Etiket: stakings

  • Jou wet en orde of jou lewe?

    Jare terug as kinders altyd die een of ander rowerspeletjie gespeel het, was die vraag altyd: jou geld of jou lewe.
    Die laaste tyd het dinge hier in Suid-Afrika al so verdorwe geraak dat ons nou al die vraag kan vra: jou wet en orde of jou lewe?
    Hierdie week het ons nou al twee voorbeelde van hierdie senario gehad.
    Santaco, een van die grootste taxiverenigings in die land het verlede week ‘n staking van taxibestuurders in Kaapstad asook die Weskaap uitgeroep na ontevredenheid oor die skut van taxi’s wat deur verkeerspolisie afgetrek is vir ernstige oortredings. Dit sluit onpadwaardige voertuie in asook voertuie wat se nommerplate nie in orde is nie, voertuie wat se taxi-permitte nie in orde was nie en bestuurders wat op roetes bestuur wat nie in hulle permitte voorgeskryf is nie.
    Ongelukkig het daar ook geweld uitgebreek tydens hierdie staking. Geweld en oproer tydens stakings in Suid-Afrika is al ‘n ou probleem. Tydens hierdie een is paaie met taxi’s afgesper, stadsbusse van veral Golden Arrow is aan die brand gesteek en ander motors is met klippe gegooi. Ongelukkig was daar ook vyf sterftes.
    Laat gisteraand is daar ‘n skikking tussen die stadsraad van Kaapstad en Santaco bereik. Die taxi’s wat deur die stadsraad geskut is, sal weer teruggegee word aan hulle eienaars. Daar sal ook ‘n lys van kleiner en groter oortredings opgestel word. Vir kleiner oortredings sal slegs boetes gegee word. Vir groter oortredings sal taxi’s steeds geskut word.
    Die stadsraad het egter vasgeskop teen die eise vir genadiger wetstoepassing en volgehou dat hulle steeds die nasionale wetgewing oor landvervoer streng sal toepas.
    Juis hierdie kwessie was ‘n teer punt tussen die stad Kaapstad en die minister van vervoer toe sy beweer het die stadsraad skut die taxi’s ingevolge plaaslike munisipale regulasies. Die stadsraad het egter volgehou dat hulle slegs opgetree het binne die raamwerk van nasionale wetgewing.
    Intussen kon kinder nie skole bywoon nie, baie mense kon nie by hulle werk uitkom nie en sakebedrywighede is ernstig ingekort terwyl sommige ondernemings soos restaurante moes toemaak. Selfs oom Cyril kon nie sy toespraak vir vrouedag in Kaapstad lewer nie as gevolg van vrese vir veiligheid as gevolg van die staking. Sommige lande het selfs reiswaarskuwings aan hul burgers uitgereik teen Suid-Afrika.
    Nou is daar darem wel ‘n skikking bereik, maar mens wonder tog oor of Santaco ooit verantwoordelik gehou gaan word vir die skade wat aangerig is. Gaan diegene wie vir openbare geweld vasgevat word, ooit suksesvol vervolg word en na behore gestraf word?
    Verder kan ook gevra word hoe ‘n organisasie soos Santaco so magtig geword het dat hulle nou al die Suid-Afrikaanse samelewing op sy kop kan omkeer as hulle nie hulle sin kry nie. een van die antwoorde is juis die feit dat ander stadsrade net eenvoudig toegegee het as kleiner voorvalle van taxi-onrus in stede soos Johannesburg voorgekom het. Verder was daar nie altyd die nodige wetstoepassing as taxibestuurders verkeerswette oortre het nie. Mense was toe al bang vir hulle. Noudat Kaapstad dinge begin vasvat, neem hulle die stad behoorlik op horings. Nou dwing hulle ‘n skikking af en dit lyk dan of owerhede gedeeltelik aan misdadigers toegee.
    Verder was daar die geval van oud-president Jacob Zuma wat ‘n hele rits aanklagte van korrupsie en bedrog teen hom het. In julie 2021 moes hy tronk toe gaan weens minagting van die hof. Eers het hy volstrek geweier om te gaan en daar was selfs ondersteuners wat by sy huis saamgetrek het om die polisie te probeer verhoed om hom in hegtenis te neem.
    Einde ten laaste gee hy homself toe oor aan die polisie na vele onderhandelings en blinklekkery. Maar nog was dit het einde niet. Oproer bars toe los in Durban en verskeie ander dorpe in Natal en selfs Johannesburg en omliggende gebiede loop deur. Die destydse kommissaris van korrektiewe dienste, Arthur Frazer staan mediese parool toe. Dit word toe in die hof betwis en na ‘n lang hofstryd word beslis dat Zuma weer moet terug tronk toe om die res van sy vonnis uit te dien. Die departement van korrektiewe dienste wik en weeg ‘n tyd lank oor of hulle hom nou moet gaan toesluit of nie. Maar intussen het hulle vanoggend ‘n slim skaakskuif uitgevoer. Zuma het vanoggend sesuur by die gevangenis aangemeld om sy vonnis uit te dien, maar die huidige kommisaris het sowat ‘n uur later hom weer vrygelaat ingevolge ‘n splinternuwe skema van die president om oorbevolking in tronke te verminder. Meer as 9400 nie-gewelddadige gevangenis sal vrygelaat word asook meer as 15000 veroordeeldes wat tans op parool en/of korrektiewe toesig is sal ook vrygestel word.
    Die algemene gevoel is egter dat hierdie grootse skema net ten doel gehad het om vir Jacob Zuma op ‘n slim manier van sy tronkstraf vry te skeld. Hy het mos nou soos ‘n soet seuntjie aangemeld vir sy straf en oom Cyril het hom nou laat gaan. Mooi so, hier is vir jou ‘n suigstokkie.
    Voordat hy tronk toe is, het ons as gewone mense asem opgehou en gewonder of daar dan weer geweld en oproer sou wees as hy dan regtig moes terug gaan om sy gevangenisstraf uit te dien. Nou het die regering hulself uit hierdie verknorsing gewikkel.
    Dis skrikwekkend om te dink dat daar nou al sekere persone, entiteite en organisasies is wat die mag het om ons samelewing heeltemal te ontwrig as hulle misdaad pleeg en die owerhede dan teen hulle wil optree. Hulle boelie net eenvoudig die regering sodat hulle nie dieselfde straf hoef te kry wat ons gewone burgers sou kry as ons dieselfde ding doen.
    Verder moet ek erken dat die opskrif van hierdie artikel ook ‘n soort teenstrydigheid is. Sonder behoorlike wet en orde kan ons nie lewenskwaliteit geniet nie. Party van ons sal letterlik nie ‘n lewe hê nie.
    Ons het verandering in hierdie land dringend nodig. Wie weet, dalk nog ‘n ander regering ook. Volgende jaar is ‘n verkiesingsjaar en dit kan dalk baie interessant wees.

