Kategorie: Algemeen

  • Gaan 2018 ‘n klipkoujaar wees?

    Dis die groot vraag wat baie van ons onsself afvra aan die begin van ‘n baie woelige jaar. Die tafel is reeds gedek vir groot uitdagings wat in groot moeilikheid kan omsit as dit nie effektief bestuur word nie.

    Op 29 Desember 2017 het die stryd om Afrikaans op universiteite nog ‘n terugslag beleef toe die grondwethof beslis het dat die Universiteit van die Vrystaat wel reg was in hulle besluit om Afrikaans as onderrigtaal af te skaf en slegs lesings in Engels aan te bied behalwe in enkele vakke. Ernst Roets van Afriforum wys in ‘n puik artikel in Maroela media daarop dat hierdie beslissing op baie twyfelagtige argumente gegrond is.

    Kovsies, Afrikaans en die konstitusionele hof se politieke onderrok


    Ongelukkig is die grondwethof die hoogste hof van appél in Suid-Afrika en kan daar nie verder op regsgronde appél aangeteken word teen hierdie besluit nie.
    Daar sal dus moeite gedoen moet word om vir ons Afrikaanse studente ‘n akademiese tuiste te skep waar hulle in hulle eie moedertaal gevorderde beroepsgerigte vakonderrig kan ontvang. Solidariteit se Akademia is ‘n goeie begin. Hulle vakkeuses is egter nog beperk en daar sal dringend nog meer akademici gewerf moet word om meer vakrigtings soos mediese wetenskap, ingenieurswese ensovoorts daar te kan doseer. Verder moet die Akademia konsep ook na ander groot universiteitsdorpe uitgebrei word.

    Die waterkrisis in Kaapstad sal na alle waarskynlikheid nog vererger. Die gevreesde dag 0, wanneer Kaapstad se reservoirs en damme heeltemal leeg kan loop kom al hoe nader. Daar was wel goeie nuus dat ondergrondse waterbronne meer water kan lewer as wat aanvanklik geskat is, maar dan sal die stad Kaapstad hierdie waterbronne oordeelkundig moet bestuur, want as dit uitgeput is, sit hulle almal in tamatiestraat. Daar kan maar net gehoop en bid word dat hierdie winter dalk beter reënval kan oplewer. Dit sal egter baie moet reën om daadwerklik ‘n einde aan die waterkrisis te maak.

    Tydens laasjaar se nasionale kongres van die ANC in Johannesburg is Cyril Ramaphosa as die party se nuwe leier aangewys. Jacob Zuma is egter nog steeds staatsprisident. Dit skep uit die aard van die saak twee sentra van mag en soos wat ons destyds met die magstweespalt tussen Thabo Mbeki en Jacob Zuma gesien het, hou so ‘n verdeelde opset nie lank in die Suid-AFrikaanse politeik nie. Verder is daar ook groot druk op Zuma om as staatsprisident te bedank na aanleiding van ernstige bewerings van korrupsie en selfs staatskaping wat oor hom en sy kornuite se koppe hang. As hy eers uit die regeringstoel is, verloor hy sy prisidensiële imuniteit teen vervolging en kan hy in ‘n geregshof verhoor word. Zuma besef dit maar al te goed en daarom is hy nie te gewillig om die tuig neer te lê nie. Daar word verwag dat hy so ver moontlik aan die mag gaan vasklou en ‘n groot doring in Ramaphosa se vlees gaan wees. Intussen het hy wel op Dinsdag, 9 Januarie 2018 ‘n kommissie onder leiding van regter Raymond Zondo aangestel om staatskaping te ondersoek, maar baie mense verwag nie te veel van hierdie ondersoek nie en verwag dat Zuma of van die ander betrokkenes dalk vele geregtelike opstruksies in die pad van die ondersoek kan plaas of dat die ondersoek se mandaat so groot kan wees dat hulle nie effektief op die staatskaping van die Zuma-familie en die Gupta-familie kan fokus nie.

