Kategorie: Algemeen

  • Carmen Niehaus hier op WordPress

    So sit ek vanoggend en lees deur die etiketlyste op vuurslag.co.za/ en kom af op hierdie blog van 'n absolute glanskok.

    Home

    Dis niemand anders as Carmen Niehaus, die bekende glanskok van Huisgenoot. Sy het ook nou 'n weeklikse program, Lekker en Goed, op Kyknet.

    Ek beskik ongelukkig nie oor DSTV om dit te kan kyk nie en het al 'n geruime tyd terug my Netwerk24 intekening ook opgegee, maar ek ondersteun nog al die jare ons Afrikaanse blogs, veral op WordPress. Ek weet hier is verskeie dames wat soms lekker resepte met ons deel, van glansresepte tot Januariekos. Dis nou die soort geregte waar jy moet besnoei op die koste van jou bestanddele, maar terselfdetyd die etes so smaaklik as moontlik moet hou.

    Jannewarriekos – Pelsertert

    Of wat van hierdie liplekker muffins? Ek het lanklaas sulke lekker muffins geproe met klapper en semels in.

    Maandlank muffins

    Hier is so 'n paar van Carmen se glansidees.

    Vier Kersfees met lamsboud en ‘n kerskransslaai

    Aartappel aptyt

    Selfs haar pizza en koekstruif het daardie bietjie ekstra finess.

    Kersie op die koek: trifle

    PIZZA UIT DIE BOONSTE RAKKE

    Ek het julle nou 'n behoorlike bederfsessie gegee. Daar is egter nog ander resepte ook.
    As jy dus een van daardie mense is wie nie toegang het tot premium media nie, maar jy soek nog steeds kosidees om jou etes mee op te kikker of om jou gaste mee te onthaal, dan kan u beslis Carmen se blog gaan besoek. Jy sal nie spyt wees nie.

  • My eerste probeerslag met ‘n eie betaalde WordPress blog

    Vir ‘n lang tyd al het ek al gewonder hoe dit sal wees om my eie WordPress blog te kan hê. Een wat nie al die advertensies en beperkings het van ‘n blog op wordpress.com nie. Dit was ook vir my moeilik om een van die betaalde planne op WordPress.com uit te neem omdat hulle slegs betalings in sekere goedgekeurde geldeenhede ontvang en ek tans nie die nodige kundigheid en fasiliteite het om internasionale betalings te kon doen nie.

    Op die ou einde het ek toe besluit om so ‘n blog deur ‘n plaaslike Suid-Afrikaanse diensverskaffer te kry. Baie dankie aan Xneelo vir die geleentheid wat julle my kan bied om hierdie webwerf op julle bedieners te kan huisves. Hulle tariewe is uiters billik en hulle laat my ook toe om al my rekeninge kontant te betaal en beperk jou nie net tot debietorders of kredietkaarte nie.

    Besoek hulle gerus indien u ‘n webwerf wil begin.

    http://xneelo.co.za

    Hierdie blog gaan ‘n soort voortsetting wees van my ander blog http://vuurslag.wordpress.com wat ek reeds sedert 2009 bedryf. Ek gaan so ver moontlik probeer om my nuutste artikels op albei blogs te plaas juis omdat ek nou al ‘n klein maar getroue leserskorps op my vorige webjoernaal opgebou het. Op ‘n tyd wat vir my reg is sal ek dan die groot skuif maak na hierdie webjoernaal toe sodra ek ‘n goeie gemeenskap hier gevestig het.

    Kom ons kyk wat 2025 vir hierdie blog en Afrikaanse blogs in die algemeen inhou.

  • Die feesseisoen uit die verlede

    Terwyl ek vanmiddag op my WordPress beheerpaneel die nuutste Afrikaanse artikels lees, kom ek op hierdie absolute juweel van ‘n artikel af oor die goeie herinnerings wat baie van ons het oor Kersfees uit ons kinderdae en die verre verlede.

    Kersfees in die truspieëltjie

    Soos wat hierdie vrou tereg opmerk, was dit nog ‘n tyd toe niemand gekla het oor die oorkomersialisasie van Kersfees nie, toe mense nog bymekaar gekom het en die beste van die feesseisoen gemaak het. Geen Geen geskenk was te gering nie en selfs eenvoudige geskenke kon jou soms ‘n traan laat wegpik net omdat dit uit die hard uit kom en uit die bietjie wat sommige mense gehad het, gekom het.