  • Intimidasie speel rol by Lonmin staking

    Ek het so pas die volgende artikel in City Press raakgelees oor een van die werkers wat Donderdag omtekom het tydens die skietery tussen die polisie en stakende mynwerkers by Lonmin se platinummyn te Marikana. Hy wou nie deelgeneem het aan die staking nie en was ook nie Een van die rotsboorders nie maar ander stakers het hon geÏntimideer en gevolglik was hy ook Donderdagmiddag daar toe die gevegte uitgebreek het en het hy ongelukkig ook omgekom.

    http://m.news24.com/CityPress/SouthAfrica/News/Untimely-death-of-a-reluctant-striker-20120818

    ntimidasie van nie-stakende werkers deur stakers is nie nuut in Suid-afrika nie. Dit kom al jare aan. Mens kan egter die vraag vra of hierdie vakbonde wat die werkers verteenwoordig en toe stakings opsweep regtig omgee vir die veiligheid en welstand van die werkers en of hulle eerder die werkers misbruik vir hulle eie korttermyn politieke gewin. Kry julle nie skaam dat julle doelbewus die lewens van onskuldige werkers in gevaar gestel word omdat hulle op sleeptou geneem word deur julle intimidasie nie.

    Suid-afrika sal in die komende weke uitvind of hierdie tragedie wat homself by Marikana afgespeel het we’ll ‘n impak sal hÊ op die groter mynbousektor en arbeidsbetrekkinge in die algemeen asook hoe eie onderlinge verhoudings tussen verskillende rassegroepe geraak sal word. Julius Malema se toespraak gister by Marikana hou niks positiefs in nie.

  • Lonmin: die begin van groter onheil?

    Gister was voorwaar ‘n swart dag in Suid-Afrika nadat talle stakende mynwerkers tydens ‘n skietery tussen sommige stakers en die polisie omgekom het. Die presiese dodetal is nog nie bekend nie maar die polisie sal na verwagting vanoggend om elfuur ‘n nuuskonferensie hou.

    Hierdie ongelukkige voorval het Donderdagmiddag plaasgevind naby Lonmin se Maricana platinummyn. Sommige mynwerkers, onder andere rotsboormanne het verlede vrydag begin staak. Verder was dAar ook ‘n despuut tussen Num en Amcu oor wie dan nou eintlik die werkers verteenwoordig.

    Gedurende die week is tien mense, onder wie twee polisieveampes oorlede na gevegte tussen Amcu en Num.

