Ons almal volg die laaste paar dae se gebeure in Japan met skok en afgryse. Op Vrydag, 11 Maart 2011 het ‘n kragtige aardbewing en tsunami die land getref. Volgens alle aanduidings is derduisende mense in die ramp dood.
Daar is egter nog ‘n groter ramp wat moontlik op Japan wag. Verskeie kernreaktors is tydens die aardbewing beskadig. By sommige van hierdie reaktors kon hulle die kernreaksie betyds stop en die opwekkers afskakel. Dit wil egter voorkom asof die kernreaksie by sommige reaktors nie betyds gestop kon word nie. By een was daar reeds twee ontploffings en by ‘n ander veg noodspanne ‘n verbete stryd om die reaktor se temperatuur onder beheer te hou. Dit alles omdat die verkoelingstelsels ingegee het na die aardbewing.
Al hierdie gebeure laat natuurlik vrae ontstaan oor die veiligheid van kernkrag. Is dit regtig so ‘n veilige alternatief vir fosielbrandstowwe? Ons verminder wel die hoeveelheid koolstof wat ons in die atmosfeer vrystel, maar terselfdetyd loop ons gevaar om radio-aktiewe elemente in die omgewing vry te laat as daar ernstige probleme buite ons beheer sou ontstaan. Vrese het reeds ontstaan dat daar bestralingslekasies was by die beskadigde reaktors. Mense wat in die omgewing woon is ontruim en die Japanese regering het jodium aan mense begin uitdeel wat moontlik aan bestraling blootgestel is.
Hierdie ramp kan ernstige langtermyngevolge vir Japan inhou. Daar kan ‘n skerp styging wees in die hoeveelheid mense wat kanker kan opdoen. Verder beskadig die bestraling ook ‘n mens se endokriene stelsel wat maak dat jou normale hormone en oorgragstowwe nie reg funksioneer nie. Mense kan onder ander met verdunde vel sukkel. Verder is daar ook die gevaar dat meer kinders met liggaamlike gebreke gebore kan word.
dis net erg om te dink dat Japan ‘n tweede groot verdriet in die gesig mag staar as gevolg van atoom-energie. die eerste groot verdriet was in 1945 tydens die Amerikaanse atoombomaanvalle in Hirosjima en Nagasaki. soms verwens ek vir Einstein en ander wetenskaplikes wat die atoom gesplit het om die krag daarin vry te stel. Hulle het nie besef watter gevaar hulle vir die mensdom geskep het nie.
Regerings van land regoor die wêreld moet ernstig besin voordat hulle enige nuwe kernkragsentrales bou. Verder moet die veiligheid van bestaande eenhede gereeld gemonitor word. Nugter weet hoe ons as mens hierdie brouwerk van ons ooit sal kan herstel.
Kategorie: Algemeen
-
Die groot hartseer van kernkrag
-
Rassespanning in SA
Die laaste paar weke was ‘n tyd waar spanning tussen verskillende rassegroepe in Suid-Afrika hoog geloop het. Eers het daar vrese ontstaan rondom beoogde veranderings in die wet op gelyke
indiensneming wat nasionale rassekwotas in die werkplek nou in alle provinsies wil afdwing. Solidariteit het daarop gewys dat tot 1,1 miljoen werkende Kaapse Kleurlinge in die Weskaap werkloos gelaat kan word as hierdie wetgewing deurgevoer word.
Om alles te vererger, word ‘n ou televisie-onderhoud van Jimmy Manyi, huidige regeringswoordvoerder en voorsitter van die Black Management Forum, op die lappe waarin hy beweer dat daar ‘n oorkonsentrasie van Kleurlinge in die Weskaap is en dat hulle oor die land moet versprei. Daarna het Trevor Manuel, voormalige minister van Finansies en huidige beplanningsminister in die presidensie, ook ‘n ope brief aan Manyi geskryf waarin hy uitvaar teen die rasisme van Manyi.