    Ek onthou self nog die wonderlike Kersfees, oujaars- en nuwejaarsvieringe uit my jonger dae. Ek onthou nog die lang skoolvakansies op die plaas, Al die voorbereidings vir die hele feesseisoen wat mens vir dae aaneen besig hou. Die slaggoed wat geslag word, die vleis wat bewerk word en die wors wat gestop word. Die kleinkoekies van allerhande soorte wat gebak word. Die groot dag wanneer ons die werkers inneem dorp toe om hulle eie inkopies te gaan doen vir Kersfees. Die pakkies wat opgemaak word vir Oukersdag en die groot uitdeel wanneer almal op die werf bymekaar kom. Die kinders wat koeldrank kry en die grootmense wat kon kies tussen koeldrank of ‘n beker rantsoenwyn. Ons het ook self nog die tradisie van die kussingslope gehad op die beddens se voetenent. Die verrassing van Oukersaand as jy jou geskenk kry wat jy vir Kersvader in ‘n briefie gevra het of daardie tye wat jy nie self gevra het nie, maar hy het presies geweet wat jy nodig het.

    Verder was daar ook nog die kuier op Kersdag by familie, die weersiens na ‘n lang tyd, Die koue etes vir Kersdag wat bestaan het uit koue vleise, hetsy dit nou varkboud, skaapboud of selfs koue kalkoen of hoender was. Dan die koue slaaie soos wortelslaai, aartappelslaai, beetslaai ensovoorts. Die tiekiepoedings met eensentstukke, tweesente en vyfsente in. Dit was nog in die ou dae voordat daar koper in die munte was en mens dit nie meer so kon doen nie.

    Ek onthou nog die dae toe daar selfs op die radio en televisie spesiale Kersprogramme was. Gelukkig het RSG nog steeds spesiale programme op Kersdag en Goeie Vrydag. Maar in die ou dae het selfs die streeksradiodiens, die toenmalige Radio Oranje, vandag OFM, op Oukersaand en Kersdag spesiale Kersliedere gespeel.

    Verder was Oujaarsdag en nuwejaarsdag spesiaal. Die oujaarsaand braai, die kerkdiens op oujaarsnag, die spesiale oujaarskonserte wat op RSG en sy voorgangers, Radio Suid-Afrika en Afrikaans Stereo uitgesaai is. Die streeksradio wat boeremusiek gespeel het oujaarsaand.

    Ek onthou nog die mense by wie ons gaan kuier het sowel as die mense wat by ons kom kuier het. Die klein klappertjies, starlights en poppits. Partykeer as vriende uit die stad kom kuier het was daar allerhande soorte vreemde en eksotiese vuurwerke wat ons nie self sou gekoop het nie. Daar was kleurvolle vuurpyle en saluutklappers soos die Five Gun salute.

    Nuwejaar was ook spesiaal met die feestelike atmosfeer steeds in die lug en ‘n ete wat baie herinner aan die Kersete van ‘n week tevore.

    Soos wat kinders grootgeword het en sommige familie ons ontval het, het dinge verander. Mense het versprei en hulle eie lewens en tradisies begin bou. Verder het die land en die samelewing oor die algemeen verander.

    Terwyl ons ‘n onsekere 2025 tegemoet gaan, sal hierdie brokkies uit die verlede mens altyd by bly. Mag al my lesers wat hier kom inloer te midde van alles wat hierdie jaar mag gebeur steeds ‘n geseende, voorspoedige en wonderlike 2025 geniet.

  • Die Goue Middeweg tussen tegnologie en menslikheid

    Wat gebeur as jy skielik van tegnologie afhanklik is om jou lewensnoodsaaklike pensioen te trek maar jy is as bejaarde persoon glad nie rekenaargeletterd nie? Gaan die staatsamptenaar agter die toonbank ons mense wat die land help opbou et net so aan ander se genade oorlaat of gaan hulle sulke mense kan help? Hier is nog een van oom Jasper se wyshede.
  • Jou wet en orde of jou lewe?