    Die groot vraag kan gevra word of hierdie dalk die begin kan wees van groter onheile en onrus? Op sosiale netwerke word reeds beskuldigings geslinger na wit monopolie en beheer oor die ekonomie. Volgens berigte is Amcu ook teen President Jacob Zuma se herverkiesing in Bloemfontein gekant.

    Die vrees bestaan dat hierdie tragiese voorval tot groter arbeidsonrus kan lei en dat rasseverhoudings erg geskend sal word. Daar sal ook gesien moet word hoe sake gaan verloop namate ons naderkom aan die Anc se nasionale kongres wat Desember in Bloemfontein gehou gaan word. Gaan die spanning tussen pro- en anti-Zuma faksies binne die ANC sodanig verhoog dat dAar nog gevegte en sterftes kan wees?

    Suid-Afrika sal beslis die volgende paar dae in spanning wag om te sien wat gaan gebeur.

    My hart gaan uit na diegene van ons volksgenote wat in die Rustenburg, Brits en Maricana omgewing woonagtig is. Pas julself op, hou julle veilig en vermy paaie waar moontlike verdagte aktiwiteite soos samedromming van mense of verdagte voorwerpe op of langs die pad. Baie sterkte ook aan diegene sat daar werksaam is. Dis beslis nie aangenaam om in ‘n werksomgewing te funksioneer waar arbeidsverhoudings so erg gespanne is nie.

    Mag God ons almal in hierdie tyd behoed en bewaar.

  • Besluit oor staking word binnekort verwag

    Vakbonde in die staatsdiens kan dalk hopelik teen Woensdag besluit of
    hulle die regering se aanbod van ‘n 7.5% loonverhoging en ‘n
    behuisingsibsidie van R800 per maand gaan aanvaar. Die slegte nuus is
    egter dat dit lyk asof die vakbonde moontlik nie die aanbod gaan
    aanvaar nie. Die goeie nuus is darem dat die vakbonde nie weer tot
    staking sal oorgaan nie. My vraag is nou net wat die vakbonde nou te
    doen staan? Daar is nie veel wat hulle nou kan doen nie. Die South
    African Democratic Teacher’s Union SADTU was anderdag vol bravade en
    het glo “oorlog” teen die regering verklaar. Wat dit alles behels weet
    nugter alleen, maar hulle sal seker maar verhoogde druk op die
    regering plaas om aan hulle eise te voldoen. Hulle moet tog net meer
    versigtiger wees met hulle woordkeuse.
    Kom ons hoop vir die beste op Woensdag.

  • Weermagvakbond debateer oor deelname aan staking

    Die vakbond The South African Security Forces Union hou vandag ‘n vergadering in Port Elizabeth waar die vakbond sy lede gaan raadpleeg oor moontlike deelname aan die voortslepende staking in die staatsdienssektor. SASFU verteenwoordig sowat twaalfduisend lede in die weermag en ander veiligheidsdienste.
    Die weermag het die laaste tyd baie gehelp om nie-stakende werkers by hospitale en die siekes in hulle sorg te beskerm teen stakende werkers wat hulle gedreig het. Die mediese korps het ook uitgehelp in staatshospitale waar personeeltekorte die normale werksaamhede van die hospitale benadeel het. As daar ook ‘n staking moet uitbreek sit ons met Chaos. Volgens wet is die weermag ook deel van die instansies wat noodsaaklike dienste lewer net soos die mediese dienste. Hulle werknemers mag nie staak nie. Ons het egter gesien hoe sommige verpleegpersoneel hierdie wet blatant verontagsaam en self so ver gaan om nie-stakende personeel te dreig.
    Ek hoop egter dat gesonde verstand sal heers by vandag se vergadering en dat daar nie tot staking oorgegaan sal word nie.

  • Stakers intimideer selfs mediese personeel

    stakende werkers wat aan die huidige staking van staatsamptenare deelneem het volgens berigte op Eyewitness News nie-stakende verpleegsters by hospitale in Johannesburg gedreig. Verpleegsters moes na skuiling vlug of self aan die betogings deelneem toe die betogers hospitale binnegestorm het. By een hospitaal het hulle selfs so ver gegaan om tot naby ‘n teater se ingang te marsjeer. Het die klomp dan nie eers respek vir dokters wat operasies moes uitvoer nie. Gaan kyk ook bietjie na die volgende Twitter mikrojoernaal van ‘n verpleegster wat die staking self ervaar het.
    http://twitter.com/andywandy
    In verdere verwikkelinge word al hoe meer tradisioneel blanke skole bedreig. Selfs privaat skole bly nie gespaar nie. Die vakbonde se opruiers sê glo hulle wil nie hê dat net die armes deur die staking geraak moet word nie.
    die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, ‘n vakbond wat tradisioneel Afrikaneronderwysers verteenwoordig het ook aangekondig dat hulle van Maandag af aan die staking sal deelneem. Ek wonder hoeveel van hulle lede sal gehoor gee aan die oproep tot staking? Ons mense het tradisioneel ‘n hoë werksetiek gehad.
    Baie sterkte aan almal wat hulle bes gaan probeer om hulle werk na die beste van hulle vermoë te doen om die staatsdiens aan die gang te hou. Sterkte ook aan alle dokters, verpleegsters en ander mediese personeel sowel as ondersteuningspersoneel by hospitale wat julle werk as roeping ernstig opneem. Staan sterk en beskerm die lewens van ons weerlose pasiënte wat aan julle sorg toevertrou is. My gebede is met julle.

