Etiket: Blogging

  • Het die onafhanklike internet nog ‘n toekoms?

    Hierdie vraag word die laaste sowat twee jaar al meer gevra nadat Google sy algoritmes begin verander het en sodoende ‘n klomp kleiner onafhanklike webblaaie heeltemal uit hul soekresultate uitgeskakel het en nie enige nuwe artikels op hulle soekindeks gelys het nie of andersins dit baie laag op hulle soekresultate geplaas het, soms tot op die tweede en derde bladsy. Die adverteerders en ander gevestigde belange het voorrang geniet op die eerste bladsy.
    Hierdie video op Clownfish TV het my genoop om ook hieroor te skryf aangesien daar bitter min materiaal in Afrikaans is oor hierdie onderwerp.
    https://www.youtube.com/watch?v=RnhUGLxawTQ&t=28s
    Die aanbieder, wat as Neon bekendstaan, het ‘n artikel aangehaal wat onlangs op Google se blog, The Keyword, verskyn het.
    https://blog.google/products/search/ai-mode-search/
    Diegene van U wat nou onlangs soektogte op Google gedoen het, sou opgemerk het dat daar sogenaamde “ai overviews” bo-aan jou resultaatbladsy verskyn het. Die idee is dat jy ‘n antwoord op jou vraag sou kry en dit dan nie nodig sou vind om verder deur ‘n klomp resultate te blaai om jou antwoorde daar te kry nie.
    Die groot probleem vir eienaars van webwerwe is dat dit dan verkeer weglei van hulle eie webblaaie af en dat die websoeker dan langer op Google se eie webblad sal bly en sodoende met meer advertensies van Google Self oorweldig kan word.
    In hul jongste aankondiging maak Google dit bekend dat hulle hierdie oorsigte wat deur kunsmatige inteligensie aangedryf sal word gaan uitbrei sodat jy as die websoeker dit nog minder nodig gaan vind om op ander resultate te kliek. Hierdie nuwe verbeterde KI oorsig word deur google se eie Gemini assistent aangedryf.
    Indien Gemini ‘n antwoord kan genereer uit jou soektog, sal jy meestal met inligting bedien word wat deur Gemini saamgestel is. Jy kon dus net so wel eerder na Gemini se eie webblad toe gegaan het en daar gaan soek het in plaas van Google. Indien Gemini nie ‘n antwoord kan genereer uit jou soektog nie, sal jy met ‘n lys van resultate bedien word soos wat voorheen gebeur het.
    Indien jy al die jare daarop staatgemaak het dat jy deur middel van gewone organiese soekresultate jou webwerf kon laat groei het sonder om advertensies by Google of enige ander groot internetplatform uit te neem, dan gaan jy in die toekoms baie sukkel. Kleiner handelswebwerwe, webjoernale ensovoorts word deur die nuwe soekalgoritmes van Google heeltemal eenkant toe geskuif en verdwyn eenvoudig in die donker geheuegat af.
    Webwerwe soos www.retrododo.com wat handel oor videospeletjies uit die verlede, asook www.housefresh.com wat resensies doen oor lugsuiweraars, ontvogters ensovoorts het na Google se veranderings van 2023 onderskydelik 85% en 91% van hulle webverkeer verloor. Dit het ‘n groot verlies aan advertensie-inkomste veroorsaak. Hierdie webwerwe het heelwat publisiteit geniet in die hoofstroom tegnologie-media nadat hulle self artikels daaroor geskryf het. Sommige kommentators was simpatiek teenoor hierdie webwerwe en hulle personeel en het gevoel dat die maatskappye slagoffers was van Google se rondfoetery met hulle soekprogramatuur. Andere het weer gevoel dat hierdie besighede te afhanklik van Google se platform was en nie ‘n behoorlike basis van besoekers en kliënte gevestig het wat gereeld terugkeer na hulle webwerf toe nie.
    Behalwe vir KI wat besoekers weglei van onafhanklike webwerwe af, is daar ook die probleem dat Google deesdae nie eers meer moeite doen om nuwe inskrywings van blogs te indekseer nie. Ek bedryf hierdie webjoernaal al van 2009 af en heelwat van my ouer materiaal is wel op Google gelys, maar nuwe inskrywings word glad nie gelys nie. Dan praat ons nie eers van nuwe webwerwe en blogs wat nou in die onlangse verlede eers oopgemaak is nie. Hierdie nuwe spelers gaan dit moeiliker hê om op soekenjins gelys te word. Selfs die kleiner soekenjins soos Duckduckgo, Bing en Yahoo loer ook maar so skelm na Google se rangordes en boots hulle dan na.
    Wat doen ons nou? Vir diegene van ons vir wie blogging ‘n stokperdjie is, is dit seker nie so ‘n groot probleem nie, maar wat as jy ‘n besigheid wil vestig met jou skryfvaardighede of jy wil andere se besigheid bemark deur middel van jou webjoernaal? Wat kan jy doen om jou webblad meer blootstelling te gee.
    Jy kan jou webskakels op sosiale netwerke deel. Ek deel my webskakels gereeld op Twitter en Mastodon waar daar groot verkeer is en waar jou inskrywing deur baie mense raakgesien kan word wat jou sosiale kanale volg of diegene wie selfs net ‘n sekere hitsmerk volg wat jy in jou inskrywing gebruik. Jy kan selfs ook Facebook gebruik, maar daar is ongelukkig ook algoritmes wat jou soms onsigbaar maak.
    Verder word daar ook aanbeveel dat jy ‘n nuusbrieffasiliteit op jou webwerf moet hê wat jou lesers sal toelaat om op jou webblad in te teken en jou artikels dan as nuusbriewe per e-pos te ontvang. Vir besighede kan dit ook tot beter verkope lei.
    Verder kan veral bloggers ook promosies vir ander bloggers doen. Indien jy op iemand anders se webjoernaal afkom waarvan jy baie hou, kan jy ‘n promosionele artikel op jou eie webjoernaal skryf en die beste van die ander blogger se artikels in jou artikel uitlug. Ek het onlangs twee sulke promosies vir Die Berig sowel as vir Karmen Niehaus gedoen, alles gratis. Dis vir die groter saak van Afrikaanse blogs waaroor ek passievol is.
    Intussen wens ek alle webbladeienaars en bloggers sterkte toe met hierdie uiters uitdagende tyd. Mag daar ‘n tyd kom dat webinhoud wat deur gewone mense geproduseer word, weer voorrang sal geniet.

