Etiket: twitter

  • Miniblogging

    Die blogs vs twitter debat kom al ‘n paar jaar saam met
    ons. Daar is wel ook bloggers wat Twitter aanvullend tot hul
    blogs gebruik.
    Ek het nog altyd gewonder of daar nie dalk iets tussen-in
    is wat ‘n soort miniblogging platform bied vir openbare blogs
    nie. Daar is wel sosiale netwerke soos Jamble en
    blueworld wat sulke moontlikhede bied, maar jy moet lid
    van so ‘n netwerk wees om ‘n spesifieke persoon se blog
    te kan lees. My groot probleem met iets soos Twitter is dat
    jy slegs 140 karakters het om jouself in uit te druk. Ek is meer op soek na iets wat jou bietjie meer beweegruimte
    gee maar terselfdetyd so gebou is dat jy nie ‘n lang
    inskrywing op jou blog hoef te plaas nie. Jy sê net wat
    nodig is. Verder moet dit ook moontlik wees om jou miniblog
    maklik via jou selfoon by te hou net soos met Twitter.
    Weet iemand dalk van ‘n paar blink idees?

  • Internet neem Afrikaans die toekoms in

    Tydens ‘n werkswinkel van die Afrikaner Burgerlike Netwerk het Jaco Kleinhans, kommunikasiebestuurder van Solidariteit gesê as Afrikaanse organisasies in die toekoms nog wil voortbestaan sal hulle nou al reeds daaraan moet dink daaraan om op sosiale netwerke soos Facebook, Twitter en Flickr te wees sowel as op die breër internet.
    Ongeveer 10% van Suid-Afrikaners het toegang tot die internet. Volgens navorsing deur Solidariteit het sowat 40% van blankes internet by die huis en nog meer het internettoegang by die werk.
    Kleinhans het gesê ons het nog glad nie die goedkoop hoëspoed internet in Suid-Afrika soos wat gebruikers in oorsese lande alreeds geniet nie, maar Afrikaanse organisasies moet nou alreeds begin regmaak vir die dag as ons wel sulke internet het. Afrikaners se huidige vlak van internetgebruik moet ook glad nie onderskat word nie. Afrikaans staan alreeds sterk op Facebook.
    Ek sou graag my eie stuiwer in die armbeurs wil gooi deur te sê dat dit nie net die organisasies nie, maar ook die gewone man op straat wat kan help om Afrikaans op die internet lewendig te hou. Ons as Afrikaanse webjoernaalskrywers moet nooit die belangrikheid van ons werk onderskat nie. Dieselfde geld vir diegene van ons wat Facebook, Twitter en ander media gebruik. Daarom, aan al my medebloggers, hou aan met die goeie werk wat julle doen en help sodoende om Afrikaans die toekoms in te neem.

  • Die kerk en sosiale media

    Dis interessant om te sien hoedat die NG Kerk se Oostelike Sinode die nuwe sosiale media gebruik om hulle sinodesitting wat hierdie week plaasvind te bemark. Die gewone gemeentelid kan nou sien watter kwessies op die vergadering bespreek word. Die kerk kan ook meer direk met die publiek kommunikeer in plaas daarvan om deur die gevestigde mediakanale te werk wat heel dikwels die kerk se standpunte verkeerd vertolk of nie na behore daaraan aandag kan gee nie weens meer dringende nuusberigte van nasionale belang.
    Die sinode het ook ‘n blog op wordpress wat besigtig kan word by sinoos.wordpress.com asook ‘n twitter mikrojoernaal wat by www.twitter.com/sinoos besigtig kan word. Mens kan ook op Twitter van die hashtag #sinoos gebruik maak om ander deelnemers aan die sinode se kommentaar te lees of om self kommentaar te lewer.
    Die kwessies wat by gister se sinodesitting bespreek is is alles goed en wel, maar ons sal moet wag en sien hoe dit op die ou end praktiese inslag in die kerk se daaglikse bediening gaan vind. Kwessies soos die Christen en omgewingsbewaring, die Christen se getuienis in woord en daad aan diegene binne sowel as buite sy kerkgroep en die invloed van sonde op ons verhouding met God is bespreek. Ek is nogal nuuskierig om te sien wat die kerk op grondvlak gaan doen om hierdie vraagstukke aan te spreek. Gaan die kerk dalk meer betrokke raak by rommelherwinning? Gaan die kerk dalk lidmate aanmoedig om meer eenvoudiger te leef? Gaan die kerk mense aanmoedig om hulle verhouding met die Here te herstel nadat dit deur sonde verwoes is? Gaan die kerk lidmate toerus met die nodige hulpmiddele om meer effektief te getuig?
    Hopelik gaan hierdie sinodesitting wat meer as ooit in die openbare oog is meer wol as lawaai oplewer omdat hulle weet die gewone man op straat hou hulle dop.

  • Bierpens se nuwe skryfstyl

    Bierpens is een van die Afrikaanse bloggers hier op WordPress. Hy het twee blogs op vuurslag.co.za/, by name Kekkel op die plaas, te besigtig by kekkel.wordpress.com en Onder die Lapa, te besigtig by bierpens.wordpress.com.
    Ek was op 'n stadium 'n gereelde leser van sy blog Kekkel op die Plaas. Toe gaan staan die blog bietjie stil tot vandag toe hy weer daar inloer met 'n splinternuwe manier van skryf. Hy het iewers 'n site templet ontdek wat 'n soort "Twitter feel" het. Nou het hy op die gewone blogs net sulke kort maar kragtige inskrywings begin publiseer.
    Hierdie nuwigheid is net die regte ding vir haastige bloggers wat nie altyd tyd het om te gaan stil sit en lang beredeneerde artikels skryf nie. Die vuurslag.co.za/ gadget, te vinde by m.wordpress.com, is perfek vir hierdie doel omdat dit vir rekenaars sowel as selfone toeganklik is. Verder het hierdie nuwe skryfstyl op WordPress ook die voordeel dat jy nie tot net 140 karakters beperk is nie. Buitendien is 140 karakters gans te min om mee te blog. Slegs die tyd sal leer of ander bloggers ook hierdie nuwe skryfstyl gaan probeer.