  • Die staking begin more.

    vakbonde binne die staatsdiens wat lid van COSATU is het vandag aangekondig dat hulle die staat se aanbod van ‘n 7% loonverhoging en ‘n behuisingstoelaag van R700 verwerp en dat hulle van more af met ‘n staking begin. Baie sterkte aan diegene van julle wat nog in hierdie tyd gaan probeer werk. Ek hoop nie daar gaan intimidasie wees teen nie-stakende werkers nie. Gister was daar glo intimidasie teen onderwysers en leerders by sommige skole in die PWV-gebied, ook bekend as Gauteng. Ouers het geskarrel om hulle kinders by skole op te laai wat deur die wangedrag van die vakbonde geraak is. baie sterkte aan julle almal.

  • Nuwe hoop vir EVKOM onderhandelings

    Die bestuur van Evkom het gister aangekondig dat hulle nou hulle salarisaanbod aangepas het na 9% verhoging en ‘n behuisingsubsidie van R1500. Dit kom dadat hulle geruk is toe berigte in die media uitgelek het oor groot bonusse wat Evkom hulle bestuurslede gaan betaal. Ons sal nou maar moet sien of die vakbonde hulle aanbod gaan aanvaar. Evkom se vorige aanbod was ‘n verhoging van 8.5% en ‘n behuisingstoelaag van R2000. Ek hoop nou net nie die vakbonde gaan nou begin kibbel oor die behuisingstoelaag nie, want dan is daar nog steeds ‘n moontlikheid vir ‘n staking. Die voordeel van hierdie nuwe wending is darem dat daar geen stakings sal wees vir die oorblywende week van die sokkertoernooi nie. Dankie tog.

  • Is ‘n staking by Evkom op pad?

    Vakbonde wat werknemers by Evkom verteenwoordig het die bestuur tot môre kans gegee om met aanvaarbare salarisvoorstelle na hulle toe te kom. Dis natuurlik ‘n ope vraaag wat kan gebeur indien die Evkom bestuur nie daarin kan slaag om die vakbonde tevrede te stel nie. Sal die werkers regtig tot ‘n staking oorgaan terwyl die wêreldbeker sokkertoernooi nog steeds aan die gang is? Ons moenie vergeet dat ‘n groot deel van hierdie werkers wat nou wil sstaak groot sokkeraanhangers is. as Evkom nie krag kan voorsien nie kan hulle nie na die sokker op televisie kyk nie. Om die waarheid te sê, daar sal ook nie genoeg krag wees om die spreiligte by die stadions sowel as die mediasentrum aan die gang te hou nie. Dit
    ten spyte van die feit dat FIFA wel voorgeskryf het dat daar noodkragopwekkers by die sokkerstadions moet wees ingeval Evkom probleme met kragvoorsiening sou
    ondervind.
    Aan die ander kant is daar kan dit dalk juis die sokkertoernooi wees wat die werkers wel kan motiveer om te staak. Hulle wil sodoende die Evkom bestuur forseer
    om aan hulle looneise gehoor te gee. Soos die
    oumense sou sê, hulle sal oor lyke gaan om hulle sin te
    kry.

    Dis net vir my skokkend datSolidariteit, ‘n vakbond wat tradisionele Afrikaner- en Christenwaardes aanhang ook een van die bakbonde is wat dreig om moontlik aan hierdie staking deel te neem. Sal hulle dit regtig doen of besef hulle ook soos gewone Afrikaners insien dat elektrisiteitsvoorsiening ‘n noodsaaklike diens is wat hulle lewer?

    Kom ons hoop maar môre dat die bakbonde en bestuur tot
    ‘n vergelyk kan kom oor hierdie kwessie. Indien nie, sal dit ‘n groot ramp vir Suid-Afrika wees. Nie net sal dit ons ekonomie skade aandoen nie, Maar dit sal ook ons beeld na die buitewêreld nog erger skade aandoen as wat die misdadigers en rowers alreeds gedoen het.