  • Nuwe blog: Die Berig

    'n nuwe Afrikaanse blog het onlangs op vuurslag.co.za/ verskyn.

    http://dieberig.wordpress.com
    Die webjoernaalskrywer, Joshua Van Blommestein het 'n interessante konsep hier beet. Hy neem nuusberigte van internasionale nuusplatforms en vertaal dit dan in Afrikaans en plaas dit op sy blog. Sodoende kan Afrikaanse lesers toegang kry tot internasionale nuusberigte wat nie altyd in ons gewone hoofstroommedia verskyn nie of wat ons normaalweg nie sou lees indien dit wel tussen Suid-Afrikaanse nuusstories sou verskyn nie.
    Daar is onder andere stories van menslike hoogtepunte en helde soos die Australiese bloedskenker James Harrison wat onlangs oorlede is en wie se bloed baie ma's en babas se lewens gered het.

    Australië se ‘man met die goue arm’, wie se seldsame bloed 2.4 miljoen babas gered het, sterf op 88

    Daar is ook 'n berig oor 'n byeenkoms van vroue in Sjina wat die kommunistiese regering daar op hulle senuwees gehad het. Gelukkig is daar nie vyandige aksie teen hierdie vroue geneem nie, maar hulle het dit net so ver moontlik probeer beheer.

    ‘Ons het al hierdie energie gehad’: Die geskiedkundige byeenkoms van vroue wat China ontstel het

    Daar is egter ook berigte wat erg ontstellend is en wys hoeveel wreedheid daar soms gepleeg word in oorloggeteisterde lande soos Soedan en Noord-Korea.

