Etiket: Afrikaners

  • Internet neem Afrikaans die toekoms in

    Tydens ‘n werkswinkel van die Afrikaner Burgerlike Netwerk het Jaco Kleinhans, kommunikasiebestuurder van Solidariteit gesê as Afrikaanse organisasies in die toekoms nog wil voortbestaan sal hulle nou al reeds daaraan moet dink daaraan om op sosiale netwerke soos Facebook, Twitter en Flickr te wees sowel as op die breër internet.
    Ongeveer 10% van Suid-Afrikaners het toegang tot die internet. Volgens navorsing deur Solidariteit het sowat 40% van blankes internet by die huis en nog meer het internettoegang by die werk.
    Kleinhans het gesê ons het nog glad nie die goedkoop hoëspoed internet in Suid-Afrika soos wat gebruikers in oorsese lande alreeds geniet nie, maar Afrikaanse organisasies moet nou alreeds begin regmaak vir die dag as ons wel sulke internet het. Afrikaners se huidige vlak van internetgebruik moet ook glad nie onderskat word nie. Afrikaans staan alreeds sterk op Facebook.
    Ek sou graag my eie stuiwer in die armbeurs wil gooi deur te sê dat dit nie net die organisasies nie, maar ook die gewone man op straat wat kan help om Afrikaans op die internet lewendig te hou. Ons as Afrikaanse webjoernaalskrywers moet nooit die belangrikheid van ons werk onderskat nie. Dieselfde geld vir diegene van ons wat Facebook, Twitter en ander media gebruik. Daarom, aan al my medebloggers, hou aan met die goeie werk wat julle doen en help sodoende om Afrikaans die toekoms in te neem.

  • geloftedag

    vandag herdenk ons behoudende Boere-afrikaners weer die gelofte wat ons voorvaders afgelê het voor die slag van Bloedrivier. Hulle het God destyds belowe dat indien Hy hulle sou beskerm tydens die geveg en aan hulle die oorwinning sou gee, sou hulle hierdie dag as ‘n sabbatdag deurbring en ‘n huis tot Sy eer oprig waar dit Hom mag behaag. Hulle het ook belowe dat hulle kinders en die opkomende geslagte daarna ook in hierdie gelofte moet deel. Daarom gedenk ons vandag nog Geloftedag.
    Mag diegene van julle wat dit vandag herdenk dit steeds met dank teenoor God doen.

  • Ons lyding in Afrika

    Steve Hofmeyer skryf op sy webjoernaal, te besigtig by stevehofmeyer.co.za onder die afdeling Steve sê ‘n interessante opmerking as deel van sy Kersfeesboodskap. Die groot ding wat die inwoners van Afrika aan hierdie kontinent bind is die feit dat daar altyd mense op hierdie kontinent is wat die een of ander groot lyding of beproewing beleef. Die Afrikanervolk, en meer spesifiek die Boere-Afrikaners, kan met reg sê dat hulle ook die lyding van die kontinent beleef het.
    Ons het onder die juk van die Nederlandse en later die Engelse koloniale magte uitgevlug. Die koloniale owerhede het gereeld die grense van die kolonie uitgebrei om ons as’t ware met ‘n vangnet weer onder die gesag van die koloniale magte in te trek. Ons het voortgetrek en toe ons ons grond kry waar ons ons eie nuwe land wou bou het ons dit teen die koloniale magte verdedig en dit toe opgebou en leefbaar gemaak.
    Ons was ook vasgevang in die stamoorloë wat in Suid-Afrika gewoed het nadat Tsjaka met sy uitdelgingsoorlog begin het. Die Mfekane het eers opgehou nadat Die bVoortrekkers vir Dingaan verslaan het.
    Britanje het in 1877 die ZAR ingeneem en na vele mislukte onderhandelings en verset het ons dit in 1881 weer bevry by die slag van Majuba.
    Nadat goud aan die Witwatersrand ontdek is was daar weer ‘n lang en bitter politieke stryd tussen die ZAR en Britanje wat op die Tweede Vryheidsoorlog uitgeloop het. Baie van ons vrouens en kinders het in konsentrasiekampe omgekom en plase is oral afgebrand en verwoes om ons mense se voedselbronne af te sny.
    Na die oorlog moes ons weer opstaan uit die na-oorlogse armoede en het ons met behulp van ons welsynsorganisasies, kulturele organisasies en banke dit reggekry om onsself weer tot ‘n respektabele volk op te hef.
    Daar was weer lig in die tonnel toe ons ons eie afrikanerregering gekry het wat ons na onafhanklikheid en voorspoed gelei het.
    Ongelukkig weens internasionale druk met Britanje wat weereens ‘n belangrike rol gespeel het asook verraad van binne moes ons ons vryheid en voorspoed prysgee. Nou ly ons weer van voor af as gevolg van diskriminasie, armoede en volksmoord wat as misdaad vermom word.
    Die Afrikanervolk het inderdaad die lyding van Afrika meegemaak. Daarom het ons so ‘n sterk verbintinis met ons land.

