Die minister van finansies het toe sy begrotingsrede gelewer sonder enige voorvalle. Op ‘n stadium het dit gelyk of die EFF die begrotingsrede gaan ontspoor met hul alewige punte van orde, maar die speaker van die parlement het hulle gou tot orde gebring en die minister kon sy toespraak sonder voorval lewer.
Btw is toe wel verhoog, maar net met ‘n halfpersent vanjaar en nog ‘n halfpersent in April 2026. Vanjaar se verhoging sal ook eers in Mei in werking tree wat darem ‘n blaaskans vir boekhouers en ander finsiële administrateurs en belastingkundiges sal gee.
Die brandstofheffing gaan nie vanjaar op nie. Ook nie die heffing vir die padongelukkefonds nie.
Maatskaplike toelaes sal ook verhoog word. Veral die ouderdomspensioen en ongeskiktheidspensioen word met R150 verhoog.
Selfone met ‘n waarde van minder as R2500 gaan vrygestel word van ad valorem belasting van 9% op luukse goedere. Dit word gedoen om veral armer mense in staat te stel om slimfone aan te skaf wat 4g tegnologie gebruik. Die regering beoog om in die volgende sowat twee jaar 2g en 3g netwerke uit diens te stel.
Sondebelastings op alkohol en tabakprodukte is soos gewoonlik weer verhoog.
Ten spyte van die feit dat die minister wel sy toespraak kon lewer wil dit tog voorkom asof die begroting nie vooraf deur vennote in die RNE goedgekeur is nie. Die DA het blykbaar aangedui hy gaan nie die begroting ondersteun nie. Ons wag nog vir reaksie van ander politieke partye.
Hiermee dan ‘n mees basiese opsomming van ‘n bittersoet begroting wat landsburgers en politici nog lank aan die praat gaan hou.
Kategorie: Politiek
-
Die bittersoet begroting
-
Die groot begrotingsdag
Vandag is voorwaar ‘n dag vol vrees en verwagting. Vandag lewer die minister van finansies sy langverwagte begrotingstoespraak wat al so vroeg as Februarie moes gebeur het maar toe uitgestel is tot 12 Maart. Dit was die eerste keer in die land se geskiedenis dat soiets gebeur het en het gevolg na ‘n ernstige geskil tussen lede van die regering van nasionale eenheid oor ‘n voorgestelde verhoging van 2% BTW.
Die minister sien die verhoging van BTW as ‘n broodnodige maatreel om veral maatskaplike toelaes soos die R370 Covid toelaag te kan befonds. Verder is die vrees en verwagting ook daar dat ander belastings soos maatskappybelasting verhoog kan word om die gewraakte nasionale gesondheidsversekering te befonds. Dit ten spyte van die waarskuwings dat dit onhaalbaar en onvolhoubaar is.
Verder is daar ook nog die dreigement van die EFF en MK dat as BTW wel verhoog word, sal hulle die land tot stilstand bring.
Dit kan tot verdere onstabiliteit lei.
Verder het die ANC gedreig dat hy moontlik die hulp van die EFF kan inroep om hom te help om ‘n meerderheidstem vir die begroting te kry indien die DA nie sy steun aan die begroting wil gee nie.
Die DA kap toe weer terug dat indien die ANC soiets sou probeer gaan hulle dit sien as ‘n mosie van wantroue in die Regering van Nasionale eenheid en kan dit moontlik die einde van hierdie saamgestelde koalissieregering beteken. Die groot vraag bly egter wat gaan gebeur as die ANC wel partye soos die MK en EFF uitnooi om ‘n soort oordeelsdagkoalisie te form om ‘n nuwe regering van nasionale eenheid aan die gang te kry.
Daar is nou nog net bietjie meer as drie ure oor voor een van die mees geskiedkundige begrotingstoesprake wat hierdie land nog opgelewer het. Laat ons dus duim vashou vir die beste, maar ook onsself behoed vir die ergste.
-
Vryf nog sout in die wonde
Die departement van Grondhervorming en landelike ontwikkeling het gister bevestig dat hulle ‘n nuwe wetsontwerp beplan wat ten doel het om grondbesit te reguleer volgens demografiese raskwotas om grondbesit in lyn te bring met die rassedemografie van die land. Hierdie wetsontwerp, bekend as die Wet op Billike Toegang tot Grond, is gister aan die parlementêre portefeuljekommitee voorgelê met die nodige beplanning wat uitstippel hoe die proses sal verloop om die nuwe wet as amptelike wetgewing in te stel.