    Babas en jong kinders word verkrag as ‘n oorlogswapen in Soedan, sê UNICEF

    Gesinne van Noord-Koreaanse soldate wat in Rusland gevange geneem word, ‘sal tereggestel word,’ sê voormalige Pyongyang-sersant

    Hierdie kan soms moeisame werk wees vir die blogger wat hierdie webjoernaal versorg. baie sterkte vir jou.

    Indien jy 'n leser is wat nuuskierig is oor internasionale nuusgebeure, kan jy beslis hier gaan inloer.

  • Oppas vir die webskakers

    Eerstens baie dankie aan een van ons getroue Afrikaanse bloggers, Rina Bester vir hierdie waarskuwing. Dit word opreg waardeer.

    Ligloop mense!

    Daar is nou 'n nuwe groep kuberkrakers daar buite wat spesifiek WordPress webwerwe teiken. Hulle fop eers die eienaars van webwerwe om programatuur op hulle webwerwe te installeer om sogenaamd tot hulle eie webportale toegang te kry. Indien hulle wel suksesvol is daarmee, dan teiken hulle weer die gaste wat op jou webblad kom kuier. Daar kom dan 'n vals Chrome webblad op hulle webblaaier wat hulle dan versoek om 'n uitbreiding van Chrome, in Engels bekend as 'n extention, af te laai om toegang tot jou webwerf te verkry. Indien dit dan suksesvol is, kan hulle dan jou sensitiewe inligting steel. Dit wil voorkom of hierdie kwaadwillige programatuur meestal Windows en Mac bedryfstelsels teiken.

    Hierdie berig op Tom,s Guide gee meer besonderhede.

    https://www.tomsguide.com/computing/online-security/thousands-of-wordpress-sites-hijacked-to-spread-windows-and-mac-malware-how-to-stay-safe

    Dis veral WordPress webwerwe waarvan die WordPress weergawe of die uitbreidings, oftewel plugins, nie op datum is nie. Dit kan veral 'n gevaar inhou vir diegene wat verkies om hulle eie webwerwe self te huisves op een van vele gashere se webbedieners. Dus word alle webbladeienaars aangemoedig om seker te maak dat jou weergawe van WordPress op datum is en dat jou plugins so gestel is dat hulle outomaties kan opdateer indien die ontwikkelaar daarvan 'n nuwe weergawe daarvan vrystel. Kyk ook gereeld na die gesondheidsstatus van jou webblad op jou administrasiepaneel van jou webblad. Vir diegene wie self huisves, maak seker dat jy Jetpack plugin op jou webwerf installeer en aktiveer die gratis basiese beskerming wat dit jou bied. Daar is ook 'n meer gevorderde beskermingsplan maar dit kos 'n maandelikse fooi in Amerikaanse dollers.

    Gelukkig is dit 'n mindere resiko vir gebruikers van gewone vuurslag.co.za/ blogs. Daar is 'n gratis plan beskikbaar asook verskeie betaalde planne. Jy moet 'n besigheidsplan by vuurslag.co.za/ uitneem om plugins op jou blog te mag installeer. Verder neem hulle self verantwoordelikheid vir die opdatering van jou WordPress programatuur, selfs vir diegene op die gratis plan. Jetpack is ook klaar deel van jou vuurslag.co.za/ blog met sy veiligheidskenmerke en sy sosiale deelknoppies.

    Daar word twee weergawes van hierdie kwaadwillige programatuur gebruik. Atomic Stealer vir Mac en Socghollish vir Windows. Dit steel inligting soos jou wagwoorde, jou webkoekies, jou elektroniese beursies waarin kriptogeld soos bitcoin gehou word, ensovoorts.

    Die volgende wenke word aan besoekers en webbladeienaars gegee om veilig te bly.

    Moenie enige programatuur aflaai as jy nie weet waarvoor dit nodig is nie. Geen webwerf hoef jou te dwing om spesiale programatuur af te laai om dit te kan besigtig nie.

    Sorg dat jou teenvirusprogram en jou webblaaier op datum is. Gebruik ook veilige webblaaiers soos byvoorbeeld Brave of Firefox wat by verstek kwaadwillige kodes blokkeer.

    Indien jy jou kredietkaart aanlyn gebruik, gaan gereeld jou kredietkaartstate na om seker te maak alles transaksies daarop is jou eie aankope.