    Jare terug as kinders altyd die een of ander rowerspeletjie gespeel het, was die vraag altyd: jou geld of jou lewe.
    Die laaste tyd het dinge hier in Suid-Afrika al so verdorwe geraak dat ons nou al die vraag kan vra: jou wet en orde of jou lewe?
    Hierdie week het ons nou al twee voorbeelde van hierdie senario gehad.
    Santaco, een van die grootste taxiverenigings in die land het verlede week ‘n staking van taxibestuurders in Kaapstad asook die Weskaap uitgeroep na ontevredenheid oor die skut van taxi’s wat deur verkeerspolisie afgetrek is vir ernstige oortredings. Dit sluit onpadwaardige voertuie in asook voertuie wat se nommerplate nie in orde is nie, voertuie wat se taxi-permitte nie in orde was nie en bestuurders wat op roetes bestuur wat nie in hulle permitte voorgeskryf is nie.
    Ongelukkig het daar ook geweld uitgebreek tydens hierdie staking. Geweld en oproer tydens stakings in Suid-Afrika is al ‘n ou probleem. Tydens hierdie een is paaie met taxi’s afgesper, stadsbusse van veral Golden Arrow is aan die brand gesteek en ander motors is met klippe gegooi. Ongelukkig was daar ook vyf sterftes.
    Laat gisteraand is daar ‘n skikking tussen die stadsraad van Kaapstad en Santaco bereik. Die taxi’s wat deur die stadsraad geskut is, sal weer teruggegee word aan hulle eienaars. Daar sal ook ‘n lys van kleiner en groter oortredings opgestel word. Vir kleiner oortredings sal slegs boetes gegee word. Vir groter oortredings sal taxi’s steeds geskut word.
    Die stadsraad het egter vasgeskop teen die eise vir genadiger wetstoepassing en volgehou dat hulle steeds die nasionale wetgewing oor landvervoer streng sal toepas.
    Juis hierdie kwessie was ‘n teer punt tussen die stad Kaapstad en die minister van vervoer toe sy beweer het die stadsraad skut die taxi’s ingevolge plaaslike munisipale regulasies. Die stadsraad het egter volgehou dat hulle slegs opgetree het binne die raamwerk van nasionale wetgewing.
    Intussen kon kinder nie skole bywoon nie, baie mense kon nie by hulle werk uitkom nie en sakebedrywighede is ernstig ingekort terwyl sommige ondernemings soos restaurante moes toemaak. Selfs oom Cyril kon nie sy toespraak vir vrouedag in Kaapstad lewer nie as gevolg van vrese vir veiligheid as gevolg van die staking. Sommige lande het selfs reiswaarskuwings aan hul burgers uitgereik teen Suid-Afrika.
    Nou is daar darem wel ‘n skikking bereik, maar mens wonder tog oor of Santaco ooit verantwoordelik gehou gaan word vir die skade wat aangerig is. Gaan diegene wie vir openbare geweld vasgevat word, ooit suksesvol vervolg word en na behore gestraf word?
    Verder kan ook gevra word hoe ‘n organisasie soos Santaco so magtig geword het dat hulle nou al die Suid-Afrikaanse samelewing op sy kop kan omkeer as hulle nie hulle sin kry nie. een van die antwoorde is juis die feit dat ander stadsrade net eenvoudig toegegee het as kleiner voorvalle van taxi-onrus in stede soos Johannesburg voorgekom het. Verder was daar nie altyd die nodige wetstoepassing as taxibestuurders verkeerswette oortre het nie. Mense was toe al bang vir hulle. Noudat Kaapstad dinge begin vasvat, neem hulle die stad behoorlik op horings. Nou dwing hulle ‘n skikking af en dit lyk dan of owerhede gedeeltelik aan misdadigers toegee.
    Verder was daar die geval van oud-president Jacob Zuma wat ‘n hele rits aanklagte van korrupsie en bedrog teen hom het. In julie 2021 moes hy tronk toe gaan weens minagting van die hof. Eers het hy volstrek geweier om te gaan en daar was selfs ondersteuners wat by sy huis saamgetrek het om die polisie te probeer verhoed om hom in hegtenis te neem.
    Einde ten laaste gee hy homself toe oor aan die polisie na vele onderhandelings en blinklekkery. Maar nog was dit het einde niet. Oproer bars toe los in Durban en verskeie ander dorpe in Natal en selfs Johannesburg en omliggende gebiede loop deur. Die destydse kommissaris van korrektiewe dienste, Arthur Frazer staan mediese parool toe. Dit word toe in die hof betwis en na ‘n lang hofstryd word beslis dat Zuma weer moet terug tronk toe om die res van sy vonnis uit te dien. Die departement van korrektiewe dienste wik en weeg ‘n tyd lank oor of hulle hom nou moet gaan toesluit of nie. Maar intussen het hulle vanoggend ‘n slim skaakskuif uitgevoer. Zuma het vanoggend sesuur by die gevangenis aangemeld om sy vonnis uit te dien, maar die huidige kommisaris het sowat ‘n uur later hom weer vrygelaat ingevolge ‘n splinternuwe skema van die president om oorbevolking in tronke te verminder. Meer as 9400 nie-gewelddadige gevangenis sal vrygelaat word asook meer as 15000 veroordeeldes wat tans op parool en/of korrektiewe toesig is sal ook vrygestel word.
    Die algemene gevoel is egter dat hierdie grootse skema net ten doel gehad het om vir Jacob Zuma op ‘n slim manier van sy tronkstraf vry te skeld. Hy het mos nou soos ‘n soet seuntjie aangemeld vir sy straf en oom Cyril het hom nou laat gaan. Mooi so, hier is vir jou ‘n suigstokkie.
    Voordat hy tronk toe is, het ons as gewone mense asem opgehou en gewonder of daar dan weer geweld en oproer sou wees as hy dan regtig moes terug gaan om sy gevangenisstraf uit te dien. Nou het die regering hulself uit hierdie verknorsing gewikkel.
    Dis skrikwekkend om te dink dat daar nou al sekere persone, entiteite en organisasies is wat die mag het om ons samelewing heeltemal te ontwrig as hulle misdaad pleeg en die owerhede dan teen hulle wil optree. Hulle boelie net eenvoudig die regering sodat hulle nie dieselfde straf hoef te kry wat ons gewone burgers sou kry as ons dieselfde ding doen.
    Verder moet ek erken dat die opskrif van hierdie artikel ook ‘n soort teenstrydigheid is. Sonder behoorlike wet en orde kan ons nie lewenskwaliteit geniet nie. Party van ons sal letterlik nie ‘n lewe hê nie.
    Ons het verandering in hierdie land dringend nodig. Wie weet, dalk nog ‘n ander regering ook. Volgende jaar is ‘n verkiesingsjaar en dit kan dalk baie interessant wees.

