Etiket: Afrikaners

  • Sonde met die bure en andere wat die kinders laat struikel

    Hierdie is voorwaar skokkend. Wat is besig om van ons mense te word? Dan is daar nog ouer mense wat jong kinders ook laat struikel in hulle verslawing en trots is daarop. Diesulkes moet net onthou dat ons in die Bybel gewaarsku word dat dit wel onvermydelik is dat kinders sal struikel, maar as jy as ouer, voog of volwassene doelbewus kinders laat struikel, is dit vir jou beter dat ‘n meulsteen om jou nek vasgemaak word en dat jy in die diepsee gegooi moet word. Iewers is ‘n wonderwerk dringend nodig. Baie dankie Rina Bester vir jou skrywe waarin jy hierdie euwels met praktiese voorbeelde uitlug. Mens wil nie inmeng by ander mense nie, maar wat te erg is, is te erg.

  • DASO Steek DA In Die Skande

    Die Demokratiese Alliansie se studente-organisasie het groot konsternasie regoor die land veroorsaak nadat hulle ‘n advertensieveldtog via hulle sosiale netwerke geloods het met ‘n eksplisiete plakaat wat vele gewone Suid-Afrikaners diep ontstel het.
    Op hierdie plakaat word ‘n halfnaakte blanke man en swart vrou uitgebeeld wat mekaar omhels met ‘n uitdagende onderskrif: “DASO, in jou toekoms sou jy nie eers twee keer gekyk het nie.”
    Mense is met reg ontsteld oor die onsedelike boodskap wat dit na die jeug uitstuur wat hierdie advertensie mag sien, dit komende van ‘n politieke party wat as amptelike opposisie in die parlement moet dien. Slegs die tyd sal leer of die DA Jeug dalk by die owerheid vir Reklamestandaarde aangekla sal word oor hierdie advertensieveldtog.

    Heelparty nuuskommentators was tot dusver onwillig om aandag te skenk aan die invloed wat hierdie uitbeelding op die raspolarisasie in ons land mag hê. Hierdie stilte is egter vandag verbreek deur COSATU se provinsiale liggaam in KwaZulu-natal wat in hulle reaksie gesê het dat hierdie plakaat volgens hulle blanke oppermag verskans.
    COSATU se profinsiale sekretaris in Natal het gesê dat die DA gedink het dat COSATU en die ANC se vryheidstryd net gegaan het oor die ontugwet en ander soortgelyke wette terwyl dit vir hulle oor veel meer gegaan het. Volgens hom is die hele idee om ‘n buite-egtelike verhouding met ‘n blanke persoon te hê glad nie aanloklik nie.

    Hierdie gebeurtenis het ‘n paar dinge in ons land se politieke realiteit blootgelê. Soos wat die bekende nuuskommentator en vryskutskrywer Herman Toerien in twee artikels op sy webjoernaal uitgewys het, was vele Afrikaners salig onbewus van die Demokratiese Alliansie se liberale beleid waarmee vele van hulle nie noodwendig saamgestem het nie. Hulle het maar bloot vir die DA gestem omhulle die grootste party is wat teen die ANC kan weerstand bied. Slegs die tyd sal leer hoe die DA se stempersentasies geraak sal word deur hierdie wrede ontnugtering van ‘n belangrike deel van hulle kieserskorps.
    Verder het die Demokratiese Alliansie nie rekening gehou met die erge rassepolarisasie wat in ons land aangeblaas is veral deur Julius Malema en andere se radikale uitsprake die laaste paar jaar nie. Blank en swart is ewe gewalg gelaat deur hierdie soort reklame soos wat COSATU se reaksie duidelik bewys.

    Dalk moet die Afrikaner hulle ontevredenheid duidelik aan die DA rugbaar maak en dan kyk wat hulle reaksie daarop is. As die DA steeds nie berou toon nie, straf hulle in die munisipale tussenverkiesings. As hulle nog nie wil luister nie, gee hulle ‘n loesing in die Algemene verkiesing van 2014. Die opposisie kan dalk meer gefragmenteerd wees in die proses, maar hopelik sal die DA dan besef dat hy meer aandag aan sy kiesers se belange moet skenk en minder aan hulle eie liberale ideologiese oogmerke.
    Moraliteit in die politiek maak nog steeds vir meeste Suid-Afrikaners saak, veral omdat ons tans so ‘n gebrek daaraan in ons huidige ANC-regering beleef. Verder moet die DA baie versigtiger wees wees hoe hy die komplekse situasie rondom ras en etnisiteit hanteer. Rasseverhoudinge is in hierdie tyd nog meer broos as ooit tevore.