    Daar word ook aanbeveel dat webgebruikers hulle wagwoorde by 'n wagwoordbestuursdiens moet stoor vir veilige bewaring. Ek het egter my bedenkings daaroor nadat daar so 'n tyd terug by een van daardie bestuursdienste ingebreek is en verskeie gebruikers se data gesteel is.

    Baie sterkte vir al julle bloggers. Wees veilig en leef julle passie en talent uit op jul sleutelborde en webruimtes.

  • Carmen Niehaus hier op WordPress

    So sit ek vanoggend en lees deur die etiketlyste op vuurslag.co.za/ en kom af op hierdie blog van 'n absolute glanskok.

    Home

    Dis niemand anders as Carmen Niehaus, die bekende glanskok van Huisgenoot. Sy het ook nou 'n weeklikse program, Lekker en Goed, op Kyknet.

    Ek beskik ongelukkig nie oor DSTV om dit te kan kyk nie en het al 'n geruime tyd terug my Netwerk24 intekening ook opgegee, maar ek ondersteun nog al die jare ons Afrikaanse blogs, veral op WordPress. Ek weet hier is verskeie dames wat soms lekker resepte met ons deel, van glansresepte tot Januariekos. Dis nou die soort geregte waar jy moet besnoei op die koste van jou bestanddele, maar terselfdetyd die etes so smaaklik as moontlik moet hou.

    Jannewarriekos – Pelsertert

    Of wat van hierdie liplekker muffins? Ek het lanklaas sulke lekker muffins geproe met klapper en semels in.

    Maandlank muffins

    Hier is so 'n paar van Carmen se glansidees.

    Vier Kersfees met lamsboud en ‘n kerskransslaai

    Aartappel aptyt

    Selfs haar pizza en koekstruif het daardie bietjie ekstra finess.

    Kersie op die koek: trifle

    PIZZA UIT DIE BOONSTE RAKKE

    Ek het julle nou 'n behoorlike bederfsessie gegee. Daar is egter nog ander resepte ook.
    As jy dus een van daardie mense is wie nie toegang het tot premium media nie, maar jy soek nog steeds kosidees om jou etes mee op te kikker of om jou gaste mee te onthaal, dan kan u beslis Carmen se blog gaan besoek. Jy sal nie spyt wees nie.

  • My eerste probeerslag met ‘n eie betaalde WordPress blog

    Vir ‘n lang tyd al het ek al gewonder hoe dit sal wees om my eie WordPress blog te kan hê. Een wat nie al die advertensies en beperkings het van ‘n blog op wordpress.com nie. Dit was ook vir my moeilik om een van die betaalde planne op WordPress.com uit te neem omdat hulle slegs betalings in sekere goedgekeurde geldeenhede ontvang en ek tans nie die nodige kundigheid en fasiliteite het om internasionale betalings te kon doen nie.

    Op die ou einde het ek toe besluit om so ‘n blog deur ‘n plaaslike Suid-Afrikaanse diensverskaffer te kry. Baie dankie aan Xneelo vir die geleentheid wat julle my kan bied om hierdie webwerf op julle bedieners te kan huisves. Hulle tariewe is uiters billik en hulle laat my ook toe om al my rekeninge kontant te betaal en beperk jou nie net tot debietorders of kredietkaarte nie.

    Besoek hulle gerus indien u ‘n webwerf wil begin.

    http://xneelo.co.za

    Hierdie blog gaan ‘n soort voortsetting wees van my ander blog http://vuurslag.wordpress.com wat ek reeds sedert 2009 bedryf. Ek gaan so ver moontlik probeer om my nuutste artikels op albei blogs te plaas juis omdat ek nou al ‘n klein maar getroue leserskorps op my vorige webjoernaal opgebou het. Op ‘n tyd wat vir my reg is sal ek dan die groot skuif maak na hierdie webjoernaal toe sodra ek ‘n goeie gemeenskap hier gevestig het.

    Kom ons kyk wat 2025 vir hierdie blog en Afrikaanse blogs in die algemeen inhou.