Bo-op dit bars daar ook ‘n storm los rondom ‘n rubriek in Sunday World deur die skryfster Nomakula Roberts waarin sy growwe aanmerkings maak teenoor Kleurlingvroue. Sy is intussen geskors, haar rubriek is gestaak en sy moes om verskoning vra. Maar die skade was reeds gedaan. Intussen het Ons vriend Julius Malema ook tot die rassestorm toegetree. Hy wil nou alle besighede wat blanke aandeelhouding het, ook nasionaliseer. Eers het hy sy aandag op die nasionalisasie van myne toegespits, maar die feit dat hy nou besighede ook wil teiken, is uiters kommerwekkend. Verder het hy ook swartmense aangemoedig om meer babas te kry omdat dit deel uitmaak van die vorige rewolusie. Al hierdie gebeure laat my baie angstig voel. Diegene wat hierdie haat aanblaas speel met vuur. eendag is eendag dat hierdie land nog gaan ontplof met al die haat, afguns en jaloesie wat oor die jare deur die Anc en hulle meelopers gesaai is. Die regering het nog ‘n kans om iets aan hierdie onhoudbare situasie te doen, maar dan moet hulle vinnig en beslis optree. -
Die blik
Hier het ons ‘n interessante skakeljoernaal “linklog” met skakels na artikels op Afrikaanse webjoernale:
http://www.blik.co.za/
Wat hierdie skakelblad anders maak is dat dit artikels bevat van webjoernale op WordPress sowel as Litnet Blogs wat deesdae op Letterdash gehuisves word. Hierdie blad word gereeld opgedateer met nuwe skakels.
Besoek gerus die blik as jy nog interessante Afrikaanse leesstof op die internet wil hê. Jy sal beslis nie in ‘n blik gedruk word nie. -
Jan se twak
Ek waardeer dit altyd as daar ‘n goeie storieverteller is wat sy stories met andere kan deel op sy blog. Hier is nog so ‘n webjoernaal: http://jantwak.wordpress.com/
‘n goeie storieverteller is nie net iemand wat goeie fiksieverhale kan uitdink en weergee nie, maar ook iemand wat gewone alledaagse gebeurtenisse in ‘n storie kan omskep. Jan Twak is een van hierdie storievertellers.
Heelparty van hierdie skrywers begin goed, maar hou dan net ewe skielik op met skryf. Jan, doen voort met jou goeie werk.
Gaan loer ook in by die volgende skakel om meer te lees oor
storieblogs wat ek al voorheen gepromofeer het.
http://vuurslag.wordpress.com/tag/stories/ -
Wat hou 2011 in vir die Afrikaanse blogs?
Soos wat ek weer vanaand op die Afrikaanse WordPress blogs rondswerf is dit vir my weer verblydend om te sien dat die blogs weer nuwe lewe kry met nuwe toetreders sowel as ‘n paar van die ou gunstelinge wat meer aktief is op hulle webjoernale.
Ek het al in 2009 begin blog en dit was voorwaar ‘n interessante jaar. Ongelukkig was daar ook heelwat probleme daardie jaar met spotters en trolle wat hullle rondtes hier kom doen het en baie mense se pret bederf het. Ek het in daardie tyd al gesê dat die Afrikaanse webjoernale die potensiaal het om ons lesers sowel as ons bloggers op te voed en te vermaak. Juis daarom moet ons ons nie met sulke kleinlikhede besig hou nie. Ongelukkig het hierdie faktore sy merk op die blogs gelaat toe ‘n hele paar van ons geliefde skrywers besluit het om eerder blogland te verlaat.
Verlede jaar het op ‘n positiewe noot begin toe dit gelyk het asof die gemeenskap van Afrikaanse WordPress bloggers gaan herstel na die skandes en skades van 2009. Ongelukkig het dit later gevoel asof daar ‘n soort doodsheid op die blogs ingetree het. Daar was nog steeds interessante artikels wat verskyn het, maar dis asof daar nie dieselfde energie was soos wat daar die vorige jaar was nie. Selfs ek het my eie blog maar bietjie afgeskeep toe ek my eerste werk gekry het. Dit het my besig gehou en ek het minder tyd gehad om leeswerk te doen vir nuwe inspirasie vir my skryfwerk.
ek hoop ons kan hierdie jaar dieselfde energie behou waarmee ons begin het.
Sommer net ‘n interessante vraag: hoeveel Afrikaanse bloggers het al gaan inloer by WordPress se nuwe uitdaging vir 2011? Gaan loer in by:
http://dailypost.wordpress.com/
Daar kan jy baie hulp en inspirasie kry om jou blog aan die gang te hou. Alle onderwerpe is opsioneel en jy hoef nie daarvan gebruik te maak nie. Ek hoop wel dit kan help om ons heeljaar aan die gang te hou.
Dit was juis op bogenoemde blog waar daar ‘n interessante CNN-artikel verskyn het oor WordPress se uitdaging om elke dag of elke week ‘n inskrywing te plaas. Baie bloggers se nuwejaarsvoorneme vir vanjaar is om minder sosiale media te verbruik en eerder self meer materiaal te produseer. Dis voorwaar interessant.