  • Sonde met die bure en andere wat die kinders laat struikel

    Hierdie is voorwaar skokkend. Wat is besig om van ons mense te word? Dan is daar nog ouer mense wat jong kinders ook laat struikel in hulle verslawing en trots is daarop. Diesulkes moet net onthou dat ons in die Bybel gewaarsku word dat dit wel onvermydelik is dat kinders sal struikel, maar as jy as ouer, voog of volwassene doelbewus kinders laat struikel, is dit vir jou beter dat ‘n meulsteen om jou nek vasgemaak word en dat jy in die diepsee gegooi moet word. Iewers is ‘n wonderwerk dringend nodig. Baie dankie Rina Bester vir jou skrywe waarin jy hierdie euwels met praktiese voorbeelde uitlug. Mens wil nie inmeng by ander mense nie, maar wat te erg is, is te erg.

  • Laaste Sien Van Die Blikkantien

    Aan die beginjare toe ek hierdie webjoernaal begin het, was daar hoofsaaklik drie manier hoe mens nuwe Afrikaanse blogs kon ontdek en lees.
    Die eerste was WordPress se eie portaal af.wordpress.com waar mens verskeie blogs en artikels kon lees wat op die netwerk van wordpress opgang gemaak het. Elke dag was daar nuwe en interessante leesstof.
    Tweedens was daar die sogenaamde "blogrolls" van medeskrywers met hulle eie blogs. Dit het bestaan uit 'n lys van webskakels na ander blogs wat deur die eienaar van die webblad aan sy lesers voorstel. So kon jy nuwe blogs ontdek en dan deur hulle eie blogroll gaan om nog nu bloggers te ontdek en te lees.

    Laastens was daar 'n onafhanklike platform fir Afrikaanse Bloggers genaamd Blik. Dit was 'n webblad met RSS voere van verskeie Afrikaanse blogs op WordPress, Blogger en Litnet sowel as onafhanklike webwerwe, gevestigde koerante en ander nuusdienste in Afrikaans. Dit was beskikbaar by http://blik.co.za en het elke uur herlaai met skakels van nuwe artikels op die webwerwe en blogs wat deur die RSS voer aan die webwerf gekoppel was.