As alles volgens die beplande tydlyn verloop, sal die wetsontwerp in Maart aan die kabinet voorgelê word vir bespreking. waarna dit in April en Mei vir openbare kommentaar beskikbaar gestel gaan word. In Augustus sal dit dan aan Netlac voorgelê word en die finale weergawe sal dan in Oktober aan die parlement voorgelê word waarna dit dan seker na die president verwys sal word vir ondertekening.
Hoewel min besonderhede nog bekend is, is dit wel bekend dat die wet ten doel het om sogenaamde skeefgetrekte patrone van grondbesit reg te trek. Hoe gaan hulle dit dan regkry? Gaan hulle dalk inmeng met die koop en verkoop van grond en eiendomme op die vrye mark? Gaan hulle dalk ‘n beperking plaas op die hoeveelheid grond wat veral boere mag besit, soos wat voorheen al probeer is? Wie onthou nog die tyd toe die voorstel die rondte gedoen het dat boere net twaalfduisend hektaar grond mag besit?
Wynand Boshoff, die Vryheidsfront Plus se hoofwoordvoerder vir landbou, het ‘n ernstige waarskuwing hieroor uitgereik.
Herverdeling van grond: Raswet op pad
Wynand verwys in sy verklaring daarna dat wetgewing soos hierdie die ANC se manier is om die uitdaging wat veral die MK party vir hulle toekomstige heerskappy inhou die hoof te bied. Verder sien hulle dit as deel van die sogenaamde Vryheidstryd wat hulle in 1994 opgegee het en nog nie voltooi het nie. Hier is ‘n direkte aanhaling uit sy verklaring.
Die VF Plus wil almal met belang by grondbesit aanmoedig om paraat te wees. Dit lyk of die ANC die uitdaging van die MK Party op hierdie manier die hoof wil bied en so vinnig moontlik beweeg.
Nóg die departement, nóg die portefeuljekomitee, maak ‘n geheim daarvan dat hierdie wetsontwerp grondbesit deur wit mense teiken.
Hulle beskou dit as ‘n deel van die vryheidstryd wat in 1994 agterweë gelaat is. Dit is ‘n ander manier om te sê dat hulle besluit het om dié skikking op nog ‘n manier eensydig op te skort.Soos wat Doktor Boshoff so sydelings uitgewys het, lyk dit inderdaad of die ANC regering besig is om die ooreenkomste wat destyds by Codesa bereik is, ongedaan te maak en dit vir alle praktiese doeleindes op te skeur.
Hierdie verwikkeling kom minder as ‘n maand nadat President Cyril Ramaphosa op 23 Januarie bekend gemaak het dat hy die wet op onteiening sonder vergoeding onderteken het. Ek het reeds voorheen ‘n volledige artikel hieroor geskryf.
Daar word ook uitgewys dat die regering die nuwe onteieningswet kan gebruik om grond te bekom vir die nuwe voorgestelde demografiese grondplan.
Intussen lyk dit asof die ander vennote in die regering van nasionale eenheid nie opgewasse is om die ANC te stop nie. Daar word baie gepraat en mediaverklarings uitgereik en selfs met hofsake gedreig om hierdie wetgewing ongrondwetlik te verklaar, maar dis alles net ‘n geblaf. Soos die ou Turkse spreekword lui” die honde blaf, die karavaan gaan verby.
Intussen het president Donald Trump van Amerika hierdie wetgewing veroordeel asook al die ander rasgebaseerde wette wat teen ons diskrimineer. Dit sluit regstellende aksie en swartbemagtiging in. Elon Musk kan nie eers sy Starlink sattelietgebaseerde internet diensverskaffer in Suid-Afrika bedryf nie omdat ons regering vereis dat 30% van alle internet diensverskaffers deur swartbemagtiginsvennote besit moet word. Elon skop natuurlik hewig daarteen.
Verder is Amerika ook siek en sat vir Suid-Afrika se steun aan terreurstate soos Iran en terreurorganisasies soos Hamas. Hulle is ook vies omdat die Suid-Afrikaanse regering Israel voor die Internasionale Geregshof gedaag het oor hulle militêre optrede in die Gasastrook, dit terwyl dit algemene kennis is dat Hamas eerste vir Israel ingeval het en onder andere onskuldige burgerlikes as gyselaars geneem het. Die Suid-Afrikaanse regering het dit glo gedoen op aandrang van Iran nadat die Iranese regering glo vir die ANC geld gegee het om sy partybedrywighede en sy verkiesingsveldtog van laasjaar te bevonds.
Amerika het intussen geldelike bystand aan Suid-Afrika opgeskort oor al hierdie wandade, maar ongelukkig het dit nie die regering gemotiveer om hulle gedrag te verander nie. Inteendeel, hulle het hulself hardekoejawel gehou en dit in geen onduidelike terme gestel dat hulle nie deur Amerika geboelie sal word nie.
