Die staking van munisipale werkers het vandag in alle erns begin. Die stakers het na munisipale kantore opgemarsjeer om hulle griefskrifte te oorhandig. So ver soos wat hulle gaan het hulle vullisblikke omgegooi en rommel in die strate gestrooi. In sommige dorpe het hulle selfs so ver gegaan om van die rommel wat hulle uitgegooi het aan die brand te steek. Hierdie staking is al klaar erg genoeg, maar as daar eers rommelstrooiery, brandstigting en vandalisme van geboue en voertuie ook bykom, raak dit nou eenmaal te erg. Kan hierdie werkers dan nie staak sonder vandalisme en openbare geweld nie. Daar is ‘n onrusbarende klimaat van wetteloosheid besig om in ons land te ontwikkel.
Kategorie: Algemeen
-
WordPress word al meer Afrikaans
Ek gaan vandag soos gewoonlik weer na af.wordpress.com on te gaan kyk na die gewildste blogs, inskrywings, en onderwerpe waaroor mense graag skryf. Ek was skoon verras toe ek agterkom dat die webwerf nou ‘n Afrikaanse titel het en dat verskeie funksies, onder andere my blog se instrumentepaneel, oftewel dashboard, ook gedeeltelik in Afrikaans beskikbaar is. My hartlike dank aan almal wat die gawe mense van WordPress help met die vertaling. Dankie ook aan WordPress wat hierdie projek begin het.
-
Nog ‘n staking op hande
Twee groot vakbonde wat munisipale werkers verteenwoordig het aangekondig dat hulle Maandag met ‘n landwye staking gaan begin nadat hulle loongeskil met SALGA, die vereniging wat plaaslike owerhede verteenwoordig nie bygelê kon word nie. Hoekom moet hulle nou juis besluit om te staak terwyl ons land geteister word deur oproer wat juis verband hou met swak dienslewering? Ons land loop deur onder sy ergste staakseisoen in jare. Tesame met die huidige vlaag van oproer skets dit ‘n donker prentjie vir ons op die korttermyn.
-
Nare telebemarkers
Ek haat dit as telebemarkers my tydig en ontydig bel met allerhande versekeringspolisse, vakansies, tyddeelopsies ensovoorts aan my te probeer verkwansel. Ons is vandag reeds drie keer deur hulle lastig geval, twee keer deur dieselfde maatskappy. Om alles te kroon kan nie een van hulle Afrikaans praat nie.
-
Bierpens se nuwe skryfstyl
Bierpens is een van die Afrikaanse bloggers hier op WordPress. Hy het twee blogs op vuurslag.co.za/, by name Kekkel op die plaas, te besigtig by kekkel.wordpress.com en Onder die Lapa, te besigtig by bierpens.wordpress.com.
Ek was op 'n stadium 'n gereelde leser van sy blog Kekkel op die Plaas. Toe gaan staan die blog bietjie stil tot vandag toe hy weer daar inloer met 'n splinternuwe manier van skryf. Hy het iewers 'n site templet ontdek wat 'n soort "Twitter feel" het. Nou het hy op die gewone blogs net sulke kort maar kragtige inskrywings begin publiseer.
Hierdie nuwigheid is net die regte ding vir haastige bloggers wat nie altyd tyd het om te gaan stil sit en lang beredeneerde artikels skryf nie. Die vuurslag.co.za/ gadget, te vinde by m.wordpress.com, is perfek vir hierdie doel omdat dit vir rekenaars sowel as selfone toeganklik is. Verder het hierdie nuwe skryfstyl op WordPress ook die voordeel dat jy nie tot net 140 karakters beperk is nie. Buitendien is 140 karakters gans te min om mee te blog. Slegs die tyd sal leer of ander bloggers ook hierdie nuwe skryfstyl gaan probeer. -
Mobiele webwerwe op jou rekenaar?
Dis 'n bekende feit dat webwerwe wat vir selfone geskryf is, veel kleiner en eenvoudiger is as gewone webwerwe wat hoofsaaklik vir rekenaars geskryf is. Dit was nog altyd 'n begeerte van my dat sommige van hierdie mobiele webwerwe ook vir rekenaars beskikbaar moet wees. Gelukkig het ek die laaste tyd op sulke webwerwe afgekom.
Wordpress het 'n oulike miniwebwerf, die vuurslag.co.za/ gadget. Dit kan vanaf jou selfoon sowel as jou rekenaar besoek word by m.wordpress.com en bied jou die opsies om inskrywings op jou blog te plaas sowel as statistieke vir die dag en 'n fasiliteit waar jy nuwe skakels op jou blogroll kan plaas.
Nog 'n oulike webwerf is gmobile.sayni.net waar jy toegang tot jou Gmail rekening kan kry vanaf jou selfoon sowel as jou rekenaar. Dis maar net 'n kleiner, makliker en eenvoudiger weergawe van die gmail waaraan ons aalreeds gewoond is.
Daar is ook Yahoo se mobiele dienste wat beskikbaar is by m.yahoo.com. Hier kan jy toegang verkry tot jou yahoo rekening waar jy e-pos en kitsboodskappe kan stuur. Verder kan jy ook padaanwysings kry, maar hierdie diens werk net in Amerika. Jy kan verder speletjies speel, websoektogte doen, inligting oor finansies kry en vele meer.
Laaste maar mnie die minste nie is daar ook Facebook se mobiele werf wat besigtig kan word by m.facebook.com. Dis maar net 'n meer eenvoudiger weergawe van Facebook soos ons hom alreeds ken.
