Etiket: vakbond

  • Staking by EVKOM tydelik afgeweer

    Die staking wat vir Maandag by EVKOM beplan was is vandag gelukkig tydelik afgeweer nadat EVKOM hulle loonaanbod vandag verhoog het. Die betrokke vakbonde het tot Woensdag uitstel gevra om hulle lede te raadpleeg. My hoop is dat die werkers wel rede sal insien en die hersiene aanbod sal aanvaar. Ons wêreldekonomie sowel as die land s’n is in resessie en ons maatskappye, organisasies en werknemers moet in hierdie tyd aanvaar dat ons nie sulke goeie verhogings in ons inkomste sal hê soos in die vorige voorspoedige jare nie. Ek moet erken dit sal ‘n baie moeilike indien nie onmoontlike taak wees om hierdie begrip by die grootste deel van ons werkerskorps tuis te bring.

  • Staking by EVKOM moontlik op hande

    die vakbond NUM het vandag aangekondig dat daar dalk volgende week ‘n staking by EVKOM kan wees. Dit volg nadat loononderhandelings tussen die vakbond en EVKOM vasgeval het. NUM eis ‘n loonverhoging van 15% terwyl EVKOM slegs 8.5% aanbied. NUM het gedreig dat daar kragonderbrekings tydens die staking kan voorkom. Hulle het ook gesê dat hulle ook met ander vakbonde wat werknemers van EVKOM verteenwoordig sal vergader voordat hulle finaal tot aksie sal oorgaan.
    Hierdie situasie is veral skrikwekkend gesien in die lig daarvan dat baie noodsaaklike dienste, soos hospitale, uiters afhanklik is van elektrisiteit. Hospitale het wel noodkragopwekkers wat gebruik kan word as daar ‘n kragonderbreking sou kom, maar dis duur om die kragopwekkers vir ure te laat loop. Verlede jaar se beurtkrag is nog vars in die geheue van baie mense. Dit het ons ekonomie groot skade berokken. Dit is juis hierdie soort van stakings wat maak dat die buitewêreld ons land sien as ‘n onstabiele land.
    Ek hoop van harte dat daar spoedig ‘n oplossing sal kom voordat ‘n volskaalse staking uitbreek.

  • Nog ‘n staking op hande

    Twee groot vakbonde wat munisipale werkers verteenwoordig het aangekondig dat hulle Maandag met ‘n landwye staking gaan begin nadat hulle loongeskil met SALGA, die vereniging wat plaaslike owerhede verteenwoordig nie bygelê kon word nie. Hoekom moet hulle nou juis besluit om te staak terwyl ons land geteister word deur oproer wat juis verband hou met swak dienslewering? Ons land loop deur onder sy ergste staakseisoen in jare. Tesame met die huidige vlaag van oproer skets dit ‘n donker prentjie vir ons op die korttermyn.