Gaan 2018 ‘n klipkoujaar wees?

Written by

in

Dis die groot vraag wat baie van ons onsself afvra aan die begin van ‘n baie woelige jaar. Die tafel is reeds gedek vir groot uitdagings wat in groot moeilikheid kan omsit as dit nie effektief bestuur word nie.

Op 29 Desember 2017 het die stryd om Afrikaans op universiteite nog ‘n terugslag beleef toe die grondwethof beslis het dat die Universiteit van die Vrystaat wel reg was in hulle besluit om Afrikaans as onderrigtaal af te skaf en slegs lesings in Engels aan te bied behalwe in enkele vakke. Ernst Roets van Afriforum wys in ‘n puik artikel in Maroela media daarop dat hierdie beslissing op baie twyfelagtige argumente gegrond is.

Kovsies, Afrikaans en die konstitusionele hof se politieke onderrok


Ongelukkig is die grondwethof die hoogste hof van appél in Suid-Afrika en kan daar nie verder op regsgronde appél aangeteken word teen hierdie besluit nie.
Daar sal dus moeite gedoen moet word om vir ons Afrikaanse studente ‘n akademiese tuiste te skep waar hulle in hulle eie moedertaal gevorderde beroepsgerigte vakonderrig kan ontvang. Solidariteit se Akademia is ‘n goeie begin. Hulle vakkeuses is egter nog beperk en daar sal dringend nog meer akademici gewerf moet word om meer vakrigtings soos mediese wetenskap, ingenieurswese ensovoorts daar te kan doseer. Verder moet die Akademia konsep ook na ander groot universiteitsdorpe uitgebrei word.

Die waterkrisis in Kaapstad sal na alle waarskynlikheid nog vererger. Die gevreesde dag 0, wanneer Kaapstad se reservoirs en damme heeltemal leeg kan loop kom al hoe nader. Daar was wel goeie nuus dat ondergrondse waterbronne meer water kan lewer as wat aanvanklik geskat is, maar dan sal die stad Kaapstad hierdie waterbronne oordeelkundig moet bestuur, want as dit uitgeput is, sit hulle almal in tamatiestraat. Daar kan maar net gehoop en bid word dat hierdie winter dalk beter reënval kan oplewer. Dit sal egter baie moet reën om daadwerklik ‘n einde aan die waterkrisis te maak.

Tydens laasjaar se nasionale kongres van die ANC in Johannesburg is Cyril Ramaphosa as die party se nuwe leier aangewys. Jacob Zuma is egter nog steeds staatsprisident. Dit skep uit die aard van die saak twee sentra van mag en soos wat ons destyds met die magstweespalt tussen Thabo Mbeki en Jacob Zuma gesien het, hou so ‘n verdeelde opset nie lank in die Suid-AFrikaanse politeik nie. Verder is daar ook groot druk op Zuma om as staatsprisident te bedank na aanleiding van ernstige bewerings van korrupsie en selfs staatskaping wat oor hom en sy kornuite se koppe hang. As hy eers uit die regeringstoel is, verloor hy sy prisidensiële imuniteit teen vervolging en kan hy in ‘n geregshof verhoor word. Zuma besef dit maar al te goed en daarom is hy nie te gewillig om die tuig neer te lê nie. Daar word verwag dat hy so ver moontlik aan die mag gaan vasklou en ‘n groot doring in Ramaphosa se vlees gaan wees. Intussen het hy wel op Dinsdag, 9 Januarie 2018 ‘n kommissie onder leiding van regter Raymond Zondo aangestel om staatskaping te ondersoek, maar baie mense verwag nie te veel van hierdie ondersoek nie en verwag dat Zuma of van die ander betrokkenes dalk vele geregtelike opstruksies in die pad van die ondersoek kan plaas of dat die ondersoek se mandaat so groot kan wees dat hulle nie effektief op die staatskaping van die Zuma-familie en die Gupta-familie kan fokus nie.

Op Saterdag, 16 Desember 2017 het prisident Jacob Zuma ‘n opslagbal na die moontlike nuwe administrasie van Cyril Ramaphosa geboul met sy skielike aankondiging dat gratis universiteitsonderrig aan alle arm en werkersklas studente beskikbaar gestel gaan word vanaf 2018. Die Ekonomiese Vryheidsvegters het op hulle beurt alle matrikulante aangehits om by universiteite op te daag en te registreer en op die gratis onderrig aan te dring.
Die groot probleem hiermee is die feit dat Suid-Afrika nie naastenby genoeg geld het om so ‘n onderneming te befonds nie. Die regering het ook aangedui dat hulle nie die begroting gaan verander om die gratis studies te befonds nie. Die groot vraag is egter waarvandaan die fondse verhaal gaan word. Baie kenners vrees dat belastings dalk drasties verhoog sal moet word tydens Februarie se begrotingsrede om wel die nodige finansies te bekom vir so ‘n grootse onderneming.

Die vraagstuk oor grondonteiening sonder vergoeding word ook reeds al meer op die spits gedryf. Selfs Cyril Ramaphosa het ook sy steun daarvoor uitgespreek, wel met die voorbehoud dat dit nie ekonomiese groei in die land mag ontwrig nie, maar dit klink ook maar na ‘n fopspeenbelofte omdat enige eiendom wat sonder vergoeding deur die staat geneem word, wel ‘n ekonomiese impak op die land sal hê en veral vir die boere en hulle gesinne sowel as die plaaswerkers en hulle gesinne wat direk by die boerdery gebaat het. As deselfde proses homself oor die land heen herhaal sal dit ongetwyfeld ‘n ernstige impak hê op die ekonomie sowel as voedselsekerheid, net soos in Zimbabwe.

Baie sterkte aan al my lesers en volksgenote wat saam hierdie uitdagings moet trotseer. Mag julle almal gespaar bly en heelhuids aan die anderkant uitkom.
Sterkte aan julle almal vir ‘n baie interessante nuwe jaar.


Discover more from Vuurslag

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Discover more from Vuurslag

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading