‘n Mens kry baie soorte blogs in hierdie wêreld van ons, hetsy dit nou persoonlike blogs is en of dit nou blogs oor stokperdjies, besigheid, musiek en vermaak of wat ook al is.
Ek het myself al gevra wat maak nou eintlik ‘n goeie persoonlike blog? Die antwoord is heel eenvoudig. As die skrywer op so ‘n blog dit kan regkry om die gewone vervelige dinge van elke dag interessant in te kleur dan sal sy blog baie interessant wees en sal dit baie lesers trek.
Ek het onlangs op so ‘n blog afgekom.
http://kalahariklong.wordpress.com/
As hierdie ou so goed kan skryf oor die dinge van die alledaagse lewe, hoe sal hy nie oor die dinge kan skryf wat mens regtig opgewonde maak soos politiek, ‘n lekker vakansie, die lewe in die Kalahari
ensovoorts. Kom ons hoop hierdie skrywer plaas gereeld nuwe
inskrywings op sy blog.
Kategorie: Algemeen
-
Kalahariklong
-
What’s in a name
Ek sien ‘n interessante verskynsel op die net. Terwyl ek ‘n Google soektog gedoen het oor Julius Malema kom ek af op die webwerf www.juliusmalema.co.za wat voorgee dat dit Julius Malema se eie webwerf is. Dit raak egter gou duidelik dat dit nie regtig sy webwerf is nie omdat daar te veel artikels verskyn wat na Julius in die derde persoon verwys of daar is skakels in die titel van die opskrifte wat jou na heeltemal ander webwerwe en blogs toe vat wat oor Malema skryf.
Nou wonder ek sommer in die stilligheid of ou Julius die eienaar van hierdie webwerf kan aanvat in die hof as hy hom kan opspoor? Daar is seker meer as een Julius Malema in die land en almal van hulle is nie so radikaal soos ons vriend die groot Malema nie.
Verder het Dan Roodt van Pro-Afrikaanse Aksiegroep ook ‘n webwerf begin oor Max Du preez, wat besigtig kan word by maxdupreez.co.za. Daar plaas hy van Max se koerantartikels en lewer kommentaar daarop. Hierdie webwerf is laas in Maart opgedateer. Dit wil lyk of ou Max weet van hierdie webwerf. Ek weet nie of hy al enige stappe teen Roodt geneem het oor hierdie werf nie. Ek sal dit verwelkom as iemand my daarmee kan help.
Hoe gaan mens te werk as jy in ‘n despuut betrokke raak oor ‘n internet domeinnaam? Jy kan natuurlik ‘n hofsaak maa, maar is daar dalk ander minder ingrypende maniere om hierdie probleem op te los. -
Facebook lite opgeskort
Ek was ‘n gereelde gebruiker van Facebook se meer eenvoudige webwerf Facebook lite. Dis ‘n lekker vinnige webwerf en werk lekker saam met ouer weblesers soos Internet Explorer 6. Daarom was dit vir my ‘n skok toe ek verneem dat Facebook hierdie diens opgeskort het. In hulle amptelike reaksie sê hulle wel dat hulle baie uit hierdie oefening geleer het en hierdie kennis gaan gebruik om hulle standaard webwerf te verbeter. Intussen het ek nog ‘n probleem met Facebook. Ek kan nie die standaard blad op my rekenaar gebruik nie en moet nou maar Facebook mobile op my selfoon gebruik.
Ek glo beslis dat diensverskaffers van sosiale media en kommunikasiedienste soos gratis e-posdienste saam met hulle standaard webwerwe ook 'n ligter weergawe van hulle webwerwe moet hê vir gebruikers wat ouer weblesers gebruik sowel as diegene wat sukkel met swak internetspoed. Baie dankie aan diegene wat dit reeds doen soos Google met 'n basiese html weergawe vir hulle gmail diens, Yahoo met 'n ygo weergawe van hulle blad en vuurslag.co.za/ met hulle vuurslag.co.za/ gadget waar jy inskrywings kan plaa, skakels op jou blogroll kan sit en jou statistieke van jou blog kan besigtig vir vandag en gister. Ander diensverskaffers kan beslis by julle kom leer. -
My blog verjaar vandag
Vandag presies 'n jaar terug het ek vir die eerste keer begin blog. My eerste inskrywing was wel gedateer 10 April, maar dit was omdat my blog se tyd nog volgens die standaard UTC tyd gestel was. Ek het gereeld die Afrikaanse blogs op vuurslag.co.za/ gelees en gedroom daarvan om self my eie blog te hê. In die middernagtelike ure van 11 April het ek toe my eie blog oopgemaak. Ek het aanvantlik maar gesukkel om alles eers onder die knie te kry, maar toe ek eers begin het het ek dit beslis baie geniet. In die laaste jaar was daar 'n oorvloed van dinge om oor te skryf op my blog, dis net partykeer ek wat of lui was of besig met ander goed. Maar ek het vasgebyt en hier staan ons een jaar later en ek geniet dit nog steeds om te blog.