    Op Saterdag, 16 Desember 2017 het prisident Jacob Zuma ‘n opslagbal na die moontlike nuwe administrasie van Cyril Ramaphosa geboul met sy skielike aankondiging dat gratis universiteitsonderrig aan alle arm en werkersklas studente beskikbaar gestel gaan word vanaf 2018. Die Ekonomiese Vryheidsvegters het op hulle beurt alle matrikulante aangehits om by universiteite op te daag en te registreer en op die gratis onderrig aan te dring.
    Die groot probleem hiermee is die feit dat Suid-Afrika nie naastenby genoeg geld het om so ‘n onderneming te befonds nie. Die regering het ook aangedui dat hulle nie die begroting gaan verander om die gratis studies te befonds nie. Die groot vraag is egter waarvandaan die fondse verhaal gaan word. Baie kenners vrees dat belastings dalk drasties verhoog sal moet word tydens Februarie se begrotingsrede om wel die nodige finansies te bekom vir so ‘n grootse onderneming.

    Die vraagstuk oor grondonteiening sonder vergoeding word ook reeds al meer op die spits gedryf. Selfs Cyril Ramaphosa het ook sy steun daarvoor uitgespreek, wel met die voorbehoud dat dit nie ekonomiese groei in die land mag ontwrig nie, maar dit klink ook maar na ‘n fopspeenbelofte omdat enige eiendom wat sonder vergoeding deur die staat geneem word, wel ‘n ekonomiese impak op die land sal hê en veral vir die boere en hulle gesinne sowel as die plaaswerkers en hulle gesinne wat direk by die boerdery gebaat het. As deselfde proses homself oor die land heen herhaal sal dit ongetwyfeld ‘n ernstige impak hê op die ekonomie sowel as voedselsekerheid, net soos in Zimbabwe.

    Baie sterkte aan al my lesers en volksgenote wat saam hierdie uitdagings moet trotseer. Mag julle almal gespaar bly en heelhuids aan die anderkant uitkom.
    Sterkte aan julle almal vir ‘n baie interessante nuwe jaar.

  • Hoe toeganklik is wordpress app vir android?

    Ek is tans besig om bietjie met wordppress vir android te speel en toets bietjie om te kyk hoe toeganklik dit is saam met Talkback skermleser vir android. Dit lyk darem of mens die mees basiese funksies van blogging te doen. Een belangrike ding vir gesiggestremdes wat ook van hierdie toepassing wil gebruik maak is om eerder van die html editor gebruik te maak eerder as die visual editor. Dis meer toeganklik.
    Intussen kan ek net my dank uitspreek aan alle programontwikkelaars wat dit moontlik maak vir gesiggestremdes om ook hoofstroom tegnologie soos Android en Ios te gebruik. Veral Android het drasties vooruitgang gemaak met betrekking tot toeganklikheid en die slimfone en tablette word by die dag meer bekostigbaar. Doen so voort.

