Etiket: tegnologie

  • Baie geluk, Facebook

    Ek lees gister op
    http://praag.co.za dat Facebook aangekondig het dat hy nou sowat 500 miljoen gebruikers het. Dis voorwaar ‘n mylpaal vir hierdie sosiale netwerk. Sowat 1 uit 14 mense wereldwyd het nou ‘n Facebook profiel. Dit maak Facebook die grootste en kragtigste sosiale netwerk.

  • Kom ons maak somme

    In een van my vorige inskrywings het ek gemeld hoe moeilik dit is vir veral gesiggestremdes om captchas in te vul as hulle wil aansoek doen vir gebruikersrekeninge vir e-pos of sosiale netwerke.
    Ek het wel onlangs raakgesien hoedat sommige diensverskaffers op ‘n kreatiewe manier wel plan maak om hierdie soort probleem te oorkom. Natuurlik word dit nie soseer gedoen vir gesiggestremdes nie, maar vir baie ander mense wat ook seker al gekla het oor hulle probleem met hierdie prentjiekodes. Op Media24 se koerantwebwerwe is daar al ‘n geruime tyd ‘n funksie waar jy artikels per e-pos vir vriende kan aanstuur. Ek het onlangs gesien hoedat hulle vir hulle sekuriteitskode die gebruiker vra om ‘n eenvoudige optelsom te doen en die antwoord in die invulblokkie te tik om te bewys dat jy wel ‘n mens agter die rekenaar is nie ‘n gemorsposprogram of spambot nie. Ek het ook dieselfde verskynsel gesien by ‘n diensverskaffer wat gratis e-posrekeninge aan selfoongebruikers verskaf.
    Baie dankie aan al julle rekenaarslimkoppe wat aandag geskenk het aan mense se klagtes met die prentjiekodes wat ‘n ernstige hindernis vir baie van ons was.
    Ek hoop nou net nie dat die skrywers van gemorsposprogramatuur nie hulle programme ook gaan leer om somme te maak nie.

  • Sonde met die blikbrein

    Anderdag was ek so opgewonde toe die IT gurus my rekenaar versien het. Maar my opgewondenheit was van korte duur. My getroue ou blikbrein het weer met sy nonsens begin en dit lyk of die probleme wel dieper lê. Dit sal my blogging natuurlik ook ‘n lelike knou toedien, maar ek laat my nie so maklik onderkry nie. Ek sal nog steeds miniblogging op my selfoon doen totdat my rekenaargoggas uitgesorteer is.

  • Gesiggestremdes en Captchas

    Dis 'n algemene verskynsel wanneer jy aansoek doen vir 'n rekening vir 'n webgebaseerde kommunikasieplatform soos e-pos of sosiale netwerke. Jy moet 'n prentjiekode intik wat op jou skerm verskyn. Dit word gedoen om te keer dat ouens wat graag gemorspos op die internet rondstuur nie deur middel van outomatiese programatuur rekeninge op hierdie diensverskaffers se platform oopmaak nie. Die aansoekvorm moet deur 'n menslike gebruiker self ingevul word wat die prentjiekode moet kan sien wat op die skerm verskyn.
    Die groot probleem met hierdie grafiese verifikasiekodes, ook bekend as Captchas, is dat baie mense wat sukkel met sigprobleme en veral diegene wat van spraakprogramme gebruik maak nie hierdie prentjiekodes kan lees nie. Sommige van hierdie diensverskaffers het wel 'n soort oudio captcha vir sulke mense, maar die woorde wat jy moet intik word dikwels in 'n hele sin versteek. Hoe op aarde moet ons raai watter is die regte kodewoorde? Julle moet eerder daaraan dink om die kodewoorde net so in die klankgreep te sit en dit nie tussen ander woorde te versteek nie.
    Ek wonder of daar al mense daar buite is wat al 'n oplossing vir hierdie soort probleem gekry het? Kan die diensverskaffers nie eerder daaraan dink om eerder vir nuwe aansoekers 'n e-pos te stuur met 'n bevestigingskakel nie? vuurslag.co.za/ doen dit aalreeds met hulle nuwe aansoekers wat 'n rekening en 'n blog wil oopmaak. Ek is dankbaar dat hulle nie captchas van my gevra het nie, anders sou hierdie blog nie moontlik gewees het nie.
    Hopelik sal die dag gou kom dat ons as gesiggestremdes in die privaatheid van ons eie kamer ons rekeninge vir Facebook, Twitter, Gmail en ander dienste self kan oopmaak in plaas daarvan om iemand te vra om ons te help daarmee en so 'n persoon toe te vertrou met jou wagwoord, en ander persoonlike besonderhede.

  • Facebook lite opgeskort

    Ek was ‘n gereelde gebruiker van Facebook se meer eenvoudige webwerf Facebook lite. Dis ‘n lekker vinnige webwerf en werk lekker saam met ouer weblesers soos Internet Explorer 6. Daarom was dit vir my ‘n skok toe ek verneem dat Facebook hierdie diens opgeskort het. In hulle amptelike reaksie sê hulle wel dat hulle baie uit hierdie oefening geleer het en hierdie kennis gaan gebruik om hulle standaard webwerf te verbeter. Intussen het ek nog ‘n probleem met Facebook. Ek kan nie die standaard blad op my rekenaar gebruik nie en moet nou maar Facebook mobile op my selfoon gebruik.
    Ek glo beslis dat diensverskaffers van sosiale media en kommunikasiedienste soos gratis e-posdienste saam met hulle standaard webwerwe ook 'n ligter weergawe van hulle webwerwe moet hê vir gebruikers wat ouer weblesers gebruik sowel as diegene wat sukkel met swak internetspoed. Baie dankie aan diegene wat dit reeds doen soos Google met 'n basiese html weergawe vir hulle gmail diens, Yahoo met 'n ygo weergawe van hulle blad en vuurslag.co.za/ met hulle vuurslag.co.za/ gadget waar jy inskrywings kan plaa, skakels op jou blogroll kan sit en jou statistieke van jou blog kan besigtig vir vandag en gister. Ander diensverskaffers kan beslis by julle kom leer.