Kategorie: Algemeen

  • Windows 8 Is Op Pad

    Die rekenaarprogrammatuurreus Microsoft het op Skrikkeldag, 29 Februrarie 2012, vir groot opgewondenheid gesorg nadat hulle ‘n toetsweergawe van Windows 8 by die Mobile World Congress in Barcelona, Spanje, bekendgestel het.
    So ver is hierdie toetsweergawe, ook bekend as die “beta” weergawe van die Windows 8 bedryfstelsel al deur mense in meer as 70 lande afgelaai om getoets te word.
    Hierdie bedryfstelsel kan op gewone rekenaars, skootrekenaars en tabletrekenaars werk. Dit is dus nie meer nodig vir Microsoft om verskillende bedryfstelsels vir gewone rekenaars en tabletrekenaars te skryf nie.

    Microsoft beweer dat Windows 8 op ‘n gewone rekenaar slegs 8 sekondes neem om ten volle te laai as die rekenaar aangeskakel word. Indien dit wel so realiseer sal dit absoluut alle rekords breek vir die bedryfstelsel met die vinnigste aanskakelspoed. Die meeste bedryfstelsels wat tans beskikbaar is neem romdom 30 sekondes om aan te skakel en te laai.

    Windows 8 doen weg met die gewone Windows kieslys en maak gebruik van ‘n ontwerp waar programme amper soos ‘n mosaiek van teëls op die rekenaarskerm vertoon word. Diegene van julle wat al mosaiek kunswerk gesien het sal weet waarvan ek praat. Die teëls op die skerm lyk amper soos padtekens. Programme kan oopgemaak word deur met jou vinger op die skerm te raak waar die toepaslike programme se teëls vertoon word mits jy ‘n rekenaar met ‘n raakskerm het. Jy kan egter ook met jou muis kliek om programme oop te maak as jy nie ‘n raakskerm wil gebruik nie.

    Hierdie nuwe soort ontwerp kan dalk ernstige uitdagings stel vir maatskappye en organisasies wat skermlesers vir gesiggestremde en leesgestremde rekenaargebruikers skryf. Hierdie groepe is veral afhanklik van kieslyste wat met ‘n toetsbord genavigeer word. Microsoft sal daaraan moet dink om regtig saam te werk met hierdie organisasies om alternatiewe te vind wat dit vir hierdie organisasies en maatskappye moontlik sal maak om die nuutste skermlesers te kan skryf wat met gemak deur hierdie kwesbare groeperings gebruik kan word. Heelparty mense se werksekerheid hang daarvan af. dit het al in die verlede gebeur dat veral gesiggestremdes hul werk verloor het omdat hulle spraakprogramme nie versoenbaar was met die maatskappy se bedryfstelsel nie.

    Ek is nogal nuuskierig om te lees wat die gewone mense wat bevoorreg is om hierdie bedryfstelsel te kan toets daarvan dink. Ek sal beslis die webjoernale dophou vir enige verdere nuus.

  • Skrikkeldag

    ‘n Dag soos vandag gebeur net elke vier jaar, ‘n skrikkeljaar. Volgens die slim mense is een volle jaar mos 365 en ‘n kwart dae lank. Maar hoe kry jy dan nou ‘n kwart van een dag in die jaar in? Toe kom hulle met ‘n slim plan. Kom ons stel ‘n skrikkeljaar in elke vier jaar en sit dan een dag meer op die kalender. HIerdie spesiale dag word toe aan Februarie toegeken, die arme stiefkind van die jaar. Terwyl ander maande met 31 en 30 jaar spog, moes hy maar met 28 dae klaarkom. In hierdie spesiale skrikkeljaar kry hy darem 29 dae.
    Volgens oorgelewerde legende mag die vrouens glo die een vir wie hulle lief is op hierdie skrikkeldag vra om te trou. Die arme manne wat hierdie eer te beurt val moenie te groot skrik nie.
    Baie geluk ook aan diegene van julle wat vandag julle verjaarsdag waarlik op julle geboortedag kan vier en nie hoef te kies of julle 28 Februrarie of 1 Maart wil verjaar nie. Mag dit vir julle ‘n wonderlike dag en ‘n geseënde vier jaar wees.

    Wat julle ook al vandag doen, geniet dit ongelooflik baie.