  • Die Anc sal glo vir ewig regeer

    President Jacob Zuma het gister tydens ‘n deur-tot-deur veldtog van die regering aan mense in Nelspruit gesê die Anc sal vir ewig en altyd regeer, of hul teenstanders nou daarvan hou of nie.
    Hy het ook mense aangemoedig om in groot getalle na die stembus te gaan en te sorg dat die ANC 90% van die stemme in Oos-Transvaal kry waar die ANC reeds sterk staan. Zuma het ook gesê die Anc staan sterker as ooit.
    Zuma se uitlating het woede by die opposisie ontlok. James Masango, die Demokratiese Alliansie se provinsiale leier in Oos-Transvaal het in sy reaksie gesê Zuma se uitspraak is tekenend van ‘n president wat aanvoel dat dinge vir hom begin warm word. Die Anc maak van vrees gebruik om kiesers te intimideer om by die Anc te bly.
    President Zuma is al berug vir sy omstrede sêgoed van die verlede. In 2008 het hy ook gesê die Anc sal Suid-Afrika regeer tot Jesus se wederkoms toe. Hy het ook gesê dat diegene wat vir die Anc stem reguit hemel toe sal gaan en diegene wat die party teenstaan sal hel toe gaan. By ‘n ander geleentheid het hy ook gesê die voorvaders sal diegene straf wat nie vir die ANC stem nie. Daar is nog vele ander omstrede uitsprake. Hy het by geleentheid ook beweer dat dit nie [African] is om met ‘n hond te stap en veearts toe te vat soos wat blankes doen nie. Afrikamense versorg hulle mense en nie hul honde nie. Hierdie juweeltjie het natuurlik vele hondeliefhebbers aan die blaf gehad.
    Die vraag kan egter gevra word wat sal gebeur as die ANC in vanjaar se verkiesings wel baie stemme verloor as gevolg van kiesers se ontevredenheid oor die misdaad, korrupsie, Zuma se privaat paleis in Nkandla, die Gupta-skandaal, stygende werkloosheid, swak dienslewering ensovoorts? Sal Zuma dan nog so selfversekerd kan wees? Sal die ANC se uitvoerende komitee hom dalk herroep soos wat hul met Thabo Mbeki gedoen het? As dit wel gebeur kan hy sy presidensiële vrywaring teen vervolging op 700 verskillende aanklagte van korrupsie verloor. Gaan Jacob Zuma en die faksie binne die ANC wat hom steun dalk drastiese stappe neem om dit te verhoed?
    Hierdie jaar gaan voorwaar nog interessant word. Maak vas jul veiligheidsgordels, die rit gaan nogal stamperig wees.

  • Weer terug na ‘n lang tyd

    Goeiemore aan al my lesers wat hierdie skrywe mag raaklees. Ek het gelukkig darem nie van die aardbol af verdwyn nie. Verlede jaar was voorwaar ‘n opwindende nuwe jaar. Ek het ‘n nuwe betrekking aanvaar en werk nou in ‘n kantooromgewing wat minder stresvol is as my vorige omgewing. Ek het as braille-instrukteur op die kantlyn van die onderwys gewerk en gesien waarmee vandag se leerkragte te doen het. Ek kan met selfvertroue sê as dinge nie drasties verander nie sien ek swaar tye vir ons nasionale onderwys en die land se werksmag in geheel. ons stuur op ‘n krisis af, veral in staatskole.
    Die jaar 2013 was beslis nie ‘n goeie jaar vir Wes-Transvaal se boere nie. Diegene wat weet sê dat dit die ergste droogte in 80 jaar en selfs erger as 1933 se groot droogte wat groot ekonomiese en maatskaplike uitdagings aan die mense van daardie tyd gestel het. Ek glo ons sal die nagevolge van hierdie droogte nog jare voel veral as dit kom by stygende voedselpryse en lae voedselsekerheid.

    Verder is ons in Suid-Afrika twee keer gekonfronteer met die vraagstuk: wat gebeur as iemand wie jy groot respek en waardering het ‘n ernstige misdaad soos moord gepleeg het? Op 14 Februarie, Valentynsdag, verneem ons van die bekende gestremde atleet Oscar Pistorius wat sy liefling Reeva Steenkamp doodgeskiet het in die vroeë oggendure. In sy polisieverklaring het hy beweer hy het haar vir ‘n inbreker aangesien en haar deur die toe toiletdeur geskiet. Die waarheid van die bewerings moet nog getoets word wanneer sy hofsaak gaan voorkom.
    Op 14 Desember 2013 het die Afrikaanse sanger Zirk Bergh heeltemal uitgehaak en sy voormalige vrou, haar nuwe man en ‘n maatskaplike werker doodgeskiet voor hy selfmoord gepleeg het. Hy was nie so bekend nie en was soms bietjie omstrede maar hy het tog die verbeelding aangegryp met sy eenvoudige musiekaanbiedings en leefstyl. Hy kon ‘n hele musiekalbum in ‘n kampeerkombi in ‘n karavaanpark opneem en het ook dikwels in die kombi gebly as hy op reis was van een optrede na die ander. Sommiges het hom as ‘n soort boerehippie beskryf. Hy het altyd die beeld uitgestraal van iemand wat lyk of hy nie veel bekommernisse in die wêreld het nie. Tog wil dit voorkom of hy baie pyn met sy humor probeer maskeer het. Ongelukkig het alles hom ingehaal maar dit wat hy gekies het om toe te doen was uiters onnodig.

