Hierdie vraag word die laaste sowat twee jaar al meer gevra nadat Google sy algoritmes begin verander het en sodoende ‘n klomp kleiner onafhanklike webblaaie heeltemal uit hul soekresultate uitgeskakel het en nie enige nuwe artikels op hulle soekindeks gelys het nie of andersins dit baie laag op hulle soekresultate geplaas het, soms tot op die tweede en derde bladsy. Die adverteerders en ander gevestigde belange het voorrang geniet op die eerste bladsy.
Hierdie video op Clownfish TV het my genoop om ook hieroor te skryf aangesien daar bitter min materiaal in Afrikaans is oor hierdie onderwerp.
https://www.youtube.com/watch?v=RnhUGLxawTQ&t=28s
Die aanbieder, wat as Neon bekendstaan, het ‘n artikel aangehaal wat onlangs op Google se blog, The Keyword, verskyn het.
https://blog.google/products/search/ai-mode-search/
Diegene van U wat nou onlangs soektogte op Google gedoen het, sou opgemerk het dat daar sogenaamde “ai overviews” bo-aan jou resultaatbladsy verskyn het. Die idee is dat jy ‘n antwoord op jou vraag sou kry en dit dan nie nodig sou vind om verder deur ‘n klomp resultate te blaai om jou antwoorde daar te kry nie.
Die groot probleem vir eienaars van webwerwe is dat dit dan verkeer weglei van hulle eie webblaaie af en dat die websoeker dan langer op Google se eie webblad sal bly en sodoende met meer advertensies van Google Self oorweldig kan word.
In hul jongste aankondiging maak Google dit bekend dat hulle hierdie oorsigte wat deur kunsmatige inteligensie aangedryf sal word gaan uitbrei sodat jy as die websoeker dit nog minder nodig gaan vind om op ander resultate te kliek. Hierdie nuwe verbeterde KI oorsig word deur google se eie Gemini assistent aangedryf.
Indien Gemini ‘n antwoord kan genereer uit jou soektog, sal jy meestal met inligting bedien word wat deur Gemini saamgestel is. Jy kon dus net so wel eerder na Gemini se eie webblad toe gegaan het en daar gaan soek het in plaas van Google. Indien Gemini nie ‘n antwoord kan genereer uit jou soektog nie, sal jy met ‘n lys van resultate bedien word soos wat voorheen gebeur het.
Indien jy al die jare daarop staatgemaak het dat jy deur middel van gewone organiese soekresultate jou webwerf kon laat groei het sonder om advertensies by Google of enige ander groot internetplatform uit te neem, dan gaan jy in die toekoms baie sukkel. Kleiner handelswebwerwe, webjoernale ensovoorts word deur die nuwe soekalgoritmes van Google heeltemal eenkant toe geskuif en verdwyn eenvoudig in die donker geheuegat af.
Webwerwe soos www.retrododo.com wat handel oor videospeletjies uit die verlede, asook www.housefresh.com wat resensies doen oor lugsuiweraars, ontvogters ensovoorts het na Google se veranderings van 2023 onderskydelik 85% en 91% van hulle webverkeer verloor. Dit het ‘n groot verlies aan advertensie-inkomste veroorsaak. Hierdie webwerwe het heelwat publisiteit geniet in die hoofstroom tegnologie-media nadat hulle self artikels daaroor geskryf het. Sommige kommentators was simpatiek teenoor hierdie webwerwe en hulle personeel en het gevoel dat die maatskappye slagoffers was van Google se rondfoetery met hulle soekprogramatuur. Andere het weer gevoel dat hierdie besighede te afhanklik van Google se platform was en nie ‘n behoorlike basis van besoekers en kliënte gevestig het wat gereeld terugkeer na hulle webwerf toe nie.
Behalwe vir KI wat besoekers weglei van onafhanklike webwerwe af, is daar ook die probleem dat Google deesdae nie eers meer moeite doen om nuwe inskrywings van blogs te indekseer nie. Ek bedryf hierdie webjoernaal al van 2009 af en heelwat van my ouer materiaal is wel op Google gelys, maar nuwe inskrywings word glad nie gelys nie. Dan praat ons nie eers van nuwe webwerwe en blogs wat nou in die onlangse verlede eers oopgemaak is nie. Hierdie nuwe spelers gaan dit moeiliker hê om op soekenjins gelys te word. Selfs die kleiner soekenjins soos Duckduckgo, Bing en Yahoo loer ook maar so skelm na Google se rangordes en boots hulle dan na.
Wat doen ons nou? Vir diegene van ons vir wie blogging ‘n stokperdjie is, is dit seker nie so ‘n groot probleem nie, maar wat as jy ‘n besigheid wil vestig met jou skryfvaardighede of jy wil andere se besigheid bemark deur middel van jou webjoernaal? Wat kan jy doen om jou webblad meer blootstelling te gee.
Jy kan jou webskakels op sosiale netwerke deel. Ek deel my webskakels gereeld op Twitter en Mastodon waar daar groot verkeer is en waar jou inskrywing deur baie mense raakgesien kan word wat jou sosiale kanale volg of diegene wie selfs net ‘n sekere hitsmerk volg wat jy in jou inskrywing gebruik. Jy kan selfs ook Facebook gebruik, maar daar is ongelukkig ook algoritmes wat jou soms onsigbaar maak.
Verder word daar ook aanbeveel dat jy ‘n nuusbrieffasiliteit op jou webwerf moet hê wat jou lesers sal toelaat om op jou webblad in te teken en jou artikels dan as nuusbriewe per e-pos te ontvang. Vir besighede kan dit ook tot beter verkope lei.
Verder kan veral bloggers ook promosies vir ander bloggers doen. Indien jy op iemand anders se webjoernaal afkom waarvan jy baie hou, kan jy ‘n promosionele artikel op jou eie webjoernaal skryf en die beste van die ander blogger se artikels in jou artikel uitlug. Ek het onlangs twee sulke promosies vir Die Berig sowel as vir Karmen Niehaus gedoen, alles gratis. Dis vir die groter saak van Afrikaanse blogs waaroor ek passievol is.
Intussen wens ek alle webbladeienaars en bloggers sterkte toe met hierdie uiters uitdagende tyd. Mag daar ‘n tyd kom dat webinhoud wat deur gewone mense geproduseer word, weer voorrang sal geniet.
Het die onafhanklike internet nog ‘n toekoms?
Discover more from Vuurslag
Subscribe to get the latest posts sent to your email.