  • Somergriep en ander verkoues

    Gewoonlik assosieer ons mos griep, verkoues en soortgelyke siektes met die koue wintermaande wanneer temperature rondom ons baie wisselvallig kan raak rondom ons. Ons beweeg mos maar deur koue gange en strate en gaan dan lekker warm kantore, huise en ander geboue binne.
    Maar vanjaar het ek ‘n nuwe tendens bemerk. Reeds einde januare tot so laat as middel Februarie vanjaar het ‘n vlaag van Somergriep en somerverkoues ons land getref. By my eie werk het ek ervaar hoedat sommige kolegas vir dae afgeboek moes word om te herstel nadat hulle een van hierdie siektes opgedoen het. sommiges het egter sterk gestaan en te midde van hulle siekte bly werk. Ek was self ook vir een dag met siekverlof om oor die ergste van my somergriep te kom. Daarna het ek al hoesend en proesend my werk voortgesit.

    die groot vraag is nou egter, wat veroorsaak dat hierdie kwale juis vanjaar erger is as ander jare?
    Sommiges beweer dit was die reënweer wat ons die laaste tyd gehad het, die temperature het gereeld gewissel tussen warm en lekker koen van die reën. Dit kan wel wees, maar ek twyfel. Ons woon immers in ‘n somerreënvalstreek en sulke weer is nie ongewoon hierdie tyd van die jaar nie. Ander jare was die somergriep en verkoues nooit so erg nie, behalwe dalk vir diegene wie per ongeluk in ‘n reënbui beland het sonder die nodige beskutting.
    ‘n Vriendin van my spekuleer dat dit dalk iets te doen kon gehad het met die varkgriepvirus wat die wêreld ‘n paar jaar terug met vrees vervul het. Hierdie virus, ook bekend as H1N1, het heelwat mense se dood veroorsaak. Ek weet ook nie so lekker daarvan nie, hoekom het geen gesondheidsagentskap plaaslik of wêreldwyd ‘n waarskuwing daaroor uitgereik nie?
    Ek wonder watter impak hierdie siekte gehad het op ons nasionale produktiwiteit? Hoeveel werknemers is in hierdie tyd afgeboek weens griep en soortgelyke simptome? Wat het dit ons ekonomie gekos?
    As in ag geneem word dat die winter nog op pad is en dat soortgelyke kwale en skete ons weer kan tref, kan hierdie mos ‘n dubbele impak op ons hê.

    Vir diegene van julle wat hierdie siekte ten prooi geval het, baie sterkte vir julle. Word gou gesond.

  • Gestremdes En Joernalistiek

    Dit is die droom van byna alle mense met gestremdhede om eendag die ope arbeidsmark te kan betree en ook in ‘n gewone werksplek saam met gewone kolegas ‘n normale beroep te kan beoefen.
    Die laaste tyd het ek self begin navorsing doen oor gestremdes in die interessante wêreld van joernalistiek. Ek is self tans besig om ‘n kursus in gemeenskapsjoernalistiek te doen en hoop om eendag vir my ‘n nuwe loopbaan daarmee te begin. Dit is vandag nie meer ongewoon vir werkende mense om weer verder te studeer waar moontlik as deel van hertoerusting, oftewel “retooling” vir ‘n nuwe beroep nie.
    Tydens my vlugtige navorsing het ek afgekom op interessante inligting wat wel daarop dui dat dit wel moontlik is vir my as gestremde persoon om so ‘n loopbaan te volg met moontlike aanpassings. Ek het onder andere op ou koerantartikels in die Beeld en Burger afgekom van Bonita Blankenberg, ‘n gesiggestremde dame wat haar kursus in joernalistiek by die Kaapse Skiereiland suksesvol voltooi het. So ver ek kon vasstel werk sy nou in die kommunikasiebedryf.
    Dan was daar ook na haar ‘n ander liggaamlik gestremde dame van Bonte Heuwel, Ellen Dreyer, wat ook inspirasie geput het uit Bonita se sukses en toe self ook joernalistiek as studierigting gevolg het. Ek is nuuskierig om te weet hoe die meetsnoere vir haar geval het en of daar toe ‘n werksgeleentheid vir haar oopgegaan het.
    In 2004 het ‘n sakejoernalis van die Laevelder, Buks Viljoen, ‘n toekenning van Beeld gewen. Vandag werk hy as joernalis by Beeld.