Die groot vraag kan gevra word: wat kan nog verder gedoen word om wetgewing soos hierdie te stop. Burgerregte-organisasies soos Afriforum en politieke partye kan hofsake maak so veel as wat hulle wil, maar hofsake is duur en tydsaam en die Anc-regering gaan net eenvoudig voort met sy teenproduktiewe beleid. Die groot gevaar is dat die ANC ons kan lei in ‘n situasie waarin ons heeltyd vasgevang word in ‘n soort spel van regskundige Wac-a-mole.
https://en.wikipedia.org/wiki/Whac-A-Mole
Daar word elke keer ‘n nuwe rassewet ingestel, dit word deur die president onderteken, die opposisie gaan hof toe en partykeer wen hulle die saak maar ander kere nie. Gaan ons dan net aanhou om ‘n klop speelgoedmolletjies terug in hulle gaatjies in te slaan?
Indien die regering voortgaan met hierdie nuwe wetsontwerp gaan dit beslis die spanning in die land nog meer verhoog, veel meer as wat dit reeds is. Wat gebeur indien hierdie spanning breekpunt bereik?
Baie sterkte aan al ons mense wat tans onder die vergrootglas is as gevolg van ons regeringsbeleid. Baie seën en sterkte aan diegene wie op die frontlinies is en wat hierdie wetgewing en aksies beveg asook slagoffers in hulle nood bystaan. Hou jul koppe hoog en staan sterk.
-
onteiening sonder vergoeding is wettige diefstal
Op Donderdag, 23 Januarie 2025 het een van die donkerste tye in Suid-Afrika aangebreek sedert 1994. Voor dit was daar ongetwyfeld nog swaarder tye. Maar hierdie is voorwaar een van die mees onsekere tye in ons onlangse geskiedenis.
President Cyril Ramaphosa het die wet op onteiening sonder vergoeding onderteken en tot wetgewing verklaar.https://www.thepresidency.gov.za/president-assents-expropriation-bill
Soos verwag kon word, het verskeie groepe hierdie nuus met skok en ontsteltenis begroet. TLU SA het dit as ‘n ernstige aanval op eiendomsreg beskou wat nie net boere nie, maar alle Suid-Afrikaners bedreig. Dit skep groot onsekerheid vir alle grondeienaars. Definisies van definisies van ‘regverdige en billike vergoeding’ en ‘openbare belang’ is vaag en oop vir subjektiewe interpretasie,” verduidelik Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder.
“Sulke grys gebiede maak die deur oop vir misbruik, korrupsie en onregverdige praktyke.
https://www.tlu.co.za/donker-dag-vir-sa-tlu-sa-betreur-ondertekening-van-onteieningswet/Daar word ook regtens uitgewys dat hierdie besluit negatiewe gevolge sal inhou vir voedselsekerheid, beleggersvertroue en ekonomiese stabiliteit. Persoonlik kan ek byvoeg dat dit nie net buitelandse beleggers sal afskrik nie, maar ook plaaslike sakelui en voornemende entrepreneurs wat dalk ‘n onderneming van die grond af wou kry om hulself te kan versorg asook om werk te skep ver andere. Die regering het al die jare so gehamer daarop om die jeug bewus te maak van die voordele van entrepreneurskap en ons is altyd vertel hoe die klein en medium sakeondernemings werk gaan skep. Nou is dit juis hierdie groep wie nou in die tande geskop word.
Tlu SA verwys ook na die uitdagings wat boere reeds in die gesig staar met betrekking tot verhoogte insetkoste, wisselvallige markte en landelike misdaad. Nou hang die swaard van moontlike onteiening sonder vergoeding ook nog bo hulle koppe.
Intussen wil die Vryheidsfront Plus die grondwetlikheid van hierdie wetgewing in die grondwethof betwis en indien hulle suksesvol is daarmee wil hulle hul posisie in die kabinet en die Regering van Nasionale Eenheid gebruik om die wet te laat verander. Persoonlik betwyfel ek hoeveel hulle daarvan gan regkry. Nie hulle of die Demokratiese Alliansie kon die ondertekening van die wet stop nie. Hulle kon ook nie die omstrede BELA onderwyswet stop nie, ingevolge waarvan die staat die magte van plaaslike skole se beheerliggame se magte wegneem om te kan besluit oor ‘n skool se toelatingsbeleid en taalbeleid onder andere. Almal is bang dat indien hulle die RNE sal verlaat, dat die ANC dan ‘n sogenaamde oordeelsdagkoalissie sal saamstel met Partye soos die EFF en MK partye.
