoe bygedra het dat Afrikaans ook ‘n volwaardige wetenskaplike taal geword het wat ons op universiteite kon gebruik om ons studente voor te berei vir beroepe soos dokters, wetenskaplike navorsers en tegnici.
    Laaste maar nie die minste nie wil ek my hartlike dank betuig aan diegene wat in hierdie dae wat die toekoms van Afrikaans bedreig word steeds voortgaan om vir ons op te staan.
    Selfs as jy ‘n gewone eenvoudige webjoernaalskrywer is moet jy ook nie jou rol onderskat om Afrikaans te bevorder en lewendig te hou nie. Baie dankie aan jou ook.
    Mag ons, ons kinders en kleinkinders nog lank ons taal handhaaf en uitbou.

  • Moedertaalonderrig op universiteite

    die sage rondom Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit van Stellenbosh duur voort. Maandag het die Adam Tas studentevereniging ‘n lys van griewe by die Kasteel in Kaapstad voorgelees. Die universiteitsraad sou daardie Maandagmiddag ‘n besluit neem oor die onderrigtaal by die universiteit. Wat sou ‘n goeie oplossing vir so ‘n probleem wees? Die ideale oplossing sou wees dat elke etniese en taalgroep sy eie universiteite moet kry. Neem die voormalige swart universiteite wat deur die vorige regering gebou is en omskep dit in akademiese sentra van uitnemendheid waar studente al hulle vakrigtings in hulle eie moedertaal kan leer. Gee die Universiteit van Zoeloeland vir die Zoeloes, die voormalige UNITRA vir die Xhosas en die voormalige UNIBO vir die Tswanas. Die groot vraag is of ons regering so ‘n program kan bestuur. Ek twyfel. Verder moet die Afrikatale ook sodanig ontwikkel word dat dit ook ‘n wetenskaplike en akademiese tale kan word. Wat doen ons intussen? Afrikaans is klaar ‘n akademiese en wetenskaplike taal. Behou dus Afrikaans as onderrigtaal en verskaf Engelse onderrig as dubbelmedium, parallelmedium of deur middel van tolkdienste. Ontwikkel die Afrikatale tot op so ‘n vlak dat dit ten volle vir alle soorte akademiese doeleindes gebruik kan word.