Die Elektrisiteitsadviesraad het gister Suid-afrikaners aangeraai om hulle elektrisiteiitsverbruik met 10% te verminder. Die minister in die presidensie, Trevor Manuel, het gisteraand op televisie gesê EVKom het nie genoeg kragreserwes nie. Volgens die energiewet moet EVKOM ‘n sekere hoeveelheid krag in reserwe
hê ingeval een van hulle opwekkers by ‘n kragsentrale onklaar sou raak.
Ek reken ons sal dalk die vakansie sonder voorval kan geniet. maar wat gaan volgende jaar gebeur as almal weer terugkeer werk toe en die groot nywerhede weer hulle bedrywighede moet voortsit. Gaan ons dalk weer ‘n beurtkragsituasie hê soos wat ons in 2008 beleef het? Indien wel, hoe gaan ons ekonomie daardeur belemmer word? Watter skade gaan dit aan infrastruktuur veroorsaak? Twee jaar gelede is substasies beskadig as gevolg van aanhoudende kragonderbrekings. In sommige landelike gebiede is selfoontorings beskadig as gevolg van wisselende elektrisiteitsvoorsiening. Munisipale rioolwerke kon ook nie ten volle funksioneer nie omdat hulle pompstasies gaan staan het.
Kom ons hoop maar dat EVkom ‘n plan sal kan beraam om hierdie probleem op te los. Intussen moet ons maar krag spaar waar ons kan en onthou maar om jou voorraad kerse en batterye byderhand te hou. Diegene wat kragopwekkers het, sorg maar dat hy gediens is en gereed staan as die kragkrisis ons wel tref.
Kategorie: Algemeen
-
Kan ‘n beurtkragkrisis ons weer tref?
-
Die kabeldiewe slaan weer toe
Ons is vandag alweer heeldag sonder krag nadat die kabeldiewe laasnag weer Evkom se kabels gesteel het in ons omgewing. Diegene van ons wat nie kragopwekkers het nie se huishoudings het natuurlik weer amper tot stilstand gekom. In ‘n vorige inskrywing het ek die vraag gevra wat mens met sulke nare goed moet maak. Dis net ‘n wonder dat hulle nie doodskok terwyl hulle die kabels afknip nie.
Kom ons hoop maar dat Evkom hierdie probleem spoedig kan oplos. -
Het gestremdes se lewens verbeter?
Vandag word daar weer groot gewag gemaak van Internasionale Dag vir Gestremdes. Daar is vandag al ‘n paar insetsels hieroor op die radio uitgesaai. Die vraag wat by my opkom op ‘n dag soos vandag is: het die lewens van gestremde persone verbeter oor die laaste klompie jare?
Dit is wel ‘n feit dat ons op tegnologiese gebied goeie vooruitgang gehad het. Vervaardigers van hulpmiddels en organisasies wat die belange van gestremdes verteenwoordig het ook in die laaste paar jaar met planne vorendag gekom om hierdie produkte meer toeganklik en bekostigbaar te maak.
Verder het ons regering ook allerhande mooi beleidsrigtings en wetgewing op papier oor werksgeleenthede vir gestremdes. Maar soos gewoonlik kan dit nie regtig prakties toegepas word nie weens verskeie probleme in die werkplek self. Werkgewers is maar baie skepties om mense met gestremdhede in diens te neem al beskik hulle oor die nodige kwalifikasies. Verder is daar die probleem oor hoe om jou hulpmiddels en jou werkplek en/of betrekking met mekaar te versoen. Hierdie is veral ‘n groot probleem as dit by rekenaartoerusting en spraakprogramatuur vir gesiggestremdes kom. Ek weet van mense wat al hulle werk verloor het omdat hulle spraakprogramatuur en die werkgewer se bedryfstelsels nie versoenbaar met mekaar was nie. Werksgeleenthede vir gestremdes word ook al hoe skaarser omdat werkgewers vereis dat veral kantoorpersoneel al meer veeldoelig word. Daar is byvoorbeeld minder poste vir skakelbordoperateurs beskikbaar as vroeër jare omdat veeldoelige persoonlike assistente die meeste van die kantooraktiwiteite nou self moet behartig en omdat taksentralestelsels wat skakelboerde aandryf al hoe meer outomaties word.