Onteieningswet: Nul vergoeding wat verswyg word wys op gevare
VF Plus versoek weer politieke partye in parlement om ingevolge die Grondwet saam te staan teen Onteieningswet
Intussen lyk dit of die Vryheidsfront Plus en DA hierdie wetgewing saam gaan betwis. Die Good party van Patricia De Lill is egter ten gunste van die wetgewing.
Intussen is die MK party glad nie tevrede nie. Hulle probleem is dat die wetgewing slegs grondvergrype vanaf 1913 aanspreek. Hulle wil hê die regering moet so ver as 1652 teruggaan toe Jan Van Riebeeck in die Kaap DE Goede Hoop aangekom het en toe glo daar grond gesteel het asook alle koloniale grondbesit daarna.
Onteieningswet niks anders as voortgesette ongeregtigheid – MK
Intussen lyk dit asof daar moontlik groot hofsake gaan kom oor hierdie wet. Afriforum, Action SA en die Referendum Party het woedend gereageer op die ondertekening van die wet.
Terwyl daar regtens groot ontsteltenis is oor hierdie wetgewing het Willem Petzer gisteraand tot laatnag saam met regsgeleerdes en ander lede van die Willem Petzer Groep gewerk om ‘n video saam te stel waarin hulle verduidelik wat dit alles behels. Dit probeer om vae punte binne die wetgewing te verduidelik.
Kom ons hoop dat die aksies wat deur verskeie partye en burgerregtegroepe geneem word hierdie vernietigende wetgewing in sy spore kan stuit, anders is dit niks anders as Suid-Afrika se doodsvonnis wat gister onderteken is.
-
DASO Steek DA In Die Skande
Die Demokratiese Alliansie se studente-organisasie het groot konsternasie regoor die land veroorsaak nadat hulle ‘n advertensieveldtog via hulle sosiale netwerke geloods het met ‘n eksplisiete plakaat wat vele gewone Suid-Afrikaners diep ontstel het.
Op hierdie plakaat word ‘n halfnaakte blanke man en swart vrou uitgebeeld wat mekaar omhels met ‘n uitdagende onderskrif: “DASO, in jou toekoms sou jy nie eers twee keer gekyk het nie.”
Mense is met reg ontsteld oor die onsedelike boodskap wat dit na die jeug uitstuur wat hierdie advertensie mag sien, dit komende van ‘n politieke party wat as amptelike opposisie in die parlement moet dien. Slegs die tyd sal leer of die DA Jeug dalk by die owerheid vir Reklamestandaarde aangekla sal word oor hierdie advertensieveldtog.Heelparty nuuskommentators was tot dusver onwillig om aandag te skenk aan die invloed wat hierdie uitbeelding op die raspolarisasie in ons land mag hê. Hierdie stilte is egter vandag verbreek deur COSATU se provinsiale liggaam in KwaZulu-natal wat in hulle reaksie gesê het dat hierdie plakaat volgens hulle blanke oppermag verskans.
COSATU se profinsiale sekretaris in Natal het gesê dat die DA gedink het dat COSATU en die ANC se vryheidstryd net gegaan het oor die ontugwet en ander soortgelyke wette terwyl dit vir hulle oor veel meer gegaan het. Volgens hom is die hele idee om ‘n buite-egtelike verhouding met ‘n blanke persoon te hê glad nie aanloklik nie.Hierdie gebeurtenis het ‘n paar dinge in ons land se politieke realiteit blootgelê. Soos wat die bekende nuuskommentator en vryskutskrywer Herman Toerien in twee artikels op sy webjoernaal uitgewys het, was vele Afrikaners salig onbewus van die Demokratiese Alliansie se liberale beleid waarmee vele van hulle nie noodwendig saamgestem het nie. Hulle het maar bloot vir die DA gestem omhulle die grootste party is wat teen die ANC kan weerstand bied. Slegs die tyd sal leer hoe die DA se stempersentasies geraak sal word deur hierdie wrede ontnugtering van ‘n belangrike deel van hulle kieserskorps.
Verder het die Demokratiese Alliansie nie rekening gehou met die erge rassepolarisasie wat in ons land aangeblaas is veral deur Julius Malema en andere se radikale uitsprake die laaste paar jaar nie. Blank en swart is ewe gewalg gelaat deur hierdie soort reklame soos wat COSATU se reaksie duidelik bewys.Dalk moet die Afrikaner hulle ontevredenheid duidelik aan die DA rugbaar maak en dan kyk wat hulle reaksie daarop is. As die DA steeds nie berou toon nie, straf hulle in die munisipale tussenverkiesings. As hulle nog nie wil luister nie, gee hulle ‘n loesing in die Algemene verkiesing van 2014. Die opposisie kan dalk meer gefragmenteerd wees in die proses, maar hopelik sal die DA dan besef dat hy meer aandag aan sy kiesers se belange moet skenk en minder aan hulle eie liberale ideologiese oogmerke.