    Verder is oud-president Nelson Mandela op 5 Desember oorlede na ‘n lang siekte. Al hierdie gebeure het Suid-Afrika in die kollig geplaas. Toe President Jacob Zuma op 10 Desember deur die skare in die FNB sokkerstadion voor al die ander staatshoofde en belangrike gaste van oor die wêreld uitgejou is kon die hele wêreld sien dat dinge glad nie meer so pluis is in Suid-Afrika soos wat almal gedog het nie. Verder is Suid-Afrika nog dieper in die skande gesteek toe dit aan die lig gekom het dat die tolk wat die toesprake in gebaretaal moes oortolk totaal onbevoeg was en ook nog sielsiek was en ‘n ‘n rekord van geweldsmisdade agter sy naam gehad het.
    Ek kan ongelukkig nie deel in die heldeverering vir Mandela nie omdat alles wat verkeerd geloop het in ons land sedert 1994 reeds in sy tyd begin en aangehelp is. Die erge misdaad en volksmoord, rasstellende aksie, korrupsie in die staat wat buite beheer is, algemene verval van standaarde en infrastruktuur, die onderwyskrisis wat ons tans nog beleef is ook in sy regeringstyd begin toe daar opsluit met ‘n nuwe ongetoetsde leerplan en denkrigtings begin is.
    Die jaar 2014 kan moontlik ‘n interessante jaar wees maar ook hoogs riskant. Dis ‘n verkiesingsjaar en ons sal moet sien hoe die huidige ANC regering gaan vaar. Daar is egter ‘n nuwe party, die EFF, onder leiding van die ANC se voormalige jeugleier, Julius Malema, wat dalk ons hele land kan ontwrig met sy rewolusionêre praatjies oor die nasionalisering van grond, die myne en besighede. Verder word blankes wat sogenaamd ryk en bevoorreg is afgespeel teen die arm en benadeelde swart massas. daar kan nie onbepaald met hierdie soort politiek aangehou word nie, dit kan ‘n uitbarsting van opgehoopte raserny veroorsaak wat die potensiaal het om erge lewensverlies te veroorsaak. Verder is daar erge binnegevegte in Cosatu se vakbondwese wat die drieparty-alliansie tot die uiterste gaan beproef en dalk tot ‘n skeuring kan lei wat sommige binne die werkersklas kan radikaliseer wat erge ekonomiese onstabiliteit en burgerlike onrus kan veroorsaak. Mag al my lesers en volksgenote ten spyte van alles steeds ‘n wonderlike en geseënde 2014 hê en mag julle sterk staan as daar moontlik storms om ons losbars.
    [categories: algemeen, nuus]
    [tags: droogte, Jacob Zuma, Nelson Mandela, Oscar Pistorius, Zirk Bergh

  • Intimidasie speel rol by Lonmin staking

    Ek het so pas die volgende artikel in City Press raakgelees oor een van die werkers wat Donderdag omtekom het tydens die skietery tussen die polisie en stakende mynwerkers by Lonmin se platinummyn te Marikana. Hy wou nie deelgeneem het aan die staking nie en was ook nie Een van die rotsboorders nie maar ander stakers het hon geÏntimideer en gevolglik was hy ook Donderdagmiddag daar toe die gevegte uitgebreek het en het hy ongelukkig ook omgekom.

    http://m.news24.com/CityPress/SouthAfrica/News/Untimely-death-of-a-reluctant-striker-20120818

    ntimidasie van nie-stakende werkers deur stakers is nie nuut in Suid-afrika nie. Dit kom al jare aan. Mens kan egter die vraag vra of hierdie vakbonde wat die werkers verteenwoordig en toe stakings opsweep regtig omgee vir die veiligheid en welstand van die werkers en of hulle eerder die werkers misbruik vir hulle eie korttermyn politieke gewin. Kry julle nie skaam dat julle doelbewus die lewens van onskuldige werkers in gevaar gestel word omdat hulle op sleeptou geneem word deur julle intimidasie nie.

