Ons hier bo in die Transvaal het die afgelope twee dae die eerste reëns van ons nuwe reënseisoen gehad. Dit is veral verblydend vir die boeregemeenskap omdat die somerweiding vir die vee nou stadig maar seker weer kan begin uitloop na ‘n lang, koue, droë winter. Saaiboere kan ook eersdaags begin ploeg en bemes vir nog ‘n plantseisoen.
‘n Paar maande terug het die weerburo gewaarsku dat ons vanjaar weer ‘n droogtejaar kan hê omdat seetemperature in die Stille Oseaan weer begin styg het. Dit beteken dat lande in die Noordelike Halfront meer reën kry terwyl lande in die Suidelike Halfront, veral Suid-Afrika, :Australië en Nieu-Zeeland droogtejare beleef. Ek hoop egter van harte dat ons land ten spyte van dit alles gelukkig sal wees en genoeg reën sal kry om nog ‘n suksesvolle oes te kan afhaal. Dit sal ‘n goeie hupstoot vir ons boeregemeenskap wees wat gebuk gaan onder vyandige optrede van sekere politieke elemente, plaasaanvalle, wisselende pryse vir hulle produkte en die gekonkel van kunsmiskartelle wat onlangs op die lappe gekom het. Sterkte aan julle almal.
Kategorie: Algemeen
-
Eerste reëns van die seisoen
-
Braaidag versus Erfenisdag
Vandag was ons veronderstel om die ANC-regime se erfenisdag te vier. Daar word met reg op Radio Pretoria en praag.co.za gevra: watter erfenis? ‘n Groot deel van die Afrikaners se erfenis het alreeds verlore gegaan.
So ‘n paar jaar gelede kom ‘n groepie slim liberales na vore met die idee om erfenisdag ook tot Braaidag uit te roep. Volgens hulle is braai die enigste tradisie wat deur alle Suid-Afrikaners gedeel word.
Intussen het vele Afrikaners hierdie dag aangegryp om saam met vriende, familie en geliefdes te kuier en sommer in die proses ook die propaganda van die ANC-regime wat op dae soos hierdie oorvloedig uitgestuur word te ontkom. Die Sjinese het ‘n interessante spreekwoord: waar daar beleid is, is daar ook teenbeleid. Hierdie is ‘n interessante voorbeeld waar Afrikaners ‘n ANC-vakansiedag tot hulle voordeel omgekeer het. -
Met leedwese
Dit was vanoggend ‘n skok om te verneem van die heengaan van die bekende televisiepersoonlikheid Andries Krogmann. Volgens berigte het hy sy eie lewe geneem. Krogmann was destyds te sien in die bekende Afrikaanse tv-program Maak ‘n Las, waar verskeie bekende storievertellers en ander bekendes met interessante verhale opgetree het. Die program word tans weer uitgesaai Vrydagaande om halfagt. Krogmann was veral bekend vir die interessante kookdemonstrasies en kosresepte op die program. Hy sal beslis net so gemis word soos die ander heengegane deelnemers van Maak ‘n Las. Dit was veral hy en Tolla wat van die program ‘n sukses gemaak het.
-
Naspers in ‘n doodloopstraat
Ek lees nou net Dan Roodt se artikel oor die swak gehalte van Rapport en ander koerante van Naspers. Ek stem nogal saam met die opinies wat daarin uitgespreek word. Gelukkig is ons geseënd met vandag se nuwe sosiale media wat ons as Afrikaners ten volle moet gebruik om ons eie standpunte te stel en die anti-Afrikanerpropaganda van hierdie linkse, slinkse media te omseil en aan die kaak te stel. Baie dankie aan hierdie Afrikaners wat reeds besig is om dit te doen.
-
Nog mobiele webwerwe vir jou rekenaar
Ek het al voorheen geskryf oor miniwebwerwe wat vir sowel jou selfoon as vir jou rekenaar geskik is. Hier is nog twee van hulle.
Ek het in die laaste tyd van rss voer gebruik gemaak om by al my gunsteling webwerwe en blogs uit te kom. Diegene wat al Googlereader op hulle rekenaars gebruik het, sal saamstem dat die bladsye soms baie lywig kan wees. Die goeie nuus is egter dat jy ook die mobiele weergawe van Googlereader op jou rekenaar kan gebruik. Gaan na www.google.com/reader/m waar jy ‘n baie ligter, kleiner en vinniger bladsy sal kry.
Diegene wat van die Suid-Afrikaanse sosiale netwerk Blueworld gebruik maak, kan ook Blueworld se mobiele webwerf gebruik. Dis te besigtig by m.blueworld.com waar jy van die basiese funksies kan gebruik maak.
Ek verneem ook dat Facebook ook beplan om ‘n ligter weergawe van hulle webwerf te loods wat as Facebook Lite bekend sal staan. Hierdie stap word glo geneem om Facebook meer kompeterend te maak sodat dit met veral Twitter kan meeding.
