Kategorie: Algemeen

  • Bloggers en boggers

    Hoekom is sommige afrikaanse bloggers so geniepsig met mekaar? Ek kom gister op 'n blog af hier op http://af.wordpress.com/ met die naam Fan van Leon Gatkramp, 'n verwysing na die blogger Leon Croukamp http://leoncroukamp.wordpress.com/ wie nou die onderwerp is van hierdie spotters se blog. Hierdie geniepsige spotblog het verskyn as een van die top blogs van die dag op af.wordpress.com, 'n webwerf van vuurslag.co.za/ wat spesifiek vir ons afrikaanse bloggers daargestel is. Dit beteken dat heelwat mense gereeld hierdie nare blog lees.
    Hierdie blog is nie die enigste wat die spot dryf met Croukamp en die bloggers van http://www.bosparra.com/ nie.
    Ek stem ook nie saam met die manier hoe veral die bosparras te kere gaan nie, maar ek maak dit tog nie my lewenstaak om al die blapse en skandes van die bosparras op die internet te ontbloot nie. Ek los hulle doodeenvoudig uit en lees nie hulle blogs nie. Watter pret put die eienaars van hierdie spotblogs en diegene wat by hulle kommentaar lewer uit hierdie speletjie? Julle ouens kan mos julle blogtalente gebruik vir veel beter dinge. Los vir Leon Croukamp en die bosparras uit sodat hulle self kan voortploeter.

  • Nuwe ontstellende konsepwetgewing

    Ek luister vanoggend na SA FM se program The editors waarin hulle die nuusgebeure van die week met ‘n paneel van nuusredakteurs bespreek. Naby die einde van die program noem Mnr. Gavin Stewart, een van die paneellede, dat daar tans konsepwetgewing voor die parlement dien wat die slagoffers van enige wvergrype of nalatigheid deur die staat se regte sal inkort om eise teen die staat in te stel. As jy dus die slagoffer was van enige vergrype of nalatigheid deur enige staatsinstelling soos die polisie, staatshospitale, pensioenfondse of enige ander departement sal jy nie meer so maklik die howe kan nader om ‘n eis vir skadevergoeding in te stel nie as hierdie wetgewing suksesvol deurgevoer word. Die volle detail van hierdie konsepwet is nog nie bekend nie.
    Hierdie is veral ontstellend omdat die howe sedert 1994 al vele eise vir skadevergoeding toegestaan het waar een van die organe van die staat skuldig was. Dit sluit die polisie en padongelukkefonds in om maar net ‘n paar te noem. Mag hierdie wetgewing nie op die wetboek beland nie.

  • Vuvuzelas by sokker word fyn dopgehou

    Daar is niks so ireterend soos ‘n klomp vuvuzelas wat gelyktydig en aanhoudend by ‘n sokkerwedstryd geblaas word nie. Die vuvuzela is ‘n soort plastiese trompet met net een noot wat gereeld deur sokkerondersteuners by wedstryde geblaas word sommer net vir die lawaaierige pret daarvan. Sommige mense, onder andere buitelandse spelers wat tans deelneem aan die Konfederasiesbeker Sokkertoernooi, het nou gekla daaroor en ons sokkerbase het nou belowe hulle sal die situasie fyn dophou.
    Dis deesdae nie net by sokkerwedstryde nie, maar ook rugbywedstryde, waar hierdie nare goed gehoor word. Sommige rugby-unies het ‘n verbod geplaas op die blaas van vuvuzelas by hulle rugbystadions. Die sokkerbeheerliggame moet ook dieselfde doen.

  • SAUK in die knyp

    Die SAUK is die laaste tyd in ‘n diep geldelike verknorsing. Daar word bereken dat die SAUK se skuld sowat R800 miljoen beloop. Die SAUK-bestuur ontken dit heftig, maar erken darem dat hulle sogenaamde begrotingsprobleme het. Die SAUK het het op ‘n stadium vir maande nie die produksiehuise se rekenings betaal wat verantwoordelik is vir die vervaardiging van gewilde sepies op televisie soos Sewende Laan, Generations en Isidingo. Dit het tot gevolg gehad dat hierdie sepies amper van die lug verdwyn het omdat die produksiehuise gedreig het om opnames van die programme terug te hou indien die SAUK sou weier om sy rekenings te betaal. Sewende Laan se rekening is gelukkig betaal, maar daar is nog heelwat ander diensverskaffers wie se rekenings nog agterstallig is. Intussen het die SAUK ‘n moratorium van drie maande ingestel vir die goedkeuring van nuwe televisiereekse vir al drie televisiekanale. ‘n Glansplegtigheid, Stars of Mzanzi, moes ook onbepaald uitgestel word.
    Om alles te kroon, het vakbonde wat personeel van die SAUK verteenwoordig gister ‘n sertifikaat van die Komissie vir Bemiddeling, Arbitrasie en Rekonsiliasie gekry vir ‘n beskermde staking oor salarisse. Die SAUK-bestuur wil ‘n interdik verkry om hierdie staking te keer, maar het die publiek verseker dat gebeurlikheidsplanne in plek is indien die staking wel voortgaan.
    Agt van die twaalf raadslede van die SAUK-raad het alreeds bedank en daar is groot druk op die oorblywende vier raadslede om ook te bedank.
    Ek sien alreeds hoe die mense steen en been gaan kla oor al die heruitsendings van televisieprogramme as hierdie situasie so voortgaan.