    Suid-afrika sal in die komende weke uitvind of hierdie tragedie wat homself by Marikana afgespeel het we’ll ‘n impak sal hÊ op die groter mynbousektor en arbeidsbetrekkinge in die algemeen asook hoe eie onderlinge verhoudings tussen verskillende rassegroepe geraak sal word. Julius Malema se toespraak gister by Marikana hou niks positiefs in nie.

  • Nuwe Blackberry skermleser

    Ek het dit so pos reggekry om WordPress vir Blackberry op my Blackberry slimfoon te aktiveer deur middel van die nuwe Blackberry skermleser toepassing wat in Mei 2012 deur Research In Motion bekendgestel is. So ver is die nuwe skermleser met gemengde welslae deur die gesiggestremde gemeenskap ontvang. Een van die grootste probleme met die skermleser is dat dit dikwels die foon laat vries. Dan moet mens maar weer die foontjie van voor af aan die gang kry deur middel van ‘n soft reset of deur due battery te verwyder en dit weer terug te plaas. Maar as die skermleser we’ll werk dan werk dit baie goed en is ek oor die algemeen tevrede met sy werkberrigting. Anders as sommige ander skermlesers praat die nuwe Blackberry Screenreader met so ‘n stekato vrouestem wat ‘n tydjie vat om aan gewoond te raak. Gelukkig gee dit jou toegang tot meeste ban jou belangrike toepassimgs soos die telefoon, kontakte, e-pos, sosiale netwerke en sommige webblaaie kan ook deur middel van die webblaaier op jou Blackberry gelees word. Verder werk die skermleser ook goed saam met sommige kitsboodskaptoepassings soos Whatsapp en kan potensieel ook met Mxit werk. Ek glo hierdie nuwe Blackberry was beslis ‘n goeie belegging.

  • Nasionale Vonkfiksiedag

    Die bekende Afrikaanse skrywersplatvorm SA vryskutskrywer het ook vandag deelgeneem aan die eerste Nasionale Vonkfiksiedag wat deur skrywersverenigings in veral die Verenigde Koninkryk gereël is. Hierdie gebeurtenis het vandag, 16 Mei, plaasgevind.

    Hulle het ook ‘n uitdaging aan al hulle Facebook intekenaars gestel om ‘n vonkverhaaltjie van honderd woorde of minder te skryf wat die bestuuderes, Leony Benghiat, dan op die organisasie se Facebook aanhangersblad geplaas het.

    Daar het verskeie interessante kortverhaaltjies so ver op die blad verskyn. ek het self ook die uitdaging aanvaar. Hier is my nederige poging.

    Coup De Gras

    Deur: Johan Pieterse

    Dit was veron derstel om ‘n vrolike dag te wees toe die kinders en onderwysers van Blomberg Hërskool op hul laaste eksamendag skool toe kom. Nog net enkele klasse skryf nog en meeste onnies doen al die laaste nasienwerk of stel al hulle puntekaarte op vir die puntebespreking.

    Die opgewondenheid word egter gedemp toe almal die voertuie van die departementele amptenare in die skool se parkeerterrein sien. Die hoof staan met ‘n groepie amptenare en gesels. Almal lyk somber, asof hul die draers van slegte nuus is.

    die nuus tref almal soos ‘n vuishou – weens geldelike tekorte word eie skool gesluit.

    My hartlike dank hiermee aan SA Vryskutskrywer wat dit vir sy lesers moontlik gemaak het om blootstelling te kry aan hierdie nuwe opwindende genre van fiksie wat perfek inpas by ons gejaagde lewenstyl van vandag.

