Hier het ons ‘n interessante skakeljoernaal “linklog” met skakels na artikels op Afrikaanse webjoernale:
http://www.blik.co.za/
Wat hierdie skakelblad anders maak is dat dit artikels bevat van webjoernale op WordPress sowel as Litnet Blogs wat deesdae op Letterdash gehuisves word. Hierdie blad word gereeld opgedateer met nuwe skakels.
Besoek gerus die blik as jy nog interessante Afrikaanse leesstof op die internet wil hê. Jy sal beslis nie in ‘n blik gedruk word nie.
Etiket: Blogging
-
Die blik
-
Jan se twak
Ek waardeer dit altyd as daar ‘n goeie storieverteller is wat sy stories met andere kan deel op sy blog. Hier is nog so ‘n webjoernaal: http://jantwak.wordpress.com/
‘n goeie storieverteller is nie net iemand wat goeie fiksieverhale kan uitdink en weergee nie, maar ook iemand wat gewone alledaagse gebeurtenisse in ‘n storie kan omskep. Jan Twak is een van hierdie storievertellers.
Heelparty van hierdie skrywers begin goed, maar hou dan net ewe skielik op met skryf. Jan, doen voort met jou goeie werk.
Gaan loer ook in by die volgende skakel om meer te lees oor
storieblogs wat ek al voorheen gepromofeer het.
http://vuurslag.wordpress.com/tag/stories/ -
Wat hou 2011 in vir die Afrikaanse blogs?
Soos wat ek weer vanaand op die Afrikaanse WordPress blogs rondswerf is dit vir my weer verblydend om te sien dat die blogs weer nuwe lewe kry met nuwe toetreders sowel as ‘n paar van die ou gunstelinge wat meer aktief is op hulle webjoernale.
Ek het al in 2009 begin blog en dit was voorwaar ‘n interessante jaar. Ongelukkig was daar ook heelwat probleme daardie jaar met spotters en trolle wat hullle rondtes hier kom doen het en baie mense se pret bederf het. Ek het in daardie tyd al gesê dat die Afrikaanse webjoernale die potensiaal het om ons lesers sowel as ons bloggers op te voed en te vermaak. Juis daarom moet ons ons nie met sulke kleinlikhede besig hou nie. Ongelukkig het hierdie faktore sy merk op die blogs gelaat toe ‘n hele paar van ons geliefde skrywers besluit het om eerder blogland te verlaat.
Verlede jaar het op ‘n positiewe noot begin toe dit gelyk het asof die gemeenskap van Afrikaanse WordPress bloggers gaan herstel na die skandes en skades van 2009. Ongelukkig het dit later gevoel asof daar ‘n soort doodsheid op die blogs ingetree het. Daar was nog steeds interessante artikels wat verskyn het, maar dis asof daar nie dieselfde energie was soos wat daar die vorige jaar was nie. Selfs ek het my eie blog maar bietjie afgeskeep toe ek my eerste werk gekry het. Dit het my besig gehou en ek het minder tyd gehad om leeswerk te doen vir nuwe inspirasie vir my skryfwerk.
ek hoop ons kan hierdie jaar dieselfde energie behou waarmee ons begin het.
Sommer net ‘n interessante vraag: hoeveel Afrikaanse bloggers het al gaan inloer by WordPress se nuwe uitdaging vir 2011? Gaan loer in by:
http://dailypost.wordpress.com/
Daar kan jy baie hulp en inspirasie kry om jou blog aan die gang te hou. Alle onderwerpe is opsioneel en jy hoef nie daarvan gebruik te maak nie. Ek hoop wel dit kan help om ons heeljaar aan die gang te hou.
Dit was juis op bogenoemde blog waar daar ‘n interessante CNN-artikel verskyn het oor WordPress se uitdaging om elke dag of elke week ‘n inskrywing te plaas. Baie bloggers se nuwejaarsvoorneme vir vanjaar is om minder sosiale media te verbruik en eerder self meer materiaal te produseer. Dis voorwaar interessant.
Mag die nuwe jaar vir julle ‘n baie produktiewe jaar wees. -
Bel jou blog
Tot nou toe was potgooi, oftewel podcasting, net beskore vir diegene met goeie bandwydte en tegniese vaardigheid. Wel, nie nou meer nie. Die gawe mense by vuurslag.co.za/ het gister 'n nuwe funksie op hulle bedieners geaktiveer wat jou nou toelaat om stemsnitte telefonies na jou blog te stuur. As jy op jou WordPress administrasiepaneel is, kliek op die skakel My Blogs. Selekteer jou blog en kies dan post by Voice vanaf die combo box. Kliek dan die Apply knoppie. Jy sal dan 'n telefoonnommer kry waarheen jy kan bel as jy stemsnitte na jou webjoernaal wil stuur. Ongelukkig vir ons as Suid-Afrikaners sal dit jou ongelukkig 'n oproep Amerika toe kos om dit te doen. Maar as jy kans sien daarvoor kan jy dit beslis probeer. Ek sal graag wil hoor van medebloggers wat al hierdie tegnologie probeer het. Sal ons Afrikaanse bloggers eendag ons eie webjoernaalradio kan begin? Hahaha, wonder sommer net.