  • Politieke probleme in die Weskaap

    Nadat die ANC in vanjaar se verkiesings die provinsiale stem in die Weskaap teen die Demokratiese Alliansie verloor het, het dit duidelik geword dat hulle nie hierdie nederlaag met die nodige waardigheid sou aanvaar soos wat dit ware politici in ‘n ware ontwikkelde demokrasie betaam nie.
    Op 1 Mei het die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe tydens ‘n werkersdagsaamtrek gesê dat die ANC in die Weskaap ‘n skadukabinet sou saamstel om die sogenaamde “regse planne” van die DA oop te vlek. Die ANC se heethooftige jeugleier, Julius Malema, het tydens ‘n ander saamtrek na Helen Zille, leier van die DA, as ‘n “rasistiese klein dogtertjie” verwys en gesê dat sy aan Jacob Zuma se regering verslag sal moet doen.
    Toe Helen Zille haar provinsiale kabinet aangewys het was dit ‘n verrassing om te sien dat almal mans is. Sy het gesê dat sy die beste kandidate vir die werk aangestel het. COSATU en die ANC was glad nie gelukkig hiermee nie en COSATU het glad gedreig om vir Zille voor die gelykheidshof te daag. Sy het by haar standpunt gehou, maar toe maak sy die fout om Jacob Zuma daarvan te beskuldig dat hyself seksisties is omdat hy sy vroue aan die gevaar van HIV/vigs bloot te stel nadat hy by ‘n HIV-positiewe vrou geslaap het. Dis ‘n verwysing na die verkragtingsaak wat ‘n paar jaar terug teen hom aanhangig gemaak is en waarin hy onskuldig bevind is. Hierdie uitspraak van Zille het ‘n woeste bekgeveg veroorsaak waarin allerlei banaliteite rondgeslinger is wat mens nie hier wil aanhaal nie. Later het die ANC se jeugliga en Mkonto wi’Siswe se veterane met militante optrede gedreig as sy nie ophou om op ‘n “disrespekvolle wyse” van Zuma te praat nie. Gelukkig het die ANC homself van hierdie uitsprake gedistansieer, maar dis ook al wat hulle gedoen het.
    Verder het dit oor die naweek bekend geword dat daar op Helen Zille en haar kabinet gespioeneer word. Hierdie spioene het al tien provinsiale departemente binnegedring. Volgense berigte raporteer hierdie spioene aan die ANC terug. Intussen het COSATU die DA-regering in die Weskaap ‘n maand tyd gegee om hulle standpunt oor vertenwoordiging en geslagsgelykheid in die kabinet te verander. Indien nie, sal hhulle glo ‘n mosie van vantroue teen Helen Zille en die DA indien.
    Om die kersie op die koek te sit, is daar ook nog ‘n haatgroep op Facebook gestig teen Henen Zille. Hierdie haatgroep word hoofsaaklik deur jong ANC-ondersteuners besoek en gebruik. ‘n Senior ANC-amptenaar, Malusi Gigaba, was glo ook ‘n lid van hierdie groep, alhoewel sy woordvoerder beweer hy het nie aan die debat op hierdie groep deelgeneem nie. Asof ons hulle nou moet glo. Op hierdie haatgroep is daar op vieslike manier na haar verwys en party het selfs met geweld gedreig.
    Ekself is nie ‘n DA-ondersteuner nie, maar hierdie soort politiekery maak my bang. As dinge so aanhou soos nou, kan dit dalk lei tot grootskaalse burgerlike onrus. Hierdie gaan nie net oor partypolitiek nie, maar oor die veiligheid en stabiliteit van die Weskaap maar ook die hele land.
    Die ANC en COSATU moet ophou met hierdie gevaarlike speletjies van hulle en aanvaar dat die DA die provinsiale verkiesing in die Weskaap gewen het en dat sy vir die volgende vyf jaar moet regeer soos hulle sogenaamde demokratiese grondwet voorskryf. Helen Zille moet haar nie so maklik by die ANC se nuttelose bekgevegte laat intrek nie. Moenie ‘n dwaas na sy sotheid antwoord nie, anders trek hulle jou na hulle vlak toe af. Verder moet sy sterk bly staan ter wille van die provinsie en die land se stabiliteit.

  • Groot probleme in Vryheidsfront Plus

    My hart gaan vandag uit na Cornelius Jansen van Rensburg, die voormalige jeugleier van die Vryheidsfront Plus. Hy is Maandagmiddag geskors hangende ‘n ondersoek na sy gedrag nadat hy Pieter Mulder se besluit om ‘n kabinetspos as adjunk-minister van landbou, bosbou en vissery te aanvaar gekritiseer het. Dr. Mulder het na bewering nie sy party geraadpleeg oor so ‘n besluit nie. Ek stem heelhartig met Van Rensburg saam dat Pieter Mulder nie ‘n kabinetspos kan beklee sowel as om die leier van die Vryheidsfront Plus te wees nie. Verder stem ek ook saam met die kritici binne en buite die Vryheidsfront Plus dat hulle nou nie meer die ANC so effektief in die parlement kan opponeer nie. Gelukkig staan die Vryheidsfront Jeug heelhartig by hulle geskorsde leier. Van Rensburg sal binnekort voor ‘n tugverhoor moet verskyn. Op 23 Mei vergader die party se Federale Raad om Mulder se besluit te bespreek. EEn van die party se LP’s, Willie Spies het ook Mulder se besluit gekritiseer. Gaan hy ook geskors word of gaan hulle eerder van Cornelius ‘n voorbeeld maak en die meer senior lede ‘n tweede kans gee? Gaan hierdie tweespalt binne die party tot ‘n skeuring lei soos wat ons gesien het met die ANC en COPE? As Pieter Mulder as partyleier geskors word, sal hy dan nog toegelaat word om sy kabinetspos te behou? Gaan hierdie laaste paar dae se gebeure maak dat die Afrikaners heeltemal hulle vertroue in die sogenaamde demokrasie gaan verloor? Net die tyd sal leer.