Moraliteit in die politiek maak nog steeds vir meeste Suid-Afrikaners saak, veral omdat ons tans so ‘n gebrek daaraan in ons huidige ANC-regering beleef. Verder moet die DA baie versigtiger wees wees hoe hy die komplekse situasie rondom ras en etnisiteit hanteer. Rasseverhoudinge is in hierdie tyd nog meer broos as ooit tevore. -
Malema blaas weer haat aan voor ANC eeufees
Julius Malema, die geskorsde leier van die ANC Jeugliga, het tydens sy toespraak in Thaba Nchu beweer dat blankes wat swart huishulpe het hulle in die baas en madam se slaapkamer verkrag en dat hulle niks kan sê nie omdat hulle hul werk sal verloor.
Volgens hom wil hulle nie wittes die see injaag nie. Oor tien jaar moet daar ook wit huisbediendes wees. Ek vra jou liewe leser, waarvoor? Sodat hulle hierdie blanke huishoudsters ook kan mishandel en verkrag soos wat hulle beweer ons doen?Verder het Fikile Mbalula ook in sy toespraak sterk te velde getrek teen die ANC leierskap. Die ANC Jeugliga is ‘n outonome en militante organisasie en die ANC hoofstruktuur moet dit nie probeer verander nie. Hy het ook die een en ander te sê gehad oor ANC-leiers van gister en vandag.
Die skares het na die tyd weer die gewraakte haatgesang Skiet die Boer gesing, terwyl Malema weer sy afgewaterde weergawe van hierdie liedjie, Shoot to Kill, Kiss the Boer, gesing het.
As ek my nou nie misgis het nie, het die regter wat verlede jaar Afriforum se haatspraaksaak teen Malema behartig het, ook gesê dat hierdie Kiss the Boer weergawe ook as haatspraak deurgaan. Die gemiddelde mens is inteligent genoeg om die woord Kiss met Shoot te vervang.Hierdie gebeurtenis laat natuurlik vrae ontstaan oor hoe toepasbaar die handhawing van verlede jaar se hofuitspraak werklik is. Hoe vervolg jy ‘n hele skare in ‘n stadion of saal wat hierdie verbode haatlied sing? As jy bietjie aan jou saak werk kan jy nog vir Malema kap oor sy Kiss the Boer, shoot to Kill liedjie. Hoe kan jy een oomblik wil soen en die ander oomblik wil skiet? Soos Dr. Pieter Mulder sou sê, dis net die katfamilie wat kan vry en baklei tegelyk.
Verder lyk dit of prisident Jacob Zuma ook diep in die verknorsing is hierdie jaar. Voor Malema se aankoms het die skare glo gesing: “Malema, bid asseblief vir ons, die stort gee ons probleme.” Dis ‘n nuwe anti-Zuma lied wat Malema gesing het tydens ‘n ANC provinsiale konferensie in Noord-Transvaal terwyl hy gedans het en sy hand soos ‘n stortkop bo sy kop gehou het.
Die groot vraag is natuurlik wat Afriforum en Solidariteit aan hierdie soort wangedrag gaan doen? Gaan dit nog help om nog ‘n hofsaak te maak of moet hulle dit eerder by die Internasionale strafhof in Den Haag aanmeld? Of dalk by die Verenigde Nasies se Algemene vergadering in New York?
Intussen wens ek alle Bloemfonteiners sterkte toe vir hierdie naweek. Mag alles ten spyte van die moomtlike probleme tog vreedsaam verloop en mag die misdaad so laag as moontlik wees.
-
Nog ‘n woelige jaar is verby
Nog ‘n interessante jaar is vandag amptelik verby. Dit was ‘n interessante jaar op die nuusfront en vir my persoonlik.
Die Arabiese wêreld is aan die begin van die jaar geruk deur twee burgerlike rewolusies waarin die regerings van Egipte en Tunisië omvergewerp is. Die magte van NAVO het ingemeng toe die Libiese regering begin vasskop het teen die opstand wat daar losgebars het. Muamar alQadaffi en sy regering is uit die kussings gelig en Qadaffi is ongelukkig ook wreed vermoor deur die rebelle wat hom gevange geneem het. Daar is natuurlik ook heelwat vrae oor die ware motiewe vir NAVO se ingryping in Libië en of dit nie ook maar te doen het met die land se ryk olievelde en die bankstelsel wat nie onder beheer van die internasionale bankstelsel is nie. Intussen veroorsaak die opstande in Sirië tot vandag toe nog ernstige internasionale hoofbrekens en daar sal in die nuwe jaar gesien moet word wat alles daar gaan ontvou.