  • Boere kry die skuld vir plaasaanvalle

    Ek hoor vanaand op die seweuur televisienuus ‘n berig waarin adjunkpresident Galema Moclanthe sê dat van die ergste plaasaanvalle deur buitelanders uitgevoer word. Maar dan gaan hy voort om te sê dat dit boere se skuld is omdat hulle glo die buitelanders in diens neem en hulle dan uitbuit deur aan hulle laer salarisse te betaal en hhulle te dreig met die polisie en imigrasie-owerhede om die werkers se gehoorsaamheid te verseker. Agri SA het soos verwag met skok gereageer op hierdie bewering en daarop gewys dat plaasaanvalle meestal gepleeg word deur misdadigers wat geld en vuurwapens by boere eis. Hulle kies ook meestal boere wat sagte teikens is.
    Ja-nee, so kry die boere alweer die skuld vir alles. Ek hoop van harte dat landbou-unies en organisasies wat die belange van behoudende Afrikaners verteenwoordig hulle stemme sal dik maak en Moclanthe tot orde roep. Soos die president van Agri SA gesê het is dit skokkend dat iemand met sy posisie en verantwoordelikhede so ‘n stelling kon maak sonder om eers van die feite seker te maak.
    Laat ons maar wag en sien wat die uitkoms van hierdie situasie gaan wees.

  • Sjinese mediamarteling

    Die hele rassedebakel rondom die sogenaamde Reitz 4 begin nou erg op my senuwees te werk. Die ontgroeningsvideo wat hulle verfilm het en waaraan skoonmakers by die Reitz Manskoshuis deelgeneem het mag wel in swak smaak gewees het. Maar die manier hoedat die ANc en sy vennote op hierdie insident voorthamer is darem ook te erg. Dit wil voorkom asof hulle dit wil misbruik as ‘n stok om die Afrikaner mee by te kom. Kan hierdie dinge nie maar tot ‘n punt kom nie.

  • Die ANC-regime stoomroller voort met naamsveranderings

    Dit is onlangs bekend gemaak dat minstens vier bekende dorpe in Oos-transvaal se name verander gaan word. Hierdie dorpe is Nelspruit, Belfast, Machadodorp, en Watervalboven. Soos verwag kon word, was verskeie mense ongelukkig hieroor. Die DDA, die plaaslike sakekamers, die toerismeverenigings en selfs die Afrikanerbond, voorheen bekend as die Broederbond, wat die oorgawe van 1994 help moontlik maak het, het hierdie stap van die minister van kuns en kultuur veroordeel.
    Een van die maniere hoe ons Afrikaners ons teen hierdie diefstal van ons plekname kan verset is om voort te gaan om steeds ons eie plekname te gebruik. Ons kan dit gebruik as ons met mekaar praat, as ons vir mekaar briewe of e-pos skryf, as ons aan gesprekke op radio of televisie deelneem, waneer ons toesprake lewer, as ons aan internetforums deelneem, op die blogs skryf of sosiale netwerke soos Facebook en Twitter gebruik. Dis verseker die kragtigste manier om ons erfenis te bewaar en lewend te hou.

  • Braaidag versus Erfenisdag

    Vandag was ons veronderstel om die ANC-regime se erfenisdag te vier. Daar word met reg op Radio Pretoria en praag.co.za gevra: watter erfenis? ‘n Groot deel van die Afrikaners se erfenis het alreeds verlore gegaan.
    So ‘n paar jaar gelede kom ‘n groepie slim liberales na vore met die idee om erfenisdag ook tot Braaidag uit te roep. Volgens hulle is braai die enigste tradisie wat deur alle Suid-Afrikaners gedeel word.
    Intussen het vele Afrikaners hierdie dag aangegryp om saam met vriende, familie en geliefdes te kuier en sommer in die proses ook die propaganda van die ANC-regime wat op dae soos hierdie oorvloedig uitgestuur word te ontkom. Die Sjinese het ‘n interessante spreekwoord: waar daar beleid is, is daar ook teenbeleid. Hierdie is ‘n interessante voorbeeld waar Afrikaners ‘n ANC-vakansiedag tot hulle voordeel omgekeer het.