Ek is in my noppies oor hierdie webwerwe omdat dit goedkoper en verseker baie vinniger en eenvoudiger is om hulle vanaf jou selfoon sowel as jou rekenaar te besoek. -
Operasie Selfoon begin vandag
Van vandag af moet alle selfooneienaars hulle simkaarte laat registreer by hulle netwerke. Dis nou volgens nuwe wetgewing van hierdie regering van ons. Dit maak nie saak of jy nou ‘n kontrakfoon of ‘n voorafbetaalde simkaart het wat jy spotgoedkoop by jou naaste supermark gekoop het nie. Ons almal moet registreer. Selfs al het jy net ‘n internetkontrak en is jou simkaart in jou rekenaar of skootrekenaar, moet jy ook registreer. Dus moet ou Vuurslag ook een van die dae in die tou gaan staan.
Hierdie registrasie behels dat jy jou identiteitsnommer sowel as jou woonadres aan jou diensverskaffers moet verstrek. Volgens hierdie wet het die diensverskaffers soos Vodacom, Mtn en Cell C agtien maande tyd om die registrasieproses af te handel. Indien jou simkaart nie teen die sperdatum geregistreer is nie, sal jou foon afgesny word.
Wat die kwessie van identiteitsnommers aanbetref voorsien ek nie te veel probleme nie. Meeste mense het darem ID-boekies, al gebruik sommiges dit net om te gaan stem. Dus sal meeste mense hulle identiteitsnommer kan verskaf. Wat die woonadres van selfoongebruikers aanbetref, voorsien ek groter probleme omdat daar veral sekere groepe voorafbetaalde selfoongebruikers is wat hoogs mobiel is. Dis veral studente, trekarbeiders en proefarbeiders wat in hierdie kategorie val. Moet ook nie die mense in townships en plaaswerkers vergeet nie.
Die wet bepaal ook ‘n nuwe simkaart nie aangesluit mag word as die koper nie sy ID-nommer en woonadres aan die diensverskaffer gegee het nie. En juis hier is nog ‘n probleemgroep ter sprake. Wat van buitelandse toeriste en Suid-Afrikaners in die buiteland wat vir hulle familie in Suid-Afrika wil kom kuier? Dit is veral hulle wat dikwels tydelike simkaarte vir hulle fone hier plaaslik koop sodat hulle plaaslike oproepe teen plaaslike tariewe kan maak. Is daar enige spesiale uitsonderings vir hulle? Nie so ver ek weet nie.
Die regering beweer dat hierdie nuwe wetgewing nodig was om georganiseerde misdaad te bekamp wat met behulp van selfone gepleeg word. Hierdie land van ons is in elk geval so korupn dat mens maar net kan wonder of dit regtig sal help.
Nou moet ons mense tog nie tot op die nippertjie wag voordat hulle hul simkaarte gaan registreer nie. Ons het alreeds gesien wat gebeur met die vuurwapenlissensies sowel as die nuwe motorlissensies van so paar jaar terug. Gaan doen dit maar so gou moontlik terwyl die toue nog kort is. -
SAUK-krisis laat gewilde tv-program sneuwel
Vyftig/vyftig, die gewilde televisieprogram oor die natuur en omgewingsake, gaan vanaf die kassie verdwyn nadat die SAUK nie die program se kontrak hernu het nie. Volgens die aanbieder, Johan Botha, sou die program ‘n ruskans geneem het tot Oktobermaand toe sodat kwessies rondom die kontrak uitgeklaar kon word. Die SAUK was die laaste paar weke baie stil oor die kontrak en die span van Vyftig/vyftig het vandag verneem dat die kontrak nie hernu sal word tot April volgende jaar. die SAUK BEWEER HULLE WIL DIE PROGRAM VOLGENDE JAAR WEER GEBRUIK OM MET sUID-aFRIKA TE SPOG WANNEER DIE GROOT 2010 SOKKERTOERNOOI HIER AANGEBIED word. Johan Botha is egter skepties oor die SAUK se benadering omdat dit ‘n ernstige ontwrigting vir die produksiespan is. Nou is hulle vir alle praktiese doeleindes werkloos. Omgewingsjoernalistiek is ‘n gespesialiseerde veld en mense soos hulle kry nie maklik op ander plekke werk nie. Omdat die SAUK se geldkrisis die onafhanklike produksiemaatskappye ook nadelig raak, is dit ook moeilik vir hulle om daar werk te kry.
Hierdie program het baie gedoen om mense op te voed oor ons ryk natuurlewe en ook diegene aan die kaak gestel wat ons omgewing bedreig het met hulle besoedeling en onverantwoordelike ontwikkelingsprojekte. Wie gaan dit nou doen juis in ‘n tyd waar veral mynbesoedeling aan die Wesrand geweldig toeneem?
Die laaste uitsending is geskeduleer vir 6 Julie. -
Kragtariewe styg alweer
Evkom het vandag die groen lig vanaf die Nasionale Energiereguleerder gekry om sy kragtariewe met 31.3% te verhoog nadat hulle oorspronklik vir ‘n verhoging van 34% gevra het. Hierdie verhoging gaan verseker lewenskoste verder opjaag, nie net as gevolg van die duur krag nie, maar ook omdat besighede by wie ons goedere en dienste aankoop ook hulle pryse gaan verhoog. Ons mense sal nou natuurlik moet bespaar op die gebruik van toestelle wat swaar is op krag soos geysers, ketels, stowe en verwarmers. dalk sal my medewoernaliste ook maar die moontlikheid moet oorweeg om maar eerder vanaf skootrekenaars of selfone te blog.