Op 11 Maart tref ‘n aardbewing Japan wat vele sterftes, ‘n tsunami en ‘n kernramp by een van die kernkragsentrales veroorsaak het waarvan die gevolge nog jare met hulle kan wees. Die wêreld het vir ‘n oomblik stilgestaan en herbesin of dit werklik die moeite werd is om kernkrag as ‘n oplossing vir ons energiebehoeftes te gebruik. Slegs die tyd sal leer of hierdie herbesinning wel tot aksie kan lei om navorsing oor hernubare energie te bevorder.
Die mooi wat wel uit daardie ramp voortgespruit het was die wonderlike manier hoe die Japanese mekaar in hierdie krisistyd bygestaan het. Dit was glad nie so chaoties soos destyds met die orkaan wat New-orleans getref het of die aardbewing wat Haiti gettref het nie.Hier in Suid-Afrika was dinge ook woelig. Afriforum het die ANC jeugleier Julius Malema voor die hof gedaag oor die sing van sy haatgesang Skiet die boer. Hulle het die saak gewen en die hof het bevind dat die lied wel haatspraak is. Dit maak nie saak of dit wel in die geskiedenis van die ANC ‘n strydlied was of nie. As ons mooi hieroor nadink kan daar met reg gevra word of hierdie soort liedere nie gelei het tot al die plaasmoorde wat ons al sedert die vroeë negentigerjare moes verduur nie.
So gepraat van plaasmoorde, die hofsaak van die moordenaars van die Potgieter-gesin van Lindley is ook vanjaar afgehandel en die moordenaars het swaar vonnisse gekry. Wat hierdie moord so laat uitstaan het in die nuus was die feit dat die hele gesin uitgewis is en dat self die tweejarige Willemientjie nie gespaar is nie. Uit die getuienis in die hof het dit geblyk dat Attie Potgieter ‘n goeie man was wat sy werkers dikwels gehelp het en selfs geld geleen het wanneer hulle in die nood was. Ongelukkig was dit ook hierdie eienskap wat sy moordenaars aangespoor het om hom en sy gesin om die lewe te bring, ‘n klassieke geval van die slag van die gans wat die goue eiers lê.Verder is Julius Malema ook geskors as leier van die Anc jeugliga na uitsprake van hom wat die ANC in die verleentheid gebring het. Let wel daarop dat hy nie geskors is oor sy vele haatspraakuitbarstings teen blankes nie. Hy het besluit om appél teen sy skorsing aan te teken en hierdie appélsaak sal volgende jaar voorkom voor die ANC se tugkomitee.
Daar is nog heelwat gebeure wat genoem kan word, maar hierdie is wat vir my die belangrikste was en wat ek met groot belangstelling dopgehou het.
Hiermee wil ek graag van die geleentheid gebruik maak om my gewaardeerde lesers en kommentators ‘n voorspoedige 2012 toe te wens. Hierdie gaan verseker nog ‘n woeliger jaar wees met ekonomiese vooruitsigte wat glad nie goed lyk nie en Europese banke wat op gereedheidsgrondslag geplaas is vir ‘n moontlike ekonomiese krisis. Verdermoet twee appëlsake van Julius Malema ook aangehoor word, naamlik die appél teen sy skorsing as ANC Jeugleier en die haatspraakverhoor wat deur Afriforum gewen is. Albei kan nog vir groot vuurwerke sorg. Verder sal ook gesien moet word wat gaan gebeur rondom die Wet op die beskerming van Staatsinligting wat ook in die parlement goedgekeur is. Sal daar groepe wees wat hierdie wet suksesvol in die grondwethof kan betwis?
Die ANC vier sommer vroeg in Jamuarie sy honderdste bestaansjaar te midde van berigte oor groot uitgawes en ‘n geskarrel vir verblyf vir sowat 120000 mense wat die geleentheid kan bywoon. Ek hoop regtig nie dit lei tot ‘n krisissituasie nie.
Geniet die laaste dag van 2011 sommer baie. -
Is weeskinders en ouetehuise Christendom se skuld?
Prisident Jacob Zuma het die laaste paar jaar heelwat berugdheid verwerf vir verskeie onverantwoordelike godsdienstige uitsprake wat hy gemaak het. Voor die algemene verkiesing wat in 2009 plaasgevind het het hy byvoorbeeld aan ‘n groep ondersteuners gesê dat die voorvadergeeste hulle sal straf as hulle nie vir die ANC stem nie. Hy het ook al gesê dat die ANC sal regeer totdat Jesus eendag kom. Hy het al by meer as een geleentheid die Bybel en/of die Christelike geloof misbruik om sy politieke standpunte te stel. Een van sy meer onlangse uitsprake wat hy ook al gemaak het was dat die ANC en God soms stadig is om hulle beloftes na te kom.