-
Sonde met die blikbrein
Anderdag was ek so opgewonde toe die IT gurus my rekenaar versien het. Maar my opgewondenheit was van korte duur. My getroue ou blikbrein het weer met sy nonsens begin en dit lyk of die probleme wel dieper lê. Dit sal my blogging natuurlik ook ‘n lelike knou toedien, maar ek laat my nie so maklik onderkry nie. Ek sal nog steeds miniblogging op my selfoon doen totdat my rekenaargoggas uitgesorteer is.
-
Miniblogging
Die blogs vs twitter debat kom al ‘n paar jaar saam met
ons. Daar is wel ook bloggers wat Twitter aanvullend tot hul
blogs gebruik.
Ek het nog altyd gewonder of daar nie dalk iets tussen-in
is wat ‘n soort miniblogging platform bied vir openbare blogs
nie. Daar is wel sosiale netwerke soos Jamble en
blueworld wat sulke moontlikhede bied, maar jy moet lid
van so ‘n netwerk wees om ‘n spesifieke persoon se blog
te kan lees. My groot probleem met iets soos Twitter is dat
jy slegs 140 karakters het om jouself in uit te druk. Ek is meer op soek na iets wat jou bietjie meer beweegruimte
gee maar terselfdetyd so gebou is dat jy nie ‘n lang
inskrywing op jou blog hoef te plaas nie. Jy sê net wat
nodig is. Verder moet dit ook moontlik wees om jou miniblog
maklik via jou selfoon by te hou net soos met Twitter.
Weet iemand dalk van ‘n paar blink idees? -
My blog verjaar vandag
Vandag presies 'n jaar terug het ek vir die eerste keer begin blog. My eerste inskrywing was wel gedateer 10 April, maar dit was omdat my blog se tyd nog volgens die standaard UTC tyd gestel was. Ek het gereeld die Afrikaanse blogs op vuurslag.co.za/ gelees en gedroom daarvan om self my eie blog te hê. In die middernagtelike ure van 11 April het ek toe my eie blog oopgemaak. Ek het aanvantlik maar gesukkel om alles eers onder die knie te kry, maar toe ek eers begin het het ek dit beslis baie geniet. In die laaste jaar was daar 'n oorvloed van dinge om oor te skryf op my blog, dis net partykeer ek wat of lui was of besig met ander goed. Maar ek het vasgebyt en hier staan ons een jaar later en ek geniet dit nog steeds om te blog.
Hierdie jaar beloof om beslis nog meer interessant te wees en nog baie meer stof tot nadenke op te lewer, die perfekte toestande om in te blog.
t -
Internet neem Afrikaans die toekoms in
Tydens ‘n werkswinkel van die Afrikaner Burgerlike Netwerk het Jaco Kleinhans, kommunikasiebestuurder van Solidariteit gesê as Afrikaanse organisasies in die toekoms nog wil voortbestaan sal hulle nou al reeds daaraan moet dink daaraan om op sosiale netwerke soos Facebook, Twitter en Flickr te wees sowel as op die breër internet.
Ongeveer 10% van Suid-Afrikaners het toegang tot die internet. Volgens navorsing deur Solidariteit het sowat 40% van blankes internet by die huis en nog meer het internettoegang by die werk.
Kleinhans het gesê ons het nog glad nie die goedkoop hoëspoed internet in Suid-Afrika soos wat gebruikers in oorsese lande alreeds geniet nie, maar Afrikaanse organisasies moet nou alreeds begin regmaak vir die dag as ons wel sulke internet het. Afrikaners se huidige vlak van internetgebruik moet ook glad nie onderskat word nie. Afrikaans staan alreeds sterk op Facebook.
Ek sou graag my eie stuiwer in die armbeurs wil gooi deur te sê dat dit nie net die organisasies nie, maar ook die gewone man op straat wat kan help om Afrikaans op die internet lewendig te hou. Ons as Afrikaanse webjoernaalskrywers moet nooit die belangrikheid van ons werk onderskat nie. Dieselfde geld vir diegene van ons wat Facebook, Twitter en ander media gebruik. Daarom, aan al my medebloggers, hou aan met die goeie werk wat julle doen en help sodoende om Afrikaans die toekoms in te neem.