  • Laaste Sien Van Die Blikkantien

    Aan die beginjare toe ek hierdie webjoernaal begin het, was daar hoofsaaklik drie manier hoe mens nuwe Afrikaanse blogs kon ontdek en lees.
    Die eerste was WordPress se eie portaal af.wordpress.com waar mens verskeie blogs en artikels kon lees wat op die netwerk van wordpress opgang gemaak het. Elke dag was daar nuwe en interessante leesstof.
    Tweedens was daar die sogenaamde "blogrolls" van medeskrywers met hulle eie blogs. Dit het bestaan uit 'n lys van webskakels na ander blogs wat deur die eienaar van die webblad aan sy lesers voorstel. So kon jy nuwe blogs ontdek en dan deur hulle eie blogroll gaan om nog nu bloggers te ontdek en te lees.

    Laastens was daar 'n onafhanklike platform fir Afrikaanse Bloggers genaamd Blik. Dit was 'n webblad met RSS voere van verskeie Afrikaanse blogs op WordPress, Blogger en Litnet sowel as onafhanklike webwerwe, gevestigde koerante en ander nuusdienste in Afrikaans. Dit was beskikbaar by http://blik.co.za en het elke uur herlaai met skakels van nuwe artikels op die webwerwe en blogs wat deur die RSS voer aan die webwerf gekoppel was.

    Dit was 'n soort eenstop bestemming waar jy al die jongste nuus kon optel sowel as die jongste inskrywings van bloggers. Dit het ook gehelp om Afrikaanse webjoernaalskrywers aan nuwe lesers voor te stel en nuwe interaksie op webblaaie te stimuleer.
    Die laaste paar weke kom ek egter agter dat Blik glad nie meer aanlyn is nie. Ek het wel al opgemerk dat die webwerf nie meer so 'n groot verskeidenheid blogs en webwerwe het soos voorheen nie. Dit was egter wel 'n skok toe ek wel bemerk dat die webwerf nou finaal van die lug af is.

    Ek besef maar al te goed dat hierdie webwerf 'n eenmansprojek was en dat die webmeester self verantwoordelik was vir die koste en arbeid wat in hierdie platform ingegaan het. Dis ook nie altyd maklik om by te hou met nuwe webwerwe en blogs wat begin word nie en dis ook nog 'n ander storie om by te hou wanneer Webblaaie se RSS adresse verander.
    Dis nogtans hartseer om te sien hoe die einde van nog 'n era vir Afrikaanse bloggers aangebreek het. Die enigste manier om nou by jou gunsteling blogs by te hou is om hulle per e-pos te volg of as jy 'n WordPress blog het, kan jy jou vuurslag.co.za/ nuusleser gebruik om die nuutste artikels te lees. Hoewel dit jou help om bestaande skrywers se werk te volg, help dit jou nie om nuwe skrywers te ontdek nie.
    Van my kant af sal ek steeds probeer om waar ek nuwe Afrikaanse bloggers kry, 'n kort ressensie oor hulle skryfwerk te doen en 'n skakel na hulle webwerf te plaas. Ek het jare terug dit gereeld gedoen op my eie blog sowel as op https://kekkel.wordpress.com
    Vaarwel dan aan 'n wonderlike internetplatform wat op sy eie manier in die stilligheid diep digitale spore vir Afrikaans op die internet getrap het.

  • Glo jy aan Vrydag die dertiende

    Ek kyk nou juis vanoggend weer op die Afrikaanse WordPress blogs rond en kom loer toe so bietjie in by die hoenderhok. Ek was heel verbaas om te sien dat die blok weer sigbaar is al vir ‘n paar jaar. Bierpens het soos gewoonlik nie teleur gestel nie en skryf nog steeds puik stories oor die dinge wat ons gewone mense steeds as vaal beskou. Van rugby en suurgatte tot lyfstraf op skool. Laasgenoemde het ek baie geniet. Baie van ons wat in ‘n sekere era grootgeword het sal ‘n storie of twee hieroor kan vertel.
    Aangesien dit dan vandag weer Vrydag die dertiende is, is die vraag of jy wat nou hier lees werklik aan soiets glo?
    Ek persoonlik is glad nie bygelowig nie en glo ook nie daaraan nie. Maar indien daar wel in die alledaagse lewe dinge sou verkeerd loop, is dit altyd ‘n handige skuifmeel om die blaam vir wat ook al gebeur het te verskuif.
    Verder glo ek ook dat indien jy wel hierdie dag sou vrees is jy dan ook meer geneig om die foute te maak wat dan tot jou slegte geluk lei.
    Geniet julle dag baie en mag dit sonder ongelukke, swart katte en wat nog alles wees.