Nou blyk dit egter dat die prisident sy godsdiensuitsprake nog ‘n stappie verder gevoer het. dit het vandag aan die lig gekom dat hy laas naweek tydens ‘n byeenkoms in Natal gesê het dat weeskinders en ouetehuise die Christendom se skuld is. Hy het gesê as Afrikane het hulle lank voor die ontstaan van godsdiens en die evangeliedinge op hulle eie manier gedoen. Die gelowiges het na daardie tyd verwys as donker, maar in daardie tyd was daar nie ouetehuise en weeskinders nie. die Christendom het hierdie dinge teweeggebring.
Dit wil vir my voorkom asof die agbare prisident glad nie besef watter geweldige rol die kerk in Suid-Afrika juis gespeel het om mense op te hef nie. Ouetehuise en kinderhuise is maar ‘n deel van wat hulle regtig vir ons gedoen het. Na die Anglo-Boereoorlog wat vanaf 1899-1902 geduur het, het die Susterskerke heelwat gedoen om kinderhuise daar te stel vir kinders wat tydens die oorlog weesgelaat is. Verder het plaaslike gemeentes op vele platelandse dorpe baie bygedra om hulle plaaslike tehuise vir bejaardes op te rig sodat verswakte bejaardes in die gemeenskappe die nodige versorging en mediese aandag kon kry.
Soos wat verwag kon word het Christene ontsteld gereageer op hierdie uitspraak. Afriforum het daarop aangedring dat die prisident verskoning moet vra vir sy uitspraak. Philip VAn Staden, Vryheidsfront Plus raadslid in Pretoria, het self so ver gegaan om op sy Wordpres.com webjoernaal te vra dat die prisident moet verskoning vra en daarna die eerbare ding moet doen en bedank. ek is nuuskierig om te sien wat die reaksies van ander instellings soos die Christelike Demokratiese Party van Ds. Theunis Botha sal wees as dit gepubliseer word.
Die prisident moet eens en vir altyd besef ddat hy nie met hierdie soort onverantwoordelike uitsprake kan voortgaan nie. Nie net vervreem hy Christene van hom nie, maar die vraag moet ook gevra word wat sal gebeur as God self ingryp en hom tugtig? In die Bybel is heelwat voorbeelde van leiers wat uitsprake teen die Here gemaak het en toe daarvoor gestraf is.
Dit is egter te betryfel of hy wel die eerbare ding sal doen en verskoning vra vir sy uitspraak. Hierdie sal seker maar net verbygaan as een van sy vele glanslose politiese engodsdienstige juweeltjies wat hy kwytgeraak het. -
Hoekom help die ANC vir Zanupf
Volgens ‘n berig wat op Nuus24 verskyn het het die ANC glo belowe om die regerende ZANUPF party van Zimbabwe te help om volgende jaar se verkiesings te wen.
Die Anc se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, het Donderdag ‘n kongres van ZANUPF toegespreek en gesê die ANC is bereid om hulle met strategiese hulp by te staan om volgende jaar se verkiesing in Zimbabwe te wen. Dis glo deel van die verantwoordelikhede wat bevrydingsbewegings teenoor mekaar moet nakom. Hy het ZANUPF aangemoedig om hulle verkiesingsmateriaal vir diE anc te stuur sodat hulle die Zanupf met hulle verkiesingsveldtog kan help.
Hierdie is mos nou ‘n uiters onverantwoordelike stap van die ANC. Onthou hulle nie hoeveel intimidasie van Opposisiekandidate en ondersteuners daar tydens vorige verkiesings plaasgevind het nie? Sommige gewone mense het selfs omgekom in strafkampe wat deur ZANUPF beheer is. Hierdie gevangenes wat in hierdie kampe gedood of beseer is is eenvoudig oorgelaat aan groepe jeugdiges bekend as “The Green Bombers” wat van wrede mishandeling gebruik gemaak het om hulle slagoffers te probeer oortuig om vir die regering te stem. Diegene wat iets gedoen het wat die regerende party se veldtog kon skade berokken is ook in hierdie kampe gestraf. Hierdie mense het bloot die waarheid uitgelek oor die intimidasie wat in die land aan die gang was.