    Besoek gerus hulle webblad by http://www.savryskutskrywer.co.za

  • Die verwarring van oudio captchas

    Ek het al by verskeie geleenthede probeer om rekening by internetdienste en sosiale netwerke te open. As deel van jou aansoekvorm kry jy dan ook ‘n sogenaamde captcha wat jy moet invul. ‘n Captcha is ‘n grafiese verifikasiekode wat mens moet invul omte bewys dat jy wel ‘n menslike aansoeker is en nie ‘n outomatiese rekenaarprogram wat gemorspos oor die netwerk gaan versprei nie. Vir diegene van ons wat nie die prentjiekode kan sien nie, word daar heel dikwels ‘n oudio-weergawe van die captcha beskikbaar gestel.

    die probleem met sommige van hierdie captchas is dat jy ‘n verskeidenheid van woorde gegee word om te luister terwyl jy slegs twee of meer daarvan moet invul. Dit behoef geen genie om te besef dat so ‘n stelsel uiters verwarrend is nie.

    Waarom verskaf hierdie diensverskaffers nie eerder slegs die kodewoorde wat mens moet invul nie en los al die ander tierlantyntjies uit. Dit sal beslis die lewe makliker maak vir die betrokke internetmaatskappye en sosiale netwerke sowel as nuwe aansoekers wat graag van hul dienste wil gebruik maak maar nie oor al die tegniese vaardighede beskik nie. Verder sal dit ons as gesiggestremdes ook help om volle beheer te hê oor ons internetrekeninge en wagwoorde en nie afhanklik te wees van andere wat ons met sulke aansoeke moet help en dalk op onbehoorlike wyse toegang tot ons internetrekeninge kan kry nie.

  • April: maand van verandering, verwagting en oorgang

    Aprilmaand was nog altyd tradisioneel 'n maand van groot afwagting, oorgang en verwagting. Vanjaar is dit geensins anders nie.

    Op die mediafront gaan RSG vanaf Maandag 'n nuwe programskedule volg wat veral die aand se uitsendings drasties gaan verander. Diegene wat nie dadelik 'n programskedule byderhand het nie, sal weer bietjie in die donker rondtas om weer ons voete te vind met die nuwe rooster, maar ek hoop dat dit die algemene publiek se goedkeuring sal wegdra. Gelukkig is daar darem 'n nuwe programskedule op hulle webblad beskikbaar. Verder lyk dit wel of vuurslag.co.za/ ook besig is om veranderinge te ondergaan. Elke dag merk ek iets nuuts op, hetsy dit nou by die mobiele paneel is en of dit by my beheerpaneel is. Ek is nuuskierig om te sien wat hulle alles daaroor op hulle amptelike webjoernaal sal skryf.

    April is ook die begin van 'n nuwe finansiële jaar vir besighede sowel as die staatsdiens. Die nuwe belastings sowel as die nuwe toelae wat tydens die begrotingsrede in Februarie aangekondig is, tree ook in werking. Ons brandstofpryse styg iets verskrikliks met nagenoeg 71C per liter vir petrol en nagenoeg 51C per liter vir diesel. Dit kan deels toegeskryf word aan die regering se verhoogde brandstofheffings sowel as internasionale woelinge op die oliemark. As die brandstofprys eers die hoogte inskiet, klim alle ander noodsaaklike goedere se pryse ook. Dis voorwaar geen Aprilgrap vir ons gewone salaristrekkers nie. Eskom het ook aangekondig dat hulle Elektrisiteitstariewe met 16% verhoog gaan word. Dis amper 'n soort verligting omdat die tarief aanvanklik met nagenoeg 25% sou gestyg het.

    Juis omdat die privaat sektor sowel as die staatsdiens met 'n nuwe finansiële jaar begin, sal die vakbonde ook binnekort aan die werkgewers se deur kom klop om hoër salarisse en meer voordele vir werknemers te beding. Indien hierdie loononderhandelings vasval, sit ons weer binnekort met grootskaalse stakings en massa-aksies wat soos vernietigende vloedgolwe oor ons land rol en gewone mense wat op eerbare wyse 'n bestaan wil maak paniekbevange laat voel as gevolg van direkte of indirekte intimidasie by die werkplek of die massas stakende betogers wat die strate invaar en soms skade aanrig en met die polisie slaags raak. AS gevolg van die feit dat ons ekonomie nog steeds sukkel en stygende brandstof- en voedselpryse kan ons vanjaar dalk weer 'n rowwe tyd te wagte wees wat stakings en arbeidsgeskille aanbetref.