Geniet julle tydjie op die net. -
Geluk, Wipneus
Vanmiddag op Radio Sonder Grense se internetpraatjie net na halfvyf het Prof. Louis Fourie gepraat oor die rol van die vrou op die web. Toe Amore Bekker hom vra oor goeie webjoernale wat deur vroue bedryf word, noem hy ‘n paar goeie Engelse webjoernale, maar noem ook dat een van sy top Afrikaanse webjoernale Wipneus s’n is. Hy het albei haar webjoernale genoem, by name Onder die Maan en Sterre, te besigtig by onderdiemaanensterre.wordpress.com, en wipneus.co.za. Dis voorwaar ‘n prestasie om so hoog aangeprys te word op nasionale radio deur een van ons top internetkenners. Al die besonderhede van die webwerwe wat vandag gemeld is sal môre op RSG se webwerf beskikbaar wees. Jy kan dus verwag om nog meer verkeer op jou blogs te kry. Nogmaals baie geluk.
-
Staking by EVKOM tydelik afgeweer
Die staking wat vir Maandag by EVKOM beplan was is vandag gelukkig tydelik afgeweer nadat EVKOM hulle loonaanbod vandag verhoog het. Die betrokke vakbonde het tot Woensdag uitstel gevra om hulle lede te raadpleeg. My hoop is dat die werkers wel rede sal insien en die hersiene aanbod sal aanvaar. Ons wêreldekonomie sowel as die land s’n is in resessie en ons maatskappye, organisasies en werknemers moet in hierdie tyd aanvaar dat ons nie sulke goeie verhogings in ons inkomste sal hê soos in die vorige voorspoedige jare nie. Ek moet erken dit sal ‘n baie moeilike indien nie onmoontlike taak wees om hierdie begrip by die grootste deel van ons werkerskorps tuis te bring.
-
Staking by EVKOM moontlik op hande
die vakbond NUM het vandag aangekondig dat daar dalk volgende week ‘n staking by EVKOM kan wees. Dit volg nadat loononderhandelings tussen die vakbond en EVKOM vasgeval het. NUM eis ‘n loonverhoging van 15% terwyl EVKOM slegs 8.5% aanbied. NUM het gedreig dat daar kragonderbrekings tydens die staking kan voorkom. Hulle het ook gesê dat hulle ook met ander vakbonde wat werknemers van EVKOM verteenwoordig sal vergader voordat hulle finaal tot aksie sal oorgaan.
Hierdie situasie is veral skrikwekkend gesien in die lig daarvan dat baie noodsaaklike dienste, soos hospitale, uiters afhanklik is van elektrisiteit. Hospitale het wel noodkragopwekkers wat gebruik kan word as daar ‘n kragonderbreking sou kom, maar dis duur om die kragopwekkers vir ure te laat loop. Verlede jaar se beurtkrag is nog vars in die geheue van baie mense. Dit het ons ekonomie groot skade berokken. Dit is juis hierdie soort van stakings wat maak dat die buitewêreld ons land sien as ‘n onstabiele land.
Ek hoop van harte dat daar spoedig ‘n oplossing sal kom voordat ‘n volskaalse staking uitbreek. -
SAUK TV-nuus ly swaar onder staking
Twee van die vakbonde wat SAUK-werknemers verteenwoordig het vandag met ‘n wegbly-aksie van twee dae begin. Sommige van die SAUK se nuusprogramme is negatief geraak. Die nuus en aktualiteitsprogram op Nkosi FM, die SAUK se radiostasie wat Zoeloesprekende luisteraars bedien kon nie vandag uitgesaai word nie. Die staking het ook sy merk gelaat op vanaand se nuusuitsending van die Afrikaanse Nuusbulletin om seweuur vanaand. Die uitsending het later as normaal begin, daar was baie advertensies vertoo, slegs enkele berigte is gebeeldsend en slegs die helfte van die bulletin is uitgesaai. In die tyd wat die tweede Helfde uitgesaai moes word is ‘n string advertensies, ‘n woordelose weervoorspelling en ‘n lokprent vir die film Harry Potter and the Halfblood Prince vertoon. Al die ander vooraf verfilmde programme het gelukkig voortgegaan soos normaal. Gelukkig is uitsendings op Radio Sonder Grense nie geraak nie.
Televisiedienste is dikwels meer gevoelig vir so ‘n staking omdat daar meer tegniese personeel by ‘n televisie-uitsending betrokke is. Ek hoop net dat die SAUK en vakbonde spoedig tot ‘n vergelyk kan kom oor hulle loondespuut. Daar is natuurlik ook sommige onder ons wat bly is omdat die ANC se propagandasmoel gedeeltelik stil was. Ek kan nogal met hulle simpatiseer. Ek moet erken hierdie staking laat my kriewelrig voel. As die SAUK se uitsendings heeltemal moet gaan staan, sal ons van onafhanklike media en die internet afhanklik wees vir ons nuus. Kom ons hoop vir die beste.