    Ek weet self nog nie hoe dinge vir my in die toekoms gaan verloop nie en of ek wel ook suksesvol gaan wees in my spesifieke rigting nie. Daar is heelwat uitdagings wat vir my voorlê. Ek kan wel goeie artikels skryf, maar kan as gevolg van my gesiggestremdheid nie foto’s neem nie. Ek het al ‘n paar skote met ‘n selfoonkamera probeer, natuurlik met skreeusnaakse resultate. Gemeenskapskoerante het as ‘n reël nie baie fondse tot hulle beskikking nie en moet dus noodgedwonge meerdoelige personeel aanstel, byvoorbeeld verslaggewers wat ewe bedrewe is met die pen en die kamera. Verder is vervoer ook ‘n uitdaging omdat ek nie self kan bestuur nie.

    Verder is tegnologie vir ons ‘n tweesnydende swaard. Dit maak vir ons nuwe moontlikhede oop met rekenaars met sintetiese spraak en internet wat dit vir ons moontlik maak om die jongste inligting op die internet te kry sonder dat die inligtingsverskaffer of ‘n tussenganger eers vir ons die inligting moet aanpas deur dit in braille te druk of
    op kasset of enige ander klankformaat op te neem. Maar soms word daar ook in die nuwe tegnologiese era van personeel verwag om meerdoelig te wees. Hulle moet byvoorbeeld artikels kan skryf, die foto’s in die artikel kan invoeg en die bladuitleg op die rekenaar doen. Juis daar kan tegnologie ons lelik pootjie en ons sonder werksgeleenthede laat.

    Laat ons egter ten spyte van al hierdie bogenoemde omstandighede steeds hoopvol bly dat hierdie dalk die begin van ‘n nuwe avontuur kan wees.

  • Nabot se wingerd

    Diegene van julle wat al 'n paar jaar op die Afrikaanse platform van vuurslag.co.za/ 'n webjoernaal bedryf en wie al by Bierpens se webjoernale gekuier het sal seker nog vir Harry Louw onthou. Hy was 'n gereelde skrywer op die webjoernaal Die plaas, te besigtig by: http://www.bierpens.co.za asook op die gemeenskapsblad Kekkel op die plaas wat intussen op privaat gestel is en nie meer nuwe inskrywings ontvang nie. Hy is ‘n top storieverteller wat al heelwat geskryf het oor sy wedervaringe in die Namakwaland, sy studentedae en later sy lewe in Namibië waar hy tans woonagtig is.
    Vir ‘n hele ruk lank was hy stil in die blogwêreld, maar ek is bly om te sien hy is weer terug met net sulke goeie stories en vertellings soos altyd. Hierdie keer het hy sy eie blog op Letterdash wat besigtig kan word by:
    http://letterdash.com/HarryLouw
    Hierdie webjoernaal is ook nie so nuut nie. Ten tye van hierdie skrywe was daar al reeds 39 skrywes daarop en ek is nuuskierig om verder te gaan lees waarmee hy nog alles vorendag gekom het.
    Soos ek al voorheen opgemerk het, vat dit ‘n begaafde storieverteller om ‘n goeie storie uit ‘n gewond onopmerklike alledaagse situasie voort te bring. Harry is beslis een van daardie begaafde
    storievertellers.
    Geniet dit baie.

  • Nog ‘n woelige jaar is verby

    Nog ‘n interessante jaar is vandag amptelik verby. Dit was ‘n interessante jaar op die nuusfront en vir my persoonlik.

    Die Arabiese wêreld is aan die begin van die jaar geruk deur twee burgerlike rewolusies waarin die regerings van Egipte en Tunisië omvergewerp is. Die magte van NAVO het ingemeng toe die Libiese regering begin vasskop het teen die opstand wat daar losgebars het. Muamar alQadaffi en sy regering is uit die kussings gelig en Qadaffi is ongelukkig ook wreed vermoor deur die rebelle wat hom gevange geneem het. Daar is natuurlik ook heelwat vrae oor die ware motiewe vir NAVO se ingryping in Libië en of dit nie ook maar te doen het met die land se ryk olievelde en die bankstelsel wat nie onder beheer van die internasionale bankstelsel is nie. Intussen veroorsaak die opstande in Sirië tot vandag toe nog ernstige internasionale hoofbrekens en daar sal in die nuwe jaar gesien moet word wat alles daar gaan ontvou.