Verder dra Suid-Afrika nou nog die gevolge van Zimbabwe se grondroofprogram wat in 2000 begin het nadat ZANUPF gevaar geloop het om teen die MDC te verloor in die verkiesing van daardie tyd. Dit het tot voedselskaarstes gelei wat ‘n vlugtelingkrisis veroorsaak het met meeste van hierdie vlugtelinge wat hiernatoe gekom het vir oorlewing. Dit het weer tot skaarste aan werk vir Suid-Afrikaners gelei en in 2008 was daar ‘n uitbarsting van xenofobiese geweld waar buitelanders deur Suid-Afrikaanse aanvallers geteiken is. Hoewel dinge op die oomblik nog rustig is, hoor mens maar gereeld van voorvalle waar xenofobiese dreigemente deur sekere elemente in gemeenskappe teen die buitelandse winkeleienaars en arbeiders in hulle midde gemaak word. Die polisie en gemeenskapsleiers moet dan ingryp om die situasie te ontlont.
Verder het die gebeure in Zimbabwe ook polarisasie in die Suid-Afrikaanse bevolking veroorsaak deurdat veral Afrikanerboere vrees dat dieselfde lot hulle kan tref. Verder het sommige politici soos Julius Malema en Gugile Nkwinti ook al onverantwoordelike uitsprake gemaak waarin gedreig was dat Suid-Afrika ook dieselfde paadjie as Zimbabwe sal loop as boere nie vrywillig van hulle grond afstand doen nie.
Teen hierdie agtergrond gesien is die ANC se steun vir ZANUPF uiters ontstellend en onverantwoordelik. Ja, hulle doen dit wel omdat ZANUPF hulle destyds gehelp het tydens die sogenaamde “struggle” maar dit het tyd geword dat die ANC hulle struggle-lojaliteit moet opweeg teen die vergrype en wandade wat die regering van Zimbabwe teen hulle eie burgers gepleeg het. Hulle moet hulself die vraag afvra of dit werklik die moeite werd is om nog voort te gaan om ZANUPF te ondersteun en of hulle nie dalk eerder die opposisie ‘n kans moet gee nie. -
TRIPARTHEID SE VERWARRINGS
Ek luister nou so na uitsprake wat gemaak word by die beraad van die drieparty-alliansie, dis nou die ANC, COSATU en die SAKP. Blade Nzimandi, leier van die SAKP, het glo Julius Malema en die ANC Jeugliga se oproep vir die nasionalisering van myne as selfsugtig beskryf en dit verwerp. Hy glo nie dat hulle motiewe vir nasionalisering opreg is en die werkersklas wil bevoordeel nie, maar dat dit slegs ‘n uitkoms is vir die SEB-manne wat hulle nou in finansiële moeilikheid bevind. Maar laat ons nie nou ons hoop op die kommuniste sit om hierdie dreigende nasionalisme te keer nie. Dit was nog immers van die begin af die kommuniste se droom om ons land se myne, besighede, grond en ander bates te nasionaliseer. Vir hulle gaan dit meer oor wie dit mag doen en wie nie.
Intussen wonder COSATU weer hardop of hulle nog steeds by die ANC moet bly en of hulle moet wegbreek en hulle eie ding in die politiek moet doen. Dit is te betwyfel of soiets wel sal gebeur, veral omdat COSATU al voorheen sulke dreigemente gemaak het het as hulle voel hulle kry nie hulle sin nie. Maar as dit wel sou gebeur sit die ANC met ‘n groot probleem omdat COSATU nog altyd vir hulle die spierkrag op die grond verskaf het en vir hulle stemme onder die gewone werkersklas gewerf het.
Aan die ander kant moet ek erken ek vrees ook so ‘n skeuring omdat daar dan ‘n moontlikheid is dat die nuwe bevryde COSATU baie meer radikaal kan word en toestande vir besighede en werkgewers onmoontlik kan maak. Gister het een van COSATU se grootkoppe juis ‘n beroep op die 1.3 miljoen lede van die vakbondfederasie gedoen om oorlog teen werkgewers te verklaar en ‘n “leefbare inkomste” te eis.
Baie van my lesers sal my nou vra hoekom ek oor al hierdie dinge skryf? Ek weet nie of dit net ek is nie, maar ek ervaar al hoe meer hoe sommige mense die revolusionêre drom al hoe harder slaan in die ANC-politiek. Al hoe meer klem word gelê op die nasionalisering van myne, banke en grond, veral deur die ANC Jeugliga, blankes word as misdadigers afgemaak, die dreigement van die inligtingswet hang nog steeds soos ‘n swaard oor ons koppe alhoewel die ANC darem toegewings gemaak het. Intussen word die media nog steeds as die vyand uitgekryt deur figure binne die ANC en SAKP.
Ek vrees die dag wanneer die drukkoker wat in hierdie land opgebou het as gevolg van al hierdie onverantwoordelike uitsprake gaan ontplof.