  • Die nuwe kulturele gevaar

    Die laaste week was daar groot ontsteltenis in die geledere van behoudende Afrikaners nadat ‘n besigheid bekend as The Zef Shop ‘n t-hemp gedruk het waarop ons groot boereleier oud-president Paul Kruger van die Zuid-Afrikaansche Republiek as ‘n fopdosser uitgebeeld word.
    Ekself deel in die ontsteltenis van my volksgenote en veroordeel die aksie van die eienaars van die Zef Shop ten volle.
    Hierdie verskynsel is ongelukkig deel van ‘n groter kulturele gevaar wat onlangs op die toneel verskyn het. Dis ‘n verskynsel wat in die volksmond as Zef bekendstaan.
    In kort is Zef niks anders as die uitdagende promofering van losbandigheid en dekadensie nie. Die verskil tussen Zef en ander soort dekadensie is dat ander soorte dekadensie hulle praktyke onder die vredesdekmantel wil regverdig soos die hippies van die sestigerjare. Wie onthou nog die slagspreuk “Make love, not war.” Andere sukkel weer om met ‘n morele regverdiging te kom vir hulle wandade. Sommige sal op individuele vlak die moderne tydsgees as verskoning aanbied. “ons lewe in ‘n moderne eeu” en “jy is outyds”, is hulle gunsteling verweer. Zef is egter ‘n soort openbare oorlogverklaring teen die gevestigde Afrikanerkultuur wat oor ‘n kwessie van honderde jare opgebou is. Die kulturele aanvoerders van hierdie subkultuur daag hulle volgelinge tot dekadensie uit en gaan woes te kere met diegene wat nie hulle sieninge deel nie.
    In hierdie week was daar ook ‘n artikel in Beeld waarin
    Generaal-Majoor Gert Opperman van die Voortrekkermonument homself uitgespreek het teen die Zef-musiekgroep Die Antwoord se vertoning by die Voortrekkermonument op ounjaarsaand waar kru taal in hulle liedjies gebruik is. ‘n Mens sou egter die vraag kon vra hoekom die monument se bestuur toegelaat het dat hierdie groep daar optree? Kon hulle nie eers navorsing gedoen het om vas te stel watter soort groep hulle is nie? Hulle beweer tog dat hulle streng keuring toepas om te bepaal watter kunstenaars daar mag optree.
    Verlede jaar was daar ook ‘n herrie in die koerante omdat die geliefde Afrikaanse sangeres Juanita Du Plessis nie saam met die Zef-sanger Jack Parow by ‘n groot Afrikaanse musiekkonsert wou optree nie nadat hy godslasterlike uitsprake gemaak het. Parow het woes teen Du Plessis uitgevaar op sy Twitter mikrojoernaal met kru taal en haar as veroordelend “judgementel” uitgekryt. in daardie tyd het ek Juanita se besluit ook ondersteun.
    Alhoewel Zef as ‘n ondergrondse subkultuur ontstaan het onder Afrikaanssprekende woestaards is dit die laaste paar jaar tot in die kulturele hoofstroom gedruk deur kunstenaars soos Die Antwoord en Jack Parow asook die Zef webjoernaal Watkykjy. Hierdie is ‘n kulturele gevaar wat ons nie meer kan ignoreer nie. Hulle het nou amptelik oorlog teen ons verklaar met hulle Paulina Kruger t-hemde en ek wil my verstout om te sê dat ons nog nie die laaste van hulle gehoor het nie. Ons moet opstaan teen hierdie gevaar waar ook al hulle ons bedreig en ons moet kunstenaars soos Juanita Du Plessis ondersteun wat dit reeds gedoen het.
    Vir verdere inligting oor die Zef subkultuur kan die volgende skakels besoek word:
    http://watkykjy.co.za/
    http://twitter.com/jackparow/