    Dit was 'n soort eenstop bestemming waar jy al die jongste nuus kon optel sowel as die jongste inskrywings van bloggers. Dit het ook gehelp om Afrikaanse webjoernaalskrywers aan nuwe lesers voor te stel en nuwe interaksie op webblaaie te stimuleer.
    Die laaste paar weke kom ek egter agter dat Blik glad nie meer aanlyn is nie. Ek het wel al opgemerk dat die webwerf nie meer so 'n groot verskeidenheid blogs en webwerwe het soos voorheen nie. Dit was egter wel 'n skok toe ek wel bemerk dat die webwerf nou finaal van die lug af is.

    Ek besef maar al te goed dat hierdie webwerf 'n eenmansprojek was en dat die webmeester self verantwoordelik was vir die koste en arbeid wat in hierdie platform ingegaan het. Dis ook nie altyd maklik om by te hou met nuwe webwerwe en blogs wat begin word nie en dis ook nog 'n ander storie om by te hou wanneer Webblaaie se RSS adresse verander.
    Dis nogtans hartseer om te sien hoe die einde van nog 'n era vir Afrikaanse bloggers aangebreek het. Die enigste manier om nou by jou gunsteling blogs by te hou is om hulle per e-pos te volg of as jy 'n WordPress blog het, kan jy jou vuurslag.co.za/ nuusleser gebruik om die nuutste artikels te lees. Hoewel dit jou help om bestaande skrywers se werk te volg, help dit jou nie om nuwe skrywers te ontdek nie.
    Van my kant af sal ek steeds probeer om waar ek nuwe Afrikaanse bloggers kry, 'n kort ressensie oor hulle skryfwerk te doen en 'n skakel na hulle webwerf te plaas. Ek het jare terug dit gereeld gedoen op my eie blog sowel as op https://kekkel.wordpress.com
    Vaarwel dan aan 'n wonderlike internetplatform wat op sy eie manier in die stilligheid diep digitale spore vir Afrikaans op die internet getrap het.

  • Glo jy aan Vrydag die dertiende

    Ek kyk nou juis vanoggend weer op die Afrikaanse WordPress blogs rond en kom loer toe so bietjie in by die hoenderhok. Ek was heel verbaas om te sien dat die blok weer sigbaar is al vir ‘n paar jaar. Bierpens het soos gewoonlik nie teleur gestel nie en skryf nog steeds puik stories oor die dinge wat ons gewone mense steeds as vaal beskou. Van rugby en suurgatte tot lyfstraf op skool. Laasgenoemde het ek baie geniet. Baie van ons wat in ‘n sekere era grootgeword het sal ‘n storie of twee hieroor kan vertel.
    Aangesien dit dan vandag weer Vrydag die dertiende is, is die vraag of jy wat nou hier lees werklik aan soiets glo?
    Ek persoonlik is glad nie bygelowig nie en glo ook nie daaraan nie. Maar indien daar wel in die alledaagse lewe dinge sou verkeerd loop, is dit altyd ‘n handige skuifmeel om die blaam vir wat ook al gebeur het te verskuif.
    Verder glo ek ook dat indien jy wel hierdie dag sou vrees is jy dan ook meer geneig om die foute te maak wat dan tot jou slegte geluk lei.
    Geniet julle dag baie en mag dit sonder ongelukke, swart katte en wat nog alles wees.

  • Vaarwel Youtube Go

    Die afgelope paar jaar gebruik ek al Android Go, die ligter weergawe van Android vir selfone met minder stoorruimte asook minder werkende geheue, beter bekend as random access memory. Hierdie bedryfstelsel bevat ligter weergawes van Google se stelseltoepassings soos Assistant Go, Gmail Go, Maps Go en Youtube go.

    Gisteraand laat het Google ‘n e-pos uitgestuur aan gebruikers van sy Youtube Go toepassing om ons in te lig dat Youtube Go vanaf Augustus 2022 nie meer beskikbaar sal wees nie. Mense word nou aangeraai om Youtube se hooftoepassing vir Android slimfone te gebruik of om Youtube met ‘n webblaaier soos Chrome of Firefox te stroom.

    Ek was nog altyd ‘n groot aanhanger van Youtube go se goeie beheerpaneel waarmee mens die toepassing se dataverbruik en videokwaliteit kon beheer. Dit het my datakostes redelik laag gehou en ek kon ook videos kyk op Wifi netwerke wat relatief stadig was. Die gewone weergawe van Youtube het ook instellings waarmee jy jou videokwaliteit en dataverbruik kan reguleer maar daar moet nog gesien word hoe dit met Youtube Go se uitstekende databeheer vergelyk.

