Die hele rassedebakel rondom die sogenaamde Reitz 4 begin nou erg op my senuwees te werk. Die ontgroeningsvideo wat hulle verfilm het en waaraan skoonmakers by die Reitz Manskoshuis deelgeneem het mag wel in swak smaak gewees het. Maar die manier hoedat die ANc en sy vennote op hierdie insident voorthamer is darem ook te erg. Dit wil voorkom asof hulle dit wil misbruik as ‘n stok om die Afrikaner mee by te kom. Kan hierdie dinge nie maar tot ‘n punt kom nie.
Kategorie: Politiek
-
Braaidag versus Erfenisdag
Vandag was ons veronderstel om die ANC-regime se erfenisdag te vier. Daar word met reg op Radio Pretoria en praag.co.za gevra: watter erfenis? ‘n Groot deel van die Afrikaners se erfenis het alreeds verlore gegaan.
So ‘n paar jaar gelede kom ‘n groepie slim liberales na vore met die idee om erfenisdag ook tot Braaidag uit te roep. Volgens hulle is braai die enigste tradisie wat deur alle Suid-Afrikaners gedeel word.
Intussen het vele Afrikaners hierdie dag aangegryp om saam met vriende, familie en geliefdes te kuier en sommer in die proses ook die propaganda van die ANC-regime wat op dae soos hierdie oorvloedig uitgestuur word te ontkom. Die Sjinese het ‘n interessante spreekwoord: waar daar beleid is, is daar ook teenbeleid. Hierdie is ‘n interessante voorbeeld waar Afrikaners ‘n ANC-vakansiedag tot hulle voordeel omgekeer het. -
Naspers in ‘n doodloopstraat
Ek lees nou net Dan Roodt se artikel oor die swak gehalte van Rapport en ander koerante van Naspers. Ek stem nogal saam met die opinies wat daarin uitgespreek word. Gelukkig is ons geseënd met vandag se nuwe sosiale media wat ons as Afrikaners ten volle moet gebruik om ons eie standpunte te stel en die anti-Afrikanerpropaganda van hierdie linkse, slinkse media te omseil en aan die kaak te stel. Baie dankie aan hierdie Afrikaners wat reeds besig is om dit te doen.
-
Kwytskelding vir Afrika se diktators
President Jacob Zuma het Maandag ‘n voorstel aan die hand gedoen dat daar kwytskelding van enige vervolging gegee moet word aan Afrika se onbekwame diktators wat hul onderskeie state tot in die grond regeer het op voorwaarde dat hulle vrywillig uittree. Mag Robert Mugabe nooit amnestie kry vir al die beproewing wat hy oor sy land gebring het nie.
-
Wat is ‘n goeie politikus?
Ek het die laaste paar dae heelwat oor hierdie vraag gedink. Ek sit anderdag in ‘n dokter se wagkamer toe ‘n man daar instap wat besig was om op sy selfoon te praat. Hy het sommer lekker lank gesels. In elk geval, ek hoor hoe hierdie man sy maat daarop wys dat alle politici nie oor dieselfde kam geskeer moet word nie en vertel toe van ‘n politikus wat deur sy party genomineer is om parlement toe te gaan maar toe die nominasie van die hand gewys het omdat hy glo dat daar nog te veel werk is wat hy vir sy gemeenskap op voetsoolvlak moet doen. Ons vriend reken dat hierdie man ‘n goeie politikus wis om so ‘n edele ding te doen.
Wat is die eienskappe van ‘n goeie politikus? Meeste mense sal saamstem met die volgende punte: ‘n goeie politikus is iemand wat in voeling is met die behoeftes van sy gemeenskap en alles moontlik probeer doen om sy gemeenskap te verteenwoordig en hulle belange te bevorder. ‘n Goeie politikus moet ‘n man of vrou van sy/haar woord wees. Hy moet nie op twee gedagtes hink om almal om hom tevrede te probeer stel nie. Hy moet beslis ook eerlik wees en homself nie skuldig maak aan korupte en onderduimse bedrhywighede nie. Ofm jy nou jou mense binne of buite die parlement gaan verteenwoordig, hierdie beginsels geld vir jou.
Ek kan nie anders as om te wonder of huidige lot politici wat so baie in die openbare oog verskyn regtig sal kan voldoen aan hierdie bogenoemde standaarde nie. -
Pieter Mulder en die nuwe bedeling
Die nuwe prisident van die ANC-geleide regering, Jacob Zuma, het vandag sy nuwe kabinet bekendgestel. Daar is heelwat veranderinge aan die struktuur van die kabinet aangebring. Sommige departement is verdeel om twee aparte departemente te skep, sommige departemente het nuwe name gekry en sommige departemente het nuwe verantwoordelikhede bygekry het. Die grootste verrassing vir my was die feit dat iemand soos Pieter Mulder van die Vryheidsfrond Plus wat maar vier setels in die parlement gekry het, aangestel is as die adjunk-minister van landbou, bosbou en vissery. Ek het nogal gewonder hoe soiets moontlik was totdat ek vanaand op Freek Robinson se program Fokus verneem het dat Pieter Mulder en Jacob Zuma voor die tyd lank gepraat het. Die groot vraag is nou egter of Pieter Mulder regtig ‘n verskil kan maak vir sy ondersteuners daar buite. Hy het wel na die tyd laat blyk dat hy sy posisie in die kabinet gaan gebruik om kwessies soos die stand van Afrikaanse universiteite, grondhervorming, die status van Orania en minderheidsregte aan te spreek. Die ANC het egter ‘n baie slim skuif gemaak met hierdie nuwe kabinet deurdat die ministeries van landbou en grondsake van mekaar geskei is. Landbou, bosbou en visserye is in een departement saamgevoeg terwyl landelike ontwikkeling en grondsake hulle eie departement kry. Laasgenoemde is verantwoordelik vir die ANC se sogenaamde grondhervormingsbeleid wat in praktyk niks anders is as grondroof nie. Sal Pieter Mulder regtig ‘n verskil kan maak in hierdie geskeide landboudepartement van hom as dit by ‘n saak soos grondhervorming kom? Sal hy dit regtig waag om buite sy posbeskrywing te praat en die ander sake van belang vir sy ondersteuners te opper? Slegs die tyd sal leer of Mulder regtig hond haar-af kan maak en of hy maar net nog ‘n tweede Marthinus van Schalkwyk gaan word wat stadig maar seker deur die ANC ingetrek gaan word met possies in die parlement.