Lesers en deelnemers is welkom om tot hierdie lys van uitdagings toe te voeg en ook met oplossings vorendag te kom.
Om op te som kan gesê word dat gemengde welslae behaal is om die lewens van gestremde persone te verbeter. -
Boere kry die skuld vir plaasaanvalle
Ek hoor vanaand op die seweuur televisienuus ‘n berig waarin adjunkpresident Galema Moclanthe sê dat van die ergste plaasaanvalle deur buitelanders uitgevoer word. Maar dan gaan hy voort om te sê dat dit boere se skuld is omdat hulle glo die buitelanders in diens neem en hulle dan uitbuit deur aan hulle laer salarisse te betaal en hhulle te dreig met die polisie en imigrasie-owerhede om die werkers se gehoorsaamheid te verseker. Agri SA het soos verwag met skok gereageer op hierdie bewering en daarop gewys dat plaasaanvalle meestal gepleeg word deur misdadigers wat geld en vuurwapens by boere eis. Hulle kies ook meestal boere wat sagte teikens is.
Ja-nee, so kry die boere alweer die skuld vir alles. Ek hoop van harte dat landbou-unies en organisasies wat die belange van behoudende Afrikaners verteenwoordig hulle stemme sal dik maak en Moclanthe tot orde roep. Soos die president van Agri SA gesê het is dit skokkend dat iemand met sy posisie en verantwoordelikhede so ‘n stelling kon maak sonder om eers van die feite seker te maak.
Laat ons maar wag en sien wat die uitkoms van hierdie situasie gaan wees. -
Hoekom ek begin blog het.
Ek het so in middel 2008 begin om die Afrikaanse WordPress blogs te lees In daardie tyd het ek nie ‘n skootrekenaar gehad nie, dus moes ek dit maar op my selfoon lees. Gelukkig was dit nie ‘n groot probleem nie omdat meeste van WordPress se webontwerpe, oftewel themes, geskik was vir selfone. My eerste blog waarop ek tydens ‘n soektog op Google afgekom het was feetjieland.wordpress.com. Ongelukkig staan hierdie blog al lank dormant. Deur middel van die feetjie se blogroll kom ek toe af op ander blogs, en deur ander bloggers se blogrolls vind ek toe nog meer blogs. Johan Swarts van gormendizer.co.za verwys daarna as die sogenaamde lang stert. Ek het op Bierpens se blog Kekkel op die Plaas afgekom Xanika ‘n skakel in een van haar inskrywings geplaas het toe hy haar uitgenooi het.
Ek het dadelik agtergekom hier is ‘n soort bloggersgemeenskap onder die Afrikaanse bloggers hier op WordPress. Ek het gevoel ek wil ook deel van hierdie gemeenskap wees. Eers veel later het ek uitgevind dat heelwat van die bloggers mekaar ken uit die dae toe Steve Hofmeyr sy eie blog getiteld Steve se Spoegblog gehad het. Dit was nog in die dae voor ek nog internettoegang gehad het.
Gelukkig het ek toe verlede jaar my skootrekenaar gekry en na ‘n lang gewag het ek toe uiteindelik in die nagtelike ure van 10-11 April vanjaar my blog oopgemaak. My eerste inskrywing wys dat dit op 10 April geplaas is, maar my blog se tydstellings was toe nog twee ure agter.
Namate ek meer met ander bloggers begin gesels het het ek stadig maar seker deel van hierdie bloggergemeenskap geword. Die hoogtepunt was toe Bierpens my ook as gasskrywer op Kekkel bygevoeg het.
Daar is gereeld nuwe bloggers wat bykom en daar is sommige van die ou sterre wat ons soms groet. My hoop is dat die Afrikaanse blogs tot ‘n kragtige medium sal groei wat kan opvoed sowel as vermaak. -
Mense van die duine
Harry, een van ons medebloggers, is ‘n storieverteller van formaat. Sy kortverhale het gereeld verskyn op Bierpense se joernaal Kekkel op die Plaas, te bsigtig by kekkel.wordpress.com. Sy kortverhale het nou so gewild geraak dat daar nou ‘n webjoernaal oopgemaak is met al Harry se stories in een plek. Gaan besigtig hierdie webjoernaal by duinemense.wordpress.com. Daar is ook ‘n snelskakel beskikbaar op my blogroll.