  • Rowwe week vir Afrikaners en blankes

    Hierdie week was voorwaar ‘n rowwe week vir blankes en Afrikaners. Ons het behoorlik deurgeloop onder die skerp tonge van belangrike figure binne die ANC-regime soel as ‘n beoordelaar van die gewilde Pop Idols reeks op M-net.
    Die beoordelaar, Mara Louw het op Sondag 7 November gekla omdat ‘n swart deelnemer nie die kompetisie gewen het nie. Swartmense het glo nie toegang tot DSTV nie en daarom kon hulle nie stem nie. Later die week het dit wel uitgekom dat die swart deelnemers wel op ‘n stadium
    wel gewild was en ‘n kans gestaan het om te kon wen. Ek het nooit gehoor dat Louw verskoning gevra het vir haar uitlatings nie.
    Daarna was ons weer onder skoot nadat Maggie Sotyu, adjunk-minister van polisie, hierdie week in die parlement beweer het blanke misdadigers word ligter gestraf as swart misdadigers. Sy het dit gesê na die vrystelling van ‘n verslag deur die Instituut vir Geweld en versoening waarin beweer word Apartheid en die trekarbeidstelsel die rede is hoekom misdaad in Suid-Afrika so gewelddadig is. Sotyu is uit verskeie oorde skerp veroordeel vir haar uitlating.
    Verder het die ANC Jeugliga ook hierdie week gesê dat die standbeeld van Paul Kruger op Kerkplein, Pretoria, verwyder moet word en vervang moet word met ‘n standbeeld van Chris Hani met ‘n groep MK vryheidsvegters om hom.
    Afriforum Jeug het in reaksie hierop gesê hulle is bereid om hulself aan die standbeeld vas te ketting om dit te behou as dit sou nodig ord.
    Laastens het Fikile Mbalula, Minister van Sport, ook gesê dat skolerugby volgens hom te wit is en dat transformasie daar nodig is, d.w.s. hulle wil meer swartes in rugbyspanne hê.
    As daar nou een ding is wat nou vir ons duidelik is, dan is dit dat selfs die Anc nie eers glo aan die versoeningspropaganda waarmee hulle ons gevoer het nie. Hoekom moet ons nog daaraan glo? Ons word vertel dat almal sogenaamd gelyk is maar dan word blankes uitgesonder vir haatspraak. Hierdie uitsprake word op die ou einde ongestraf gelaat.
    Is dit enigsins ‘n wonder dat ons mense al hoe meer daarop aandring om ons eie volkstaat en eie volksowerheid te kry? Ons voel eenvoudig nie tuis in die ANC-regime se Mzanzi nie.

  • Paul Kruger

    Vandag gedenk ons as behoudende Afrikaners wat ons geskiedenis lief het weer die geboortedag van Paul Kruger, een van ons groot Boereleiers. Hy was die laaste president van die Zuid-Afrikaansche Republiek, ook bekend as die Transvaal, voor die Tweede Vryheidsoorlog.
    Paul Kruger was deen van die leierskorps wat die Boerevolk van die ZAR in 1881 bevry het van Britse oorheersing nadat Britanje in 1877 die ZAR beset het. Nadat Goud aan die Witwatersrand ontdek is het hy ‘n bittere politieke stryd gevoer om ons onafhanklikheid te behou nadat Britanje met slinkse maatreëls probeer het om beheer oor die ZAR se regering te verkry onder die dekmantel dat hulle die regte van die buitelanders probeer beskerm wat daar in die myne gewerk het. Selfs toe die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 uitgebreek het het hy nie sonder meer oorgegee nie en het selfs Europa toe gereis om steun te werf vir die saak van die Boerevolk. Ongelukkig was dit nie oral suksesvol nie. Alhoewel dit maar moeilik gegaan het om regerings van daardie tyd sover te kry om ons behulpsaam te wees het gewone Europeërs wel groot inspirasie geput uit ons stryd teen Britanje.
    Paul Kruger is een van daardie leiers wat dit verseker die moeite werd maak om die goeie uit die verlede te haal en ons toekoms daarop te bou. Mag ons weer ‘n leier soos hy kry om ons na vryheid te lei in die moeilike jare wat vir ons voorlê.