    Youtube go was ook heelwat ligter op die batterykrag as die gewone toepassing en het ook nie jou foon maklik laat warm word soos wat soms gebeur het met ouer fone as jy Youtube vanaf jou webblaaier stroom. Ek moet nog verdere toetse doen om te sien hoe goed die gewone toepassing sal vaar as mens sy kragverbruik en alles wat daarmee saam gaan vergelyk.

    Verder was Youtube Go ook meer toeganklik vir gebruikers van Google se Talkback Skermleser. Mens kon maklik toegang kry tot die mediabeheer terwyl ‘n video besig was om te speel. Op die gewone Youtube toepassing is die mediabeheer nie so heeltemal toeganklik vir skermlesers nie. Mens sukkel om ‘n video te stop as dit eers begin speel het. Die res van die toepassing is egter meer toeganklik en mens kan maklik kies tussen die verskillende panele soos jou tuisblad, jou ingetekende kanale of jou biblioteek. Daar is ook ‘n klomp onderafdelings op jou tuisblad waar jy videos oor verskeie onderwerpe kan kyk. Dit word gewoonlik geselekteer volgens jou kykpatrone. Daar is selfs ‘n afdeling vir kort videos, heel waarskynlik om Tiktok bietjie kompetisie te gee.

    Mens kan maar net wonder hoe die tegnologiese pers en meningsvormers hierop sal reageer. Hier is solank ‘n artikel vanaf Android Authority.

    https://www.androidauthority.com/youtube-go-dead-3160656/#:~:text=Unfortunately%2C%20Google%20has%20announced%20on,%2C%20and%20low%2Dend%20devices

    Intussen sal ek maar die beste maak van my oorblywende tydjie saam met kleinboet.

  • Afrikaanse radio nader die kruispad

    Afrikaanse radio is gaandeweg besig om stadig maar seker ‘n kruispad te nader en binnekort sal daar deur uitsaaiers en luisteraars besin moet word of hulle steeds afhanklik van die staatsgesteunde openbare radiodiens wil wees en of ons heeltemal onafhanklik van die ou staatsmodel wil funksioneer.

    Hierdie kwessie is die week op die spits gedryf nadat die SABC afleggingsbriewe aan 400 van sy personeel gestuur het. Onder hulle was ook vyf gewilde omroepers by Radio Sonder Grense, die SABC se Afrikaanse uitsaaidiens. Hierdie stasie saai al die afgelope 83 jaar onder verskeie name uit, maar dit het al die jare ‘n trotse baken van die Afrikaanse uitsaaiwese gebly alhoewel die stasie se beeld erg skade gely het as gevolg van te veel pro-ANC standpunte wat daar gehandhaaf word. Maar die ANC is immers die regering van die land en hulle is dus ook in beheer van die openbare uitsaaier, naamlik die SABC en al sy televisie en radiodienste.
    As mens egter die politieke programme ignoreer moet mens toegee dat RSG steeds daarin slaag om puik gehalte programme te vervaardig wat inligtings- en opvoedingsprogramme insluit. Verder is daar ook nog die radiodramas, boekvoorlesings en spesialiteitsmusiekprogramme wat ook uitgesaai word.

    Die afleggings by die SABC is genoodsaak deur ‘n finansiële krisis wat op sy beurt veroorsaak is deur wanbestuur en gebrek aan kundigheid by die staatsonderneming. Verder was daar ook ‘n skerp afname in die betaling van TV-lisensies en ‘n gebrek aan wetstoepassing om nie-betalers op te volg.
    Namate die wanbestuur en korrupsie by die SABC na vore gekom het betaal baie mense ook nie lisensies nie uit protes daarteen. Verder word daar ook gevoel dat veral die televisiedienste nie programme van goeie kwaliteit vervaardig en uitsaai nie.