Mag die nuwe jaar vir julle ‘n baie produktiewe jaar wees. -
Die nuwe kulturele gevaar
Die laaste week was daar groot ontsteltenis in die geledere van behoudende Afrikaners nadat ‘n besigheid bekend as The Zef Shop ‘n t-hemp gedruk het waarop ons groot boereleier oud-president Paul Kruger van die Zuid-Afrikaansche Republiek as ‘n fopdosser uitgebeeld word.
Ekself deel in die ontsteltenis van my volksgenote en veroordeel die aksie van die eienaars van die Zef Shop ten volle.
Hierdie verskynsel is ongelukkig deel van ‘n groter kulturele gevaar wat onlangs op die toneel verskyn het. Dis ‘n verskynsel wat in die volksmond as Zef bekendstaan.
In kort is Zef niks anders as die uitdagende promofering van losbandigheid en dekadensie nie. Die verskil tussen Zef en ander soort dekadensie is dat ander soorte dekadensie hulle praktyke onder die vredesdekmantel wil regverdig soos die hippies van die sestigerjare. Wie onthou nog die slagspreuk “Make love, not war.” Andere sukkel weer om met ‘n morele regverdiging te kom vir hulle wandade. Sommige sal op individuele vlak die moderne tydsgees as verskoning aanbied. “ons lewe in ‘n moderne eeu” en “jy is outyds”, is hulle gunsteling verweer. Zef is egter ‘n soort openbare oorlogverklaring teen die gevestigde Afrikanerkultuur wat oor ‘n kwessie van honderde jare opgebou is. Die kulturele aanvoerders van hierdie subkultuur daag hulle volgelinge tot dekadensie uit en gaan woes te kere met diegene wat nie hulle sieninge deel nie.
In hierdie week was daar ook ‘n artikel in Beeld waarin
Generaal-Majoor Gert Opperman van die Voortrekkermonument homself uitgespreek het teen die Zef-musiekgroep Die Antwoord se vertoning by die Voortrekkermonument op ounjaarsaand waar kru taal in hulle liedjies gebruik is. ‘n Mens sou egter die vraag kon vra hoekom die monument se bestuur toegelaat het dat hierdie groep daar optree? Kon hulle nie eers navorsing gedoen het om vas te stel watter soort groep hulle is nie? Hulle beweer tog dat hulle streng keuring toepas om te bepaal watter kunstenaars daar mag optree.
Verlede jaar was daar ook ‘n herrie in die koerante omdat die geliefde Afrikaanse sangeres Juanita Du Plessis nie saam met die Zef-sanger Jack Parow by ‘n groot Afrikaanse musiekkonsert wou optree nie nadat hy godslasterlike uitsprake gemaak het. Parow het woes teen Du Plessis uitgevaar op sy Twitter mikrojoernaal met kru taal en haar as veroordelend “judgementel” uitgekryt. in daardie tyd het ek Juanita se besluit ook ondersteun.
Alhoewel Zef as ‘n ondergrondse subkultuur ontstaan het onder Afrikaanssprekende woestaards is dit die laaste paar jaar tot in die kulturele hoofstroom gedruk deur kunstenaars soos Die Antwoord en Jack Parow asook die Zef webjoernaal Watkykjy. Hierdie is ‘n kulturele gevaar wat ons nie meer kan ignoreer nie. Hulle het nou amptelik oorlog teen ons verklaar met hulle Paulina Kruger t-hemde en ek wil my verstout om te sê dat ons nog nie die laaste van hulle gehoor het nie. Ons moet opstaan teen hierdie gevaar waar ook al hulle ons bedreig en ons moet kunstenaars soos Juanita Du Plessis ondersteun wat dit reeds gedoen het.
Vir verdere inligting oor die Zef subkultuur kan die volgende skakels besoek word:
http://watkykjy.co.za/
http://twitter.com/jackparow/ -
Om te praat of te sms
Watter manier van kommunikasie verkies jy? Om oor die telefoon te praat, om ‘n sms te stuur of enige ander medium?
My gunsteling is om self met mense oor die telefoon te praat. Ek hou daarvan om ‘n stem aan die ander kant te hoor en die emosies te hoor wat daarin is. Landlynoproepe gaan nog aan, maar selfoonoproepe is maar bietjie duur hier in Suid-Afrika.
As ek nie by my landlyn is nie, verkies ek eerder om teksboodskappe te stuur. Dis vinnig en word direk na die ontvanger se foon gestuur. Die enigste probleem met sms is dat daar ‘n beperking op die getal karakters in ‘n sms is en dat jy soms sukkel om ‘n langer boodskap behoorlik oor te dra.