  • Steve vs Koos en MG

    Op sy mikrojoernaal verwys Steve Hofmeyr
    http://www.twitter.com/steve_hofmeyr na ‘n artikel deur die bekende Afrikaanse sanger Koos Kombuis wat op The Mail ^& Guardian se Thoughtleader blog verskyn het. Koos
    Het in hierdie artikel oor Steve se ope brief aan Julius Malema en sy standpunt oor swart intelektueles. Alhoewel Steve se uitspraak debateerbaar is, doen dit niks aan die res van sy brief nie.
    As ek Steve is steur ek my nie veel aan Koos Kombuis of Mg se kritiek nie. Ons almal weet dat hulle albei liberale
    anti-Afrikaner sentimente bedryf en dat ons hulle soort ongelukkig nie kan oortuig nie. Ons weet van Koos se betrokkenheid by die Voëlvry beweging, ‘n soort Afrikaanse Rockmusiekbeweging waarin die Afrikaner se kultuurgoedere liederlik afgekraak is voor FW De Klerk se oorgawe en die verraad van die generaals. Ons weet ook van The Mail & Guardian se liberale standpunte toe hulle nog as The Rand Daily Mail bekend gestaan het. Daarom moet ons onsself nie verbaas oor die kaliber van lesers wat hulle vandag het nie.
    Steve moet voortgaan met die goeie werk wat hy alreeds doen. Ons as Afrikaners raak al meer keelvol vir die liberale aanvalle van die media op ons. Danksy die internet het ons nou self die vermoë om onsself te verdedig en alternatiewe leesstof daar te stel vir ons eie mense.
    Sterkte vir jou, Steve.

  • Malema sing De La Rey, De La Rey

    Na ‘n relatief lang mediastilte het Julius Malema, leier van die ANC Jeugliga weer sy verskyning op die openbare toneel gemaak. Hy het soos gewoonlik weer ‘n toespraak gelewer, maar soos gewoonlik het hy ook sy berugte sangtalent ten tooon gestel. En soos gewoonlik het die boere ook weer iets hiermee te doen gehad.
    Hierdie keer het hy egter nie een van die ANC se haatgesange uit die goue verlede teen die boere gesing nie, maar hy het juis ‘n uittreksel uit ‘n bekende liedjie oor ‘n boeregeneraal gesing.

    Tydens ‘n musiekberaad wat gister in Johannesburg gehou is, het Julius Malema aan afgevaardigdes gesê Daar moet meer liedjies wees wat die ANC-regime se helde besing. As voorbeeld het hy toe die refrein uit die bekende liedjie De La Rey, De La Rey, van die sanger Bok van Blerk gesing. Malema het gesê platejoggies moet ook dansliedjies oor
    politieke helde skryf omdat musiek glo politiek is. Die onderdrukkers moet glo duidelik berstaan dat alhoewel hulle vergewe is, die sogenaamde onderdruktes nooit sal vergeet nie. Mens sou dalk net kon vra, en wat dan van die huidige groep onderdruktes? Mag ons ook ons heldeliedere sing?
    Daar is geen twyfel dat hierdie liedjie juis ‘n nuwe beweging onder Afrikaners begin het toe dit einde 2006 vrygestel is nie. Dit het die soeklig laat val op die leierloosheid van ons volk te midde van ‘n nuwe soort onderdrukking deur die
    ANC-regime in die vorm van werksdiskriminasie, die miskenning van ons taalregte op skool en universiteit, hoë vlakke van geweldsmisdaadm ensovoorts.
    Mag ons volk binnekort weer so ‘n besielende leier kry om ons deur ons volgende groot krisis te help.