  • Naspers in ‘n doodloopstraat

    Ek lees nou net Dan Roodt se artikel oor die swak gehalte van Rapport en ander koerante van Naspers. Ek stem nogal saam met die opinies wat daarin uitgespreek word. Gelukkig is ons geseënd met vandag se nuwe sosiale media wat ons as Afrikaners ten volle moet gebruik om ons eie standpunte te stel en die anti-Afrikanerpropaganda van hierdie linkse, slinkse media te omseil en aan die kaak te stel. Baie dankie aan hierdie Afrikaners wat reeds besig is om dit te doen.

  • Groot probleme in Vryheidsfront Plus

    My hart gaan vandag uit na Cornelius Jansen van Rensburg, die voormalige jeugleier van die Vryheidsfront Plus. Hy is Maandagmiddag geskors hangende ‘n ondersoek na sy gedrag nadat hy Pieter Mulder se besluit om ‘n kabinetspos as adjunk-minister van landbou, bosbou en vissery te aanvaar gekritiseer het. Dr. Mulder het na bewering nie sy party geraadpleeg oor so ‘n besluit nie. Ek stem heelhartig met Van Rensburg saam dat Pieter Mulder nie ‘n kabinetspos kan beklee sowel as om die leier van die Vryheidsfront Plus te wees nie. Verder stem ek ook saam met die kritici binne en buite die Vryheidsfront Plus dat hulle nou nie meer die ANC so effektief in die parlement kan opponeer nie. Gelukkig staan die Vryheidsfront Jeug heelhartig by hulle geskorsde leier. Van Rensburg sal binnekort voor ‘n tugverhoor moet verskyn. Op 23 Mei vergader die party se Federale Raad om Mulder se besluit te bespreek. EEn van die party se LP’s, Willie Spies het ook Mulder se besluit gekritiseer. Gaan hy ook geskors word of gaan hulle eerder van Cornelius ‘n voorbeeld maak en die meer senior lede ‘n tweede kans gee? Gaan hierdie tweespalt binne die party tot ‘n skeuring lei soos wat ons gesien het met die ANC en COPE? As Pieter Mulder as partyleier geskors word, sal hy dan nog toegelaat word om sy kabinetspos te behou? Gaan hierdie laaste paar dae se gebeure maak dat die Afrikaners heeltemal hulle vertroue in die sogenaamde demokrasie gaan verloor? Net die tyd sal leer.

  • Pieter Mulder en die nuwe bedeling

    Die nuwe prisident van die ANC-geleide regering, Jacob Zuma, het vandag sy nuwe kabinet bekendgestel. Daar is heelwat veranderinge aan die struktuur van die kabinet aangebring. Sommige departement is verdeel om twee aparte departemente te skep, sommige departemente het nuwe name gekry en sommige departemente het nuwe verantwoordelikhede bygekry het. Die grootste verrassing vir my was die feit dat iemand soos Pieter Mulder van die Vryheidsfrond Plus wat maar vier setels in die parlement gekry het, aangestel is as die adjunk-minister van landbou, bosbou en vissery. Ek het nogal gewonder hoe soiets moontlik was totdat ek vanaand op Freek Robinson se program Fokus verneem het dat Pieter Mulder en Jacob Zuma voor die tyd lank gepraat het. Die groot vraag is nou egter of Pieter Mulder regtig ‘n verskil kan maak vir sy ondersteuners daar buite. Hy het wel na die tyd laat blyk dat hy sy posisie in die kabinet gaan gebruik om kwessies soos die stand van Afrikaanse universiteite, grondhervorming, die status van Orania en minderheidsregte aan te spreek. Die ANC het egter ‘n baie slim skuif gemaak met hierdie nuwe kabinet deurdat die ministeries van landbou en grondsake van mekaar geskei is. Landbou, bosbou en visserye is in een departement saamgevoeg terwyl landelike ontwikkeling en grondsake hulle eie departement kry. Laasgenoemde is verantwoordelik vir die ANC se sogenaamde grondhervormingsbeleid wat in praktyk niks anders is as grondroof nie. Sal Pieter Mulder regtig ‘n verskil kan maak in hierdie geskeide landboudepartement van hom as dit by ‘n saak soos grondhervorming kom? Sal hy dit regtig waag om buite sy posbeskrywing te praat en die ander sake van belang vir sy ondersteuners te opper? Slegs die tyd sal leer of Mulder regtig hond haar-af kan maak en of hy maar net nog ‘n tweede Marthinus van Schalkwyk gaan word wat stadig maar seker deur die ANC ingetrek gaan word met possies in die parlement.