-
My hart gaan uit na Joost
Toe ek vanoggend na die onderhoud met Joost Van der Westhuizen op RSG luister kon ek nie anders as om jammer vir hom te voel nie. Joost het toe gebieg dat dit hy was wat in die skandvideo te sien was wat deur afpersers verfilm is en toe aan die media gelek is. Mag hy die klipperige pad na herstel suksesvol bewandel. En mag die media hom en sy gesin uitlos om privaat die skerwe op te tel.
-
Kring van die Spotters
Die Afrikaanse gemeenskap van bloggers hier op WordPress is ‘n interessante een. Die mense hier kom uit ‘n wye verskeidenheid agtergronde en hier is baie skryftalent onder hulle.
Ongelukkig is daar ook bloggers onder ons wat genot daaruit put om blogs oop te maak waar hulle ander bloggers bespot en slegsê.
Eers het hulle die deelnemers op www.bosparra.com bespot. Noudat Bosparra kalmer geword het is daar nou sommiges wat mekaar bespot en ook ander bloggers uitsonder. Ek was gister ontsteld om te sien hoe ou Klontkoppie en Vrinne vir Bierpens en Harry bespot het. Laasgenoemde is twee bloggers vir wie ek bewondering het. Bierpens vir sy skryfstyl en die manier hoe hy sy saak stel asook die werk waarmee hy besig is om ‘n platform vir Afrikaanse bloggers te bou waar artikels oor verskeie onderwerpe deur middel van etiketblaaie, oftewel tag pages aan mekaar geskakel word. En Harry vir sy kortverhale wat op Kekkel op die Plaas gepubliseer is. Harry weet hoe om ‘n storie te vertel.
Nee regtig, so kan dit nie aangaan nie. Daar is dinge daar buite wat veel ernstiger is as ons ou kleinlike geveggies op die blogs. Julle kan eerder julle talente gebruik om die Afrikaanse blogosfeer tot ‘n kragtige medium uit te bou wat kan opvoed sowel as vermaak. -
Hoe nou gemaak met kabeldiewe
‘n tydjie gelede het EVKOM ‘n advertensieveldtog op TV gehad oor die nadelige gevolge wat kabeldiefstal op ons samelewing het. Ekonomiese en huishoudelike aktiwiteite word lamgelê as ons nie elektrisiteit het nie.
Gister was een van daardie dae. Die kabeldiewe het Maandagnag so elfuur se kant kabels uit ‘n kraglyn tussen Schweizer Reneke en Wolmaransstad gesteel. Die twee dorpe was gister heeldag sonder krag. Die kragtoevoer kon eers gisteraand laat herstel word.
Soos verwag kon word was daar groot chaos. Mense kon nie was of kos kook nie. Besighede kon nie normaal funksioneer nie. Boere kon nie water pomp vir hulle vee, besproeiing en huishoudelike behoeftes nie.
Die regering het onlangs ‘n nuwe wet bekragtig wat die koop en verkoop van tweedehandse goedere strenger reguleer. Dit lyk egter of dit nie veel doen om die kabeldiewe en hulle kopers af te skrik nie. Gegewe die ongerief en skade wat hulle veroorsaak wonder ek sommer maar net of mens nie dalk ‘n erger straf vir hulle moet toedien nie. -
Van Casablanca tot die Kaap
Vroeër vanjaar het Johan Badenhorst en sy span van Voetspore faam weer een van hulle reise deur Afrika onderneem. In plaas daarvan dat hulle vanuit Suid-Afrika na hulle bestemming gereis het, het hulle hierdie keer hulle reis hoog in Afrika begin. Hulle het gereis vanaf Casablanca in Marokko tot by Kaapstad.
Ten spyte van vele probleme en vertragings was die reis wel suksesvol gewees. Vanaand het die eerste episode van die televisiereeks wat hulle op hul reis verfilm het gewys Die reeks word Vrydagaande om sesuur op SABC 2 uitgesaai.
Die span van Voetspore het met hulle vorige reeks, Van Gansbaai tot Gaboen, wat ook op televisie gebeeldsend is, aan die gewone Suid-Afrikaner wat nie dikwels in Afrika reis nie ‘n interessante kykie gegee na die landstreke waardeur hulle gereis het. Hierdie jongste reeks beloof om ook baie interessant te wees.