  • Vertel hom Steve

    Ek hou van die manier hoe Steve Hofmeyr gister op sy blog gereageer het op Johnny Vlismas se brief Vrydag in die Mail & Guardian waarin hy vir Steve aanvat en ook ‘n skewe hou na die Afrikaners mik. Steve wys daarop dat geen groep in hierdie land ‘n ander kan voorskryf hoe hy sy pyn moet verwerk nie en vra ook hoekom dit dan belangrik is as ander volkere lewensverlies lei maar dis blykbaar nie so erg as Afrikaners ook groot lewensverlies lei nie. Maar dis veral interessant om te sien hoe Steve die sogenaamde Regs vs lings debat omkeer. Hy beskuldig Johnny dat hy eintlik die regse is. Wel, dis ‘n debateerbare stelling, maar dis interessant hoedat die liberales ons altyd daarop wys dat ons glo moet aanpas by ‘n wêreld wat verander, maar as die wêreld op so ‘n manier verander dat die liberale denkpatroon in gevaar gestel word dan is hulle die eerste wat wal gooi.
    Ons is almal trots op die manier hoe jy jou man gestaan het, Steve. Sterkte vir jou.

  • Was dit ‘n wraakaanval?

    In my vorige inskrywing het ek ‘n beroep op my medevolksgenote gedoen om kalm te bly en hulle nie aan enige onverantwoordelike geweldadige gedrag skuldig te maak na die moord op Eugene Terreblanche, leier van die Afrikanerweerstandsbeweging. Die verkeerde optrede van ‘n klein groepie kan die hele land aan die brand steek. Skoor het ‘n baie mooi pleidooi gerig op haar webjoernaal skoor.wordpress.com.
    Juis daarom was dit vir my ‘n skok toe ek gisteraand ‘n berig hoor van ‘n beweerde skietery op ‘n minibustaxi naby Secunda. Volgens die passasiers van die taxi het twee blanke mans in ‘n dubbelkajuitbakkie by hulle verbygery en skote op die taxi gevuur. Sommiges is gewond. Die plaaslike polisie sê hulle sluit nie die moontlikheid uit dat dit moontlik ‘n wraakaanval was na die moord op Terreblanche.
    Ons as Afrikaners kan beslis weerstand bied teen die huidige toestande in die land wat ons toekoms bedreig soos geweld en misdaad, die haatspraak van veral die Anc Jeugliga en sy meelopers, die korrupsie wat ons land op sy knieë dwing en die manier hoe ons van ons kulturele erfenis beroof word deur dinge soos naamsveranderinge en die wanvoorstelling van Afrikaners in ons land se geskiedenis. Maar al hierdie dinge moet geskied met die nodige respek vir algemene wet en orde.
    Ek hoop nie hierdie voorval by Secunda kring uit en word deur die haatsprekers van die ANC en ander radikale groepe gebruik om die vure van haat teen ons aan te blaas nie.

  • Rus in vrede, ET

    Die leier van die Afrikanerweerstandsbeweging, Eugene Terreblanche, is Gisteraand, 3 April, op wrede wyse op sy plaas buite Ventersdorp vermoor terwyl hy gelê en slaap het. Twee jong plaaswerkers wat maar slegs drie weke vir hom gewerk het is in hegtenis geneem vir sy moord nadat hulle self die polisie ontbied het en hulself toe oorgegee het. Hulle beweer hulle het die moord gepleeg nadat hulle met hom stry gehad het oor onbetaalde lone.
    Daar is egter ‘n paar vreemde dinge rondom hierdie moord. Die panga wat as een van die moordwapens gebruik is is na die tyd netjies op sy bors geplaas. As ‘n moordenaar ‘n voorwerp op sy slagoffer se bors plaas is dit gewoonlik ‘n soort boodskap wat hy wil uitstuur. Verder is dit ook totaal vreemd dat hierdie twee lafaards na die tyd self die polisie vanaf ‘n buurplaas ontbied het en toe hulself oorgegee het en skuld beken het. Dis die eerste keer dat plaasaanvallers dit doen.
    Ons volk verkeer vandag in ‘n toestand van skok, woede en hartseer. Al het baie van ons nie saamgestem met alles wat hy gedoen en gesê het nie het hy nogtans die vermoeë gehad om ons Afrikanerharte warm te laat klop.
    Ek hoop dat my mede-Afrikaners ten spyte van al die gevoelens wat in hulle broei hulle nie sal skuldig maak aan onverantwoordelike optrede nie, veral nie gewelddadige optrede nie. Dit is presies wat die beplanners van hierdie moord wil hê.
    Rus in vrede, oom Eugene. Ons sal jou altyd onthou.