Hierdie jaar beloof om beslis nog meer interessant te wees en nog baie meer stof tot nadenke op te lewer, die perfekte toestande om in te blog.
t -
Was dit ‘n wraakaanval?
In my vorige inskrywing het ek ‘n beroep op my medevolksgenote gedoen om kalm te bly en hulle nie aan enige onverantwoordelike geweldadige gedrag skuldig te maak na die moord op Eugene Terreblanche, leier van die Afrikanerweerstandsbeweging. Die verkeerde optrede van ‘n klein groepie kan die hele land aan die brand steek. Skoor het ‘n baie mooi pleidooi gerig op haar webjoernaal skoor.wordpress.com.
Juis daarom was dit vir my ‘n skok toe ek gisteraand ‘n berig hoor van ‘n beweerde skietery op ‘n minibustaxi naby Secunda. Volgens die passasiers van die taxi het twee blanke mans in ‘n dubbelkajuitbakkie by hulle verbygery en skote op die taxi gevuur. Sommiges is gewond. Die plaaslike polisie sê hulle sluit nie die moontlikheid uit dat dit moontlik ‘n wraakaanval was na die moord op Terreblanche.
Ons as Afrikaners kan beslis weerstand bied teen die huidige toestande in die land wat ons toekoms bedreig soos geweld en misdaad, die haatspraak van veral die Anc Jeugliga en sy meelopers, die korrupsie wat ons land op sy knieë dwing en die manier hoe ons van ons kulturele erfenis beroof word deur dinge soos naamsveranderinge en die wanvoorstelling van Afrikaners in ons land se geskiedenis. Maar al hierdie dinge moet geskied met die nodige respek vir algemene wet en orde.
Ek hoop nie hierdie voorval by Secunda kring uit en word deur die haatsprekers van die ANC en ander radikale groepe gebruik om die vure van haat teen ons aan te blaas nie. -
Rus in vrede, ET
Die leier van die Afrikanerweerstandsbeweging, Eugene Terreblanche, is Gisteraand, 3 April, op wrede wyse op sy plaas buite Ventersdorp vermoor terwyl hy gelê en slaap het. Twee jong plaaswerkers wat maar slegs drie weke vir hom gewerk het is in hegtenis geneem vir sy moord nadat hulle self die polisie ontbied het en hulself toe oorgegee het. Hulle beweer hulle het die moord gepleeg nadat hulle met hom stry gehad het oor onbetaalde lone.
Daar is egter ‘n paar vreemde dinge rondom hierdie moord. Die panga wat as een van die moordwapens gebruik is is na die tyd netjies op sy bors geplaas. As ‘n moordenaar ‘n voorwerp op sy slagoffer se bors plaas is dit gewoonlik ‘n soort boodskap wat hy wil uitstuur. Verder is dit ook totaal vreemd dat hierdie twee lafaards na die tyd self die polisie vanaf ‘n buurplaas ontbied het en toe hulself oorgegee het en skuld beken het. Dis die eerste keer dat plaasaanvallers dit doen.
Ons volk verkeer vandag in ‘n toestand van skok, woede en hartseer. Al het baie van ons nie saamgestem met alles wat hy gedoen en gesê het nie het hy nogtans die vermoeë gehad om ons Afrikanerharte warm te laat klop.
Ek hoop dat my mede-Afrikaners ten spyte van al die gevoelens wat in hulle broei hulle nie sal skuldig maak aan onverantwoordelike optrede nie, veral nie gewelddadige optrede nie. Dit is presies wat die beplanners van hierdie moord wil hê.
Rus in vrede, oom Eugene. Ons sal jou altyd onthou. -
Hof vat Malema ‘n tweede keer vas
Die Noord-Gautengse Hooggeregshof het vanaand vir ‘n tweede keer beslis dat Julius Malema, die ANC se jeugleier, nie sy gewraakte skiet-die-boere liedjie mag sing nie. Die hofaansoek is gebring deur TLU SA nadat Malema voortgegaan het om hierdie haatlied te sing ten spyte van die feit dat die hof alreeds uitspraak daarteen gelewer het.