Juis daarom hou ek ook in ‘n sekere opsig meer van e-pos as van sms. Jy kan ‘n ordentlike geselsbrief skryf teen ‘n tarief wat laer is as vir een teksboodskap van 160 karakters.
Blogging is natuurlik ‘n ideale medium vir massakommunikasie. Geen gesukkel met groepslyste van e-posadresse nie. Verder gee dit my ook ‘n geleentheid om dinge te deel wat ek nie in enige ander medium sou kon deel nie.
Mag hierdie nuwe jaar vir julle ‘n jaar van doeltreffende kommunikasie wees. -
Langspeelplaat vastrap
Ek was aangenaam verras toe ek hierdie blog raakloop op WordPress. http://langspeelplaat.wordpress.com
As jy iemand is wat belangstel in ou boeremusiek sal hierdie webjoernaal beslis die moeite werd wees om te besoek. Baie dankie aan die eienaar van hierdie blog. Ek was al lank op soek na ‘n blog soos hierdie. -
Drie lande wat ek graag wil besoek
Daar is drie lande wat ek eendag graag wil besoek as ek dalk so ‘n geleentheid sou kry. Die kanse daarvoor is maar skraal, maar daar is niks verkeerd daarmee om te droom nie.
Ek sou graag Amerika wil besoek, maar nie net sommer enige deel van Amerika nie. Ek wil graag na die plattelandse gebiede in die Apalachiese gebergtes reis om te sien hoe mense daar lewe. Sommiges het al daardie mense as sogenaamde Hillbillies uitgekryt, maar ek dink dis maar net suiwer hoogmoed omdat daardie mense tradisioneel minder welaf was as ander blanke Amerikaners.
Verder wil ek ook die Amerikaanse Midwesterse gebiede besoek en gaan kyk na al die groot slagvelde en ander plekke waar dapper Cowboys hulle deel gedoen het en hulle lewens gegee het om hulle land te verdedig teen Indiane, Meksikaanse boewe asook misdadigers in hulle eie geledere wat hulle lewensstyl bedreig het.
Verder wil ek ook Texas gaan besoek om te sien hoe lyk hulle massiewe beesplase daar. Dan wil ek ook Nashville toe gaan om een van hulle Country musiekfeeste te beleef.
Verder wil ek ook Swede en Ysland gaan besoek. ek wil hulle winterlandskappe beleef sowel as hulle algemene toeriste-aantreklikhede. Ek is self nie ‘n kenner van daardie lande se toeriste-aantreklikhede nie, daarom is ek nuuskierig om daar te gaan reis.
Ek weet ek het nou sommer twee lande op een slag genoem, maar vergeef my as ek nog twee noem. Laaste maar nie die minste nie wil ek ook Nederland en Vlaandere besoek. Vlaandere is nou wel nie meer ‘n onafhanklike staat soos honderde jare gelede nie, maar sowel die Nederlanders en Vlaminge is verwant aan ons as Afrikaners omdat ons voorouers hoofsaaklik uit hulle geledere gekom het. Ek wil graag die kuns- en kultuurskatte van daardie lande gaan beleef.
Ek hoop hierdie skrywe inspireer die leser daar buite om ook sy/haar gedagtes te laat gaan op ‘n droomreis na ver plekke -
Dinge wat my laat glimlag
Eerstens wil ek my lesers ‘n voorspoedige nuwe jaar toewens. Mag dit ‘n wonderlike jaar wees waarin julle kreatiewe denke gestimuleer sal word. Vir die bloggers tussen julle, mag dit ‘n jaar van interessante pennevrugte wees.
Ek is ‘n groot sucker vir ‘n goeie storie, liedjie of goeie grap wat my laat glimlag. Ek is ‘n groot aanhanger van Leon Schuster se musiek en rolprente al het ek sommige films al hoeveel keer gekyk. Verder is ek ook mal oor Tolla Van DEr Merwe en Jan Spies se stories.
Ek hou van iemand in ‘n geselskap wat ‘n goeie grap kan vertel. Verder is dit ook lekker as ek self mense kan laat lag met ‘n grap wat ek weer by sulke grapjasse gehoor het. Ek is self nie baie oorspronklik daarmee nie.
Verder glimlag of lag ek ook vir die parlementslede se humoristiese kaskenades wat gewoonlik aan die einde van die jaar op die SAUK se radionuusprogramme uitgesaai word. Dis net jammer die regering se eie narrespel kos die arme belastingbetaler soms miljoene indien nie miljarde nie.
Ek sal graag van ander Afrikaanse bloggers wil verneem wat hulle laat Glimlag of lag. Gelukkig is dit nie moeilike huiswerk nie.