    Op 11 Maart tref ‘n aardbewing Japan wat vele sterftes, ‘n tsunami en ‘n kernramp by een van die kernkragsentrales veroorsaak het waarvan die gevolge nog jare met hulle kan wees. Die wêreld het vir ‘n oomblik stilgestaan en herbesin of dit werklik die moeite werd is om kernkrag as ‘n oplossing vir ons energiebehoeftes te gebruik. Slegs die tyd sal leer of hierdie herbesinning wel tot aksie kan lei om navorsing oor hernubare energie te bevorder.
    Die mooi wat wel uit daardie ramp voortgespruit het was die wonderlike manier hoe die Japanese mekaar in hierdie krisistyd bygestaan het. Dit was glad nie so chaoties soos destyds met die orkaan wat New-orleans getref het of die aardbewing wat Haiti gettref het nie.

    Hier in Suid-Afrika was dinge ook woelig. Afriforum het die ANC jeugleier Julius Malema voor die hof gedaag oor die sing van sy haatgesang Skiet die boer. Hulle het die saak gewen en die hof het bevind dat die lied wel haatspraak is. Dit maak nie saak of dit wel in die geskiedenis van die ANC ‘n strydlied was of nie. As ons mooi hieroor nadink kan daar met reg gevra word of hierdie soort liedere nie gelei het tot al die plaasmoorde wat ons al sedert die vroeë negentigerjare moes verduur nie.
    So gepraat van plaasmoorde, die hofsaak van die moordenaars van die Potgieter-gesin van Lindley is ook vanjaar afgehandel en die moordenaars het swaar vonnisse gekry. Wat hierdie moord so laat uitstaan het in die nuus was die feit dat die hele gesin uitgewis is en dat self die tweejarige Willemientjie nie gespaar is nie. Uit die getuienis in die hof het dit geblyk dat Attie Potgieter ‘n goeie man was wat sy werkers dikwels gehelp het en selfs geld geleen het wanneer hulle in die nood was. Ongelukkig was dit ook hierdie eienskap wat sy moordenaars aangespoor het om hom en sy gesin om die lewe te bring, ‘n klassieke geval van die slag van die gans wat die goue eiers lê.

    Verder is Julius Malema ook geskors as leier van die Anc jeugliga na uitsprake van hom wat die ANC in die verleentheid gebring het. Let wel daarop dat hy nie geskors is oor sy vele haatspraakuitbarstings teen blankes nie. Hy het besluit om appél teen sy skorsing aan te teken en hierdie appélsaak sal volgende jaar voorkom voor die ANC se tugkomitee.

    Daar is nog heelwat gebeure wat genoem kan word, maar hierdie is wat vir my die belangrikste was en wat ek met groot belangstelling dopgehou het.
    Hiermee wil ek graag van die geleentheid gebruik maak om my gewaardeerde lesers en kommentators ‘n voorspoedige 2012 toe te wens. Hierdie gaan verseker nog ‘n woeliger jaar wees met ekonomiese vooruitsigte wat glad nie goed lyk nie en Europese banke wat op gereedheidsgrondslag geplaas is vir ‘n moontlike ekonomiese krisis. Verdermoet twee appëlsake van Julius Malema ook aangehoor word, naamlik die appél teen sy skorsing as ANC Jeugleier en die haatspraakverhoor wat deur Afriforum gewen is. Albei kan nog vir groot vuurwerke sorg. Verder sal ook gesien moet word wat gaan gebeur rondom die Wet op die beskerming van Staatsinligting wat ook in die parlement goedgekeur is. Sal daar groepe wees wat hierdie wet suksesvol in die grondwethof kan betwis?
    Die ANC vier sommer vroeg in Jamuarie sy honderdste bestaansjaar te midde van berigte oor groot uitgawes en ‘n geskarrel vir verblyf vir sowat 120000 mense wat die geleentheid kan bywoon. Ek hoop regtig nie dit lei tot ‘n krisissituasie nie.
    Geniet die laaste dag van 2011 sommer baie.

  • Vars van die rolpers

    Ek is bly om te sien WordPress het nou ook hulle gewilde Freshly Pressed aan lesers en gebruikers op sy Afrikaanse webwerf http://af.wordpress.com/ beskikbaar gestel. Freshly Pressed is ‘n kombinasie van nuwe sowel as gewilde artikels in ‘n bepaalde taalafdeling. Gaan loer ‘n bietjie daar in en laat weet wat julle dink van die nuwe uitleg.