Ek wonder nou net of Malema wel die hof se besluit gaan gehoorsaam of nie. Indien nie, op watter punt gaan hy in hegtenis geneem word en gedagvaar word vir minagting van die hof?
Mnr. Malema, as ek jy is hou ek my kant skoon asseblief. -
Internet neem Afrikaans die toekoms in
Tydens ‘n werkswinkel van die Afrikaner Burgerlike Netwerk het Jaco Kleinhans, kommunikasiebestuurder van Solidariteit gesê as Afrikaanse organisasies in die toekoms nog wil voortbestaan sal hulle nou al reeds daaraan moet dink daaraan om op sosiale netwerke soos Facebook, Twitter en Flickr te wees sowel as op die breër internet.
Ongeveer 10% van Suid-Afrikaners het toegang tot die internet. Volgens navorsing deur Solidariteit het sowat 40% van blankes internet by die huis en nog meer het internettoegang by die werk.
Kleinhans het gesê ons het nog glad nie die goedkoop hoëspoed internet in Suid-Afrika soos wat gebruikers in oorsese lande alreeds geniet nie, maar Afrikaanse organisasies moet nou alreeds begin regmaak vir die dag as ons wel sulke internet het. Afrikaners se huidige vlak van internetgebruik moet ook glad nie onderskat word nie. Afrikaans staan alreeds sterk op Facebook.
Ek sou graag my eie stuiwer in die armbeurs wil gooi deur te sê dat dit nie net die organisasies nie, maar ook die gewone man op straat wat kan help om Afrikaans op die internet lewendig te hou. Ons as Afrikaanse webjoernaalskrywers moet nooit die belangrikheid van ons werk onderskat nie. Dieselfde geld vir diegene van ons wat Facebook, Twitter en ander media gebruik. Daarom, aan al my medebloggers, hou aan met die goeie werk wat julle doen en help sodoende om Afrikaans die toekoms in te neem. -
Sosiale netwerke kan gedagvaar word oor skadelike inhoud
Ek lees vanoggend ‘n artikel in die Beeld waar regskenners sê dat sosiale netwerke soos Facebook wel gedagvaar kan word oor skadelike inhoud wat op hulle webwerwe gepubliseer word. Dit volg na die storm wat veroorsaak is deur ‘n uiters haatlike inskrywing op ‘n aanhangersblad ter ere van Julius Malema, leier van die ANC se Jeugliga, op Facebook. Hierdie aanhangersblad is intussen gelukkig verwyder.
Hierdie uitspraak van die regskenners laat my nogal wonder oor ‘n paar dinge. Dit is alombekend dat ‘n sosiale netwerk soos Facebook alreeds meer as 250 miljoen gebruikers het. Alhoewel Twitter nie hulle gebruikersgetalle graag bekend maak nie, sou dit nie vergesog wees om te beweer dat hulle ook tussen 100 en 200 gebruikers het. Hoe op aarde gaan hierdie netwerke in staat wees om beheer uit te oefen oor so baie gebruikers? Hoe gaan hulle sulke skadelike inhoud wat op hulle netwerke verskyn betyds kan onderskep voordat dit versprei en skade aanrig?
Dit is ook alombekend dat meeste van hierdie netwerke gebruik word deur mense van reg oor die wêreld. Indien daar wel ‘n hofsaak teen die sosiale netwerk aanhangig gemaak word, in watter land moet jy dit doen? In jou eie land of in die land waar die sosiale netwerk sy hoofsetel het? As daar regskenners tussen my medebloggers is wat hiermee kan help sal dit verwelkom word.
Nog ‘n vraag wat by my ontstaan is of maatskappye wat webjoernale huisves soos Google met hulle Blogger diens of Automatic wat WordPress besit ook onder dieselfde regsbeginsel gedagvaar kan word indien daar skadelike inhoud op hulle netwerke gepubliseer word? Albei hierdie diensverskaffers het wel stelsels in plek waar jy ‘n webjoernaal kan rapporteer wat die diensvoorwaardes van die diensverskaffer oortree.
Indien dit wel sou gebeur dat sosiale netwerke en ander diensverskaffers van sosiale media wel in die toekoms strenger maatreëls instel om inhoud op hulle netwerke te reguleer sal dit ‘n hartseer dag wees en sal dit vryheid van spraak ernstig aantas. Dit sal dan ‘n klassieke geval wees van ‘n klein groepie oortreders wat die groter groep wetsgehoorsame burgers se pret bederf. Kom ons hoop maar daardie dag is nog ver in die toekoms.