    Baie mense het gister in reaksie op die nuus van die aflegging by RSG gesê dat mense eerder op onafhanklike Afrikaanse gemeenskapsradiostasies moet inskakel. Dit is alles goed en wel, maar hierdie stasies het maar net ‘n beperkte gebied wat hulle op fm-frekwensies dek. Daar is baie plattelandse gebiede wat nie deur sulke stasies gedek word nie. Ek bly self in so ‘n area waar daar nie een van daardie stasies beskikbaar is nie. ICASA het wel aan ander taalgemeenskappe uitsaailisensies toegeken maar ons as Afrikaanse luisteraars is ongelukkig baie snoep behandel deur ICASA met die toekenning en behoud van Uitsaailisensies vir Afrikaanse radiostasies.
    Die enigste manier hoe ons na sulke gemeenskapsradiodienste kan luister is deur middel van internetradio. Dit skep egter sy eie uitdagings omdat mens dan duur vir data moet betaal of andersins ‘n onbeperkte internetplan by jou diensverskaffer moet aankoop.
    Diegene wat dit nie kan bekostig nie is dus maar op die staatsuitsaaier aangewese.
    Die vyf permanente aanbieders by RSG wat nou afleggingsbriewe gekry het se dienste sal met ingang 1 Desember opgeskort word. Magdaleen Kruger, die stasiebestuurder by RSG, het egter gemoedere probeer kalmeer deur te sê dat hulle wel met die aanbieders sal onderhandel en hulle dan vryskutkontrakte aanbied. Sy hoop dat hierdie proses voor Oukersdag reeds afgehandel sal wees. Sy het egter daarop gewys dat indien hierdie proses nie voor einde Desember afgehandel is nie sal dit maar moeilik gaan om in Januarie die stasie na behore te laat funksioneer as gevolg van ‘n tekort aan personeel.
    Indien die tweede senario wel sou uitspeel sal dit interessant wees hoe die programinhoud van RSG bestuur gaan word om ‘n deurlopende uitsaaityd te verseker. As daar minder personeel is wat nuwe uitsaaimateriaal kan vervaardig, hoe sal die oorblywende tyd dan gevul word, meer musiekprogramme? Dalk meer argiefmateriaal wat uitgesaai gaan word? Dalk meer boekvoorlesings op interessante tydgleuwe? Dalk meer kunsuitsendings soos wat ons tydens die grendelstaat beleef het? Enigiets om die publiek se aandag nog ‘n oomblik langer weg te lei van lei van die verslegtende situasie by die stasie asook in die res van die land.

    Ek het al voorheen beleef hoe twee private Afrikaanse radiostasies so ‘n kreeftegang gegaan het totdat hul uiteindelik hul uitsendings moes staak. Dis erg genoeg as jy ‘n familielid of geliefde sien agteruit gaan en dalk hul helderheid van verstand verloor of hulle liggaamlik agteruit gaan. Dis byna net so erg as ‘n geliefde radiodiens en sy personeel so ‘n kreeftegang beleef.
    Hierdie proses het ek beleef met CR FM wat vanaf Christiana in Wes-transvaal uitgesaai het asook met Punt Geselsradio wat op mediumgolf vanaf Kaapstad en Johannesburg uitgesaai het.
    Jy ervaar saam met hulle die personeeltekorte en die lang periodes gedurende die dag wat deur musiek opgevul word. Jy beleef hoe sommige getroue personeel soos bittereinders steeds in hulle aangewese skofte uitsaai. Mens ervaar hoe sommiges hulle kreatiwiteit tot die uiterste moet inspan om steeds ‘n vermaaklike program aan te bied ten spyte van ‘n gebrek aan interaksie tussen die stasie en luisteraars omdat die telefoonlyne afgesny is as gevolg van ‘n agterstallige rekening. Mens beleef die gebrek aan advertensies. In die geval van CR FM het mens self ervaar hoe die uitsaaigebied al kleiner word nadat van hulle senders in ander dorpe moes afgeskakel word. En dan eendag, net te skielik, kom die groot stilte.

    Ek hoop van harte dat dit nie met RSG sal gebeur nie, maar dat daar wel uitkoms sal wees. Indien nie, moet ons maar net hoop dat ICASA dringend daaraan sal aandag gee om nuwe lisensies toe te ken aan Afrikaanse gemeenskapsradiostasies, veral in die platteland waar daar nog heelwat spektrum op die FM-frekwensieband beskikbaar is. Ek besef maar al te goed dat daar ‘n krisis in die groter stede is waar frekwensiespektrum byna heeltemal uitgeput is.
    Hoe hierdie situasie ook al ontvou, kan ons egter verseker wees dat 2021 ‘n nog meer turbulente jaar gaan wees as vanjaar, nie net in die uitsaaiwese nie, maar ook in die res van die samelewing. .

    Baie sterkte aan almal van julle wat hierdie interessante tyd tegemoed gaan.