  • Wat het van WordPress.com se mobiele bladuitleg geword?

    Op 20 Oktober 2009 het vuurslag.co.za/ 'n interessante nuwe funksie tot hulle webjoernaalplatform toegevoeg. As jy met jou selfoon na 'n vuurslag.co.za/ blog gaan, word daar outomaties 'n ligter weergawe van die blog op jou foon gelaai. Hierdie kleiner bladuitleg maak dat die blogs baie vinniger op jou selfoon se webblaaier laai en dis ook goedkoper om blogs op jou selfoon te lees omdat dit minder kilogrepe trek.

    Maar vanaand sien ek dit het heeltemal verander. In plaas van die vuurslag.co.za/ mobiele bladuitleg wat deur Alex King ontwerp is verskyn daar nou 'n bladuitleg wat baie lyk soos die 2011 bladuitleg wat verlede jaar vrygestel is en deur die vuurslag.co.za/ span ontwerp is. Die bladsye is nou heelwat groter en hoewel my foon dit nog kan lees, sal veral diegene wie se selfone kleiner skerms het probleme ondervind om hierdie bladsye gemaklik te lees. Verder gaan dit ook nou duurder kos om blogs op jou selfoon te lees.

    Die groot vraag is nou of vuurslag.co.za/ self hierdie veranderinge aangebring het en of daar dalk 'n fout op die webbediener of die programmatuur ingesluip het?

    Ek hoop vir al ons selfoongebruikers wat lief is om blogs op ons selfone te lees se onthalwe dat hierdie net 'n tydelike probleem is wat spoedig opgelos sal word.

  • Nabot se wingerd

    Diegene van julle wat al 'n paar jaar op die Afrikaanse platform van vuurslag.co.za/ 'n webjoernaal bedryf en wie al by Bierpens se webjoernale gekuier het sal seker nog vir Harry Louw onthou. Hy was 'n gereelde skrywer op die webjoernaal Die plaas, te besigtig by: http://www.bierpens.co.za asook op die gemeenskapsblad Kekkel op die plaas wat intussen op privaat gestel is en nie meer nuwe inskrywings ontvang nie. Hy is ‘n top storieverteller wat al heelwat geskryf het oor sy wedervaringe in die Namakwaland, sy studentedae en later sy lewe in Namibië waar hy tans woonagtig is.
    Vir ‘n hele ruk lank was hy stil in die blogwêreld, maar ek is bly om te sien hy is weer terug met net sulke goeie stories en vertellings soos altyd. Hierdie keer het hy sy eie blog op Letterdash wat besigtig kan word by:
    http://letterdash.com/HarryLouw
    Hierdie webjoernaal is ook nie so nuut nie. Ten tye van hierdie skrywe was daar al reeds 39 skrywes daarop en ek is nuuskierig om verder te gaan lees waarmee hy nog alles vorendag gekom het.
    Soos ek al voorheen opgemerk het, vat dit ‘n begaafde storieverteller om ‘n goeie storie uit ‘n gewond onopmerklike alledaagse situasie voort te bring. Harry is beslis een van daardie begaafde
    storievertellers.
    Geniet dit baie.

  • Vars van die rolpers

    Ek is bly om te sien WordPress het nou ook hulle gewilde Freshly Pressed aan lesers en gebruikers op sy Afrikaanse webwerf http://af.wordpress.com/ beskikbaar gestel. Freshly Pressed is ‘n kombinasie van nuwe sowel as gewilde artikels in ‘n bepaalde taalafdeling. Gaan loer ‘n bietjie daar in en laat weet wat julle dink van die nuwe uitleg.