  • BlAnke vroue en gestremdes dalk uitgesluit van regstellende aksie

    Volgens nuwe voorgestelde wetgewing op regstellende aksie en swartbemagtiging gaan blanke vroue en gestremdes dalk uitgesluit word as begunstigdes van regstellende aksie. Die rede vir die uitsluiting van blanke vroue is glo omdat hulle oorverteenwoordig is in die werkplek. Hoekom gestremdes uitgesluit gaan word weet ek glad nie.
    Soos wat Dirk Herman van Solidariteit vanmiddag op RSG uitgewys het, skep dit ‘n gevaarlike president omdat daar dalk in die toekoms ook beweer kan word dat Indiërs in Natal en Kleurlinge in die Wes-Kaap ook oorverteenwoordig is in hulle streke en dus nie kan kwalifiseer as begunstigdes van regstellende aksie nie.
    As gestremde persoon sal ek self ook uitgesluit wees van regstellende aksie. As blanke Afrikaner is ek alreeds uitgesluit daarvan, maar almal rondom my was altyd gou om my te verseker dat ek wel ‘n beter kans staan om werk te kry omdat huidige wetgewing rondom regstellende aksie en bemagtiging vir gestremdes voorsiening maak. Nou sal hierdie nuwe voorgestelde wetgewing ook hierdie trooswoorde ongedaan maak. Ek is net dankbaar dat ek wel gelukkig was om werk te kon kry, nie as gevolg van regstellende aksie nie maar wel omdat ek ‘n vaardigheid het wat ek kon gebruik om andere te bemagtig.
    Ek stem ook saam met wat Ernst Roets op sy Twitter mikrojoernaal skryf. Hoe verder ons van 1994 af beweeg, hoe meer agressief word die ANC se nuwe wetgewing rakende grondhervorming, die nuwe wet op die beskerming van staatsinligting en breë swart ekonomiese bemagtiging.
    Ek hoop net die opposisie en burgerregtegroepe is sterk genoeg om wel hierdie wetgewing te stop voordat dit bekragtig kan word en dat die ANC dit nie sal regkry om dit sommer net so deur die parlement te stoomroller nie. Gegewe wat gebeur het met die Inligtingswet gaan dit maar ‘n opdraande stryd vir hierdie groepe wees.
    Baie sterkte aan diegene wat wel hierdie taak gaan aanpak.

  • Nandos in die Hoendersop

    Die Nando’s kitskosrestaurantgroep is nie net bekend en geliefd vir hulle hoendergeregte en ander bykomstighede nie. Hulle is ook berug vir hulle hoogs omstrede advertensieveldtogte wat hulle al diep in die moeilikheid laat beland het by owerhede wat reklamestandaarde moet handhaaf. Wie onthou nog die advertensie waarin ‘n gidshond ‘n bejaarde vrou in ‘n paal vaslei sodat sy kan val en die hond dan haar Nando’s wegneemete kon kry? Dit het gidshondeienaars sowel as blindes ontstel omdat daar nog steeds soveel wanpersepsies oor gidshonde in die wêreld daar buite is. Nando’s het op die ou end die advertensie onttrek. Hulle het ook al in die moeilikheid beland oor ‘n advertensie waarin hulle ‘n parodie van die voormalige staatslotery
    diensverskaffer Uthingo se slagspreuk Tata Machance, Tata Mamillions gemaak het met hulle slagspreuk Tatta Mahunger, Hello Machicken. Daardie advertensie moes ook onttrek word. Hulle jongste advertensie, Last Dictator Standing wat krities teenoor President Robert Mugabe is het ‘n klein internasionale insident tussen Suid-Afrika en Zimbabwe veroorsaak met Zimbabwese instansies wat heftig beswaar gemaak het teen hierdie advertensie. In die advertensie word Mugabe uitgebeeld waar hy alleen by ‘n eetkamertafel sit en terugdink aan die goeie ou dae saam met ander diktators. Die Mary Hopkins treffer Those were the Days, my Friend word as temamusiek gebruik. Volgens die kritici was daar nog nooit enige negatiewe advertensies oor president Jacob Zuma of enige ander staadshoof in Zimbabwe nie en kan hulle nie verstaan hoekom soiets in Suid-Afrika toegelaat word nie. Na verskeie dreigemente teen die bestuur van Nando’s Zimbabwe was Nando’s Suid-Afrika geforseer om hulle advertensie te onttrek volgens hierdie berig in Beeld. Ek glo egter dat Nando’s hierdie keer baie meer ondersteuning van Suid-Afrikaners gaan kry vur hulle politieke kritiek teen Robert Mugabe. Ons land ly immers ook onder die nagevolge van sy verwoestingswerk in Zimbabwe toe hy blanke boere se grond onteien het en sodoende veroorsaak het dat baie honger vlugteling Suid-Afrika toe gekom het en ons arbeidsmark heel oorversadig het. dit het weer op sy beurt tot ernstige xenofobiese geweld in 2008 gelei omdat armes fel met mekaar moes meeding vir skaars hulpbronne. Verder is veral Afrikaners bevrees dat dieselfde lot Suid-Afrika kan tref veral na Julius Malema se onverantwoordelike uitsprake en die regering wat soms omstrede planne vir grondhervorming op die tafel gesit het. Verder het die perlement op Dinsdag, 22 November ook die meerderheidstem gekry vir die omstrede inligtingswet wat die staad sal toelaat om inligting wat hulle geheim wil hou makliker te klasifiseer. Dit kan ons eie media net so erg muilband soos wat in Zimbabwe die geval is. Korrupsie en wanbestuur kan dan makliker onder die mat ingevee word. Maar wag, nou moet ek eers agter my rekenaar uitkom om Lemon and Herb
    hoenderporsies te gaan soek met ‘n yskoue coke. Gelukkig het ek geen gidshond nie.