    Verder lyk dit of die regering vasbeslote is om die nuwe e-tolstelsel later die maand in Gauteng in werking te stel. Soos verwag kon word, is mense uit alle vlakke van die samelewing uiters omgekrap hieroor. Motoriste wat van hierdie tolpaaie moet gebruik maak se maandelikse reiskostes word drasties opgejaag, om nie eers van die koste van produkte en dienste te praat nie. Gelukkig is busse en taxi's van tolfooie vrygestel. 'n Alliansie van burgerregtegroepe, vakbonde en ander belangegroepe het bymekaargekom om 'n klasaksie-hofsaak te maak waarin hulle die regering wil dwing om af te sien van hierdie tolstelsel en eerder alternatiewe opsies te oorweeg vir die befondsing van die padnetwerk. Hierdie alliansie bestan uit vennote so uiteenlopend soos die linksgesinde Cosatu sowel as gematigd konserwatiewe groepe soos die Vryheidsfrond Plus, Solidariteit en Afriforum. Dit sal interessant wees om te sien of hierdie alliansie hierdie saak kan wen.

    Op 'n ligter noot is die eerste April ook tradisioneel bekend as gekkedag, die sogenaamde April fool's day. Sommige antieke Europese gemeenskappe het in Maart of April die begin van 'n nuwe jaar gevier omdat dit ook saamgeval het met die begin van die Europese lente. Toe die Gregoriaanse kalender in gebruik geneem is het sommiges nog steeds voortgegaan om die nuwe jaar in April te vier en hulle is dus Aprilgekke genoem. Dit het tot 'n interessante tradisie gelei waar mense mekaar poetse bak op hierdie dag. Sommige mediagroepe gaan self so ver om gefabriseerde nuusberigte die wêreld in te stuur wat soms die emosies hoog laat loop. Wat 'n verligting is dit dan nie om later te hoor dit was net 'n Aprilgrap nie.

    Hier in Suid-Afrika is April egter die oorgangsmaand vanaf somer na winter. Die herfs het teen hierdie tyd al goed nes geskop hier by ons. Hierdie naweek het ons saam met welkome reën ook die eerste koue byt van die winter ervaar. Die weerburo het juis vanjaar 'n koue winter voorspel. As ons hierdie koue byt al einde Maart gehad het, wil ek nie weet hoe dit hierdie winter gaan wees nie.

    mag elkeen van u wat hier kom inloer 'n wonderlike Aprilmaand hê met al sy soet en suur wat vir ons voorlê.

  • Wat het van WordPress.com se mobiele bladuitleg geword?

    Op 20 Oktober 2009 het vuurslag.co.za/ 'n interessante nuwe funksie tot hulle webjoernaalplatform toegevoeg. As jy met jou selfoon na 'n vuurslag.co.za/ blog gaan, word daar outomaties 'n ligter weergawe van die blog op jou foon gelaai. Hierdie kleiner bladuitleg maak dat die blogs baie vinniger op jou selfoon se webblaaier laai en dis ook goedkoper om blogs op jou selfoon te lees omdat dit minder kilogrepe trek.

    Maar vanaand sien ek dit het heeltemal verander. In plaas van die vuurslag.co.za/ mobiele bladuitleg wat deur Alex King ontwerp is verskyn daar nou 'n bladuitleg wat baie lyk soos die 2011 bladuitleg wat verlede jaar vrygestel is en deur die vuurslag.co.za/ span ontwerp is. Die bladsye is nou heelwat groter en hoewel my foon dit nog kan lees, sal veral diegene wie se selfone kleiner skerms het probleme ondervind om hierdie bladsye gemaklik te lees. Verder gaan dit ook nou duurder kos om blogs op jou selfoon te lees.

    Die groot vraag is nou of vuurslag.co.za/ self hierdie veranderinge aangebring het en of daar dalk 'n fout op die webbediener of die programmatuur ingesluip het?

    Ek hoop vir al ons selfoongebruikers wat lief is om blogs op ons selfone te lees se onthalwe dat hierdie net 'n tydelike probleem is wat spoedig opgelos sal word.