  • HAAL DIE MEDIA SE SONDES HULLE IN?

    Verlede week het daar ‘n groot storm losgebars rondom die Britse poniepers toe dit onthul is dat die koerant News Of The World verskeie mense se selfone gekuberkraak het om inligting te kry wat hulle in eksklusiewe stories kon gebruik.
    Die slagoffers van hierdie meeluisterskandaal het onder andere Britse koninklikes, glanspersone, ‘n skoolmeisie wat vermoor is en later selfs die slagoffers van die terreuraanvalle op die Londense vervoerstelsel op 7 Julie 2005 ingesluit. Dit was juis toe
    laasgenoemde inligting bekend geraak het was dit die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het. Die publiek het met groot ontsteltenis gereageer en maatskappye het hulle advertensies ontrek.
    Die maatskappy wat die koerant besit het op die ou einde besluit om die koerant te sluit. Die laaste uitgawe het op Sondag 10 Julie verskyn.
    Die Britse eerste minister het aangekondig dat dit nou die einde van selfregulering is vir die media in Britanje. Hy wil nou ‘n
    onafhanklike liggaam in die lewe roep wat die media nou sal reguleer. Hierdie skandaal hou ‘n groot gevaar in vir persvryheid in Britanje en oor die wêreld heen. Vanoggend verskyn daar ‘n berig op Praag se nuusblad
    http://praag.co.za/ dat die voormalige Britse eerste minister Gordon Brown nog twee ander koerante uitgewys het vir ‘n ondersoek. Hy beweer dat hulle oneties opgetree het deur wederegtelik vertroulike inligting van hom te bekom en dit te publiseer.
    Dit sal nog gesien moet word of hierdie gebeure dalk vet in die vuur is vir die ANC en hulle meelopers wat ook selfregulering vir Suid-Afrikaanse media wil opskort en dit wil vervang met ‘n sogenaamde mediatribunaal wat klagtes van onetiese gedrag deur die media sal hanteer.
    Een van die bloggers wie se inskrywings ek gereeld lees, Bierpens, het op sy blog
    http://www.bierpens.co.za/ gereeld gewaarsku teen die
    onverantwoordelike praktyke van die media en die manier hoe hulle skandes van die bekendes wil ontbloot. Hierdie mense is bekend omdat hulle sangers, musikante of akteurs is. Wat hulle in hulle privaat lewens doen het niks met ons as gewone publiek uit te waai nie. Persvryheid is wel ‘n baie belangrike bousteen van ons moderne samelewing vandag. Maar wat help dit as die media hierdie vryheid misbruik?
    Ek hou gebeure in die volgende paar maande met ‘n arendsoog dop.